duimnael|links|320px|Die ou kerk dien nou as kerksaal en staan langsaan die nuwe kerk, ontwerp deur Wynand Louw. Ds. A.A. van Schalkwyk, eerste leraar van De Aar, het die hoeksteen gelê op 8 September 1923. duimnael|170px|regs|Ds. Andries Albertus van Schalkwyk was De Aar se eerste leraar. Hy is in 1914 hier bevestig en het in 1928 na die NG gemeente Smithfield in die Suid-Vrystaat vertrek. duimnael|links|300px|Die eerste NG kerkgebou op De Aar, hier afgeneem omstreeks 1917. Die toring is afgebreek toe dit later die kerksaal geword het. duimnael|regs|160px|Ds. P.J. du Plessis was van 1929 tot 1946 De Aar se tweede leraar. duimnael|links|300px|Die hoeksteen van die teenswoordige kerkgebou is op 8 September 1923 gelê en die gebou 7 Februarie 1925 ingewy. duimnael|regs|270px|Ds. en mev. Johannes Visser. Hy was van 1942 tot 1945 die eerste medeleraar. duimnael|270px|Ds. P.L. Rossouw en sy gesin. Hy was leraar van 1945 tot 1949. duimnael|160px|Ds. J.F. Myburgh, leraar van De Aar van 1947 tot 1952. duimnael|regs|160px|Dr. H.W. de Jager, medeleraar van 1952 tot 1958. duimnael|regs|270px|Ds. H.R. Cilliers en sy gesin. Hy was medeleraar van 1952 tot 1960. duimnael|160px|regs|Dr. E.A. Venter, medeleraar van 1950 tot 1951. Hy was later hoogleraar in wysbegeerte aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en het ter viering van die dorp se 50-jarige bestaan De Aar, stad van die toekoms. 1902–1952 geskryf en weer met die 75-jarige bestaan in 1977 De Aar, stad in wording. 1902–1977. duimnael|270px|regs|Ds. P.C. Oosthuizen en gesin. Hy is op 5 Maart 1956 georden as leraar van die NG gemeente Stutterheim. Nadat hy herstel het van 'n ernstige krankheid, aanvaar hy 'n beroep na De Aar, waar hy op 24 Junie 1961 bevestig is. Sy volgende gemeente was Queenstown, waar hy in Maart 1963 diens aanvaar het.
Die NG gemeente De Aar is, saam met die gemeente De Aar-Noord, een van twee gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op die Noord-Kaapse spoorwegdorp De Aar nadat hier van 1963 tot 2011 drie gemeentes was, maar De Aar-Suid in laasgenoemde jaar by die moedergemeente ingelyf is. Die moedergemeente is in 1913 gestig, die Noord-gemeente in 1953 en die Suid-gemeente in 1963.
Die gemeente De Aar is uit dele van vier gemeentes saamgestel. Die dorp Philipstown is in 1865, kort ná die afskeiding van die Gereformeerde Kerk te Colesberg, aangelê en wel “als een kerkdorp van de Gereformeerden”. Die dorp is na die goewerneur sir Philip Wodehouse genoem. Die NG gemeente Philipstown het op 8 Februarie 1873 van die moedergemeente Colesberg afgestig. Dié gemeente sou later die meeste plase aan die nuwe gemeente De Aar afstaan, hoewel dit Hanover (gestig in 1856) was die werk op De Aar begin het en die meeste lidmate afgestaan het. Britstown (gestig 1877) en Richmond (gestig in 1843) het ook gedeeltes prysgegee.
Daar was selfs destyds onsekerheid oor of De Aar van Britstown of Hanover moes afstig omdat die grens tussen dié twee gemeentes nooit amptelik bepaal is nie. Aan die hand van omstandigheidsgetuienis (byvoorbeeld dat die eienaar van die plaas De Aar, D.F. Grundlingh, 'n ouderling in Hanover se kerkraad was en Hanover die werk op De Aar begin het) het die Ring van Colesberg egter besluit dat die dorp De Aar binne Hanover se gemeentegrense geval het. Daarom is De Aar hoofsaaklik 'n dogtergemeente van Hanover.
