Hierdie artikel handel oor die Australiese nasionale manskrieketspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouekrieketspan, sien Australiese nasionale vrouekrieketspan.
Die Australiese nasionale krieketspan (Engels: Australia national cricket team) is die nasionale krieketspan wat Australië in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur Krieket Australië (CA, van Engels: Cricket Australia) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Dit is die gesamentlike oudste span in toetskrieket, wat hul eerste toets reeds in 1877 teen Engeland gespeel het. Die span speel ook EDI- en T20I-krieket, hulle was deel van beide die eerste EDI, teen Engeland in die 1970/71-seisoen en die eerste T20I, teen Nieu-Seeland in die 2004/05-seisoen, en het ook albei wedstryde gewen. Die span trek sy spelers hoofsaaklik van die spanne wat in die Australiese binnelandse kompetisies speel – die Sheffield Shield, die Australiese tuis-eendagreeks en die Big Bash-liga. Australië is tans (Februarie 2026) eerste op die IKR-toetsranglys, derde op die eendagranglys en derde op die Twintig20-wêreldranglys.
Die Australiese krieketspan het reeds 882 toetswedstryde gespeel, 426 gewen, 235 verloor, 219 het onbeslis en twee gelykop geëindig. Australië is die suksesvolste span in toetskrieket, volgens algehele oorwinnings, wen-nederlaag-verhouding en wenrekord. Op 11 Junie 2023 het Australië die Wêreldtoetskampioenskap 2021–2023 se eindstryd teen Indië gewen. Tydens die Wêreldtoetskampioenskap 2023–2025 is die verdedigende kampioen deur Suid-Afrika geklop.
Die Australiese krieketspan het reeds 1019 EDI-wedstryde gespeel, 617 gewen, 358 verloor, nege het gelykop en 35 onbeslis geëindig. Australië is die suksesvolste span in internasionale eendagwedstryde en hulle het tot dusver meer as 60% van hulle wedstryde gewen. Australië het agt keer in die eindstryd van die krieketwêreldbekertoernooi verskyn (in 1975, 1987, 1996, 1999, 2003, 2007, 2015 en 2023) en die eindstryd ses keer gewen: in 1987, 1999, 2003, 2007, 2015 en 2023; albei meer as enige ander span. Australië is ook die eerste span wat in vier agtereenvolgende eindstryde verskyn het (in 1996, 1999, 2003 en 2007), en hulle het sodoende die ou rekord van drie eindstrydverskynings van Wes-Indië (in 1975, 1979 en 1983) geëwenaar en is ook die eerste span wat drie agtereenvolgende krieketwêreldbekertoernooie gewen het (in 1999, 2003 en 2007). Die span was vir 34 wêreldbekerwedstryde onoorwonne, totdat Pakistan hulle op 19 Maart tydens die Krieketwêreldbeker 2011 se groepfase met vier paaltjies geklop het. In 2015 het hulle die tweede span geword wat ’n krieketwêreldbekertoernooi tuis gewen het, ná Indië (in 2011). Australië het ook die IKR se Kampioenetrofee twee keer ingepalm (in 2006 en 2009), tot dusver die enigste span wat dit twee agtereenvolgende keer kon wen.
Die Australiese krieketspan het reeds 226 Twintig20-wedstryde gespeel, 124 gewen, 92 verloor, drie het gelykop en sewe onbeslis geëindig. Die span het die eindstryd van die IKR se T20I-wêreldbekertoernooi twee keer gehaal (in 2010 en 2021) en die eindstryd een keer gewen: in 2021 teen Nieu-Seeland.
Op 12 Januarie 2019 het Australië sy 1 000ste oorwinning in internasionale krieket behaal. Hulle het Indië in die eerste EDI op die Sydney-krieketveld met 34 lopies gewen. 25 voormalige Australiese spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem.
