duimnael|Die uitbreiding van die Frankiese Ryk onder Karel die Grote. duimnael|regs|280px|Die St. Michael in Hildesheim is in die Middeleeue gebou.

Die Middeleeue word rofweg beskou as die tydperk in die Europese geskiedenis tussen 400 en 1500 ná Christus. Die Middeleeue begin in die vyfde eeu n.C. met die ineenstorting van die Wes-Romeinse Ryk en die bewindoorname van Wes-Europa deur die Germaanse volke.

Bevolkingsafname, teenverstedeliking, invalle en die beweging van mense, wat gedurende die Antieke-tyd begin het, het tot in die vroeë Middeleeue voortgeduur.

Barbare, waaronder verskeie Germaanse volke, het nuwe koninkryke gestig in wat ná invalle van die Wes-Romeinse Ryk oor was.

Ná die Middeleeue, in die Renaissance-tydperk, het monargieë tot stand gekom en word van die klassieke kulture herontdek (die Middeleeue word as ’n tussenfase ná die val van die Wes-Romeinse ryk teen die einde van die 5de eeu, beskou).

In die tyd van 476 tot 800 word die westelike deel van Europa deur die koninkryke wat deur die Germaanse stamme gestig is, oorheers. Die Franke het ’n belangrike rol gespeel omdat hulle die katolieke weergawe van die Christendom aangeneem het en stadig ’n groot deel van Europa verower het. Die Gote was Ariane.

Ook ander Germane, soos die Bourgondiërs, die Wes-Gote, die Oos-Gote, die Langobarde en die Sakse het koninkryke gestig. Engeland is deur die Angele, Sakse en Jutte ingeval.

In 800 word die Frankiese koning, Karel die Grote, keiser en neem die Karolingiese Renaissance aanvang. Die keisers het vinnig teen hulle vasale (onderdane) verloor en so het die feodale tydperk begin. In 1066, ná die Slag van Hastings, het die Normandiese verowering van Engeland begin.

In die feodale tydperk was die koninkryke verdeel in baie graafskappe en hertogdomme. In 1095 het die Bisantynse keiser Alexius Comnenus, vir pous Urbanus II gevra om die Turke uit Jerusalem te help verdryf. Urbanus het ingestem en die volgende twee eeue word deur die Kruistogte gekenmerk.

In die 14de eeu is Europa deur pes-epidemies getref, soos die Swart Dood.

Algemene oorsig

Begripsbepaling Die term Middeleeue word gebruik om die tydperk van die Europese geskiedenis tussen 500 en 1500 n.C. te benoem. Dit is vir die eerste keer in die sin deur die Humaniste van die Italiaanse Renaissance (15e en 16e eeu) gebruik. Hulle wou daarmee aandui dat die klassieke Grieks-Romeinse beskawing na die val van Rome gevolg is deur 'n "middeltydperk" van verval in barbaarse en primitiewe sedes, waartydens die individu gebonde was.

Dit is, volgens hulle, gevolg deur die Renaissance, wat reeds aan die einde van die 15e eeu in Italië begin het. Renaissance beteken "herlewing" of "wedergeboorte", en as naam van die bepaalde tydperk impliseer dit die wedergeboorte van die "beskawing", gebaseer op die Grieks-Romeinse kultuur. Die term Middeleeue het eers in die 17de en 18de eeu algemeen in gebruik gekom, gewoonlik in 'n neerhalende sin.

Die Romantiese beweging in die kuns en die letterkunde van die 19de eeu het egter tot 'n herwaardering van die Middeleeue gelei. Die begeerte om aan die hede te ontsnap, het 'n idealisering van die Middeleeue tot gevolg gehad. Die klem het geval op die romantiek van die ridders en die hoofse lewe (die lewe aan die hof).

Die nuwe belangstelling in die Middeleeue was ook gedeeltelik die gevolg van ontwakende nasionalisme, veral in Duitsland. Die oorsprong van volkstradisies en elemente eie aan die nasionale kultuur is in die Middeleeue gesoek. In Engeland het die legendes van koning Arthur en sy ridders herleef en in Duitsland het heldefigure uit die Middeleeue en die talle Germaanse legendes as bron van inspirasie vir skrywers en digters gedien.

Indeling Tussen die 5de en die 15de eeue het daar so baie veranderings op alle terreine van die maatskaplike lewe ingetree dat dit onmoontlik is om die Middeleeue as een ononderbroke tydperk te beskou. Die skyn van eenheid word gewoonlik gekoppel aan die leenstelsel (feodalisme) en die onverdeeldheid van die Christelike (Rooms-Katolieke) geloof.

