Demetri Catrakilis (gebore in Johannesburg op 6 Julie 1989) is 'n rugbyspeler wat tot 2015 vir die Stormers en die Kings in Superrugby en vir die Westelike Provinsie in die Curriebeker gespeel het.

Loopbaan Westelike Provinsie Na 'n uiters suksesvolle Varsitybeker-vertoning, is Demetri ingesluit in die Westelike Provinsie se Vodacombekerspan, wat in 2011 se kwarteind verloor teen die Natalse Haaie.

Hy kry speelgeleentheid in die eerste week van die 2011 Curriebeker Premierafdeling-seisoen teen die Griekwas en draf op as 'n plaasvervanger in die laaste minuut. A.g.v. die losskakeldilemma by die Westelike Provinsie, word Demetri gekies om in die wedstryd teen die Luiperds in Potchefstroom af te skop, waartydens hy 22 punte aanteken in die WP se 47–9 oorwinning. Hy verbeter op sy goeie debuut deur in die oorblywende bepalings van die Curriebeker te speel wanneer hy nie beseer is nie. Hiermee verseker hy sy plek as die nommer-een losskakel in die Westelike Provinsiespan.

Gedurende die Curriebeker-seisoen van 2011 het hy 150 punte met die skopskoen aangeteken, teen 'n sukseskoers van 84%. Hy word as ABSA Curriebeker Speler-van-die-Maand vir Augustus aangewys, nadat hy 'n leeue-aandeel gehad het in die Westelike Provinsie se opmars na die halfeindstryd. Sy uitstekende vertonings maak hom ook die WP Klubrugbyspeler van die jaar.

Aangesien hy toe nog nie vir die Stormers in Superrugby kon uitdraf nie, sit hy sy loopbaan voort tydens die Vodacombekerreeks in 2012, met 'n aantal fenomenale vertonings vir die uiteindelike kampioene, die Westelike Provinsie. Hy eindig tweede op die ranglys vir top-puntemakers met 127 punte vir die 2012 seisoen. In November 2012 word hy aangewys as die Vodacombeker se Speler-van-die-jaar.

Na sy suksesvolle Vodacombekerreeks, is Demetri as eerste-keuse losskakel gekies vir Westelike Provinsie se Curriebekerspan, en bewys homself tydens die WP se suksesvolle 2012 bekeroorwinning. Demetri het in die eindstryd op 28 Oktober 'n sterfunksie teen die Sharks op Kings Park vervul. Hy het man-alleen drie strafdoele en twee skepskoppe in die laaste kwart van die wedstryd oorgeskop, wat die uitslag in sy span se guns gedraai het. WP wen die eindstryd 25-18 en hul eerste Curriebekertitel sedert 2001. Demetri teken 136 punte aan gedurende die 2012-kompetisie met 'n skopslaagsyfer van 88%.

Southern Kings In Augustus 2012 is aangekondig dat Demetri op 'n tweejaarkontrak by die Kings sal aansluit.

Hy word ook aangewys as -losskakel vir die 2013 Superrugbyseisoen.

Uiteindelik, op 23 Februarie 2013, kom die Kings se superrugbydeelname op dreef, en Catrakilis bewys weereens sy waarde as losskakel en stelskopper. Hy skop vier strafskoppe deur die pale in hul openingswedstryd teen die Western Force in Port Elizabeth. Gedurende die seisoen teken hy 'n volle 151 punte aan vir die Kings, voordat hy terug verskuif na die Stormers weens die Kings se weglating uit die 2014 Superrugbyseisoen.

Eksterne skakels Catrakilis se profiel op www.itsrugby.co.uk SA Rugby profiel

Verwysings

Kategorie:Suid-Afrikaanse rugbyspelers Kategorie:Stormers rugbyspelers Kategorie:Kings rugbyspelers Kategorie:Geboortes in 1989 Kategorie:Lewende mense