Prof. Adriaan Moorrees (Malmesbury, 18 Augustus 1855 – Seepunt, Kaapstad, 17 November 1938) was 'n predikant, teoloog en leier in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, hoogleraar aan die Kweekskool op Stellenbosch, maar ook skrywer en digter.

Herkoms en opleiding Hy was die seun van ds. J.C. le Febre Moorrees (1807-'85), predikant van die NG gemeente Swartland van 1833 tot 1881, na wie Moorreesburg genoem is, en Helena Sophia Basson. Sy grootvader Adriaan Moorrees (1781-1815) het van Groningen in Nederland na die Kaap gekom as die stamvader van die Moorrrees-familie in Suid-Afrika. Hy was getroud met Anna Barbara Smuts. Adriaan Moorrees het die eerste lewenslig in die pastorie op Malmesbury aanskou as die jongste van vyf kinders. Die ander vier was: Adriaan Hendrik (geb. November 1835), Jan Willem (geb. 24 Julie 1838), Anna Barbara (geb. 3 Desember 1840) en Hilletjie Geertruyda (geb. 26 Januarie 1845). Sy moeder het hy skaars twee weke ná sy geboorte, op 3 September, verloor en is toe grootgemaak deur sy tante mev. Klara Loedolff. Sy vader het weer getrou, op 31 Januarie 1857 in Kruisvallei, Tulbagh, met Catharina Johanna Smuts (23 November 1815 - 13 September 1887). Maria Klara Loedolff (2 Maart 1814 - 22 Julie 1887) was Adriaan se vader se suster en die vrou van Hugo Hendrik Loedolff (17 Junie 1904 - 12 Augustus 1864), wat eiehandig daarvoor verantwoordelik was om ’n skeiding tussen die NG Kerk binne en buite die Kaapkolonie te bewerkstellig wat eers ’n eeu later herstel sou word. Loedolff was ook verteenwoordiger van die kiesafdeling Malmesbury in die ou Kaapse Wetgewer van 1854 tot 1864, dus in die tyd toe die baba Adriaan by hulle gaan woon het. Die Loedolffs het 'n groot rol in die opvoeding van die latere professor gespeel.

duimnael|links|230px|Adriaan Moorrees was drie jaar oud toe die hoeksteen van die Swartlandse kerk op Malmesbury op 5 Februarie 1859 gelê is. Die gebou is op 30 September 1860 ingewy, maar in 1862 het 'n deel van die kerk ineengestort. Dit is van 1863 tot 1864 herbou. Van 1897 tot 1899 is twee vleuels aangebou wat op 10 Augustus 1899 ingewy is. Die afgelope meer as eeu het die kerk se voorkoms merendeels onveranderd gebly. Adriaan Moorrees se vader, stiefmoeder, en die egpaar by wie hy grootgeword het, Hendrik Hugo en Maria Klara Loedolff, is op die kerkterrein begrawe.

Nadat Moorrees tot op ongeveer die ouderdom van 14 jaar op Malmesbury skoolgegaan het, gaan hy na die South African College (die latere Universiteit van Kaapstad) vir sy voorbereidende akademiese opleiding. Van 1874 af studeer hy aan die Stellenbosse Kweekskool, waar hy sy kandidaatseksamen in 1877 aflê, en daarna 'n jaar lank aan die Universiteit van Utrecht in Nederland onder hoogleraars soos Johannes Jacobus van Oosterzee en Nicolaas Beets.

duimnael|regs|180px|Grafsteen voor die kerkgebou van die NG moedergemeente Swartland op Malmesbury van Adriaan Moorrees se vader. ds. J.C. le F. Moorrees, Swartlandse leraar van 1833 tot 1881. duimnael|regs|180px|Grafsteen in die kerkhof op die terrein van die NG moedergemeente Swartland op Malmesbury van Maria Klara Loedolff. Sy het Adriaan Moorrees grootgemaak ná die dood van sy moeder. duimnael|links|230px|Die NG gemeente Paarl was die laaste van ds. Moorrees se drie gemeentes. In die Strooidakkerk het hy gearbei van 1895 tot 1908. Dié foto is sowat 15 jaar later geneem. duimnael|regs|180px|Grafsteen in die kerkhof op die terrein van die NG moedergemeente Swartland op Malmesbury van Hendrik Hugo Loedolff, in wie se huis Adriaan Moorrees grootgeword het. Hy was die swaer van Moorrees se vader.

Gemeentelike bediening Richmond Met sy terugkeer ná sy jaar lange verblyf in die buiteland is ds. Moorrees op 7 November 1878 in sy vaderland gelegitimeer. Op 29 Oktober 1879 word hy as hulpprediker van die NG gemeente Noorder-Paarl bevestig en neem 'n jaar lank hier waar vir ds. S.J. du Toit. In 1880 aanvaar hy 'n beroep na die NG gemeente Richmond in die Karoo en tree voor sy vertrek daarheen op 3 Augustus 1880, net soos sy pa (se tweede huwelik) en sy oupa, in die huwelik met 'n nooi Smuts, in sy geval Maria Magdalena. Ds. Moorrees beywer hom op Richmond vir die jong mense en laat 'n Christelike Jongeliedevereniging-saal bou. Hy geniet hoë aansien in die breë gemeenskap en selfs die plaaslike Engelssprekendes vra hom om vir hulle dienste te hou.

