duimnael|250px|regs|’n Montage van Jupiter en sy grootste vier mane, die mane van Galilei. duimnael|regs|250 px|Die relatiewe massa van Jupiter se mane. Dié wat kleiner as Europa is, is op hierdie skaal onsigbaar, en saam sou hulle net-net sigbaar gewees het teen ’n vergroting van 100x.
Jupiter het 95 mane met bevestigde wentelbane, soos in 2023. Dit sluit nie 'n paar maantjies van omtrent 'n meter breed in wat vermoedelik deur die binnemane afgewerp word nie, en ook nie honderde onreëlmatige buitemane van omtrent 'n kilometer breed wat net vir kort rukke deur teleskope waargeneem is nie.
Die grootstes van sy natuurlike satelliete, die vier mane van Galilei, is in 1610 deur Galileo Galilei ontdek en was die eerste voorwerpe wat gevind is wat om ’n liggaam wentel wat nie óf die Aarde óf die Son is nie. Sedert die einde van die 19de eeu is tientalle kleiner Jupiter-mane ontdek wat die name gekry het van minnaresse of dogters van die Romeinse god Jupiter of van sy Griekse eweknie, Zeus. Die mane van Galilei is verreweg die grootste voorwerpe wat om Jupiter wentel, met die oorblywende 91 mane en die ringe wat saam net 0,003 persent van die hele Jupiter-stelsel uitmaak.
Agt van Jupiter se mane is reëlmatige satelliete. Hulle wentel dus in dieselfde rigting as wat die planeet draai en het redelik sirkelvormige wentelbane. Die vier mane van Galilei is ellipsvormig omdat hulle planetêre massa het en sou dus as dwergplanete geklassifiseer gewees het as hulle direk om die son gedraai het. Die vier ander reëlmatige satelliete is baie kleiner en nader aan Jupiter; hulle is die bron van die ruimtestof wat Jupiter se ringe uitmaak.
Die res van Jupiter se mane is onreëlmatig. Hul wentelbane is verder van die planeet af en het groot hellingshoeke en wentelbaanafwykings. Hierdie mane is waarskynlik van ’n ander wentelbaan om die son aangetrek en in ’n baan om Jupiter gevange gehou. Daar is 16 onlangs ontdekte onreëlmatige satelliete wat nog nie name gekry het nie.
Eienskappe Die mane se fisiese en wentelbaan-eienskappe wissel in ’n groot mate. Die vier mane van Galilei het almal ’n deursnee van meer as 3 100 km. Die grootste een, Ganimedes, is die negende grootste voorwerp in ons sonnestelsel, naas die Son en sewe van die planete (Ganimedes is groter as Mercurius). Al die ander mane is kleiner as 250 km in deursnee – sommige is skaars 5 km. Die vorms van hul wentelbane wissel van feitlik volmaak rond tot hoogs afwykend en skuins, en baie wentel in die teenoorgestelde rigting as wat Jupiter draai. Omwentelings wissel van sewe uur (korter as die tyd wat Jupiter om sy eie as draai) tot feitlik drie aardjare.
Oorsprong en evolusie Jupiter se reëlmatige satelliete het waarskynlik ontstaan uit ’n ring gas en soliede ruimteafval wat aanvanklik om die planeet bestaan het. Dit kon die oorblyfsels gewees het van groot satelliete wat vroeg in Jupiter se geskiedenis bestaan het.
Die buitenste, onreëlmatige mane was vermoedelik asteroïdes wat verby Jupiter beweeg en deur hierdie ring in ’n wentelbaan vasgevang is. Baie het opgebreek weens die spanning wat dit veroorsaak het of deur botsings met ander, kleiner liggame tot hulle hul huidige vorms aangeneem het.
