duimnael|regs|Beeld van 'n Desember kalender. duimnael|regs|'n Joodse kalander van 1831

'n Kalender is die kunsmatige indeling van tyd in kleiner en groter eenhede, gegrond op sterrekundige verskynsels. Die kleinste kalender-eenheid, naamlik 'n dag, berus op die wenteling van die Aarde om sy eie as. 'n Maand berus op die wenteling van die Maan om die aarde en 'n jaar op die aarde se kringloop om die son, wat met ʼn volle seisoensiklus gepaard gaan.

Die woord kalender is ontleen aan ʼn Griekse woord wat "uitroep" beteken aangesien die priesters fees- en vastye asook nuwe mane op die wyse afgekondig het. Die -man- in almanak kom uit Arabies en beteken "maan". Die Midde-Ooste was die ontstaanpunt van die maankalender en die meeste van die ou beskawings het aanvanklik die tydsindeling gevolg. Daar was egter nie genoeg voltooide "maanmaande" om in 'n jaar te pas nie, en die son is later as soortgelyke maatstaf gebruik. In die "sonjaar" vorm die getal dae egter nie 'n heelgetal nie, en die kalender was dus effens uit pas met die seisoene.

Ten einde die natuur se kringloop so na as moontlik te volg, is die sterre ook later ingespan. In die Westerse beskawing word die Gregoriaanse kalender gebruik met 365 dae in 'n kalenderjaar en 366 al om die vier jaar ('n skrikkeljaar). Uitsonderings op die skrikkeljaar is die eeujare wat nie deur 400 deelbaar is nie, asook jaartalle wat wel deur 4 000 deelbaar is. Die kalender is so akkuraat dat die berekenings oor 'n tydperk van 30 eeue net een dag uit pas sal wees met die natuur.

Hoewel die kalender as vanselfsprekend aanvaar word, is dit die mensdom se belangrikste dokument. Dit dateer gebeure, verskynsels en geleenthede op ʼn betroubare manier en speel dus ʼn belangrike maatskaplike rol. Die huidige Westerse kalender het steeds gebreke, byvoorbeeld die ongelyke indeling van maande, die gedurige wisseling van die weekdae met betrekking tot die datums van die maand en die aantal breukweke in 'n jaar. Maandelikse statistiek word hierdeur erg bemoeilik. Verskeie wysigings en vereenvoudigings is reeds in die afgelope twee eeue voorgestel, wat, hoewel prakties uitvoerbaar, waarskynlik moeilik toegepas sal kan word vanweë die diepgewortelde gebruik van die huidige kalenderstelsel.

Historiese kalenders Tydsindeling was van die vroegste eeue af belangrik vir die mens se voortbestaan. Hy was van sy oeste afhanklik en moes leer om die tye van die verskillende seisoene vooruit te bepaal sodat hy voorbereid kon wees op byvoorbeeld droë en nat periodes. Die bewegings van die son, die maan en die sterre was die natuurlike riglyne. Aanvanklik was die maan met sy opvallende veranderings die ideale meetinstrument. Die vroegste bevolkings het dus 'n maankalender gebruik wat uitsluitlik gegrond was op die beweging van die maan om die aarde.

Die soort tydsindeling was aanvanklik in gebruik in Indië, in die Midde-Ooste en later ook in Griekeland en Rome. In 'n poging om betekenis te gee aan dokumente en geskrifte oor die vroeë Indiese kalender; het die Britse regering in die dertigerjare van hierdie eeu ʼn sogenaamde almanak-woordeboek vir Indië uitgegee. Indië het egter sy maanalmanak vir spesiale gebruike behou, maar die sonalmanak word wel amptelik gebruik. Die woord maand is afgelei van die historiese maankalender, hoewel ons maande nie meer ooreenstem met die verskillende maanfases nie.

Die sinodiese maand is die tydsverskil tussen twee opeenvolgende nuwe mane. Dit duur presies 29,530 588 dae, of anders gestel, 29 dae, 12 uur, 44 minute en 2,8 sekondes. Hoewel die dae nie 'n volle getal is nie, kom die desimale deel byna ooreen met 'n halwe dag. Wanneer maande met 29 en 30 dae mekaar afwissel, kom die gemiddelde redelik ooreen met die maanwenteling. Die verskil na 33 sulke maanmaande is dan een dag. Daarna sou 'n dag bygereken moet word deur byvoorbeeld 'n kort maand van 29 dae met een dag te verleng.

