Ds. Johan George Steytler (Victoria-Wes, 2 Julie 1864 - Kaapstad, 28 Julie 1932) was leraar in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, onder meer die agtste predikant van die NG gemeente Beaufort-Wes en 'n leraar van die NG gemeente Piketberg. Sy wens om in die amp te sterf, is vervul toe hy in die ouderdom van 68 in 'n Kaapstadse hospitaal oorlede is terwyl hy nog in die amp gestaan het op Piketberg.
Agtergrond Hy is op Victoria-Wes in die Bo-Karoo gebore as die oudste seun van Fred Albert Steytler. Op jeugdige leeftyd is sy vader dood en moes die jong Johan help om die jonger kinders te versorg. Tog het hy deur privaat studie daarin geslaag om 1884 te matrikuleer. Hy het die onderwysloopbaan gekies en agtereenvolgens gewerk as onderwyser op Fraserburg, Willowmore, Jansenville, Hoopstad en Boshof. Ds. A.P. Smit, wat 'n lewensbeskrywing van Steytler gee in sy Gedenkboek van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Beaufort-Wes (1820-1945), skryf hy het in later jare in sy katkisasieklas gesit en "hom steeds bewonder as 'n gebore onderwyser, wat intens belang bly stel het in die onderwys, veral van die minderbevoorregtes".
Op 24-jarige leeftyd tree hy in die huwelik met mej. Johanna van Ryneveld, volgens Smit 'n "waardige en edele vrou wat in later jare as predikantsvrou in ons Kerk baie hoog geag is". Kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het Steytler hom geroepe gevoel tot die evangeliebediening en ondanks verskeie moeilikhede het hy na die Kweekskool op Stellenbosch gegaan om daar van 1897 tot 1900 te studeer. Hy is in laasgenoemde jaar gelegitimeer, maar die toe nog heersende oorlog het 'n stok in die wiel van sy beroepswerk gesteek. Hy is as een van die "ongewenste predikante" in 'n militêre kamp op Matjiesfontein etlike maande lank gevange gehou. Eers in 1902 het hy 'n beroep na die pasgestigte gemeente De Rust aangeneem, wat van die Oudtshoornse gemeente afgestig is. Volgens eerw. Andries Dreyer, skrywer van die Eeufees-Gedenkboek van die Ned.-Geref. Kerk, Piketberg, was dit die begin van 'n "besonder vrugbare loopbaan as predikant en hy het vir homself naam in die Kerk gemaak". Dreyer sê hy was 'n man van "onwrikbare beginselvastheid en vir die werk van die Kerk het hy alles veil gehad. Geseën met 'n sterk en gesonde liggaam, en minsaam van natuur het hy al sy kragte in sy diens gebruik."
Nadat hy drie jaar op De Rust gearbei het, het hy in 1905 'n beroep na die NG gemeente Hopefield aanvaar. Hier was hy sewe jaar lank predikant. Tydens dié tyd is die ou kerkgebou op dié Weskusdorp met twee vleuels vergroot en van 'n sierlike toring voorsien.
duimnael|230px|links|Tydens ds. J.G. Steytler se agt jaar lange dienstyd op Hopefield is die kerkgebou met twee vleuels vergroot en 'n kerktoring verfraai.
Aankoms op Beaufort-Wes Ná ds. Paul Roux se dood het ds. C.M. Hofmeyr nog ses maande lank waargeneem in die NG gemeente Beaufort-Wes tot in Januarie 1912 toe die kerkraad eervolle ontslag aan hom gegee en afskeid van hom en sy vrou geneem het. (Hy het daarna agtereenvolgens die gemeente Murraysburg en Standerton bearbei en is in Maart 1930 oorlede.) Gelukkig kon terselfdertyd die diens verseker word van prop. M.L. de Villiers, wat op Saterdag 27 Januarie 1912 hier georden is. Hy het met vrug gearbei tot die koms van ds. Steytler as vaste predikant in September 1912. Hierdie hulpprediker van Beaufort het in latere jare bekendheid verwerf onder meer deur sy toonsetting van Die Stem van Suid-Afrika. Die kerkraad het nie minder nie as nege beroepe tydens die vakature uitgebring. Die negende is op ds. Steytler van Hopefield aan die Weskus uitgebring op 15 Julie 1912 en dit het geslaag.