Kaapstad In 1892 neem hy die beroep aan en verhuis na Kaapstad om 'n medeleraar van die NG gemeente Kaapstad te word. Sy bevestiging vind plaas op 11 September 1892. Ds. A.I. Steytler lewer 'n indrukwekkende bevestigingsrede na aanleiding van Romeine 10:17 (Statebybel: "Zo is dan het geloof uit het gehoor, en het gehoor door het Woord Gods."), terwyl ds. Moorrees sy intreepreek lewer oor Romeine 1:16 (Statebybel: "Want ik schaam mij des Evangelies van Christus niet; want het is een kracht Gods tot zaligheid een iegelijk, die gelooft, eerst den Jood, en ook den Grieken.") en wys op die wonderbare kracht, den goddelijke oorsprong en de algemene bestemming van die evangelie.

Van sy stigting in 1665 tot die eerste Sinode van die Kaapse Kerk in 1824 het die gemeente 'n leiersrol onder die Kaapse gemeentes ingeneem. Selfs daarna was 'n beroep na die gemeente 'n groot eer en talle van sy leraars was leiers in die NG Kerk, byvoorbeeld dr. A.J. van der Merwe (1897-1978), vyf maal agtereenvolgens moderator van die Kaapse Sinode; ds. A.I. Steytler ( (1840-1922) , wat die bynaam "Nederduitse Gereformeerde Pous" gekry het weens sy groot invloed; dr. William Robertson (1805-'76), moderator van die Kaapse Kerk in 1842 en weer in 1852, en skriba van die Sinode in 1862, 1867 en 1873; dr. Andrew Murray (1828-1917), beroemde skrywer en moderator van die Kaapse Kerk; en dr. Abraham Faure (1795-1875), stigter van die NG Kerk se amptelike blad, die Kerkbode, die vader van die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch, aktuarius van die Kaapse Kerk in 1837, 1842, 1847, 1852, 1857 en 1862, en skriba In 1847, 1852 en 1857. Toe ds. Moorrees in die Groote Kerk bevestig is, was sy kollegas dr. Johannes Jacobus Kotzé en ds. Abraham Isaac Steytler. In 1893 kom ook nog ds. Charles Morgan by en in 1895 ds. Francis Xavier Roome (leraar vir Seepunt) en ds. Zacharia Johannes de Beer, 1895 - 1923 (leraar vir Woodstock). In Kaapstad beywer ds. Moorrees hom baie in die geestelike belang van die gemeente, veral ook die Kleurlingwyk Hanoverstraat.

Paarl Hy bly net drie jaar in Kaapstad, blykbaar weens die onbevredigende kollegiale stelsel, want in 1895 neem hy 'n beroep aan na die NG gemeente Paarl (destyds bekend as Zuider Paarl). Hier word hy op 18 Augustus 1895 bevestig. Ds. Gilles van de Wall het die bevestigingsrede gehou na aanleiding van 1 Korintiërs 16:10 (Statebybel): "Zo nu Timotheüs komt, ziet, dat hij buiten vreze bij u zij; want hij werkt het werk des Heeren, gelijk als ik." Ds. Moorrees se intreepreek het gegaan oor Rig. 6:14b: "Heb ik u niet gezonden?" Die Paarl was gelukkig om 'n leraar te kry wat met rype ondervinding en uitmuntende talente hom ten volle aan die diens van die gemeente gewy het. Tydens sy 12 jaar lange verblyf in die gemeente het daar geen buitengewone bedrywighede plaasgevind nie, maar daar is deeglike gemeentelike arbeid verrig. Met diep evangeliese boodskappe, skryf dr. J.A.S. Oberholster, die vrugbare gemeentelike geskiedskrywer, voorgedra soos hy dit alleen, as kanselredenaar by uitnemendheid kon doen, moes hy die gemeente sonder twyfel op geestelike gebied opskerp en voed. Onmiddellik na sy aankoms het die gemeente met deeglike huisbesoek begin. In sy intreepreek het hy gesê dat hy veral baie vir die jongmense wou doen en daarom het hulle uitgenooi om hom as 'n vriend te beskou. Behalwe die persoonlike arbeid en sy daadwerklike steun aan die opvoeding, het ds. Moorrees ook met 'n maandelikse kinderdiens begin.

