Die aanvalle op 11 September 2001, afgekort as nege-elf of 9/11,In die Verenigde State word die maand voor die dag geskryf. 9/11 verwys dus na 11 September en nie 9 November nie. was 'n reeks van vier terreuraanvalle wat die oggend van 11 September 2001 in die VSA gepleeg is. Vier groepe ekstremistiese terroriste, elk met 'n opgeleide vlieënier, het passasiersvliegtuie gekaap en dit direk in bekende bakens vasgevlieg. Hierdie teikens was die Pentagon en die Wêreldhandelsentrum se tweelingtorings in New York Stad. Die vierde vliegtuig het neergestort voordat dit sy beoogde teiken in Washington, D.C. kon bereik. Byna 3 000 mense sterf tydens die gebeure. Die meeste slagoffers was burgers van die Verenigde State, maar meer as 300 mense van ander lande, soos die Verenigde Koninkryk, Indië en Kanada het ook hiertydens omgekom. Na afloop van die gebeurtenis het die regering van die VSA gesê dat die aanvallers bande met die Al-Kaïda-terroristegroep het.
Die aanvalle is beplan deur die islamistiese terreurnetwerk Al-Kaïda onder leiding van Osama bin Laden en deur negentien van sy lede uitgevoer, waarvan vyftien burgers van Saoedi-Arabië was. Die aanvoerder, Mohammed Atta, het American Airlines-vlug 11 om 08:46 in die Noordtoring van die Wêreldhandelsentrum gevlieg; om 09:03 het Marwan al-Shehhi United Airlines-vlug 175 in die Suidtoring gevlieg. Albei torings het binne 'n uur en twee-en-veertig minute ineengestort en die oorblywende geboue van die kompleks vernietig. Hani Hanjour het American Airlines-vlug 77 om 09:37 in die Pentagon gevlieg, wat 'n gedeeltelike ineenstorting veroorsaak het. United Airlines-vlug 93, gekaap deur Ziad Jarrah, was waarskynlik op pad na die Capitol of die Withuis, maar die passasiers het in opstand gekom nadat hulle van die vorige aanvalle gehoor het, en die vliegtuig het om 10:03 naby Shanksville in Pennsilvanië neergestort.
Dieselfde aand het die Central Intelligence Agency (CIA) aan president George W. Bush gerapporteer dat sy teenterreursentrum die aanvalle aan Al-Kaïda toegeskryf het. Die Verenigde State het gereageer deur Afghanistan binne te val en 'n wêreldwye oorlog teen terreur te begin, met die verklaarde doel om organisasies wat dit as terreurgroepe beskou het, en die regerings wat hulle sou ondersteun, uit te skakel. Die NAVO het Artikel 5 van die Noord-Atlantiese Verdrag ingeroep – tot op hede die enigste keer dat dit gebeur het – en sy bondgenote opgeroep om ook teen Al-Kaïda op te tree. Bin Laden het aanvanklik enige betrokkenheid ontken, maar in 2004 aanspreeklikheid vir die aanvalle aanvaar. Die byna dekadelange klopjag op hom het in Mei 2011 geëindig toe hy tydens 'n Amerikaanse militêre aanval in Abbottabad, Pakistan, doodgemaak is.
Met altesaam 2 996 dooies uit 92 lande en meer as 6 000 beseerdes was dit die dodelikste terreuraanval in die geskiedenis. Dit was ook die dodelikste enkele voorval in die geskiedenis van sowel die Amerikaanse brandweer as die Amerikaanse wetstoepassing. Die vernietiging van die Wêreldhandelsentrum en die omliggende geboue het die Amerikaanse ekonomie ernstig geskaad en wêreldwye markskokke veroorsaak, en talle lande het hul teenterreurwetgewing verskerp en die bevoegdhede van hul polisie- en intelligensiedienste uitgebrei. Die Costs of War-projek van die Brown-universiteit het in 2023 beraam dat die aanvalle en die oorloë wat direk daaruit voortgespruit het, saam meer as 4,5 miljoen sterftes tot gevolg gehad het.
Die opruiming van die terrein van die Wêreldhandelsentrum, in die volksmond Ground Zero genoem, is in Mei 2002 voltooi, en die Pentagon is binne 'n jaar herstel. Ses nuwe geboue is uiteindelik op die terrein opgerig, saam met 'n museum en 'n gedenkteken. Die hoogste daarvan, One World Trade Center, is in 2006 begin en in 2014 geopen. Gedenktekens vir die aanvalle sluit die National September 11 Memorial and Museum in New York, die Pentagon-gedenkteken in Virginië en die Flight 93 National Memorial in Pennsilvanië in.