Die 48-jarige dominee was toe nog in die krag van sy jare en die volgende agt jaar sou hy en sy eggenote hul beste kragte aan die gemeente skenk in 'n besonder vrugbare en geseënde bediening. Omtrent sy ontvangs en bevestiging skryf De Kerkbode op 19 September 1912 as volg (uit die Hollands vertaal): "Die dae 4 en 5 September was blye dae gewees vir die gemeente Beaufort-Wes. Immers kon sy toe in haar midde 'n nuwe herder en leraar verwelkom. Ds. Steytler en sy gesin het aangekom op Woensdag 4 September. Die konsulent, die besoekende leraars en die kerkraadslede het hulle amptelik by die stasie gaan ontmoet in 'n aantal motorkarre. Die gemeente, wat in groot getalle opgekom het, het hulle ingewag by die pastorie. Hier is aan ds. Steytler 'n hartlike welkomsadres voorgelees namens die Kerkraad en namens die Sondagskoolkinders, wat hom ook 'n welkomslied toegesing het. Op beide het die leraar met gepaste woorde geantwoord. Nadat die leraars saam die middagmaal in die pastorie geniet het, wat onder toesig van die susters van die gemeente van 'n goeie voorraad van allerlei eetgoed voorsien is, maak die gemeente in die namiddag by geleentheid van 'n onthaal kennis met haar leraar en sy eggenote."
Die volgende dag het die plegtige bevestiging plaasgevind, waaraan die volgende leraars deelgeneem het: di. J.G. Perold (konsulent, Victoria-Wes), Hugo (Colesberg), Hofmeyr (Murraysburg), Daneel (Fraserburg), Pienaar (Merweville) en eerww. Barnard en Tyndale van onderskeidelik die plaaslike sending- en Wesleyaanse gemeente. Eers die volgende Sondag het ds. Steytler sy intreepreek gelewer. Dit alles het die gemeente groot genoeë verskaf en "een ieder ging naar huis met dankbaar hart en met een zeer aangename indruk van den nieuwen leraar en zyn gade".
Kerkvereniging
duimnael|300px|Die Jongeliedesaal oftewel kerksaal van die NG gemeente Beaufort-Wes.
Ná die staatkundige vereniging van die verskillende kolonies en state van Suid-Afrika met uniewording in 1910, is daar ook pogings in die werk gestel om die verskillende NG Kerke in die vier provinsies te verenig onder een bestuur. 'n Wetsontwerp met dié strekking is deur die Unieparelement geloods, maar toe tweederdes van die kerkrade in die Unie en elders in Suider-Afrika nie ten gunste van dié saak was nie, het die hele aangeleentheid deur die mat geval. Die kerkraad van Beaufort-Wes was wel ten gunste van die voorstel van vereniging en het in April 1912 as volg besluit: "De kerkeraad erkent de leiding van de hier in de stappen reeds genomen tot hereniging van onze Ned. Geref. Kerk in Zuid-Afrika en verklaart zich mits deze ten gunste van de voorgestelde vereniging."
'n Kerksaal gebou duimnael|links|190px|Ds. J.G. Steytler omstreeks 1917. Ná die stigting van die Sendingvereniging omstreeks 1889 het dié liggaam 'n Christelike vergadersaal, later ook die lokaal vir die "Armen School", gebou wat bekendgestaan het as die Ou Sendingsaal en eers in die vroeë 1940's deur die kerkraad vir £850 verkoop is. Die gebou was geleë by Donkinstraat 114. Dit was die oudste Christelike vergadersaal van die NG Kerk op Beaufort-Wes en hierin het verskillende sending- en ander Christelike verenigings hul vergaderings gehou. In Maart 1909 het die kerkraad ten gunste van die bou van 'n "Jongelieden Zaal" besluit. Genl. ds. Roux, dr. A.M. Neethling en ander lede van die toe bloeiende Christelike Jongeliedevereniging (C.J.V.) het die saak baie sterk bepleit. Dis egter telkens uitgestel en eers met die koms van ds. Steytler in September 1912 is 'n boukommissie aangestel waarin, behalwe die leraar, die broers P.D. de Villiers, J.A. Louw, A.T. Theron en C.G. Smith gedien het. Hierdie kommissie het die bou van 'n saal teen £3 500 aanbeveel, maar aangesien die distrik hom destyds in so 'n benaderde toestand weens die droogte bevind het, is dit weereens uitgestel. Met geld wat die kerkraad geleen het, is toe die volgende jaar gebou en teen Desember 1913 is die eerste eintlike kerksaal van die gemeente voltooi vir die som van £3 857, meublement ingesluit, waarvan ruim nog £6 600 verskuldig was.