Die leenstelsel het wel aan die begin van die Middeleeue (in die Frankiese tyd) ontstaan, maar was lank voor die einde van die Middeleeue al verby sy hoogtepunt, terwyl oorblyfsels daarvan tot selfs in die 19de eeu in dele van Europa merkbaar was. Dit is dus verkeerd om aan die Middeleeue te dink as by uitstek 'n tyd van feodalisme. Die eenheid van die Kerk was ook net skyn.

Verdeeldheid in die Kerk het dikwels in die middeleeue voorgekom. Pouse, konsilies en teenpouse het mekaar tot ketters verklaar, en amptelike kettery soos die van die Albigense in Frankryk het ook kort-kort kop uitgesteek. Tog word die Middeleeue om sistematiese en historiese redes as een tydperk beskou wat by die nadere bestudering daarvan in 3 tydperke onderverdeel kan word, naamlik die Vroeë Middeleeue (ca. 500-1050/ 1100), die Hoogmiddeleeue (ca. 1100- 1300) en die Laat Middeleeue (ca. 1300-ca. 1500).

In die Vroeë Middeleeue het Klassieke (Romeinse) en Germaanse elemente geleidelik versmelt en die leenstelsel het sy beslag gekry. In teenstelling met die Hoogmiddeleeue, wat deur ʼn kulturele herlewing en die opkoms van stede en handel gekenmerk is, word die Vroeë Middeleeue in die Angel-Saksiese literatuur soms die "Dark Ages" (Donker Eeue of Duistere Middeleeue) genoem. Die Laat Middeleeue is gekenmerk deur die opkoms van 'n welvarende burgery en die ontwikkeling van nuwe wapens.

Bestudering Die 19e-eeuse belangstelling in die Middeleeue het baie positiewe gevolge gehad vir die wetenskaplike bestudering van die tydperk. In Duitsland (die bolwerk van die Romantiek) is spesiale verenigings gestig vir die publikasie van bronne.

Spesiale hulpwetenskappe is ontwikkel, onder meer paleografie (die lees van ou skrif), numismatiek (die kennis van ou munte), heraldiek (die bestudering van skild- en familiewapens) en veral chronologie, wat van belang is om Middeleeuse daterings ooreenkomstig die moderne kalender om te reken. Naas die geskrewe bronne is argeologie ook 'n belangrike bron van aanvullende kennis oor die Middeleeue. Die belangrikste hiervan is die oorblyfsels van nedersettings, kastele, kerke, skeepswrakke, stadsmure en die sogenaamde stadskernondersoek.

Skilderye, drieluike, miniature en beeldhouwerke werp soms baie lig op die lewensopvattings gedurende die Middeleeue. Geskrewe bronne oor die Middeleeue kan basies onderverdeel word in verhalende en amptelike bronne. Die verhalende bronne sluit in biografieë van heiliges, konings en ander groot figure, en is gewoonlik uiters subjektief en moet as sodanig beoordeel word.

Daar bestaan byvoorbeeld biografieë van Karel die Grote, Frederik Barbarossa en Lodewyk IX die Heilige. Ander verhalende bronne is ensiklopedieë (veral in die Vroeë Middeleeue), teologiese geskrifte soos die van Thomas van Aquino (Thomas Aquinas; 13de eeu), regsboeke (Laat Middeleeue), annale en kronieke. Diplomatieke geskrifte soos memoranda, briewe en regsdokumente het in groot getalle bewaar gebly en is meestal betroubaar omdat hulle feitelik korrek en objektief is.

Lewensbeskouing Dit is onmoontlik om 'n spesifieke lewensbeskouing as tipies Middeleeus te beskryf, want in die ongeveer 1 000 jaar wat die tydperk geduur het, het daar natuurlik baie veranderings plaasgevind. Die hele tydperk is egter oorheers deur godsdiens en die Kerk.

Die Middeleeuse geloof was nie 'n rasionele struktuur van reëls nie, maar 'n mengelmoes van vae, primitiewe voorstellings en Christelike opvattings. Die ideologie van die Middeleeuse Kerk was veral geïnspireer deur die leerstellings van Augustinus (354-430), wat in sy hoofwerk, De civitate Dei ("Die Godstaat"), verklaar het dat God se heilsplan vir die wêreld reeds uitgewerk was en dat die mens niks daaraan kon verander nie. Die Middeleeuse mens het daaruit die gevolgtrekking gemaak dat dit sinloos was om verandering op aarde na te streef.

