Ds. Hendrik Johannes Christoffel Snijders (Leeudoringstad, 2 Maart 1906 – Johannesburg, 5 November 1974) was 'n predikant in vyf gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van 1931 tot 1974 toe hy oorlede is ná 'n hartaanval, slegs drie weke voordat hy sou aftree.
Vanweë sy buitengewone geesdrif en groot bekwaamheid het ds. Snijders kort ná sy legitimasie belangrike ampte in die kerk begin beklee en was hy aktuarius en moderator van die Natalse Sinode, asook assessor en waarnemende moderator van die Suid-Transvaalse Sinode. Hy het ook in sy bediening'n lewendige belangstelling in die Afrikaner se kultuurlewe getoon en deur sy aktiewe deelname 'n belangrike rol in die uitbouing en handhawing daarvan – veral in Natal – gespeel. Hy was jare lank lid van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge se hoofbestuur en 'n sterk voorstander van rasseskeiding, soos blyk uit sy uitspraak, aangehaal in die Cape Argus, in Februarie 1961: “Nêrens kry ons ’n opdrag om die idee van rasseskeiding uit te wis nie. Inteendeel, ons wil aanvoer ’n proses waardeur alle rasse gelykgestel word, is strydig met die wil van die Here.” Muslim Youth Movement District Six. URL besoek op 27 September 2013. Twee jaar vantevore is hy in die Cape Times van 1 Mei 1959 aangehaal: "Wanneer die minder ontwikkelde soort mens, of die primitiewe heiden, hom bekeer, raak hy nie onmiddellik vry van sy sondige natuur nie … die heiden kan (nie) sy natuurlike verdorwenheid (“depravity”) oornag afskud nie." Swart pot; swart ketel , Kletskerk. URL besoek op 27 September 2013.
Kort nadat hy op 'n gesamentlike Hervormingsdiens op Swartruggens op die kansel ineengesak het, sterf hy op 5 November 1975,365 Spore Geskiedenis vir Elke Dag. URL besoek op 27 September 2013 hoewel 'n ander bron aanvoer hy is op die kansel oorlede.SAhistory.com. URL besoek op 27 September 2013.
Opleiding Ds. Snijders is op 1 Desember 1931 gelegitimeer nadat hy sy teologiese studie aan die Stellenbosse Kweekskool voltooi het. Omdat dit die tyd van die Groot Depressie was, moes die indertydse proponente lank wag voordat hulle 'n beroep na 'n gemeente ontvang het. Uit sy klas van 35 proponente is net agt in die volgende jaar beroep. Daarom het ds. Snijders die pos as rondreisende sekretaris van die Christelike Strewersvereniging aanvaar en dit beklee van 13 Februarie 1932 tot op 27 Januarie 1934, toe hy as predikant van die Salisbury in Suid-Rhodesië georden en bevestig is.
In Salisbury duimnael|links|170px|Ds. Snijders as jong predikant in Salisbury. duimnael|regs|220px|Ds. Snijders is in Salisbury bevestig, minder as vier jaar nadat dié kerk, ontwerp deur Gerard Moerdijk en vandag nog in gebruik deur die gemeente Harare, ingewys is.
Ds. Snijders se voorganger in die Rhodesiese hoofstad was ds. J.A. Pienaar, wat in 1925 hier bevestig is en baie moeite gedoen het om die gemeente se geldelike toestand te verbeter. Hy het onder meer die dorp en voorstede in afsonderlike wyke verdeel sodat die bydraes meer konstant kon wees. In sy tyd is ook die nuwe en huidige kerkgebou, 'n ontwerp van die gevierde argitek Gerard Moerdijk, in die middestad van Salisbury teen 'n koste van sowat £9 000 voltooi en ingewy in Oktober 1930. Ds. Pienaar het die gemeente ná ses en 'n half jaar verlaat, waarna die kerkraad prop. J.H. van Wyk op 30 Januarie 1932 as tydelike hulpprediker aangestel het. Ná twee mislukte beroepe is prop. Van Wyk beroep, maar hy was bewus van die onenigheid tussen die gemeente en die kerkraad onderling oor hierdie beroep en om nog verdeeldheid in die gemeente te voorkom, het hy die beroep bedank. Hy is wel kort daarna deur die Rhodesiese gemeente Enkeldoorn beroep.
Daar het 'n kritieke toestand in die gemeente geheers wat ds. Snijders met sy aanvaarding van die beroep en bevestiging in Januarie 1934 moes kom bekamp. Hy het stadig die gemoedere probeer kalmeer, maar sy uiterste versigtigheid het stremmend op die vooruitgang van die gemeente ingewerk. Aan die kerkskuld kon feitlik niks afbetaal word nie, maar daar het nietemin in sy dienstyd ontwikkeling plaasgevind.
