Die luiperd (Panthera pardus), voorheen as bergtier of tier bekend, C.S. Grobbelaar. 1959. Soogdiere: Die Vleisetende Roofdiere in: C.F. Albertyn e.a. Die Afrikaanse Kinderensiklopedie Deel VI. Bl. 2526: … op die lys is daardie groot kat met swart spikkels wat ons in Suid-Afrika die tier noem. Ons sit 'n bietjie opgeskeep met hierdie naam wat ons voorgeslagte vir hom gegee het... Maar nou die naam! Baie mense noem hom bergtier. Hierdie tier van ons kom oor die hele Afrika en in Indië voor. In Indië waar die Hindoes baie meer las van hom het as ons, noem die inboorlinge hom die cheta-bagh, d.w.s. die 'gespikkelde tier'...Dierkundiges wil hê ons moet hom die luiperd noem. Hulle is so gewoond daaraan om die name van diere te verander dat hulle nie kan insien waarom ons aan die ou volksnaam wil kleef nie. Om verwarring te voorkom sal ons hom maar in die vervolg bergtier (luiperd) noem, hoewel hy nog altyd in die volksmond bekend sal staan as die 'tier' . Op bl. 2531 staan (met verwysing na die jaguar): Hy is die Westelike Halfrond se grootste kat. Hierdie groot, swaar kat van by die agt voet en byna 250 pond en met die volmaakte toerusting van 'n roofdier is 'n ware tiran in die hele Suid-Amerikaanse dierewêreld. Hulle noem hom daar ook 'el tigre', die tier. Dit lyk of elke wêrelddeel maar graag 'n tier wil hê: ons in Suid-Afrika noem ons groot, swart, gespikkelde kat ook die 'tier' is 'n spesie uit die katagtiges wat oor Afrika en Asië versprei is. Verder kom hy ook in Kaukasus en dus op die buitenste randgebied van Europa voor. Die luiperd is naas die tier, leeu en jaguar die vierde grootste grootkat. Die dier het 'n vaalgeel tot rooibruin pels met swart, rosetvormige kolle. 'n Melanistiese kleurvariëteit, die sogenaamde swart panter, word ook aangetref.

Die luiperd het die grootste verspreidingsgebied van alle groot katagtiges (genus Panthera) en is die algemeenste en wydsverspreidste grootkat. Sy voortbestaan word nietemin bedreig: op die IUBN-rooilys van Bedreigde Spesies word die spesie as kwesbaar geklassifiseer.

Naamgewing Die wetenskaplike naam van die spesie is in 1758 as Felis pardus deur Carl Linnaeus in Systema Naturae gepubliseer. Linnaeus, C. (1758). Systema naturae ed. 10: 41.

Die woord luiperd gaan terug op die Latynse leopardus, wat op sy beurt aan die Griekse λεόπαρδος, leopardos, ontleen is – 'n samestelling van λέων, leōn ("leeu"), en πάρδος, pardos ("panter"). Die woord het volksetimologies verander onder invloed van luip ("loer") en perd. Vries, J. de en Tollenaere, F. de, Nederlands etymologisch woordenboek, vierde druk 1997, Koninklijke Brill, Leiden

Kenmerke Die luiperd is 'n groot, gespierde katagtige met kort, kragtige pote en 'n lang stert. Die kop is breed en effens rond van vorm, met klein, ronde ore, 'n middelgroot snuit, kragtige kake en lang snorbaarde. In vergelyking met byvoorbeeld die jagluiperd (Acinonyx jubatus) het die luiperd 'n groot kop, 'n dik nek en kort bene.

Luiperds verskil van streek tot streek wat kleur en grootte betref. Daar word verskeie subspesies onderskei, maar individuele verskille word so dikwels aangetref dat die indelings nie altyd betroubaar is nie. Die sogenaamde swart panter is byvoorbeeld vroeër as ʼn afsonderlike spesie beskou, maar ondersoeke het later aan die lig gebring dat die verskynsel aan melanisme (die oormatige deponering van melanien) toegeskryf kan word. Daar is oor die algemeen tog duidelike kleurverskille tussen luiperds: die grondkleur is gewoonlik vaalgeel, maar in Persië is dit grys en in Java rooibruin.

Die luiperds wat in Afrika aangetref word, se rosette is gewoonlik kleiner en nader aan mekaar as dié van die luiperds in Asië, terwyl luiperds in die Ooste se pelse oor die algemeen langer is as dié wat in Afrika voorkom.