Beheerliggaam
duimnael|links|Krieket Australië se ses plaaslike beheerliggame is geskoei op die tradisionele deelstaatspanne Krieket Australië (Engels: Cricket Australia, CA), voorheen bekend as die Australiese Krieketraad (AKR; Engels: Australian Cricket Borard, ACB), is die beheerliggaam vir enige krieket in Australië. Dit is in 1905 as die Australiese Beheerraad vir Internasionale Krieket (Australian Board of Control for International Cricket) gestig en is in 1973 in Australiese Krieketraad hernoem. Dit is as ’n Australiese publieke maatskappy gelys. Op 15 Junie 1909 het Australië saam met Engeland en Suid-Afrika die Imperiale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) gestig. Krieket Australië bestaan uit ses plaaslike beheerliggame, wat elkeen ’n deelstaat verteenwoordig.
Krieket Australië bestuur al die Australië-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is Krieket Australië verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Australiese span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Australië oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem. Australia A is die tweede nasionale span van Australië en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.
Geskiedenis Invoering en vestiging van krieket duimnael|links|’n Krieketwedstryd op die Melbourne-krieketveld op 1 Januarie 1864 duimnael|links|Die Aborigines-krieketspan van die 1868-toer na Engeland met Charles Lawrence in die middel Soos in ander dele van die wêreld het Britse kolonisasie die spel krieket na Australië gebring, wat vinnig gewildheid verwerf het. Die eerste bekende krieketwedstryd in Australië is in Desember 1803 in Sydney gespeel en volgens ’n verslag in die Sydney Gazette op 8 Januarie 1804 was dié spel in die nuwe kolonie reeds goed gevestig. Teen 1826 is krieketklubs soos die Currency Krieketklub, die Militêre Krieketklub en die Australiese Krieketklub gestig. Van hierdie vroeë wedstryde is op Hydepark en Racecourse aangebied. Net ’n kort rukkie later is klubs in Van Diemen’s Land (later Tasmanië genoem) soos in Hobart in 1832 en Launceston in 1843 gestig. In 1838 is in Victoria glo Australië se mees eksklusiewe en invloedrykste krieketklub gestig, die Melbourne-krieketklub (MKK). Klubs in die ander kolonies het in 1839 in Suid-Australië en Wes-Australië gevolg, en in 1835 is ’n wedstryd tussen die werknemers en die werktuigkundiges aan die een kant en die bouers van die nuwe Regeringshuis in Perth aan die ander kant gereël.
Interkoloniale krieket in Australië het in Februarie 1851 met ’n besoek van krieketspelers uit Victoria in Tasmanië begin. Dié wedstryd is op 11–12 Februarie in Launceston gespeel en Tasmanië het met drie paaltjies gewen. ’n Bykomende drie wedstryde is voor 1854 tussen die twee spanne gespeel, maar daarna het die oorsteek van die Seestraat van Bass vir die Victoria-span minder aantreklik geword en hul fokus het na die buurkolonie Nieu-Suid-Wallis verskuif. Dié wedstryde het ’n groot belangstelling gewek, insluitende ’n skare van 15 000 tydens ’n wedstryd in Sydney in Januarie 1853. Krieketrade is in die onderskeidelike kolonies gestig: in 1857 in Nieu-Suid-Wallis, in 1864 in Victoria en in 1871 in Suid-Australië.
In 1861/62 het ’n Engelse span die eerste toer na Australië onderneem; dié toer is deur die spysenieringmaatskappy Spiers & Pond as ’n private onderneming gereël. Die span is deur HH Stephenson aangevoer en het veral uit krieketspelers van Surrey bestaan en hoewel dié span nie heeltemal verteenwoordigend was nie, was dit redelik sterk. Terwyl die plaaslike bevolking se probeerslae, selfs as hulle die kans sou gehad het, meestal tevergeefs was, het die toer onder die ondersteuners gewildheid verwerf en was vir beide krieketspelers en aanbieders baie winsgewend. ’n Verdere toer het in 1863/64 gevolg, aangevoer deur George Parr en dit was nog suksesvoller as die vorige toer.