Die kerkraad het besluit om 'n sendeling te beroep om onder die bruin mense van die hoofstad te arbei en die godsdiensonderrig in die skole waar te neem. Eerw. A.P. du Preez is beroep en het die werk goed georganiseer. Daar was egter nie genoeg werk vir hom en die leraar nie en hy het sy demissie die volgende jaar aanvaar. Hierna het die gemeente 'n sendeling-onderwyser, John Gwai, aangestel om die sendingwerk te behartig. In 1937 is 'n kerksaal in die voorstad Hatfield ingewy en 'n gemeentelike Armesorgkommissie is in die lewe geroep.
Ds. Snijders se gesondheid was nie na wense nie en tydens 'n tydperk van siekteverlof moes ds. W. Uys die werk in sy plek behartig. In Julie 1937 het ds. Snijders sy demissie ontvang en in sy plek is ds. H.C. de Wet beroep.
In Goodwood 270px|links|duimnael|Met ds. Snijders se aankoms in Goodwood het die gemeente nog 'n saal as kerk gebruik. Die gedeelte agter is in 1932 aangebou, maar steeds was dit te klein vir die snel groeiende gemeente.
Ds. Snijders se voorganger in die NG gemeente Goodwood naby Kaapstad was ds. P.N.V. de Lange, wat in Maart 1934 in die gemeente bevestig is. Hy het sy demissie in Junie 1937 ontvang nadat hy 'n beroep na Riversdal aanvaar het en op 17 Julie 1937 daar bevestig is. Op die kerkraadsvergadering waartydens ds. De Lange sy demissie ontvang het, is ds. Snijders met 'n "verpletterende" meerderheid beroep. Hy is op 18 September 1937 in die gemeente ontvang. Sy salaris is vasgestel op £425 per jaar en ná sy aankoms is vervoer in die gemeente vir hom gereël toe die kerkraad 'n motor aangekoop en die betaling daarvan gewaarborg het. Die leraar moes die motor self betaal deur maandelikse korting op sy salaris, aangevul met 'n gelykstaande bedrag van die kerkraad se kant vir slytasie. Die notule maak egter nie melding van lopende koste ens. nie.
Vrijzee stig af duimnael|regs|200px|Die gebou van die NG gemeente Vrijzee, Goodwood, is nes die moedergemeente Goodwood s'n deur die vermaarde Wynand Louw ontwerp. Vrijzee het tydens ds. Snijders se tyd as Goodwood se eerste dogtergemeente afgestig. Dit het eers bekendgestaan as Raymond, toe Elsiesrivier, daarna Noordweg en uiteindelik Vrijzee.
Tydens ds. Snijders se nege jaar lange dienstyd in Goodwood is die Raymond-wyk in April 1939 tot 'n afsonderlike gemeente afgestig saam met Elsiesrivier. Die naam van die gemeente, Raymond, het nie bygeval gevind nie, en die Sinode van 1940 het dit verander na Elsiesrivier. Geleidelik het die lidmate in dié deel van die nuwe gemeente egter minder geword sodat ook dié naam verander is nadat dit in onguns geraak het. In 1957 het die gemeente amptelik Noordweg geword. In 1974 is dit vir oulaas verander, dié keer na aanleiding van die poskantoor Vrijzee, genoem na De Vrije Zee, die skip waarmee Simon van der Stel na Suid-Afrika gekom het.
Nuwe kerkgebou duimnael|links|240px|Die gemeente Goodwood se teenswoordige kerkgebou is tydens ds. Snijders se tyd op 7 Desember 1940 ingewy. Dis ontwerp deur die eerste Afrikaanse argitek, Wynand Louw.
Goodwood se teenswoordige kerkgebou is in ds. Snijders se tyd opgerig nadat die saal van die gemeente vroeg reeds te klein geword het om al die kerkgangers te huisves. 'n Verslag is op 2 November 1937 aan 'n gemeentevergadering voorgelê, en op dié vergadering is besluit om 'n nuwe kerk te bou. Ds. Snijders het in die boukommissie gedien wat eers uit vyf en eindelik uit 14 lede bestaan het. Op 'n tweede gemeentevergadering is die plan van die argitek Wynand Louw voorgelê en aanvaar. Na raming sou die kerk hoogstens £10 000 kos.
Die bouery is gestrem deur ds. Snijders se siekte en op 16 Mei 1938 moes die kerkraad hom vyf maande siekteverlof toestaan in opdrag van 'n spesialis. Wat sy siekte was, word nie vermeld nie. Om die werk in die gemeente voort te sit, is ds. H.J. Strauss onttrek aan die dogtergemeente Raymond, aan wie die kerkraad hom tydelik afgestaan het.
