Ds. Colin McKenzie Fraser (volgens talle bronne Mackensie, Beaufort-Wes, 20 Januarie 1837 – Kaapstad, 27 Februarie 1911) was predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk en het sy hele 44 jaar lange bediening in die NG gemeente Philippolis deurgebring. Hy was vier keer moderator en ook assessor van die Vrystaatse Kerk, die huidige Sinode van die Vrystaat, en het 'n belangrike rol in die kerklike lewe van die destydse Oranje-Vrystaat gespeel.

Hoewel die NG gemeentes van die Vrystaat noord van Bloemfontein destyds meer lidmate gehad het danksy 'n digter bevolking as dié suid van die Vrystaatse hoofstad, sou Philippolis as een van die suidelike gemeentes, onder die bekwame leiding van ds. C.M. Fraser, spoedig een van die toonaangewende gemeentes van die Oranje-Vrystaat word. As leraar het hy sy geestelike werk op Philippolis begin en dit tot sy emeritaat in 1907 voortgesit. Omdat Philippolis die enigste gemeente was waarin hy gearbei het, was daar by hom dus geen sprake van 'n eerste en laaste gemeente nie, maar slegs van die enigste gemeente. Sy 44 bedieningsjare het hom in staat gestel om op 'n besonderse wyse met die sake van die Vrystaatse Sinode bekend te word. Dit is dus geen wonder nie dat hy vyf maal tot moderator gekies is, vier maal tot assessor en dat die leraars van die Oranje-Vrystaat tot hom "als hun vader" opgesien het. In die Sinode het hy sy stempel onuitwisbaar afgedruk. Hy was 'n leraar enig in sy soort en voorwaar 'n sieraad vir die kerk, volgens J.A. Bosch. Hy het 18 beroepe ontvang, waarvan agt uit die Kaapkolonie gerig was, waarvan vier deur die Groote Kerk, maar hy het steeds besef dat hy in die Oranje-Vrystaat 'n taak te verrig gehad het. In die Sinodale sittings het hy deur sy welsprekendheid en logiese beredenering van sake roem verwerf, en dit het daartoe gelei dat hy een van die belangrike boumeesters van die vroeë Vrystaatse Kerk geword het.

Famielieagtergrond

duimnael|regs|350px|Ds. Fraser se ouers, ds. Colin Fraser sr. en sy tweede vrou, 'n nooi Sieberhagen.

Fraser se vader was ds. Colin Fraser, tweede leraar van die NG gemeente Beaufort-Wes, wat in 1824 deur dr. George Thom gewerf is as een van die Skotse predikante wat die tekort aan predikante in die Kaapkolonie moes aanvul en goewerneur lord Charles Somerset se verengelsingsbeleid moes uitvoer. Baie van dié predikante het hulle egter mettertyd ten volle met die strewe van die Afrikaners vereenselwig. 'n Broer van Colin jr. was sir John Fraser, 'n politikus. Hulle moeder was Maria Elizabeth Sieberhagen, 'n dogter van die plaas Tafelberg in die Beaufortse distrik, waar haar ouers toe geboer het. Soos al die Sieberhagens is sy van Duitse afkoms, die dogter van Johan George Sieberhagen en Juliana Schryber wat in 1811 uit Hesse-Cassel in Suid-Afrika aangekom en hul eers op Swellendam gaan vestig het. Sy was 'n knap en energieke vrou en het die lewe aan nege seuns geskenk. Sy is in 1862 oorlede. Colin het sewe halfbroers en -susters gehad van sy vader se eerste vrou, Anna Amalia Muller, van Graaff-Reinet. Sy vader is in Februarie 1828 met haar getroud, maar sy is betreklik jonk oorlede, in September 1838. Die gesin het dus uit 16 kinders bestaan. Twee dogters uit die eerste huwelik het later onderwys op Beaufort-Wes gegee.