Agtergrond De Aar is een van die min uitsonderings op die reël waarvolgens Karoodorpe gewoonlik saam met die plaaslike NG gemeente (of in Philipstown se geval saam met die Gereformeerde gemeente) tot stand gekom het, want die Kerk het met die stigting van die dorp niks te doen gehad nie. Reeds op 1 September 1837 is die eerste ses plase in dié omgewing opgemeet en aan boere uitgegee. De Aar ontleen sy naam aan die oorspronklike plaas waarop die spoorwegaansluiting, eindelik die tweede grootste in Suid-Afrika naas Germiston, en dorp later ontstaan het. Dié plaas is nie lank ná 1839 nie in besit geneem. Aan die suidoostelike kant van die teenswoordige dorp was 'n standhoudende put wat vars water gelewer het aan mens en dier. Aan hierdie sterk waterbron het die plaas De Aar en gevolglik ook die dorp sy naam te danke.
Dorpstigting Die eerste stap om die spoorlyn van Beaufort-Wes noordwaarts te verleng is in 1881 gedoen kragtens Koloniale Wet Nr. 14. Drie jaar later, in September 1884, was die spoorbaan voltooi en De Aar (oorspronklik Brounger-aansluiting genoem) het ’n belangrike spoorwegaansluiting geword. Rondom die dorp het algaande 'n klein gemeenskappie begin ontstaan. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog was De Aar die belangrikste militêre sentrum in die Kaapkolonie. Nienaber, P.J. 1963. Suid-Afrikaanse pleknaamwoordeboek, deel 1. Kaapstad, Johannesburg: Suid-Afrikaanse Boeksentrum.
In 1902 het die Joodse broers Friedlander, wat 'n winkel op die plaas gehad het, De Aar van die eienaar, D.F. Grundlingh, vir £11 000 gekoop. Op 15 en 16 Desember 1902 het die Friedlanders erwe vir 'n dorp laat opveil. Dit is dan ook die stigtingsdatum van die dorp. Die gedagte was om dit Friedlanderdorp te noem, maar daar het niks van gekom nie, want die naam De Aar het behoue gebly.
Die Friedlanders het in dieselfde jaar dat hulle die standplase opgeveil het, altesaam agt erwe geskenk vir 'n plein waarop 'n NG kerk asook 'n NG pastorie opgerig kon word. Behalwe die agt erwe het hulle ook nog 26 ander erwe geskenk waarop 'n erfpag of herereg van £78 per jaar betaalbaar was, waarvan die opbrengs moes dien as bydrae tot die salaris van die predikant en die verkoopprys van erwe vir die daarstelling van kerklike geboue. Dit was dan ook met ’n verband op dié erwe dat die eerste NG kerkgebou op die nuwe dorpie in 1907 deur die kerkraad van die gemeente Hanover opgerig is. Voor afstigting is die bearbeiding van die blanke gemeente op die dorp opgedra aan die plaaslike sendeling, bygestaan deur die lede van 'n direksie.
Op 20 Mei 1905 is De Aar tot 'n munisipaliteit verklaar en in 1908 is die De Aar-gebied geproklameer as magristraatsdistrik (die benamings landdrosdistrik is eers in 1957 ingevoer) met 'n hof van resident-magistraat.
Destyds het die gebied wat later tussen De Aar se gemeentes verdeel sou word, onder die gemeente Britstown, Hanover, Philipstown en Richmond geval.
Voorgeskiedenis van gemeente duimnael|links|270px|Ds. Arend Hofmeyr van Hanover, en sy tweede vrou, Jane Grey Wright, eerste prinsipale van die Bellevue Seminarie vir dogters op Somerset-Oos. Hy was die leraar wat hom bekommer het oor die sieleheil van die spoorwegwerkers van De Aar. Ds. Arend Hofmeyr van die NG gemeente Hanover het uit die staanspoor baie belanggestel in die sieleheil van die spoorwegpersoneel. In 1895 het hy die kerkraad van Hanover se aandag gevestig op die toestand van die lede van die Kerk wat in die “Cottages” langs die spoorlyn gewoon het en op die spoorlyn gewerk het. Hy was voornemens om die saak by die eerskomende Ringsvergadering aanhangig te maak, maar wou vooraf seker maak dat die kerkraad hom hierin gesteun het. Die broeders was baie simpatiek en het besluit om £10 per jaar vir drie jaar af te staan vir dié werk. So is die eerste stap in die konsistorie van Hanover gedoen van wat later as Spoorwegsending of “die bearbeiding van spoorwegpersoneel” bekend sou staan. Ds. Hofmeyr het dié saak voor die Ring en Sinode bepleit en toe die eerste Sinodale Kommissie vir dié werk benoem is, was hy een van die eerste lede daarvan.