Agtergrond
Osama bin Laden en Al-Kaïda
links|duimnael|Osama bin Laden In 1996 het Osama bin Laden, wat die djihadistiese organisasie Al-Kaïda gelei het, sy eerste fatwa uitgevaardig. Daarin het hy 'n heilige oorlog teen die Verenigde State verklaar en geëis dat alle Amerikaanse troepe uit Arabië onttrek word. Bin Laden het die teenwoordigheid van Amerikaanse soldate as 'n provokasie teenoor alle Moslems beskou. Oor sy heilige oorlog het hy gesê: "Ons onderskei nie tussen dié wat militêre uniforms dra en burgerlikes nie; hulle is almal teikens van hierdie fatwa."
Bin Laden het voor 1996 in Soedan gewoon. Nadat die Soedannese regering hom onder Saoedi- en Amerikaanse druk verban het, het hy na Afghanistan teruggekeer, waar die Taliban aan bewind was en Al-Kaïda toegelaat het om die land as operasionele basis te gebruik. Daarvandaan het hy die aanvalle van 11 September beplan en self aan die deelnemers opdrag gegee om die Wêreldhandelsentrum en die Pentagon met gekaapte vliegtuie te tref.
Volgens latere ondersoekbevindings het Bin Laden die aanvalsplan sedert 1993 saam met Khalid Sheikh Mohammed en Mohammed Atef ontwikkel en mede-gefinansier, die kapers aan die einde van 1999 gekies en hulle beveel om na die Verenigde State te reis en daar as vlieëniers opgelei te word. Hy het die torings van die Wêreldhandelsentrum as teikens gekies omdat hulle die finansiële mag van die Verenigde State gesimboliseer het; hy het verwag dat hul vernietiging die finansiële markte sou verwoes en 'n resessie sou veroorsaak. Die Pentagon is gekies om die Amerikaanse weermag te verneder, om 'n Amerikaanse aanval op Al-Kaïda-fasiliteite in Afghanistan in 1998 te wreek, en om 'n onmiddellike teenaanval te bemoeilik. Die vierde teiken moes die politieke leierskap van die land tref.
Motiewe Bin Laden se fatwa van 1996 en soortgelyke verklarings waarin hy tot die dood van Amerikaners opgeroep het, word deur ondersoekers as bewys van sy motief beskou. In 'n tweede fatwa in 1998 het hy verdere besware teen die Amerikaanse buitelandse beleid uiteengesit, soos die Amerikaanse steun aan Israel en die sanksies teen Irak, wat hy 'n "langdurige blokkade" genoem het. Hy het beweer dat die Verenigde State deur 'n internasionale Joodse sameswering aangedryf word om soveel Moslems as moontlik dood te maak, en dat alle Moslems 'n verdedigende oorlog teen die land moet voer totdat die aggressie ophou. Bin Laden het ook gesê dat 'n aanval 'n boodskap aan die Amerikaanse publiek sou stuur en die regering sou dwing om sy beleid te heroorweeg.
Ná 11 September het Bin Laden volgehou dat vroue en kinders nie die teiken was nie, maar wel simbole van die Verenigde State se "ekonomiese en militêre mag". In 'n video wat in Desember 2001 versprei is, het hy nie verantwoordelikheid erken nie, maar gesê dat "die Weste in die algemeen en Amerika in die besonder 'n onuitspreeklike haat vir die Islam het" en dat dit belangrik is "om die ekonomie [van die VSA] te tref, wat die basis van sy militêre mag is". In 'n manifes van 2002 het hy verskeie faktore gelys wat die aanvalle sou gemotiveer het, onder meer Amerikaanse steun aan Israel, aan die Filippyne en aan Rusland teen Moslem-militante, en aan Indië in Kasjmir. In die video van 2004 het hy gesê dat hy geïnspireer is om die tweelingtorings te vernietig nadat hy gesien het hoe torings in Libanon gedurende die oorlog van 1982 deur Israel vernietig is: "God weet dit het nie by ons opgekom om die torings aan te val nie, maar nadat ek die vernietigde torings in Libanon gesien het, het dit by my opgekom om die onregverdiges op dieselfde manier te straf."
Benewens die motiewe wat Bin Laden self genoem het, is ander verklarings voorgestel. Sommige skrywers wys op die "vernedering" wat gevolg het uit die feit dat die Islamitiese wêreld agtergeraak het by die Weste, 'n verskil wat deur globalisering besonder sigbaar geword het. Ander voer aan dat die aanvalle 'n strategiese poging was om die Verenigde State tot 'n breë oorlog teen die Islamitiese wêreld te verlei, in die hoop dat dit 'n pan-Islamitiese opstand sou ontketen.