Opleiding Ter wille van sy opvoeding is Fraser na Skotland gestuur toe hy nog baie jonk was. Daarna is hy na Utrecht in Nederland om hom vir sy lewenstaak te bekwaam. Hy het in die huwelik getree met Isabella Gordon Paterson, die dogter van 'n koopman van Aberdeen in Skotland. Aan die einde van 1862 het hy net sy 19-jarige bruid na Suid-Afrika teruggekeer. Die jong egpaar het hulle in Kaapstad bevind waar hy as beroepbare predikant tydelik met die verkondiging van die evangelie behulpsaam was. Hier het die beroep na Philippolis hom bereik. Sy ou vader het min of meer dieselfde tyd emeritus geword en die kerkvaders van Beaufort het dadelik in hierdie talentvolle en geniale jong man 'n moontlik opvolger gesien. Op die eerste gekombineerde kerkraadsvergadering (Maart 1863) is hy dan ook beroep, maar hy het dit van die hand gewys ten gunste van die beroep na Philippolis. Laasgenoemde se kerkraad het hy in kennis gestel dat hy "na rype en biddende beraap die beroep deur die kerkraad op hom uitgebring, aangeneem het". In 'n persoonlike brief aan ds. A.A. Louw, leraar van NG gemeente Fauresmith en konsulent van die jong gemeente Philippolis, het hy die wens uitgespreek om op 18 April 1863 bevestig te word.

Bevestiging op Philippolis

duimnael|links|180px|Ds. A.A. Louw was as predikant van die NG gemeente Fauresmith Philippolis se eerste konsulent.

Aangesien geen kerkraadsvergaderings voor 17 April, die dag voor sy bevestiging, belê is nie, het ds. Louw en die kerkraad alle reëlings vir die ontvangs en bevestiging van Philippolis se eerste leraar in die tussentyd getref. Die pastorie en buitegeboue wat van die Griekwaregering aangekoop is, is netjies opgeknap en getrou aan die Boeretradisie het die vroue die spensrakke van die pastorie volgelaai. Die kerkraad het ook 'n verwelkomingsadres opgestel.

Intussen is die egpaar in Kaapstad met die wa en osse gehaal en het tot op Beaufort-Wes gereis waar hulle 'n rukkie by ds. Fraser se ouers gekuier het. Daarna is die tog na die Suid-Vrystaat onderneem. Al die predikante van die Oranje-Vrystaat is na die bevestiging uitgenooi en ook is besluit dat die vader van die jong leraar die bevestigingsrede sou lewer. Eindelik het die groot dag, Vrydag 17 April 1863, vir die jong gemeente aangebreek. 'n Geselskap met die verwelkomingsadres byderhand het na die Oranjerivier gereis om die egpaar te ontmoet en hulle na Philippolis te begelei. Ongelukkig het dié geselskap die verkeerde weg gekies en die leraar en sy eggenote misgery. Ná die aankoms van die egpaar het die kerkraad die Vrydagmiddag vergader en die optrede van ds. Louw en lede van die kerkraad in verband met die ontvangs van die leraar is goedgekeur. Die aanname van die uitgebragte beroep kon toe formeel genotuleer word en daarna het ds. Louw die volgende stukke aan die kerkraad oorhandig: die doop- en lidmaats- en huweliksregisters, notule- en kasboeke, asook 'n Bybel en Gesangboek vir die kansel.

Daar was dié naweek op Philippolis ongekende bedrywigheid. Van heinde en verre het ossewaens en perdekarre langs stofpaaie na die dorp aangestroom gekom. Diegene wat nie by familie of vriende kon tuisgaan nie, het tent opgeslaan. Die strate was die ene lewe, want nie alleen het opgewekte kinderstemme opgeklink nie, maar ook die volwassenes was verheug oor dat die groot dag vir hulle gemeente aangebreek het. Die naweek se feestelikhede het 'n hoogtepunt bereik met die verwelkomingsgeleentheid en bevestiging op Saterdag 18 April. Volgens De Kerkbode was dit 'n dag van groot vreugde, maar ook van teleurstelling, want die leraars van die Vrystaat, "wat 'n mens billik by 'n plegtigheid soos dié kon verwag, het nie verskyn nie". Die leraar van Bloemfontein het reeds 'n ander bestelling gehad en ds. Van Broekhuyzen van Winburg het op Fauresmith siek gelê aan sinkingskoors. Hoewel meer leraars verwag is, het die gemeente dit tog waardeer dat, buiten die konsulent, ook die leraar van die NG gemeente Colesberg en die NG gemeente Smithfield teenwoordig was. Ds. Fraser sr. wat aanvanklik die bevestigingsrede sou lewer, is ook verhinder en ds. A.A. Louw het in sy plek opgetree en 'n rede gelewer na aanleiding van 1 Korintiërs 3:11 (Statebybel): "Want niemand kan een ander fondament leggen, dan hetgeen gelegd is, hetwelk is Jezus Christus."

