duimnael|200px|Konstruksie van die dam in die 1950's. duimnael|200px|Konstruksie in die 1950's.
Die Karibadam is 'n dam in die Zambezirivier op die grens van Zambië en Zimbabwe. Die dam is gedurende 1959 voltooi nadat daar met die projek in 1955 begin is. Tydens voltooiing was die dam die grootste mensgemaakte meer ter wêreld.
Die meer Die meer se oppervlakte beslaan 5 200 km2 en is 280 km lank tot by Devil's Gorge en het 'n maksimum breedte van 48 km. Die meer het 'n opgaarvermoë van 180,6 km3.
Die wal Die wal se kruin is 579 m lank, 128 m hoog en die basis is 245 m dik. Daar is ses sluise in die wal en twee hidroëlektriese skemas wat gesamentlik 1 600MW lewer.
Algemeen Daar is 50 000 van die plaaslike bevolking hervestig tydens die projek omrede hulle wonings onder water was en 7 000 diere is hervestig tydens Operasie Noag. Tiervis is 'n gewilde sportvis en 'n belangrike kommersiële eetvis in die Karibadam.
Watervaring Die watervaring (Salvinia molesta) is 'n indringerplant wat 'n plaag was op die meer en het gedurende sy hoogtepunt in 1962 22% van die oppervlakte van die meer bedek. Dit was veral 'n groot bedreiging vir die visbedryf. Die plaag is gedurende 1980 finaal uitgewis deur 'n kombinasie van natuurlike winde en golfbeweging en die bekendstelling van 'n onkruidvretende sprinkaan. Die waterhiasint (Pontederia crassipes) het egter sedertdien ook 'n plaag geword.
Dompelpoelskade Gedurende Maart 2010 is krake in die damwal opgemerk toe meer sluise as gewoonlik oopgemaak moes word. Na verdere ondersoek is daar vasgestel dat die dompelpoel onder die damwal tot 90 meter diep weggekalwe is en dat voortgesette erosie die poelwand terugsny na die damwal. Hierdie proses erodeer dus die fondament van die damwal. Die dompelpoel is die diep poel onder die damwal waarin die water beland as die sluise oopgemaak word. Om die proses te stop moet die dompelpoel opgevul en die fondasie herstel en versterk word. Die herstelwerk sal tot ses jaar duur en sal ongeveer R 2,7 miljard kos. Indien niks gedoen word nie kan die damwal binne drie jaar meegee. Restourasiewerk sou gedurende September 2014 begin.'n Plan beraam om die dam te red. Rapport. 30 Maart 2014
Sien ook Kruisings oor die Zambezirivier
Bron Die Karibameer. Huisgenoot, 8 Februarie 2018.
Mensgemaakte wonders van Afrika. Dawid van Lill.
Verwysings
Kategorie:Damme in Afrika Kategorie:Geografie van Zambië Kategorie:Geografie van Zimbabwe