Die maansomloop speel egter vandag nie meer 'n rol nie, aangesien die son nou as berekeningsfaktor gebruik word. Die belangrikste sonposisies is die sonkeerpunte, dit wil sê wanneer die son die suidelikste en noordelikste posisies in die hemelruim bereik (21 Junie en ongeveer 22 Desember), die begin van die aarde se astronomiese winter en somer, en die dag- en nagewenings wat tussen die keerpunte lê. Wanneer die son oor die ewenaar (21 Maart en 21 September) beweeg, begin die astronomiese herfs en lente amptelik. Na gemiddeld 365,242 19 dae het die son een tropiese jaar voltooi, gemeet van een lente-ewening tot die volgende. Omdat die aardas 'n kegelvormige baan beskryf, is die tropiese jaar egter effens korter as die werklike omlooptyd van die aarde om die son, die sogenaamde siderale jaar, wat 365,256 36 dae duur. Dit is 0,014 17 dag of 20 minute langer as die tropiese jaar.

'n Goeie sonkalender moet dus op die tropiese jaar gegrond wees, en nie op die siderale jaar nie, want die seisoene sou dan geleidelik in die kalenderjaar opskuif. Die Suid-Afrikaanse herfs sou dan byvoorbeeld oor 2 000 jaar in Augustus begin en oor 4 000 jaar in Julie. Aangesien die dae van 'n tropiese jaar nie 'n volle getal is nie, is die skrikkeljaar ingestel. Die kalenderjaar het dus 365 dae, met ʼn skrikkeldag al om die vierde jaar, wat die gemiddelde jaar so na moontlik aan die tropiese jaar laat bly. Die antieke beskawings het benewens die son en die maan ook die sterre bestudeer. Hulle het die bewegings van die helderste sterre asook die planete wat met die blote oog sigbaar was, bestudeer en voorspellings gemaak wat wetenskaplikes steeds verstom vanweë akkuraatheid. Voorbeelde van vroeë sterrewagte wat in Sentraal-Amerika gevind is, is die Caracol by Chichen-Itza in Yucatan en een by Monte Alban naby Oaxaca in Mexiko.

Die Caracol het onder meer Venus se posisies op die horison aangedui en die sonkeerpunte en dag- en nagewenings bepaal. Die geheime van die sterrewagte word met behulp van rekenaars steeds verder ontrafel. Daar is reeds vasgestel dat die ou sterrekundiges die sonjaar op 12 sekondes van sy werklike duurte na bereken het, terwyl Venus se omwenteling tot op sewe sekondes in 50 jaar bepaal is. Vreemde "almanakke" uit die Steentyd is ook oor Wes-Europa versprei. Stonehenge in Engeland is een voorbeeld. Dit bestaan uit ʼn groepering van groot rotsblokke wat volgens die astronoom Gerald Hawkins posisies van die son en maan aangedui het. Hawkins het in 1973 ontdek dat die beroemde Egiptiese tempel van Amon-Ra (die songod) by Karnak ontwerp is met die wintersonkeerpunt as uitgangspunt. Ook in Wes-Amerika en Kanada het die Amerikaner John Eddy in 1972 oorblyfsels van sterrewagte gevind.

Babiloniese kalender Een van die oudste kalenders het gekom uit Babilonië, bakermat van die sterrewiggelary van ouds. Kleitabelle met merkwaardige astronomiese inligting uit die beskawing het behoue gebly. Die wentelings van die son en die maan is byvoorbeeld tot op sekondes bepaal, terwyl Mercurius se siklus van 88 dae en Saturnus se siklus van 29 jaar ook haarfyn bereken is. Die ou Babiloniese kalender was gegrond op die beweging van die maan om die aarde.

Hul jaar is in 12 maande van afwisselend 29 en 30 dae ingedeel sodat dit saamgeval het met die maanwenteling van 29,5 dae. Daar was 354 dae in hul jaar, wat beteken het dat die jaargety na drie jaar ʼn maand te vroeg sou wees. Op bevel van die heersende vors is ʼn bykomende maand elke drie jaar bygevoeg - die jaar het dus dertien maande gehad. Om te bepaal wanneer die bykomende maand bygevoeg moes word, is die verskyning van sekere sterre gevolg. Die son vertoef in een jaar ongeveer 'n maand lank in elk van die twaalf sterrebeelde (die Babiloniërs het geglo dat elke sterrebeeld oor ʼn bepaalde tydperk regeer). Wanneer die son van die aarde af in die sterrebeeld van die leeu is, is die helder ster Regulus onsigbaar vanweë die son se gloed. Wanneer die son in die beeld van die maagd is, kan Regulus net voor sonop in die ooste gesien word. Hierdie verskyning word sy heliakiese opkoms genoem.