Ontdekking duimnael|400px|Die mane van Galilei. Van links, in die volgorde wat hulle van Jupiter af lê, is Io, Europa, Ganimedes en Kallisto. Die eerste sterrekundige wat gemeld het hy het een van Jupiter se mane gesien, was die Chinees Gan De, omstreeks 364 v.C. Die eerste bevestigde waarneming van Jupiter-mane was egter dié van Galileo Galilei in 1609. Teen Maart 1610 het hy die vier grootste mane gesien met sy teleskoop met ’n 30x-vergroting: Io, Europa, Ganimedes en Kallisto. Geen verdere mane is ontdek nie totdat Edward Emerson Barnard die maan Amaltea in 1892 ontdek het. Met behulp van teleskopiese fotografie is verskeie ander ontdekkings in die loop van die 20ste eeu gedoen. Himalia is in 1904 ontdek, Elara in 1905, Pasifaë in 1908, Sinope in 1914, Lisitea en Karme in 1938, Ananke in 1951, en Leda in 1974.
Teen die tyd dat die Voyager-ruimtetuie Jupiter in die laat 1970's bereik het, was 13 mane reeds ontdek; Temisto is in 1975 waargeneem, maar weens te min aanvanklike waarnemingsdata is dit nie weer waargeneem nie tot in 2000. Die Voyager-sendings het nog drie binneste mane in 1979 ontdek: Metis, Adrastea en Tebe.
Vir die volgende twee dekades is geen nuwe mane om Jupiter ontdek nie. Tussen Oktober 1999 en Februarie 2003 het waarnemers met sensitiewe opspoorders op die Aarde egter nog 32 mane gevind – die meeste deur ’n span onder Scott S. Sheppard en David C. Jewitt. Dié mane is klein en het lang, afwykende wentelbane, meestal in die teenoorgestelde rigting as wat Jupiter om sy eie as draai. Hulle is gemiddeld 3 km in deursnee; die grootste een is 9 km. Al die mane is vermoedelik asteroïde- of komeetagtige voorwerpe wat moontlik in kleiner stukke opgebreek het, maar min is eintlik van hulle bekend. Sedertdien is nog verskeie mane ontdek, maar hulle het voorlopige name en hul wentelbane is nog nie bevestig nie.
Name Die mane van Galilei – Io, Europa, Ganimedes en Kallisto – is deur Simon Marius name gegee kort ná hul ontdekking in 1610. Die name het daarna egter ongewild geraak tot in die 20ste eeu: daar is na hulle verwys as "Jupiter I" tot "Jupiter IV", of "die eerste satelliet van Jupiter", ens. Die oorspronklike name is weer in die 20ste eeu begin gebruik, terwyl die ander mane naamloos gebly het en gewoonlik in Romeinse syfers genommer is. Jupiter V, wat in 1892 ontdek is, is "Amaltea" genoem, hoewel die naam nieamptelik was.
In 1975 het ’n taakgroep van die Internasionale Astronomiese Unie (IAU) name aan satelliet V tot XIII gegee, en ’n amptelike benamingsproses daargestel vir toekomstige mane wat ontdek word. Die praktyk was om nuut ontdekte mane te noem na minnaars van die god Jupiter/Zeus, en sedert 2004 ook na hul kinders. Al die mane van XXXIV (Euporië) af is genoem na dogters van Jupiter/Zeus.
Party asteroïdes het dieselfde name as mane van Jupiter: 9 Metis, 38 Leda, 52 Europa, 85 Io, 113 Amaltea, 239 Adrastea, 1036 Ganimedes en 204 Kallisto
Groepe duimnael|300px|regs|Jupiter se buitenste mane en hul skuins wentelbane. Die rooi lyn is Jupiter se wentelbaan om die Son. Reëlmatige satelliete Hulle word in twee groepe verdeel: Binneste satelliete of Amaltea-groep: Metis, Adrastea, Amaltea en Tebe. Hulle wentel baie naby aan Jupiter; die binneste twee in minder as ’n Jupiter-dag. Die ander twee is die planeet se vyfde en sewende grootste maan. Daar word vermoed minstens Amaltea het nie in sy huidige wentelbaan ontstaan nie, maar verder weg, of dat dit ’n liggaam in die sonnestelsel was wat deur Jupiter in ’n wentelbaan vasgevang is. Hierdie mane, saam met ander binneste mane wat nog nie waargeneem is nie, voed Jupiter se dowwe ringstelsel. Metis en Adrastea voed Jupiter se hoofring, terwyl Amaltea en Tebe elk hul eie dowwe ringe het.
