Die Krim, as politieke entiteit op subnasionale vlak die Outonome Republiek die Krim (Oekraïens: Автономна Республіка Крим, Avtonomna Respublika Krim; Russies: Автономная Республика Крым, Avtonomnaja Respublika Krim; Krim-Tataars: Qırım Muhtar Cumhuriyeti, Къырым Мухтар Джумхуриети), is 'n skiereiland aan die noordkus van die Swartsee en 'n outonome republiek in Oekraïne wat sedert 2014 deur Rusland opgeëis word.

duimnael|links|Sononder in Soedak. Krimlandskappe is van poëtiese intensiteit en het groot digters soos Aleksander Poesjkin en Adam Mickiewicz geïnspireer duimnael|links|Skemertyd in die Demerdji-bergreeks Die Krim-skiereiland verskil nie net in klimaat van die res van Oekraïne nie. Opvallend is die verskeidenheid kulturele invloede wat aan 'n lang lys van vreemde veroweraars te danke is. Die skiereiland se strategiese ligging in die Swartsee en sy vrugbare landbougrond het steeds weer die aandag van vreemde moondhede getrek. So is die gebied gedurende sy vroeë geskiedenis deur Cimmeriërs, Grieke en Romeine (wat dit Taurica genoem het), Skitiërs, Krim-Gote, Hunne, Bulgare, Chasare, Kiëf-Roes, Bisantyne, Kiptsjakke, Ottomaanse Turke, die Tatare van die Goue Horde en die Mongole ingeneem en oorheers.

In die 13de eeu is die Krim gedeeltelik deur die twee leidende Italiaanse stadstate, die Republieke van Venesië en Genua, oorheers en het later, van die 15de tot 18de eeu, deel uitgemaak van die Krim-Khanaat, 'n protektoraat van die Ottomaanse Ryk. In hierdie periode het dit die sentrum van 'n florerende slawehandel geword.

Vanaf die 18de tot die 20ste eeu was die skiereiland onder die bewind van die Russiese Ryk. Die Krim het ná die val van die Russiese Tsareryk in 1917 'n kort tyd lank as selfstandige staat bestaan, maar het vervolgens tydens die Russiese Burgeroorlog as 'n belangrike basis vir die Wit Leër in hul stryd teen die Bolsjewiste gedien. Die gebied is 'n tyd lank deur 'n reeks onstabiele regerings geadministreer voordat dit as 'n Outonome Sosialistiese Sowjetrepubliek in 1921 by die Sowjetunie ingelyf is.

Ná 'n kortstondige besetting deur Nazi-Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog, waartydens die seehawe van Sewastopol byna volledig verwoes is, is die Krim in administratiewe opsig by die magtigste entiteit binne die Sowjetunie, die Russiese Sosialistiese Federale Sowjetrepubliek (RSFSR), ingelyf en later weer as deel van die Oekraïense Sosialistiese Sowjetrepubliek geadministreer.

Ná die verbrokkeling van die Sowjetunie het die Krim steeds deel van Oekraïne gebly en 'n outonome parlementêre republiek gevorm wat oor sy eie grondwet beskik en in ooreenstemming met Oekraïense wette geregeer is. In Maart 2014 het die plaaslike regering Krim eensydig onafhanklik verklaar. Ná 'n omstrede referendum, waartydens 'n meerderheid kiesers ten gunste van die aansluiting by die Russiese Federasie gestem het, is die skiereiland de facto by Rusland ingelyf.

Die stad Simferopol, wat reeds in die antieke tydperk bestaan het en as basis vir die Sowjet-Russiese Swartseevloot gedien het (tans is dit die hoofbasis vir die Russiese Swartseevloot), dien as hoofstad van die Krim en as administratiewe setel van die plaaslike regering. Die outonome republiek met 'n oppervlakte van 26 081 km² het 'n bevolking van twee miljoen, waaronder 60 persent etniese Russe en 25 persent etniese Oekraïners. 77 persent praat Russies as moedertaal en tien persent Oekraïens.dpa (Deutsche Presse-Agentur), 1 Maart 2014

Geografie Ligging en landskapsvorme Die Krimskiereiland, vroeër ook Tauriese Skiereiland genoem, is in die suide van Oekraïne geleë en word deur twee groot waterliggame omring – die See van Azof in die noordooste en die Swartsee in die weste en suide. Die landengte van Perekop, wat net agt kilometer wyd is, vorm die enigste landverbinding met die Oekraïense vasteland in die noorde. Ná die Russiese anneksasie van die skiereiland is 'n padbrug, die sogenaamde Krimbrug, oor die Seestraat van Kertsj gebou wat die Krim met die Russiese vasteland verbind.