Die Saterdagmiddag en die -aand het die leraar van Colesberg, ds. Anton Daniël Lückhoff, voor die gemeente opgetree, terwyl ds. Pieter Roux van die NG gemeente Smithfield (eerste leraar van die gemeente na wie die dorp Rouxville vernoem is en die oupa aan moederskant van die latere vrou van die goewerneur-generaal, mev. Mabel Jansen, asook prof. George Murray Pellissier) die Sondagoggend die Nagmaaldiens waargeneem het. Die Sondagmiddag het ds. Louw sy afskeidspreek gelewer.

Ná die naweek se verrigtinge het die kerkraad op Maandagoggend 20 April weer bymekaargekom. Voordat ds. Fraser die vergadering binnegenooi is, het die kerkraad eers besluit hoe sy huisraad van Port Elizabeth na Philippolis gebring sou word. Ds. Louw het 'n kort afskeidsboodskap gerig en toe is die nuwe leraar in die vergadering toegelaat. Die adres wat hom reeds aan die Oranjerivier moes bereik, is nou aan hom gebied en hy is verras deur 'n skenking van twee "egale karpaarden nevens eene beurs met geld". Op dieselfde vergadering het ds. Fraser bekendgemaak dat hy sy familie vir enige weke op Beaufort wou gaan besoek. In sy afwesigheid sou die leraars van Colesberg en Fauresmith op twee Sondae kerkdienste op Philippolis hou.

Ds. Fraser as Vrystaatse kerkleier

duimnael|regs|320px|Die NG kerk op Philippolis waarin ds. Fraser 44 jaar die Woord bedien het. 'n Suil ter nagedagtenis aan hom staan voor die ingang. Dr. Tobie Muller, Philippolis se derde predikant, wat in 1918 ná net twee jaar in die gemeente tydens die Griepepidemie beswyk het, se suil is een van die vier kleineres. Die ander drie is vir di. C.J. van Niekerk, D.N.J. du Toit en Gideon Engelbrecht. Geskiedenis van die NG gemeente Philippolis op Philippolis.org . URL besoek op 2 Februarie 2014.

Nadat die Vrystaatse Kerk in 1864 'n selfstandige Sinode gevorm het, het hy gedurende die eerste Sinodesitting belangrike werk gekry: "Met Di. A.A. Louw, G. van de Wall en den Staatsbeampte, den heer Niele Marais diende hij als commissielid om een concept wet voor de Ned. Geref. Kerk van den Oranje-Vrijstaat op te trekken." In hierdie kommissie het hy besonderse vernuf getoon, sodat in die toekoms op groot skaal van sy dienste gebruik gemaak sou word. Herhaaldelik het hy die Vrystaatse Kerk op belangrike byeenkomste verteenwoordig. In 1869 het hy die groete van die Vrystaatse Kerk aan die Nederduits Gereformeerde Kerk in die Transvaal gebring en in 1873 aan die Moederkerk in Kaapstad. 'n Paar jaar later het hy ook die Vrystaatse Sinode verteenwoordig in "de eerste Pan-Presbyteriaansche Concilie" in Edinburg.

In 1881 is hy en ds. J.H. van Wijk deur die Vrystaatse Sinode afgevaardig "om onze groete en gelukwenschen aan de Transvaal te brengen bij de herwonnen onafhankelijkheid, en hem viel de eer te beurt de eerste vergadering van den Nieuwen Volksraad met gebed te openen". Hy het verskeie belangrike afvaardigings gelei, maar in die Vrystaatse Sinode het hy sy diepste spore getrap. In 1867, toe die Sinode sy sitting op "Winburg" gehad het, het Philippolis die beskrywingspunt ingestuur dat die "Synode vergadere in het vervolg te Bloemfontein en op geen ander dorp". Twee jaar later het die Sinode na aanleiding van hierdie voorstel besluit dat die Sinodesitting voortaan in Bloemfontein sou plaasvind omdat dit dan vir al die gemeentes in die Vrystaat die mees sentrale sou wees.