Frankryk (Frans: France, [fʁɑ̃s], ), amptelik die Franse Republiek (République française, [ʁepyblik fʁɑ̃sɛːz], ), is 'n sentralistiese, demokratiese republiek in Wes-Europa, begrens deur België, Luxemburg, Duitsland, Switserland, Italië, Monaco, Spanje en Andorra. Dit beslaan 'n oppervlakte van 643 801 km² en het in 2024 'n bevolking van 68 374 591 gehad.
duimnael|links|upright|Die Eiffeltoring in Parys Frankryk is 'n stigterslid van die Europese Unie (en tans volgens sy oppervlakte ook die grootste lidland) asook 'n stigterslid van die NAVO en die Verenigde Nasies. In 1999 is die Euro-geldeenheid ingevoer en in 2002 die Euro-banknote en -muntstukke.
Naas die metropolitaanse (Europese) gebied van Frankryk is daar oorsese gebiede in die Karibiese See (onder meer 'n gedeelte van die eiland Saint-Martin), Suid-Amerika (Frans-Guyana), Noord-Amerika (Sint Pierre en Miquelon), in die Indiese Oseaan (Mayotte en Réunion) en in Oseanië (Frans-Polinesië en Wallis en Futuna).
Die naam Frankryk is afgelei van die Franke, 'n Germaanse volk wat die gebied ná die einde van die Romeinse Ryk verower het. Hulle het met Frans 'n Romaanse taal aangeneem en uiteindelik die Franse geword.
Die land, wat meer as dubbel so groot is soos die Verenigde Koninkryk, het ná die Tweede Wêreldoorlog 'n vinnige groei van sy stedelike gebiede beleef. Desondanks is die grootste deel van die land plattelandse gebiede, en die landbousektor speel tradisioneel 'n baie belangrike rol in die binnelandse politiek van Frankryk.
Die land se lang en ryk geskiedenis bly lewendig in sy Romeinse ruïnes, middeleeuse katedrale en stede. Die erfenis van die tydperk voor die Franse Rewolusie van 1789 sluit talle 18de eeuse kastele (châteaux) in. Frankryk was ook in 2018 met 89,4 miljoen besoekers die gewildste toeristebestemming ter wêreld. Microsoft News / The Independent, 3 Julie 2019: Paris to ban tourist buses from city centre. Besoek op 3 Julie 2019
Etimologie Die naam "Frankryk" het oorspronklik na die hele Frankiese Ryk verwys en is ontleen aan die Latynse Francia, "ryk van die Franke". Die moderne Frankryk word in Italiaans en Spaans steeds Francia genoem, terwyl die Afrikaanse "Frankryk", die Duitse Frankreich, die Nederlandse Frankrijk en die Noorse asook Sweedse Frankrike almal na die "land/ryk van die Franke" verwys.
Die naam van die Franke is verwant aan die Engelse woord frank ("vry"): laasgenoemde stem ooreen met die Ou Franse franc ("vry", "edel", "opreg") wat oorspronklik ontleen is aan die Middeleeuse Latyn francus ("vry", "van diens vrygestel"; "vryman", "Frank"), 'n veralgemening van die stamnaam wat 'n Laat Latynse leenwoord van die gerekonstrueerde Frankiese endoniem *Frank is. Volgens 'n teorie is die betekenis van "vry" oorgeneem omdat, nadat die verowering van Gallië, slegs die Franke belastingvryheid geniet het, of meer algemeen omdat hulle die status as vrye mans geniet het in teenstelling met bediendes of slawe.
Die etimologie van *Frank is onseker. Dit word tradisioneel ontleen aan die Proto-Germaanse woord frankōn wat vertaal word as "spiesgooi" of "lans" (die gooibyl van die Franke was bekend as "franziska"), hoewel dié wapens dalk weens hul gebruik deur die Franke só genoem is en nie andersom nie.
Geografie duimnael|links|Lac du Der in Champagne-Ardenne duimnael|Nasa-Satellietbeeld van Frankryk duimnael|links|Die Puy de Pariou in die Sentraalmassief duimnael|Kaart van Frankryk se groot stede Terwyl die grootste deel van Frankryk se staatsgebied in Wes-Europa lê, is daar wyd verspreide Franse gebiede en besittings in Noord-Amerika, die Karibiese See, Suid-Amerika, die westelike en suidelike Indiese Oseaan, die noordelike en suidelike Stille Oseaan en Antarktika.