Daar was weinig belangstelling in die verlede of die hede. Geskiedskrywing was in die eerste plek daarop gemik om vas te stel hoe ver God se plan vir die wêreld voltooi was. Aan feite en gebeure is geen selfstandige betekenis toegeken nie. Die siening het tot in die Laat Middeleeue geduur, maar het mettertyd minder swartgallig deterministies (dit wil sê die siening dat alles vooraf bepaal is) geword. Die Kerk het egter nooit daarin geslaag om die ou Germaanse en Keltiese volksopvattings te onderdruk nie.

Ondanks die sterk teenkanting van die Kerk het geloof in toorkuns en die beoefening van magiese praktyke soos alchemie dwarsdeur die Middeleeue voortbestaan. In die Laat Middeleeue het die Kerk die stryd gewonne gegee en die volksgeloof in die amptelike leerstellings opgeneem. Die geloof in toordery is byvoorbeeld aangevul met die teologiese begrip van besetenheid deur die duiwel. Daardeur het die Kerk goedkeuring verleen aan die wrede en grootskaalse vervolging van "hekse". Op dieselfde wyse is die vervolging van andersdenkendes en minderheidsgroepe - Jode, Sigeuners, ketters, ensovoorts - deur die Kerk geregverdig.

Sosiale orde Die Middeleeuse opvatting van die samelewing is ook in groot mate deur die beset van die nietigheid van aardse dinge bepaal. Dit blyk al duidelik uit die neiging wat daar bestaan het om vrywillig ʼn kluisenaarsbestaan te voer of die afsondering van 'n kloosterlewe op te soek.

In die Vroeë Middeleeue was die sosiale opvattings van amptelike leerstellings baie onbuigsaam. Daar was slegs 3 sosiale ordes (nie stande nie), naamlik die oratores ("hulle wat bid"), die bellatores ("hulle wat veg") en die laboratores ("hulle wat werk"). Die geestelikes was die hoogste orde, onmiddellik gevolg deur die grootgrondbesitters en krygers.

Die boere (meestal lyfeienes) was onder op die maatskaplike leer. Daar was geen ander sosiale groepe nie. Pogings van 'n individu om uit sy plek in die samelewing te ontsnap, is as verset teen die wil van God beskou. Die onbuigsame indeling in 3 sosiale ordes het teen die 12de eeu met die opkoms van stede, handel en 'n burgery begin verander.

Die teorie het meer wêrelds geword en is by die nuwe werklikheid aangepas. Die 3 stande (die geestelikheid, die adel en die burgery) is toe in beginsel as gelykwaardig beskou, waarby veral die derde stand (gegoede burgers) baat gevind het. Die Kerk het die nuwe sosiale opvatting geleidelik goedgekeur en teen 1400 het die nuwe standestaat ontwikkel, wat eers in die 19e eeu volkome verdwyn het.

Kerk en Staat Die Middeleeuse idee oor die Staat was in ooreenstemming met die besondere posisie wat geloof en die Kerk in die samelewing beklee het. Daar is geglo dat die Romeinse Ryk nooit opgehou het om te bestaan nie en dat die eietyd dus net 'n voortsetting daarvan was. Die siening is versterk deur die teorie oor die 4 wêreldryke wat aan die boek Daniël in die Bybel ontleen is.

Volgens die teorie is die geskiedenis van die mens op aarde in 4 groot wêreldryke verdeel, naamlik die Assiriese, die Persiese, die Griekse en die Romeinse. Die laaste wêreldryk sou gevolg word deur die wederkoms van Christus. Die Romeinse Ryk kon dus, volgens Middeleeuse denke, nie verdwyn het nie omdat Christus nog nie na die aarde teruggekeer het nie. Die keiser van Duitsland (eers die Oos-Frankiese Ryk, later die Heilige Romeinse Ryk wat Duitsland, Boheme en dele van Italië, Frankryk en die Nederlande ingesluit het) is as die soewereine vors in Europa beskou.

Die konings van ander gebiede was (slegs in teorie) tot in die Laat Middeleeue aan hom ondergeskik. Daar is dus gedink in terme van 'n Christelike ryk (waarvan die eenheid deur die Kerk gesimboliseer is) en nie in terme van soewereine nasionale state nie. Die geestelike oppergesag het by die pous berus. Die pousdom het egter op steeds meer wêreldlike gesag aangedring en in konflik met die keiser geraak.

Leenstelsel