Wyksdienste moes aan die begin van 1898 al ’n vaste instelling op De Aar gewees het, want toe is daar op die kerkraadsvergadering ’n kort geldelike verslag van D. Grundlingh, ’n rustende ouderling en waarskynlik die eienaar van die plaas De Aar, in verband met die maandelikse godsdienste wat op De Aar gehou word, ter tafel gelê. Uit die brief wat dié finansiële verslag vergesel het, blyk dat dié broer toe reeds sowat drie jaar die maandelikse dienste namens die kerkraad daar waargeneem het. Grundlingh het op dié vergadering sy ontslag gevra en verkry, maar toe sy plaasvervanger kort daarna oorlede is, moes hy weer die dienste waarneem. By sy vertrek uit die gemeente in Julie 1900 kon ’n geskikte voorganger nie gevind word nie en toe is die dienste vir eers gestaak. Die saldo van die De Aar-rekening is na die tesourier van die Sinodale Kommissie vir die bearbeiding van spoorwegpersoneel versend.
Ná hierdie terugslag vir die bediening op De Aar het daar gelukkig sowat ’n jaar later ’n kentering ten goede gekom. In Desember 1903 is die sendinggemeente De Aar gestig met eerw. F.J. Enslin as eerste leraar. Dié leraar het ingewillig om, naas sy eie werk, ook nog dienste vir die blanke NG lidmate te hou. Ter vergoeding hiervoor het die kerkraad van Hanover onderneem om £24 jaarliks tot sy salaris by te dra. ’n Versoek is ook in April 1904 toegestaan om die Nagmaal aan die blanke lidmate van die Kerk op De Aar te bedien.
Die bogenoemde skenking twee jaar vantevore deur die broers Friedlander het eintlik die stigting van die gemeente De Aar moontlik gemaak. Omdat die dorp nog nie ’n gemeente of kerkraad gehad het nie, is die 34 geskenkte erwe in die naam van die kerkraad van Hanover geregistreer, wat toe as tydelike trustees sou optree.
Die volgende stap was die oprigting van ’n kerkgebou. Vir dié doel is reeds in 1904 ’n plaaslike boukommissie saamgestel. Ten einde geld byeen te kry vir die bou van ’n nuwe kerkgebou, het die kerkraad van Hanover in April 1906 toestemming gegee tot die neem van ’n verband van £1 300 op die kerkerwe. ’n Paar maande later het die kerkraad nog £175 renteloos aan De Aar voorgeskiet vir dieselfde doel. Terselfdertyd het Hanover sy ou kerkorrel aan De Aar geskenk. Dié eerste gebou het later as die gemeente se kerksaal gedien.
Met sy eie kerkgebou ’n werklikheid, het die buitewyk van Hanover gaandeweg sy eie pad begin gaan. De Aar het ’n tesourier vir kerklike gelde gekry wat elke drie maande verslag aan die kerkraad van Hanover moes doen. Ná die vertrek van eerw. Enslin het sy opvolger, eerw. M.J. Bosman, onder dieselfde voorwaardes ingewillig om die dienste op De Aar vir die NG lidmate waar te neem.
Ten einde die plaaslike kerksake beter te kon behartig het Hanover in 1907 ’n eie direksie vir De Aar in die lewe geroep. Die tweejaarlikse verkiesing van direkteurs het gaandeweg wrywing veroorsaak, want De Aar wou hê dat hulle plaaslik gekies moes word. Eers het Hanover se kerkraad daarop aangedring dat hulle die lede van die direksie moes kies, maar later het hulle tog ingewillig dat De Aar 10 name moes voorlê waaruit hulle dan vyf sou kies. Namate die gemeentebewussyn op De Aar sterker geword het, het die direksie onafhankliker van Hanover begin optree. So het wrywing tussen die direksie en die kerkraad ook nie uitgebly nie.
Gemeente gestig Op 18 Junie 1910 is ’n gemeentevergadering op De Aar gehou waarop besluit is om tesame met Burgerville, ’n dorpie sowat 40 km suidwes van De Aar wat later tot niet gegaan het toe De Aar sy watervoorraad uitgekoop het, ’n gemeente te stig. ’n Versoek in dié verband is aan die kerkraad van Hanover gerig wat toe ’n kommissie benoem het om die lidmate op De Aar op 17 September hieroor te gaan spreek. Hoewel ’n tweede vergadering van die belanghebbendes enkele maande later op De Aar gehou is, kon geen noemenswaardige vordering met die afstigting gemaak word nie en moes die saak vir eers daargelaat word.