Wanneer daar na die Europese gebied van Frankryk verwys word (insluitend Korsika), word dikwels die term die metropolitaanse Frankryk gebruik (afgelei van Frans la France métropolitaine, of net la Métropole), in teenstelling met die oorsese départements en gebiede, wat as die oorsese Frankryk (la France d'outre-mer, of kort les DOM-TOM, 'n afkorting van die Franse départements d'outre-mer – territoires d'outre-mer) bekend staan.
Die metropolitaanse Frankryk, wat danksy sy vorm dikwels ook l'Hexagone (die heksagoon) genoem word, het 'n oppervlak van meer as 'n halfmiljoen vierkante kilometer, wat in die noorde en weste deur kusvlaktes en heuwels gekenmerk word. Meer as die helfte van die oppervlakte lê minder as 250 meter bo seevlak. Die res van die land is bergagtig, met die Sentraalmassief (Massif Central) in die suidelike middel van die land, die Pireneë in die suidweste en die Alpe in die suidooste. Frankryk se hoogste berg, Mont Blanc, is tegelykertyd ook die hoogste in Europa met 4 810 meter. Die Bretonse Massief sluit 'n gedeelte van Normandië in en strek in suidwaartse rigting tot by La Rochelle. Ander berggebiede is die Vogese-bergreeks in Elsas en die Franse gedeelte van die Ardenne. Sowat 27 persent van Frankryk se oppervlak word deur bosgebiede beslaan; die land is die bosrykste in die Europese Unie.
Die Sentraalmassief, wat sowat 'n sesde van Frankryk se landoppervlakte tussen die Rhône-Saônevallei en die Akwitaanse bekken beslaan, is deur vulkaniese aktiwiteite sowat tien tot dertig miljoen jare gelede gevorm. Die hoogste bergpieke is Puy de Sancy (1 886 meter) en Plomb du Cantal (1 858 meter). Die oorheersende kalksteen maak die Sentraalmassief minder geskik vir landbouaktiwiteite.
Tussen die berggebiede lê uitgestrekte rivierbekkens soos dié van die Loire, Rhône, Garonne en Seine. Die groot riviere word deur kanale met mekaar verbind.
Korsika, die grootste Franse eiland in die Middellandse See met 'n oppervlak van 8 680 vierkante kilometer, word veral deur bergagtige landskapsvorme met gereelde sneeuval in die winter gekenmerk. Meer as veertig bergpieke bereik hoogtes van meer as 2 000 meter. Net sowat 'n kwart van die eiland is geskik om as weivelde vir skape en bokke te dien. Naas die beboste gebiede, wat ook 'n kwart van Korsika se oppervlak beslaan, is daar net sowat twee persent landbougebiede in die valleie, langs die kus en op geterrasseerde berghange.
Frankryk het met uitsondering van die noordooste slegs natuurlike grense, waarvan die helfte deur die Ryn, die Alpe en die Pireneë gevorm word. Die ander helfte van die land se sowat 5 500 kilometer lange grenslyn word deur die kuste van die Engelse Kanaal in die noorde, die Atlantiese Oseaan in die weste en die Middellandse See in die suidooste gevorm.
Danksy die oorsese départements en gebiede, wat wêreldwyd verspreid is, beskik Frankryk oor die tweede grootste Eksklusiewe Ekonomiese Sone (EES) na dié van die Verenigde State, met 'n totale oppervlak van 11 035 000 vierkante kilometer.
Bergreekse duimnael|Nasa-Satellietbeeld van die Franse Alpe In die suide en ooste van Frankryk lê vier groot bergkettings: die Pireneë, wat die grens tussen Spanje en Frankryk vorm; die Alpe en die Jura, wat die grens tussen Frankryk, Italië en Switserland vorm; en die Vogese in die noordooste.
Die Pireneë strek sowat 450 km van oos na wes, van die Golf van Biskaje in die weste tot aan die Middellandse See in die ooste. Hoewel die ketting smal is, vorm dit 'n doeltreffende versperring tussen Frankryk en Spanje, aangesien daar slegs enkele maklike passe deur die berge is. Die hoogste pieke, wat bo die boomlyn uitstyg, is bedek met gras of net kaal rots. Die hoogste punt is die bergspits Vignemale (3 298 meter).
Die Franse Alpe strek van die Meer van Genève na die Liguriese See. Hierdie kort bergreeks is baie hoog en bevat een van die hoogste pieke in Europa, Mont Blanc (4 810 meter), waarvan die westelike helfte in Frankryk en die oostelike helfte in Italië is. Hierdie gebied ondervind 'n swaar sneeuneerslag in die winter, en word druk deur skiërs besoek. Die hoogste pieke is permanent onder sneeu bedek, en daar is verskeie gletsers.