Hoofgroep of mane van Galilei: Io, Europa, Ganimedes en Kallisto. Met groter radiusse as enige van die dwergplanete is hulle van die grootste voorwerpe in die sonnestelsel. (Ganimedes is groter as Mercurius.) Hulle beslaan 99,999% van die totale massa van die voorwerpe wat om Jupiter wentel. Daar word vermoed hulle het ontstaan deur mettertyd materie aan te trek in die laedigtheid-newel om Jupiter – ’n skyf van gas en stof wat om Jupiter bestaan het ná sy vorming. Dit kon tot 10 miljoen jaar geduur het in die geval van Kallisto.
Onreëlmatige satelliete Hulle is die aansienlik kleiner voorwerpe wat heelwat verder van Jupiter af lê en afwykende wentelbane het. Hulle vorm families waarvan die wentelbane en samestelling ooreenstem. Daar word geglo hulle het ontstaan in botsings tussen groter (maar steeds klein) voorwerpe en asteroïdes wat deur Jupiter se swaartekragveld aangetrek is. Dié families het die name van die grootste voorwerp binne die familie. Die indeling van die families in tentatief, maar die volgende indeling is tipies: Satelliete wat in dieselfde rigting as Jupiter draai: Temisto is die naaste onreëlmatige maan aan Jupiter en behoort nie tot ’n bekende familie nie.
Die Himalia-groep is oor skaars 1,4 gigameter (Gm) versprei en het dalk ontstaan uit ’n asteroïde uit die Asteroïdegordel wat uitmekaargespat het.
Karpo is die verste maan wat in dieselfde rigting as Jupiter draai en is nie lid van ’n bekende familie nie.
Satelliete wat in ’n teenoorgestelde rigting as Jupiter draai: S/2003 J 12 is die naaste van dié mane en nie lid van ’n bekende familie nie.
Die Karme-groep is oor net 1,2 Gm versprei. Die mane se kleur stem ooreen (ligrooi) en het waarskynlik uit ’n trojaan-asteroïde ontstaan.
Die Ananke-groep is wyer versprei as die vorige groepe, oor 2,4 Gm. Die meeste is grys en het waarskynlik uit ’n asteroïde ontstaan wat uitmekaargespat het.
Die Pasifaë-groep is taamlik versprei, oor 1,3 Gm. Die kleure verskil aansienlik, van rooi tot grys, en hulle het dus waarskynlik uit verskeie botsings ontstaan. Sinope verskil genoeg van die ander dat dit dalk apart deur Jupiter aangetrek is.
S/2003 J 2 is die heel buitenste maan en nie lid van ’n bekende familie nie.
Jupiter se 66 mane Die mane van Jupiter word gelys volgens wentelperiodes. Die binneste vier mane word op ’n wit agtergrond en die mane van Galilei in vet met ’n blou agtergrond hieronder aangedui. Die onreëlmatige satelliete wat in dieselfde rigting wentel as wat Jupiter draai, het ’n liggrys agtergrond en dié wat in ’n teenoorgestelde rigting wentel, ’n donkergrys agtergrond. Spellings is, indien beskikbaar, verkry uit die ‘‘Sterrekundewoordeboek’’ van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, soos beskikbaar by VivA, of die ‘‘Lys Klassieke Eiename’’ van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Pharos Dictionaries, 1984. . Andersins is dié woordeboeke gebruik om spellings af te lei.