Weens die Anglo-Boereoorlog is dit 'n moeilike tyd, veral ten opsigte van die gebruik van Afrikaans (Hollands), maar ds. Moorrees slaag deur sy taktvolle optrede om die eenheid in sy gemeente te bewaar. In die kerkraadsvergadering van 23 April 1900 het die voorsitter die kerkraad meegedeel dat hy 'n brief, onderteken deur J. Gribble, ontvang het waarin hy uit naam van 'n komitee versoek word om die te wagte ontset van Mafikeng feestelik te vier deur 'n dankdiens op die daartoe bepaalde dag in die kerk te hou. Ds. Moorrees het ná ontvangs van die brief 'n paar kerkraadslede geraadpleeg en toe geantwoord "dat de kerkeraad zich niet bewust is dat het publiek eenig Comité voor het boven gemelde doel heeft benoemd".

In sy vergadering van 15 Junie 1900 moes die kerkraad kennis neem van die uitnodiging wat aan hul leraar gerig is om op 'n baie belangrike sending te gaan. Die uitnodiging het gekom van die heer Hargrove namens die komitee wat deur die volkskongres op Graaff-Reinet benoem is. Die werk van die komitee was om afgevaardigdes te benoem om na Engeland te gaan om pogings aan te wend om 'n blywende en eervolle vrede gesluit te kry tussen Engeland en die Boererepublieke. Die kerkraad het besluit om hom te laat gaan, al moes hulle vir minstens vier maande voorsiening maak vir die dienste in die gemeente. Die kerkraad het egter geëer gevoel dat hul leraar vir so 'n sending benoem is en ds. Moorrees het dit self as een van sy belangrikste en gewigtigste take beskou.

Aan die begin van 1901 het die kerkraad 'n memorie ontvang, deur 40 lidmate onderteken, waarin hulle om die afskaffing van die maandelikse diens in Engels vra. Die voorsitter het taktvol gelei en so besluit die kerkraad dat onder die bestaande omstandighede hulle nie vry voel om tot die verandering oor te gaan nie. In Julie 1901 het die kerkraad weer 'n ander moeilikheid gehad om te oorweeg. Dié keer het daar sprake gekom van die gebeure by die pastorie weens die militêre owerheid se optrede. Daar is toe 'n kommissie benoem om op beleefde wyse die onwenslikheid van sulke optrede onder die aandag van die kommandant te bring. Die kerkraadsnotule sê ongelukkig nie wat die optrede behels het nie, maar na alle waarskynlikheid hou dit verband met die gevalle toe daar feitlik by die pastorie ingebreek is om huisondersoek te doen. Ds. Moorrees het in 1908 moeilik afskeid geneem omdat hy besonder geheg aan die gemeente was.

duimnael|links|300px|Dié foto van die Kweekskool op Stellenbosch is in 1907 geneem, 'n jaar voor ds. Moorrees 'n hoogleraar daar geword het.

Hoogeleraar en kerklike leier Leier in die NG Kerk duimnael|regs|350px|Die 70 studente van die Kweekskool in 1910 en hul professore. Prof. Moorrees sit vyfde van links in die vierde ry van agter. Boonste Ry: Andries Stockenström; H.J. de Villiers; J. Reyneke, B.A.; Ezra Pienaar; P. van der Hoven; H.A. Boshof; C. Muller; N. van Rensburg; R. Theron, B.A.; J. Moolman, B.A.; J. Le R. Cilliers; D.P. Ackerman, B.A.; J.H.M. Stofberg; T.J. Minnaar; P.C. Hitchcock; F.J. van der Merwe; C.J. Stander; M.B. Brink; C.G.R. du Toit, B.A.; L. Lochner, B.A. Tweede Ry: J. Van Zyl le Roux; L.P. Snyman; J. Rabie; D.S.B. Joubert, B.A.; H.E. Steyn; M.L. de Villiers, B.A.; S. Feneysey; F.H. Badenhorst; P.J. Viljoen; H.S. Pretorius, jr.; C.J. van Niekerk. Derde ry: J.A. v. A. Smuts; D.J. Gildenhuys; B.B. Keet, M.A.; J.H. Blignault; L.J. Fourie; William Nicol, B.A.; J.G. Pauw; F. Koch; P.J.B. Shaw; G. De C. Murray; H.S. Pretorius; G.C. van Rooyen; C.J. Grobler; D.F. Barnard, B.A.; J. Le R. Retief; H.W. Ziervogel; J. Le R. Hauptfleisch; J.D. Roos. Vierde Ry: J.P.H. Steyn; H.J. de Vos, B.A.; P.A. Alheit; J.S. Marais, B.A.; prof. Adriaan Moorrees; prof. J.I. Marais; prof. de Vos; prof. Muller; J.A. van der Merwe, B.A.; C.R. Kotze; J.G. Strijdom; T.I. van Wijk. Vyfde Ry: N.J. van der Merwe, B.A.; A.C. Stegman, B.A.; W.C. Erasmus, B.A.; H.A. Fagan, B.A.; C.J. Liebenberg; H.J. Badenhorst; J.A. Pienaar; P.A. Theron; P.J. du Plessiss; J.R. Alheit; B.F. van der Merwe; H.J. Reyneke; A.J. Olivier.