In 1868 het Aborigines-krieketspelers die eerste Australiese span geword om na Engeland te toer en daarmee vir Australië die internasionale krieket ingelui. Dié span is aangevoer deur Charles Lawrence, ’n lid van Stephenson se 1861-span wat in Australië gebly het, en het meestal uit spelers van Harrow en Edenhope in die Wimmera-streek van Wes-Victoria bestaan. Die span het uitstekende spelers soos Johnny Mullagh ingesluit en 14 van 47 wedstryde gewen, 19 gelykop gespeel en 14 verloor. Naas krieket het die spelers ook atletiese bekwaamheid voor, ná en tydens wedstryde vertoon, insluitende die gooi van boemerangs en spiese. Die groot werklas en die slegte weerstoestande het sy tol geëis toe King Cole tydens die toer aan tuberkulose dood is.
Die eerste toetse duimnael|Die Australiese krieketspan wat in 1878 na Engeland getoer het duimnael|Die “doodsberig” wat in 1882 in The Sporting Times verskyn het In 1873/74 en 1876/77 is verdere toere deur Engelse spanne (insluitende die destyds bekendste krieketspeler W.G. Grace) na Australië onderneem. Die 1876/77-seisoen is noemenswaardig vir ’n wedstryd tussen ’n saamgestelde XI uit Nieu-Suid-Wallis en Victoria teen die besoekende Engelse op die Melbourne-krieketveld op 15–19 Maart 1877. Dié wedstryd, wat later as die eerste toetswedstryd nog erken is, is met 45 lopies deur Australië gewen. Charles Bannerman het die eerste honderdtal in eersterangse krieket aangeteken, en ’n onoorwonne telling van 165 lopies behaal. Die uitslag van hierdie wedstryd word deur beide Australiërs en Engelse as ’n weerkaatsing van Australiese krieket se stygende gehalte gesien. Toetskrieket, wat destyds slegs tussen Australië en Engeland gespeel is, is gekniehalter deur die lang afstand tussen dié twee lande, waardeur wedersydse toere per skip maande geduur het. Weens die moeite van die destydse lang toere was die “ontspanne” gasheer altyd die gunsteling. Ten spyte van Australië se kleiner bevolking was die span in vroeë wedstryde baie mededingend. Die meeste krieketspelers was destyds veral afkomstig uit óf Nieu-Suid-Wallis óf Victoria, met die noemenswaardige uitsondering George Giffen, die veelsydige ster uit Suid-Australië.
’n Hoogtepunt van Australië se vroeë geskiedenis was die 1882-toets in Engeland op The Oval, wat Australië verrassend met sewe lopies gewen het. In hierdie wedstryd het Fred Spofforth 7/44 in die toets se vierde beurt behaal en sodoende die Australiese oorwinning verseker, aangesien hy Engeland van hul 85-lopiesteiken ontneem het. Ná die wedstryd het The Sporting Times, ’n vername destydse Londense koerant, ’n spottende “doodsberig” gedruk waarin die dood van Engelse krieket bekend gemaak is en dat “die lyk veras en die as na Australië geneem sal word”. Uit hierdie ’n koerantgrap het die beroemde Die As-reeks ontstaan, waarin Australië en Engeland ’n reeks toetswedstryde speel om te bepaal wie die As-urn verower. Tot op hede is hierdie kompetisie een van die felste wedyweringe in internasionale sport. Die volledige persberig lui soos volg:
Die “goue tydperk” duimnael|links|“Spring vir ’n reguit grenshou”, George Beldam, ca. 1905 – glo een van die bekendste foto’s in die krieketgeskiedenis duimnael|Die Australiese span in 1896 duimnael|Die derde toets tussen Australië en Engeland in 1902 op die Adelaide-ovaal Na die tydperk tussen die 1890-seisoen en die begin van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 word dikwels as die Golden Age of Cricket (“goue tydperk van krieket”) verwys. Naas Engeland, wat steeds Australië se hoofmededinger was, het aan die einde van die 19de eeu met Nieu-Seeland en Suid-Afrika nuwe mededingers opgekom. Die As-reekse was oorwegend geëwenaar en veral die kolwer Victor Trumper was die Australiese span se ster. Op 15 Junie 1909 het Australië saam met Engeland en Suid-Afrika op die Londense Lord’s die Imperiale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) gestig.