Bou en grootte Die afmetings en massa van die luiperd wissel binne die groot verspreidingsgebied. Oor die algemeen is die boslewende luiperds meestal kleiner en meer gedronge, terwyl dié wat in oop ruimtes leef as 'n reël slanker en groter gebou is. Die luiperd word 90-190 cm lank, sonder die 60-110 cm lange stert ingereken; die totale lengte kan dus tot 3 m beloop, waarvan byna 1 m deur die stert in beslag geneem word.

Die mannetjies en wyfies lyk eenders, maar eersgenoemde is gewoonlik groter. Die luiperdmannetjies weeg ongeveer 40-90 kg en het 'n skouerhoogte van 70-80 cm; die gemiddelde skouerhoogte van die spesie is sowat 70 cm. Mannetjies het 'n kop-romplengte van 130 tot 190 cm en wyfies van 104 tot 140 cm. Die wyfies is omtrent die helfte so groot en weeg slegs ongeveer 30-60 kg. Jong wyfies het 'n skouerhoogte van 45 cm. Die luiperds wat in die Kaapse floraryk hou, soos die Kaapse luiperd (Panthera pardus melanotica), weeg dikwels slegs 20-30 kg. 'n Luiperd kan 'n snelheid van tot 58 km/h haal.

Die luiperd se beenkonstruksie is van so 'n aard dat dit die skok van 'n sprong baie goed kan absorbeer. Sy belangrikste wapens is sy geweldige sterk kake en vlymskerp kloue; daar is vyf kloue aan die voorpote en vier aan die agterpote.

Pelspatroon duimnael|Gevlekte rosette in die pels van 'n Persiese luiperd Die pelspatroon wissel dikwels baie van subspesie na subspesie, maar ook van individu na individu wat in dieselfde habitatgebied voorkom. Die luiperd het swart kolle aan die nek en voorpote, maar op die lyf is dit in rosette gegroepeer. Die pelsrosette is byna altyd in rye al met die rug langs gerangskik. Op die bors en laer hals word dikwels aarbeivormige rosetvlekke gevind wat saamsmelt om 'n kraag of "halsband" te vorm.

Op die bokant van die lang stert loop die rosette langs die middellyn voort. Die rosette word na die stertpunt toe al minder duidelik, maar kan soms tot etlike dwarsringe saamsmelt. Die onderkant van die stert is egter na die stertpunt toe baie lig tot wit. Die pens, die keel, die ken en die boonste binnekante van die bene is eweneens sonder rosette en wit, geelwit of in oorgaande grys gekleur. Verder na die pote heen is soliede vlekke te vinde, wat na onder al hoe kleiner word. Net so is op die kop en die boonste nek en hals slegs swart soliede vlekke aanwesig. Die ore is aan die agterkant swart, met 'n opvallende wit tekening in die middel. Die boslewende luiperds is oor die algemeen skerper gekleur as luiperds op die oop veld.

Die gevlekte pels dien as uitstekende kamoeflering: in bome en onder bosse smelt die luiperd se pels heeltemal met die skadukolle saam, sodat hy maklik onopgemerk kan bly.

Swartluiperds duimnael|Die "spook"-patroon van die agoeti-tekening wat in sonlig deur die egalig swart pels van 'n swartluiperd sigbaar is Die grondkleur van die meeste diere is sandgeel of ligbruin, maar die kleur kan sterk wissel, van byna wit tot heeltemal swart. In die hoogliggende gebiede en reënwoude kom hierdie swart variëteit soms voor, wat bekend staan as die swartluiperd of panter. Dit is nie 'n afsonderlike spesie nie. Hierdie verskynsel van die swart (melanistiese) pels is oorerflik en word deur 'n enkele (monogenetiese) geen resessief oorgeërf.

Die genotipe van elke swartluiperd is, ongeag die subspesie, aa. By dié swart kleurvariëteit ontbreek die dominante agoeti-alleel A, sodat die patroon nie vertoon nie en die pels egalig bruinswart bly. Daarmee kan die erflike aanleg ook by 'n normaalgevlekte luiperd aanwesig wees, of dit kan in 'n werpsel swart kleintjies tussen normaalgevlekte welpies voorkom. Om so 'n swart variëteit voort te bring, verg baie inteling. Indien die dier dwarsweg of onder skuins lig waargeneem word, kan mens egter ook by swartluiperds die tipiese (hoewel dowwe) rosette raaksien: in sonlig is die "spook"-patroon van die agoeti-tekening nog vaagweg deur die swart pelskleur heen te sien.