duimnael|links|Die Outonome Republiek Krim en die hawestad Sewastopol duimnael|links|'n Ortodokse kruis op die bergpiek Roman Kosj Met 'n oppervlakte van 26 081 km² is die Krim effens kleiner as België. Dit strek oor 'n maksimumafstand van 205 kilometer in noord-suidelike en oor 325 kilometer in oos-westelike rigting. Die noorde van die skiereiland bestaan uit 'n plat steppe-landskap wat saam met die saggies golwende heuwelland op die Kertsj-skiereiland sowat vier-vyfdes van die totale oppervlakte beslaan.

Die suide is bergagtig met drie bergreekse wat saam die Krimgebergte vorm en almal parallel in oos-westelike rigting loop. Kenmerkend is die drie landskapsvorme wat deur al drie reekse gedeel word: sagte hellings in die noorde, hoë bergwande in die suide en lig beboste hoogplato's. Die hoogste bergpieke is Roman Kosj (1 545 meter bo seevlak), Tsjatirdag (1 527 meter) en Lapata (1 406 meter).

Die bergreekse vorm nie net 'n geografiese versperring met 'n wydte van sowat 50 kilometer nie, maar is ook 'n klimaat- en waterskeiding. Die gebied suid van die Krimgebergte het 'n Mediterreense klimaat wat uiters geskik vir wyn- en vrugteverbouing is. So staan die Krimskiereiland al lank vir sy vonkelwyn van hoë gehalte bekend. Die noordelike dele van die Krim word deur 'n gematigde klimaat gekenmerk waardeur winters heelwat kouer is as in die suide.

Waterliggame duimnael|Die Salgirdam naby Simferopol duimnael|Waterval in die Krim se "Grand Canyon" Water was nog altyd skaars op die Krim en is in die verlede dikwels as 'n heilige goed beskou. Ook vandag moet gedurende droë somers gereeld waterbeperkings ingestel word. Die kanaal, wat in die Sowjettydperk gebou is om water uit die Dniprorivier na die skiereiland om te lei, voorsien ekstra water aan die Krim, maar kan nie tred hou met die immer stygende vraag na water nie.

Die sowat 150 riviere, wat op die skiereiland vloei en almal in die Krimgebergte ontspring, is merendeels klein bergstroompies wat gedurende die somermaande opdroog. Die grootste hiervan, die Salgir, vloei grotendeels deur laer geleë gebiede. Noord van Simferopol neem sy waterafloop in die steppelandskap merkbaar af voordat dit in die noordooste van die Krim in die Siwasj-soutmeer uitmond. Gedurende warm somers droog ook dié rivier dikwels op.

'n Aantal riviere, wat teen die suidelike hellings van die bergreeks ontspring, begin as watervalle. Die meeste waterliggame in die noordelike steppelandskap is soutmere, veral by die landengte van Perekop, naby Kertsj, Jevpatorija en Saki), en mineraalryke warmwaterbronne. Die meeste soutmere het 'n diepte van slegs een meter en droog gedurende die warmste somermaande op.

Toeristegebiede langs die kus duimnael|'n Klipstrand in Jalta Die bekende herstellings- en strandoorde van die Krim is op 'n nou kusstrook tussen die suidelike hellings van die hoofreeks en die Swartsee geleë. Hierdie smal kuslandskap met 'n wydte van tussen twee en agt kilometer word in geografiese opsig dikwels verder verdeel in die eintlike Krim-suidkus (met die bekende toeristestad Jalta), wat wes van Aloesjta geleë is, en die Suidooskus, wat ooswaarts tot by Feodosija strek. Die derde belangrike herstellings- en toeristegebied op die Krim is aan sy weskus geleë, met Jevpatorija as belangrikste nedersetting.

Die bekendste strand- en herstellingsoorde langs die suidkus is – in oos-westelike rigting – Aloesjta, Goersoef, Massandra, Jalta, Liwadia, Oreanda, Mischor (met die herstellingsoorde Gaspra en Koreis), Aloepka, Simeis en Foros. Behalwe vir Gaspra en Koreis (wat op 100 meter bo seevlak en 'n entjie van die strand af geleë is) is alle genoemde nedersettings aan die see geleë.Wladimir Tschernow: Bildreiseführer – Die Südküste der Krim. Moskou: Planeta 1986, bl. 6-7

