Napoléon Bonaparte (15 Augustus 1769 – 5 Mei 1821) was 'n generaal en regeerder van Frankryk. Hy was 'n generaal van die Franse Rewolusie, en was effektief regeerder vanaf 1799: Eerste Konsul (Premier Consul) van die Franse Republiek vanaf 11 November 1799 tot 18 Mei 1804, daarna Keiser van die Franse (Empereur des Français) as Napoleon I vanaf 18 Mei 1804 tot 11 April 1814, en weer kortliks van 20 Maart tot 22 Junie 1815. Hy word beskou as een van die grootste bevelvoerders in die geskiedenis, en sy oorloë, veldtogte en militêre strategie word wêreldwyd aan militêre skole bestudeer.

1810-1815

Die Russiese veldtog Vir sy inval in Rusland het Napoleon 'n reuse-leër op die been gebring. Aangesien die Franse staande leer nie groot genoeg was nie, het hy soldate van die verowerde lande opgekommandeer vir sy veldtog. Die groot leër wat in die somer van 1811 in Oos-Duitsland saamgetrek het, het uit meer as 600 000 man bestaan: Franse, Duitsers, Oostenrykers, Spanjaarde, Nederlanders en Portugese.

Feitlik alle Europese volke was daarin verteenwoordig. Op 23 Junie 1812 het hierdie kolossale leër, met 3 000 kanonne en meer as 150 000 perde, die Niemenrivier oorgesteek en Rusland binnegeval. Net soos in Spanje, het Napoleon nie veel teenstand verwag nie. Hy het gemeen dat hy voor die koms van die winter Moskou sou kon inneem en tsaar Alexander tot oorgawe dwing. Maar hy het nie met die taktiek van die Russe rekening gebou nie.

Pleks van in 'n vaste veldslag met Napoleon se magtige leer kragte te meet, het hulle stadig in die rigting van Moskou teruggetrek en alles - stede, dorpe, voorrade en die veld - vernietig sodat die invallers niks daarvan kon gebruik nie. Die gevolg was dat Napoleon se groot leër spoedig begin honger ly het. Duisende soldate het ook van uitputting en ontbering begin sterf.

Op 5 September het Napoleon Borodino aan die Moskwarivier bereik. Die Russe het intussen besluit om sy leër te probeer stuit. In 'n veldslag wat twee dae geduur het, is die Russe verslaan, maar Napoleon se leër het meer as 30 000 man verloor. Hy het nou opgeruk na die Russiese hoofstad, maar toe hy aankom, het by die stad verlate en in vlamme aangetref.

Die Russe het gevlug en hul stad aan die brand gesteek. Napoleon was nou in besit van die Russiese hoofstad, en hy het gewag dat 'n boodskapper of onderhandelaar van die Tsaar opdaag om hul nederlaag te erken en oor vrede te onderhandel. Maar niemand het gekom nie. Na meer as 'n maand het Napoleon uiteindelik besef dat hy en sy leër in 'n valstrik gelok is. Die Russiese winter het aangebreek en Napoleon het geen keuse gehad as om die terugtog aan te pak nie (19 Oktober 1812).

Die terugtog Napoleon het Rusland met 'n leër van meer as 600 000 man binnegeval. Nou, na minder as vyf maande, het sy leër gekrimp tot 100 000 man. Duisende soldate het gedros, terwyl die ander in veldslae gesneuwel of van honger, koue en uitputting gesterf het. Ongelukkig vir die Franse het die Russiese winter daardie jaar vroeg gekom en was dit buitengewoon straf.

Die uitgeputte en uitgehongerde leër het moeisaam deur die sneeu na die Beresinarivier voortgeploeter. Mettertyd is selfs perde geslag en geëet, terwyl die kanonne en waens sommer langs die pad gelos is. En asof dit nie genoeg was nie, het die Russe, wat aan die strawwe winters gewoond was, die Franse voortdurend aangeval.

Op 9 November, minder as 'n maand na die aanvang van die terugtog, het Napoleon met 40 000 man Smolensk bereik. Maar nog was dit nie die einde nie. Toe die Franse die Beresinarivier bereik, moes hulle tot hul ontsteltenis ontdek dat die Russe die brug oor die rivier verwoes het. Te midde van bloedige aanvalle deur die Russe moes die Franse leeringenieurs 'n nuwe brug bou. Altesame 24 000 man het hier gesneuwel.