Die kommissie kon met sy werk voortgaan en die bouplan is vir die vra van tenders gereed gemaak. Die Tweede Wêreldoorlog het egter in die lente van 1939 uitgebreek en 'n mismoedige kerkraad moes op 11 September besluit om die rekening vir die argitek vir sy diens tot dusver te betaal en die bouery met 'n jaar uit te stel weens 'n tekort aan boumateriaal. Toe ds. Snijders terugkeer, het die boukommissie met sy werk voortgegaan en opnuut tenders gevra. Op 8 April 1940 het die kerkraad besluit om 'n banklening van £7 000 teen 5% rente per jaar by Santam aan te gaan om die boufonds, wat op £2 140 gestaan het, aan te vul. In Mei daardie jaar is nog 'n gemeentevergadering belê waarop die kommissie verslag gedoen het dat 'n tender van £9 450 aanvaar is nadat daar in oorleg met die argitek besparings in die bouplan aangebring is. Die werk was toe reeds sover gevorder dat ds. Snijders al op 27 April 1940 'n gedenksteen kon lê. Hy het ds. J.D. Kestell gevra om die steen te lê, maar swak gesondheid het dié bekende kerk- en volksleier verhinder.
Die besparingsmaatreëls het later talle hoofbrekens opgelewer: Daar was lekkasies, Europese houtkewer en 'n plafon wat gedreig het om in een te stort. Die sinkplate in die plek van die koperplate moes later 'n ander dakbedekking bo-oor kry om die nagmerrie van lekkasies op te los. Ook moes die voos gevrete hout, wat onryp en onbehandeld was om geld te bespaar, vervang word en die res van die hout behandel word. Nietemin moes die plafon later vervang word. Gepleisterde buitemure, wat indertyd goedkoper was as die beplande sierstene, het met die jare baie aan skoonmaak gekos.
Toe die kerkgebou op 7 Desember 1940 ingewy is, was Goodwood die enigste gemeente in die omgewing naas Parow wat nie meer sy eredienste in 'n saal gehou het nie. Die ruim kerkgebou is beplan met sitplek vir 900 kerkgangers. By geleentheid was daar egter selfs meer as 1 250 kerkgangers, soos tydens 'n Pinksterreeks wat ds. Snijders aangebied het oor die wederkoms van Christus, toe selfs mense van die Strand met vragmotors gekom het om dit by te woon.
Kerkskuld gedelg Onder ds. Snijders se leiding het die gemeente ernstig werk gemaak van die delging van die kerkskuld sodat die laaste paaiement op 11 September 1944 aan Santam oorhandig kon word. In hierdie tyd is die ou kerk in 'n saal omskep en 'n herboude orrel in Februarie 1942 van die NG gemeente Caledon aangekoop. (Dit was waarskynlik in die tyd toe Caledon se ou moederkerk, ontwerp deur Carl Otto Hager, gesloop is.)
Toe ds. Strauss na die tweede dogtergemeente, Eppingtuin, beroep word, is ds. J.R. Holzapfel, 'n klasmaat van ds. Snijders, as hulpprediker bekom. Hy is egter die volgende jaar na Marchand beroep en het op 10 Junie 1940 afskeid van die gemeente geneem. Ondanks die afstigting van Raymond en Eppingtuin het die gemeente baie groot gebly met 'n ledetal van 1 254 ná die laaste afstigting, maar wat jaarliks met gemiddeld 58 lede toegeneem het. Ná die vertrek van die hulpprediker moes ds. Snijders die werk alleen voortsit. Om sy taak te vergemaklik is die werksaamhede van die gemeente herorganiseer: Pleks van maandelikse kerkraadsvergaderings is dit net kwartaalliks gehou, en komitees is aangestel wat dan kwartaalliks aan die kerkraad sou verslag doen.
Hulpprediker Onder ds. Snijders se leiding het die gemeente saamgestry teen die instelling van 'n staatslotery, teen Sondaghandel en -sport. Nadat die gemeenteskuld gedelg is, besluit die kerkraad om hulp te kry vir die bearbeiding van die 1 500 lidmate en so vra hulle prop. J.P.N. Prinsloo om van begin Februarie 1945 af in die gemeente te kom help. Hy is op 5 Maart daardie jaar as eerste medeleraar beroep. Al was hy nog ongetroud, koop die gemeente 'n tweede pastorie by Alicestraat 35, 'n hanetree van die kerkgebou af, teen £1 800 aan met behulp van 'n lening van die kerkkantoor. Dié medeleraarskap het geduur tot 7 Oktober 1946, toe ds. Snijders afskeid van Goodwood neem en na Pietermaritzburg-Wes gegaan het.