Een van die eerste funksies in dié saal was die viering van die silwerbruilof van ds. en mev. Steytler in Desember 1913. In Oktober die volgende jaar is 'n blommetentoonstelling daarin gehou. In dieselfde tyd is 'n ystertraliewerk rondom die kerksaal gebou. Dié saal is vandag nog in gebruik, een van die duursame monumente van ds. Steytler in dié gemeente.
Elektriese beligting en kerktoring herbou Teen 1918 het die plaaslike spoorwegstasie elektriese lig gehad. Daar was sprake dat die dorpsposkantoor elektriese met eersgenoemde verbind sou word en ds. Steytler het hom baie beywer om in so 'n geval elektriese lig vir die kerkgebou van die poskantoor te verkry. Die Eerste Wêreldoorlog was toe nog aan die gang en weens die hoë koste en skaarste van materiaal moes die owerheid afsien van die plan om krag na die poskantoor aan te lê. Die kerkraad moes toe maar wag op normale tye. Ná die oorlog, en wel in 1921, het die dorp toe 'n elektriese ligstelsel gekry en in April daardie jaar het die kerkraad op aanbeveling van ouderling J.P. Pienaar besluit om elektriese ligte in die kerk, saal, koshuis, pastorie en kostershuis te plaas. Benewens broer Pienaar het die broers A.C. Koch en J.H.E. Vivier hul baie hiervoor beywer. Die hele onderneming het iets oor die £400 gekos en is reeds in Junie 1921 voltooi. In Oktober die volgende jaar is ook die orrel van 'n nuwerwetse blaastoestel voorsien en het die ou orreldrukker van die toneel verdwyn. Dit was vanselfsprekend 'n groot verbetering op die asetileenligte uit ds. Roux se tyd.
Die kerktoring het mettertyd 'n wye en diep bars vertoon en in 'n brief in Mei 1919 het die stadsraad die kerkraad op die lewensgevaarlikheid daarvan gewys. Op advies van die argitek Vixeboxe en ander het die kerkraad toe op voorstel van broers W. Scheun en H.P. Eybers besluit om 'n deel van die toring te laat afbreek en herbou. Aan 'n toringkommissie is die uitvoering opgedra en teen Oktober was die werk voltooi en het die kommissie volmag gekry om alle materiaal wat van die toringbou oorgebly het, per openbare veiling te verkoop. Dié bouwerk het die kerkkas sowat £1 000 gekos, 'n aardige bedrag as in ag geneem word dat die pastorie in 1904 vir £2 000 verseker is.
Teëspoed en kerkskuld duimnael|270px|links|Ds. en mev. Steytler het hul silwerbruilof in Desember 1913 op Beaufort-Wes gevier.
Die onthulling van die Paul Roux-gedenkteken langs die kerk was vir 30 Oktober 1914 bepaal, maar moes uitgestel word weens die oorlog en kon eers in Julie die volgende jaar plaasvind. Diep onder die indruk van die erns van die wêreldtoestand, is op voorstel van ds. Steytler die Dingaansfees (16 Desember) van 1914 afgesonder as 'n dag van verootmoediging en gebed. Anders as in die Tweede Wêreldoorlog, was daar tydens die Eerste Wêreldoorlog geen prysbeheer nie; daarom maak die kerkraadsnotules melding van geldskaarste en tekorte in die kerkkas, wat vererger is deur die baie aansoeke om plaaslike armeversorging. Die oorlogstoestande was ook verantwoordelik vir die vertraging van die kerkraad se planne vir die stigting van 'n koshuis vir behoeftige leerlinge asook die elektriese verligting van die dorp en daarmee saam ook die kerklike geboue. Om alles te kroon, breek die rampspoedige griep-epidemie in Oktober 1918 uit en baie slagoffers moes grafwaarts gedra word. In dié donker tyd was ds. Steytler en sy vrou 'n toring van lig en krag in die gemeente en het byvoorbeeld in Julie 1919 sowat £400 in die gemeente gekollekteer vir die "Griep Weezen Fonds".