'n Ordelose bende van sowat 16 000 man, al wat oorgebly het van die leër van 600 000 man, het uiteindelik veiligheid bereik. Vir Napoleon was die Russiese Veldtog rampspoedig. Sy militêre mag en aansien was onherstelbaar geknak en die onderworpe volke oor die ganse Europa het hulle begin klaarmaak om finaal van sy juk ontslae te raak.

Die Volkereslag by Leipzig Napoleon het by sy tuiskoms in Parys dadelik begin om 'n nuwe leer op die been te bring om die bedreiginge van buite die hoof te bied. Weer eens, soos in die verlede, is die Franse volk se verbeelding aangegryp en hulle het hulle in hul duisendtalle vir militêre diens aangemeld. Pruise en Rusland het intussen 'n verbond teen Napoleon gesluit, terwyl ook Engeland, Swede en Oostenryk hom die stryd aangesê het.

Met sy nuwe leër het Napoleon weer Europa binnegeruk. Hoewel die oorgrote meerderheid van sy sowat 200 000 man uit rekrute en reserwetroepe bestaan het, het hy daarin geslaag om die gesamentlike Russiese en Pruisiese leër in Mei 1813 by Lutzen en Bautzen te verslaan. Maar hierdie oorwinning het nie die verwagte uitwerking gehad nie.

Oostenryk het intussen by Pruise en Rusland aangesluit, en kort daarna ook Engeland en Swede. Met 'n leer van 190 000 man het Napoleon sy vyande, wat meer as 300 000 man sterk was, tegemoet getrek. Op 16 Oktober 1813 het die slag van Leipzig begin. Na drie dae, en met byna 100 000 Franse ongevalle, moes Napoleon die aftog blaas en vlug.

Die bondgenote het Frankryk nou binnegeval. In Frankryk het Napoleon al hoe meer teenstand van die Franse volk gekry. Hulle wou nie meer by sy leër aansluit nie. Nogtans het hy nog oorwinnings by Aisne en Marne behaal, maar die oormag was te groot. Op 2 April het Napoleon gehoor dat die Senaat hom van sy amp onthef het. Die leër, waarop hy nog altyd staatgemaak het, was nou aan die kant van die Senaat en hy het geabdikeer ten gunste van Lodewyk XVIII. Op 11 April is die Verdrag van Fontainebleau onderteken, waarvolgens Napoleon amptelik sy amp neergelê het. Hy is daarna na die eiland Elba verban.

Die Honderd dae Op 4 Mei 1814 het die Engelse fregat Undoubted met Napoleon en sy gevolg in die hawe van Portoferraio op die eiland Elba aangekom. Hier het Napoleon hom ingerig en die bondgenote, wat intussen in die Oostenrykse hoofstad Wene byeengekom het om oor die toekoms van Europa te besluit, het gemeen dat hulle finaal van die Franse veroweraar ontslae was. Maar hulle het Napoleon onderskat. Terwyl die verrigtinge in Wene aan die gang was, het hy dit met die grootste belangstelling gevolg.

Hy was bewus van die getwis onder die oorwinnaars oor die oorlogsbuit en van die groeiende ontevredenheid in Frankryk met die herstelde Huis van Bourbon. Die lede van die Huis van Bourbon, en by name Lodewyk XVIII, wou die Ou Orde in Frankryk herstel en het sodoende gou die simpatie van die volk verloor. Napoleon het besef dat die onenigheid in Wene en die ontevredenheid in Frankryk in sy guns was. Teen die middel van Februarie 1815 besluit hy om na Frankryk terug te keer. Hy het daarin geslaag om van die eiland te ontsnap en op 1 Maart het hy met 'n duisend soldate by Cannes geland.

Napoleon het min weerstand ondervind in sy opmars na Parys. Die offisier in bevel van Grenoble het gedreig om Napoleon en sy hele lyfwag uit te wis, maar by die verskyning van hul beroemde generaal het die wagte die bevel om te vuur, verontagsaam. Met trane van blydskap en met groot geesdrif het sy gewese soldate hulle agter hom geskaar - en die opmars na Parys het 'n triomftog geword. Toe Lodewyk XVIII van Napoleon se aankoms hoor, het hy generaal Ney met 'n leër gestuur om Napoleon “in 'n ysterkou na Parys te bring".

Maar toe Ney Napoleon sien, het hy met sy hele leër na hom oorgeloop. Sy magnetiese persoonlikheid, die herinneringe aan die glorieryke oorwinnings, die haat vir die Bourbons en die vrees van die kleinboere dat hul grond, wat hulle deur die Franse Revolusie bekom het, afgeneem sou word, het meegebring dat die Franse vir Napoleon as hul redder ontvang het. Op 19 Maart het koning Lodewyk na België gevlug. Met sy aankoms in Parys het Napoleon verklaar dat hy niks anders as vrede begeer nie.