Die omgekeerde geld vir die heliakiese ondergang. 'n Nuwe maand het vir die Babiloniërs begin wanneer die sekelmaan saans in die Weste sigbaar geword het, gewoonlik twee dae na nuwe maan. Die kalender se tekortkoming was die dertiende maand. Omdat die maand deur die heersende vors bepaal is, kon dit gebeur dat twee opeenvolgende jare elk dertien maande gehad het. 'n Soortgelyke stelsel word nog deur die Jode in hul kalender gebruik, asook deur die Christene om die Paasdatum vas te stel.

Egiptiese kalender Die ou Egiptenare, wat net soos die Babiloniërs die sterre bestudeer het, het agtergekom dat die hondester, Sirius, jaarliks sy heliakiese verskyning maak net voordat die Nylrivier sy walle oorstroom het. Die Egiptiese kalender het uit 12 maande van 30 dae elk bestaan - dus 'n jaar van 360 dae.

Elke maand het bestaan uit drie weke van tien dae elk, waaroor sekere sterre "geheers" het. Na die 360 dae is godsdienstige vakansiedae gevier totdat Sirius weer sy verskyning gemaak het om die nuwe jaar in te lui. In 4241 v.C. is 'n almanak met 365 dae amptelik gedokumenteer. Die vyf bykomende dae, die sogenaamde epagomena is aan die einde van die twaalfde maand bygevoeg. Omdat die almanak egter 'n kwart dag te kort geloop het, het dit mettertyd begin agter raak by die astronomiese of godsdienstige kalender.

Na vier jaar was die verskil een dag, na 120 jaar een maand en na 15 eeue was die almanak chronologies een jaar agter die astronomiese jaar, hoewel die seisoene weer saamgeval het. Hierdie periode van presies 1 460 jaar is later die Sothisperiode genoem. Ondanks die Egiptiese almanak se gebreke was dit vir meer as 40 eeue in gebruik. Dit is aan die begin van die Christelike jaartelling aangepas toe die skrikkeldag ooreenkomstig die Juliaanse kalender al om die vierde jaar bygevoeg is. Julius Caesar het, nadat hy Egipte verower het, die Egiptiese sonalmanak oorgeneem en dit op sy Romeinse ryk van toepassing gemaak.

Chinese kalender Die indeling van die ou Chinese almanak kan nie met sekerheid nagespeur word nie aangesien die heersende keiser in 213 v.C. alle boeke laat verbrand het. 'n Historiese skat het deur sy toedoen verlore gegaan. Die Chinese beweer egter dat hulle meer as 20 eeue voor die Christelike jaartelling vasgestel het dat daar 365,25 dae in 'n jaar is.

Hul kalender sou dus uit 365 dae bestaan het, met 'n skrikkeljaar van 366 dae elke vierde jaar. Dit is egter waarskynliker dat hulle 'n maankalender gebruik het met afwisselend 29 en 30 dae in die maand. Hulle jaar het waarskynlik by die wintersonkeerpunt begin toe die dae op hul kortste was. Die Chinese het later van ʼn siklus van 19 jaar gebruik gemaak wat, vanweë hul belangstelling in die sterrekunde, waarskynlik oorgeneem is van die soortgelyke Griekse siklus van Meton.

Griekse kalender Net soos die Chinese kalender was die Griekse kalender aanvanklik 'n maankalender met afwisselend 29 en 30 dae per maand. Hulle dag het met sonsondergang begin sodra die maan sy verskyning gemaak het. ʼn Tydperk van tien dae het bekend gestaan as 'n dekade, die woord wat vandag verkeerdelik gebruik word om tien jaar aan te dui. In die maande met 29 dae het die derde dekade net nege dae gehad. Die eerste dag van die maand is neomenia (nuwe maan) genoem, en daar was twaalf maande in hul jaar van 354 dae. Toe Solon aan die bewind kom, het hy elke twee jaar ʼn dertiende maand ingelas, wat veroorsaak het dat die gemiddelde jaar te lank was.

Die vors Herodotus het geprobeer om die maand elke drie jaar by te voeg, maar die gemiddelde was toe weer te kort. Daarna is 'n siklus van agt jaar, die octaeteride, ingestel, waarvolgens die 13e maand in die 3e, 5e en 8e jaar van die siklus bygevoeg is. Die stelsel het die gemiddelde jaar op 365,25 dae te staan gebring, maar die kalender het toe nie meer met die maanwenteling ooreengestem nie. Die beroemde siklus van Meton is in die 4e eeu v.C. in gebruik geneem.