In sommige gebiede, soos op die Maleisiese Skiereiland, is tot 50 persent van alle luiperds swart. In Afrika kom swartluiperds die meeste in die Ethiopiese Hoogland voor. In 2002 is 'n swartluiperd by die Kudu Game Ranch naby Lydenburg gefotografeer. Swartluiperds veilig bewaar. Beeld. 24 April 2002. Aan die begin van 2019 is 'n swartluiperd deur die Britse fotograaf Will Burrard-Lucas in Kenia afgeneem; volgens die beriggewing daaroor was die vorige keer dat 'n swartluiperd in Afrika gefotografeer is in 1909 in Ethiopië.

Sintuie Die ore is gerond. Die gehoorsintuig is uitstekend ontwikkel. Luiperds kan baie hoë (vir die mens onhoorbare) frekwensies van tot 45 000 hertz hoor, ook wanneer die geluide baie sag is. Die oë is na voor gerig en toon 'n breë oorvleueling van die gesigsveld. Dit skep vir hulle 'n uitstekende stereoskopiese visie.

Bedags is die gesigsvermoë ongeveer soortgelyk aan dié van 'n mens; snags kan die luiperd egter vyf tot ses keer beter sien: Luiperds kan die ronde pupille baie wyd oopmaak, sodat selfs swak lig die oog kan binnedring; verder besit luiperds soos alle katsoorte 'n weerkaatsende lagie agter die netvlies, die sogenaamde tapetum lucidum (kleurvlies), wat deur terugspieëling die ligopbrengs laat toeneem. Die reuksin is ook uitstekend ontwikkel, selfs beter as dié van die tier, hoewel die luiperd soos alle ander katagtiges hoofsaaklik op sy ore en oë staatmaak om te jag en die reuk hierin nie bepalend is nie.

Die snorbaarde en tashare (vibrissae) aan die voorpote is sensitief vir aanraking en van besondere belang wanneer die dier byvoorbeeld die grootte van 'n opening moet skat. Die snorbaarde verander van stand na gelang van wat die dier doen: wanneer hy loop, staan hulle sywaarts uitgesprei; wanneer hy snuffel, lê hulle na agter teen die kop; en wanneer hy 'n prooi aanval, is hulle na vore gerig, sodat hy op die regte plek kan toebyt.

Verspreiding en habitat duimnael|350px|'n Meer gedetailleerde verspreidingskaart: Die luiperd kom in Afrika voor, met uitsondering van die Sahara, en in die suide en ooste van Asië: onder meer in Klein-Asië, Turkye, Arabië, Persië, Kaukasië, Transkaukasië, die voormalige Sowjetunie, Siberië, Mantsjoerye, China, Korea, Indië, Sri Lanka, Maleisië, Java en Bali. In Suid-Afrika kom die luiperd in groot dele van die Kaapse en Natalse kusstreke en ook in dele van Gauteng voor. Gedurende die Pleistoseen en die Holoseen het die luiperd ook in Suid- en Suidoos-Europa voorgekom, moontlik tot ongeveer die begin van die westerse jaartelling.

Die luiperd se leefplekke verskil sterk: van droë woestyne tot digte reënwoude, van koue naaldwoude tot tropiese savannes, en verder ook rotsagtige gebiede, grasland en hoë koue streke. Op die Kilimanjaro is selfs 'n dooie luiperd op 5 638 m hoogte gevind, wat doodgevries het. Die belangrikste maatstaf vir 'n goeie leefomgewing is die hoeveelheid voedsel wat beskikbaar is, en genoeg skuilplekke in die vorm van hoë plantegroei, bome of rotse is eweneens belangrik.

Vanweë sy aanpasbaarheid kon die luiperd die euwels wat 'n groeiende beskawing vir die diereryk inhou, beter as selfs die leeu oorleef. Daarom word luiperds nog in gebiede aangetref waar ander roofdiere lankal uitgeroei of verdryf is.

Subspesies Volgens die IUCN/SSC Cat Specialist Group word agt subspesies binne die spesie Panthera pardus onderskei: A revised taxonomy of the Felidae (pdf). Cat News Special Issue 11. IUCN/SSC Cat Specialist Group.

Afrika-luiperd (P. p. pardus) Arabiese luiperd (P. p. nimr) Indochinese luiperd (P. p. delacouri) Indiese luiperd (P. p. fusca) Sri Lankaanse luiperd (P. p. kotiya) Javaanse luiperd (P. p. melas) Amoer-luiperd (P. p. orientalis) Anatoliese luiperd (P. p. tulliana), waaronder ook die Persiese luiperd gereken word

Vroeër is meer subspesies beskryf en gebruik, maar dié is onder meer deur navorsing oor mitochondriale DNS verwerp. Die swart panter is nie 'n aparte subspesie nie, maar 'n melanistiese kleurvariëteit van die pels wat in verskeie subspesies voorkom.

Lewenswyse