Hy sou die Vredesverdrag van Fontainebleau erken en onderhou en sou as grondwetlike vors regeer. Maar die bondgenote het Napoleon nie vertrou nie. Hy is voëlvry verklaar en Engeland, Oostenryk, Pruise en Rusland het ʼn nuwe verbond teen hom gesluit. Elke land het onderneem om ʼn leër van 150 000 man in die veld te stoot om Napoleon se mag vir eens en altyd te verbreek. Die Engelse veldheer Wellington is aangestel as opperbevelhebber van die mag.

Waterloo en St. Helena Die bondgenote het met 'n mag van 600 000 man teen Frankryk opgeruk. Omdat Napoleon nie op Franse bodem wou veg nie en die Engels-Pruisiese aanval die grootste bedreiging gebied het, het hy en sy leër op 11 Junie 1815 uit Parys vertrek en op 15 Junie die Belgiese grens oorgesteek. Hier het die Franse leër onder Napoleon die Pruisiese leër onder bevel van Blücher aangeval, terwyl maarskalk Ney met die Engelse aanvoerder Wellington by Quatre Bras slaags geraak het.

Blücher was verplig om terug te val tot by Waterloo, waar die Engelse en Pruisiese leërs verenig het. Die Franse leërs, wat toe al 'n paar dae lank in 'n bloedige stryd teen Wellington se magte gewikkel was, het voor die oormag geswig en is vernietigend verslaan. Napoleon het na Parys teruggeval, maar hy het nie daarin geslaag om die stad te verdedig nie. Op 3 Julie 1815 het Parys oorgegee. Napoleon het probeer om verdere weerstand te organiseer, maar dit het misluk.

Weereens het die Franse parlement teen hom gedraai en geëis dat hy sy amp neerlê. Toe Napoleon sien dat hy geen verdere steun gaan kry nie, het hy na Rochefort gevlug om daarvandaan na Amerika te ontsnap. Maar dit was reeds te laat. Op 15 Julie het hy hom aan kapt. Maitland op die Britse oorlogskip Bellerophon oorgegee. Op bevel van die Britse regering is hy na die oorlogskip Northumberland oorgeplaas, waarmee hy na die eiland St. Helena vervoer is. Op hierdie eiland het hy as banneling gebly tot sy dood op 5 Mei 1821. In 1840 is sy stoflike oorskot na Frankryk gebring en in Parys begrawe.

Politiek duimnael|links|Jacques-Louis David (1748–1825): Napoleon steek die Sint-Bernard oor, 1800 duimnael|links|Kaart van Europa onder Napoleon Bonaparte Napoléon het, oor die loop van effe meer as 'n dekade, beheer verkry oor meeste van of die hele westelike en sentrale Europa deur oorwinning of alliansie. In 1812 het hy Rusland binnegeval en sy leër tot by Moskou gelei. Sy soldate het verskriklik gely in die Russiese winter, en die meeste van hulle is dood toe hulle die aftog moes blaas.

Die geallieerde leërs van Oostenryk, Pruise, Rusland en ander lande het in Oktober 1813 by Leipzig 'n oorwinning oor Frankryk se troepe behaal. Die keiser het weer teruggeslaan in wat bekend is as die Honderd Dae (les Cent Jours), maar was oortuigend deur die Britte onder bevel van die hertog van Wellington en Pruisiese soldate, gelei deur von Blücher, verslaan tydens die Slag van Waterloo in België op 18 Junie 1815. Hy is kort daarna deur die Britse magte gevang en verban na die eiland Sint Helena, waar hy oorlede is.

Napoleon het baie lede van die Bonaparte-familie as monarge aangestel, maar hulle het oor die algemeen nie ná sy ondergang aanhou regeer nie. Napoleon was een van die "verligte monarge."

Biografie "Op die een-en-twintigste dag van Julie van die jaar eenduisend sewe-honderd een-en-sestig is die sakrament van die Heilige Doop bedien aan Napoleon, gebore op die vyftiende dag van Augustus van die jaar eenduisend sewehonderd nege-en-sestig, seun van Carlo Bonaparte en sy wettige eggenote, Maria Laetitia, gebore Ramolino..."Hierdie doopseël, wat volgens die destydse Franse gebruik ook as geboortesertifikaat beskou is, dokumenteer nie alleen die begin van 'n menselewe nie, maar van 'n hele tydvak in die geskiedenis. Napoleon word as een van die grootste veldhere en staatsmanne van alle tye beskou.