Flora en fauna Plantegroei duimnael|'n Denneboom (Pinus brutia) langs die Golitsinpad, 'n staproete wat in die rotswand van die Choba-Kaja-bergpiek gebeitel is Vanweë sy besondere geografiese ligging vervul die Krim as planteryk in vele opsigte 'n soort brugfunksie en verbind die flora van verskillende streke met mekaar – die Oos-Europese Vlakte, die Mediterreense gebied, Klein-Asië en die Kaukasus. So word die plaaslike flora op plekke, veral in die Krimgebergte, deur 'n groot verskeidenheid spesies gekenmerk. Daarnaas word hier ook spesies aangetref wat in ander Europese bergstreke soos die Apennyne, die Pireneë en die Balkanskiereiland lankal verdwyn het nadat die plantegroei in dié gebiede baie eeue lank aan menslike invloed soos byvoorbeeld intensiewe boerdery blootgestel was.

duimnael|links|Mikroalge (Dunaliella salina) gee 'n pienk kleur aan die Siwasjmeer, 'n uitgestrekte stelsel van ondiep soutwater-strandmere aan die Krim se noordooskus Gedurende die jongste geologiese tydperk het die Krim se landverbinding met die vasteland verbreek, en dit het in plant- en dierkundige opsig 'n eiland geword. Die Siwasj-soutmeer in die noorde van die skiereiland vorm sedertdien 'n onoorkombare versperring vir die meeste plant- en dierspesies sodat die Krim se plante- en diereryk 'n onafhanklike ontwikkelingsproses gevolg het.

Die natuurlike plantegroei op die Krim word op meer as 2 700 spesies beraam, waarvan 280 uitsluitlik op die skiereiland voorkom. Vir die beskerming van die inheemse flora en sy bedreigde spesies is ses natuurparke, 29 reservate en natuurmonumente asook 102 bykomende beskermingsgebiede opsygesit.

Afhangende van klimatiese besonderhede verskil die inheemse flora van streek tot streek. Die steppegebiede, waar veral graan, wyn en vrugte verbou word, is arm aan natuurlike plantspesies. Daarenteen is die laer geleë dele van die Krimgebergte met digte bosse bedek. Hier word hoofsaaklik eike-, beuke-, esse-, esdoring- en dennebome (Pinus) asook Europese haagbeuke (Carpinus betulus) aangetref.

Die suidkus met sy mediterreense klimaat is die natuurlike habitat van subtropiese plantspesies soos palms, sipresse, pistachio-, amandel-, jenewer-, magnolia-, seder-, oleander- en olyfbome. Hier is ook wingerde en tabakplantasies aangelê.

Dierelewe duimnael|'n Wyfiekewer van Carabus scabrosus tauricus Die kusgebiede in die noorde van die Krim soos die Karkinitskibaai dien as broeiplekke vir 'n verskeidenheid watervoëlspesies, waaronder eende en seemeeue. Reiers maak hul neste in die digte riet. 'n Deel van die noordelike kusstrook is saam met 'n aantal eilande tot natuurbewaringsgebied verklaar. Swane, wat volop is in die gebied, was die naamgewers vir die eilandgroep wat as Swaaneilande bekend staan.

Slegs 'n beperkte aantal dierspesies is aangepas om in die steppegebiede te oorleef. Dit is die habitat van hase, muishonde, vosse, hamsters, rotte, verskillende muisspesies, lewerike en valke. Die berggebiede is die natuurlike habitat van bokke, vosse, marters, dassies, kraaie, spegte en uile.

Ondergrondse holtes is geskikte rusplekke vir 'n verskeidenheid dierspesies soos vlermuise, wurms, insekte en weekdiere. Vlermuise rus in kolonies van ses of meer spesies in rotsklowe, grotte en soms ook in dakkamertjies van huise. 'n Groot verskeidenheid akkedisse kom op die skiereiland voor, waarvan sommige spesies tot bepaalde streke beperk is. So is die inheemse Krimgekko se habitat beperk tot die suidelike kusstrook tussen Sewastopol en Aloesjta waar dit in laer geleë gebiede op hoogtes van maksimaal 300 meter bo seevlak aangetref word.

Endemiese dierspesies, wat uitsluitlik op die Krim voorkom, sluit Krimherte en kewerspesies soos Carabus scabrosus tauricus en Brachinus pectoralis en die houtluis Porcellionides approximatus in. Van die Krim se fauna word meer as die helfte – altesaam 196 spesies – as bedreig geklassifiseer, waaronder die swart ooievaar, enkele dolfynspesies, poue, kraanvoëls, seearende en boomsingertjies.Red Data Book of Ukraine. Animal Kingdom. Derde uitgawe 2009

Geskiedenis