Khalid Sheikh Mohammed en ander Al-Kaïda-lede duimnael|Khalid Sheikh Mohammed ná sy inhegtenisneming in 2003 in Rawalpindi, Pakistan In April 2002 het Yosri Fouda van Al Jazeera die Al-Kaïda-lede Khalid Sheikh Mohammed en Ramzi bin al-Shibh in hul skuilplek ontmoet; albei het teenoor hom hul betrokkenheid by die aanvalle erken. Mohammed was voor 2001 een van die organiseerders en finansiers van die bomaanval op die Wêreldhandelsentrum in 1993 en was die oom van Ramzi Yousef, die hoofbomplanter in daardie aanval. Saam met Yousef het hy daarna die sogenaamde Bojinka-plan beraam, 'n aanslag wat vir Januarie 1995 beplan is. Hoewel dié plan misluk het, sou dit die latere aanvalle van 2001 beïnvloed. Die verslag van die 9/11-kommissie het in 2004 bevind dat Mohammed se vyandigheid teenoor die Verenigde State uit sy "gewelddadige meningsverskil met die Amerikaanse buitelandse beleid ten gunste van Israel" gespruit het.
Beplanning Onder die dokumente wat tydens die operasie van 2011 waarin Bin Laden gedood is beslag gelê is, was aantekeninge wat hy in September 2002 met die hand geskryf het onder die opskrif "Die geboorte van die idee van 11 September". Daarin verwys hy na die neerstorting van EgyptAir-vlug 990 in Oktober 1999, wat opsetlik deur die medevlieënier veroorsaak is: "So is die idee van 9/11 in my kop gebore en ontwikkel, en op daardie stadium het ons met die beplanning begin." Slegs Mohammed Atef en Abu al-Khair sou daarvan geweet het.
Tydens die verhoor van die beweerde mede-samesweerder Zacarias Moussaoui het die Amerikaanse regering vyf mense geïdentifiseer wat volledig van die operasie se besonderhede bewus was: Osama bin Laden, Khalid Sheikh Mohammed, Mohammed Atef, Abu Turab al-Urduni en Ramzi bin al-Shibh. Die plan is deur Mohammed uitgedink en in 1996 die eerste keer aan Bin Laden voorgelê. Baie teikens is oorweeg, onder meer die Library Tower in Los Angeles, maar Bin Laden het die oorspronklike plan as te omslagtig verwerp. Aan die einde van 1998 of vroeg in 1999 het Bin Laden goedkeuring gegee dat Mohammed met 'n hersiene weergawe van die plan voortgaan.
Bin Laden het leiding en geldelike steun verskaf en was by die keuse van deelnemers betrokke. Atef het operasionele steun verskaf, teikens help kies en die kapers se reise help reël. Hy het aanvanklik Nawaf al-Hazmi en Khalid al-Mihdhar gekies, albei ervare djihadiste wat in die oorlog in Bosnië geveg het. Die twee het in Januarie 2000 in die Verenigde State aangekom en vlieglesse in San Diego geneem, maar hulle het min Engels gepraat en swak gevorder, sodat hulle uiteindelik as sekondêre kapers gebruik is.
Die Hamburgse sel in Duitsland het die sleuteloperateurs vir die aanvalle gelewer. Aan die einde van 1999 het die sellede bin al-Shibh, Mohammed Atta, Marwan al-Shehhi en Ziad Jarrah na Afghanistan gereis om Al-Kaïda te ontmoet. Bin Laden het hulle gekies omdat hulle opgevoed was, Engels kon praat en ervaring van die lewe in die Weste gehad het. Nuwe rekrute is roetineweg vir besondere vaardighede nagegaan, en so het Al-Kaïda se leiers ontdek dat Hani Hanjour reeds 'n kommersiële vlieënierslisensie gehad het.
Al-Shehhi het aan die einde van Mei 2000 in die Verenigde State aangekom, Atta op 3 Junie 2000 en Jarrah op 27 Junie 2000. Bin al-Shibh het verskeie kere om 'n visum aansoek gedoen, maar as Jemeniet is hy telkens geweier; hy het in Hamburg gebly en die skakeling tussen Atta en Mohammed behartig. Die drie Hamburgse sellede het vlieglesse in Suid-Florida geneem. In Julie 2001 het Atta bin al-Shibh in Spanje ontmoet, waar hulle die besonderhede van die plan, insluitend die finale keuse van teikens, gekoördineer het; bin al-Shibh het Bin Laden se wens oorgedra dat die aanvalle so gou moontlik uitgevoer word.
Intelligensie voor die aanvalle