Die Franse Jura is sowat 250 km lank en nêrens breër as 80 km, nie. Die oostelike deel bestaan uit geplooide lae, en daar is 'n hele aantal indrukwekkende, diep klowe. Die hooglandgebied in die weste is onvrugbaar en dun bevolk. Die hoogste piek is Crêt de la Neige (1 723 meter).
Die Vogese vorm 'n hooglandgebied met 'n lengte van omtrent 160 km. Dit bestaan in hoofsaak uit kristallyne gesteentes, wat in die noorde gedeeltelik deur sandsteen bedek is. Die pieke is in die algemeen gerond, in teenstelling met die van die Alpe en die Pireneë. Hohneck (1 423 meter) is die hoogste punt.
Riviere duimnael|Kaart van Franse riviere Frankryk word in hoofsaak deur vier groot riviere gedreineer. Hulle is die Seine, die Loire, die Garonne en die Rhône. Die riviere ontspring almal in die Sentraalmassief en vloei daarvandaan na die see. Aangesien die meeste riviere self nie bevaarbaar is nie, word op groot skaal van kanale gebruik gemaak om hul bevaarbaarheid te verhoog, veral in die nywerheidsgebiede.
Die Seine (776 km) is die bedrywigste rivier in Frankryk. Die rivier word tot by die groot hawe Rouen deur getye beïnvloed, en dit is bevaarbaar tot by die groot nywerheidsgebied rondom Parys, waar fabrieke op die rivieroewers aangetref word. Die skeepsverkeer tussen Parys en die Rhône-rivier bereik die stad oor die Bo-Seine en die Bourgondiese kanaal.
Die Loire (1 005 km) is die langste rivier in Frankryk, maar dra nie juis baie skeepsverkeer nie. Die rivier kom sterk af in die winter, of wanneer die sneeu in die lente smelt, en dan voer dit ook groot vragte sand mee, sodat die rivierbedding verstop en skeepsverkeer ontwrig word. In die somer het die rivier baie minder water as in die winter.
Die Garonne (650 km) word ook nie op groot skaal vir skeepvaart gebruik nie. Soos die Loire kom die rivier sterk af in die winter en dra dan 'n groot vrag sediment, wat sandbanke in die rivier opbou.
Die Rhône vloei 812 km. van sy oorsprong in Switserland na die see. Hierdie rivier het twee nadele: 'n onreëlmatige afloop, en ’n steil gradiënt, sodat verkeer moeilik stroomop beweeg. Die delta-monding van die Rhône word dikwels toegeslik. In die moerasagtige gebied rondom die delta word rys gekweek.
Klimaat duimnael|370px|Winter in Le Havre, Normandië Danksy vogtige lugmassas, wat vanuit die Atlantiese Oseaan na die binneland beweeg, word die noordweste van Frankryk deur 'n maritiem-gematigde klimaat met reënval dwarsdeur die jaar, relatief klein daaglikse en seisoenale temperatuurskommelinge en dikwels winderige weer gekenmerk. Die suide toon Mediterreense invloede met warm en relatief droë somers en hoë reënval gedurende die najaar. Die Paryse Bekken en Noordoos-Frankryk het 'n meer kontinentale klimaat met groter seisoenale temperatuurskommelinge en laer neerslae. In die berggebiede daal die kwik in die winterseisoen dikwels benede vriespunt, en sneeuvalle kom gereeld voor.
Volgens hierdie hooftrekke kan die metropolitaanse Frankryk rofweg in vier klimaatsones verdeel word: Die gebied wes van die lyn Bayonne-Lille het 'n vogtige kusklimaat met dikwels frisse somers. In Elsas, in Lotaringe, langs die Rhônevallei en in die bergagtige streke van die land (Alpe, Pireneë en Sentraalmassief) is die klimaat al halfkontinentaal met koue winters en warm somers. Die noordelike deel van die land, Parys en sy omgewing en die sentrum van die land is in klimatiese opsig oorgangsgebiede met koue winters en warm somers. Die gebied kry die hele jaar deur reën. Wingerde, wat teen die suidelike hange lê, lewer in hierdie noordelike gebiede wyne van uitstekende kwaliteit op. Die suide van die land, wat van die Franse Riviera se vlaktes tot by die Rhône- en Saônevalleie in die noorde en Languedoc en Narbonne in die weste strek, het 'n Mediterreense klimaat met milde winters en baie warm somers. Dit is net soos Suid-Afrika se Kaapland 'n winterreënstreek en danksy die warm temperature en droë weer in die somer uiters geskik vir wynbou.
Geskiedenis Voorgeskiedenis tot die vroeë Middeleeue
duimnael|'n Kaart van Gallië in die tydperk van Caesar (58 v.C.)