duimnael|320px|regs|Die NG gemeente op Middelburg, Oos-Kaap se hoofkerkgebou.

Die NG gemeente Middelburg (Kaap) was 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die teenswoordige provinsie Oos-Kaap wat op 19 Mei 1852 gestig is as die 10de gemeente in die latere Sinode van Oos-Kaapland en die 49ste oudste gemeente in die NG Kerk, maar het op 13 September 2010 met die NG gemeente Middelburg-Uitsig saamgesmelt as die NG gemeente Middelburg-Karoo. Dit is die oudste gemeente wat amptelik ophou bestaan het of opnuut gestig is deur inlywing of samesmelting.

Stigting Teen die middel van die 19de eeu het die gemeente Colesberg ook die wyk Rhenosterberg ingesluit. Vanweë swak vervoergeriewe destyds, asook die lang afstande na die kerk op Colesberg, het gemeentelede in hierdie verafgeleë wyk daarna gestreef om 'n afsonderlike gemeente te stig. Hierin is hulle gesteun deur lidmate in die aangrensende uithoeke van die gemeentes Graaff-Reinet, Cradock en Richmond.

Nadat 'n naamlys van persone wat begerig was om 'n nuwe gemeente te stig, voorgelê is, het die kerkraad van Colesberg op 6 April 1852 soos volg besluit: “De Wel-Eerw. Kerkraad van Colesberg geeft met deze een volkomene toestemming tot de nieuwe oprichting op Driefontein en bidt dat die Albestierende Opperhoofd der Kerk de belanghebbers goedgunstig bestieren wil, en hun voornemens spoedig wil doen gelukken.” So het dit dan gebeur dat die nuwe gemeente, Middelburg, op 19 Mei 1852 gestig is op die plaas Driefontein wat vir dié doel aangekoop is deur bemiddeling van die twee here Willem S. Smit en Henning J.H. Coetzee. Die stigtingsvergadering is deur groot geesdrif gekenmerk. Oor die naam van die gemeente was almal dit eens omdat die plaas Driefontein byna in die middel geleë is tussen die naburige dorpe (synde 'n afstand van 10 uur te perd vanaf Colesberg, Cradock en Richmond, 12 uur van Graaff-Reinet en 16 van Burgersdorp). Die lede van die Ringskommissie van Graaff-Reinet deur wie die amptelike stigting plaasgevind is, was ds. Andrew Murray van die NG gemeente Graaff-Reinet, ds. J.F. Berrangé van die NG gemeente Richmond en die ouderlinge Barend Pienaar en J.J. Naudé.

Vroeë leraars duimnael|links|180px|Ds. Charles Morgan, leraar van 1866 tot 1873 en een van die eerste vier studente van die Kweekskool op Stellenbosch. Sy voorganger, ds. William Murray se broer John Murray was een van die eerste twee hoogleraars.

duimnael|180px|regs|Ds. J.R. Albertyn, leraar van 1874 tot 1883.

duimnael|regs|180px|Ds. Gerrit van Niekerk, leraar van 1884 - 1903.

Die eerste konsulent was ds. John Murray, destyds van die leraar van die NG gemeente Burgersdorp en later professor aan die Kweekskool op Stellenbosch, en die eerste leraar ds. William Murray, sy jonger broer. Vir hom moes dit 'n bedroewende ervaring gewees het toe die Gereformeerde kerk Middelburg, Kaap op 1 Desember 1860 gestig word. Hy was nog ongetroud en het ingewoon by een van sy ouderlinge, H.T.J. van der Walt, mede-eienaar van die plaas Grootfontein, waarop die nuwe gemeente gestig is. Hierdie ou vader het ook by die Gereformeerde Kerk aangesluit en is as ouderling verkies. "Van ds. Murray," getuig 'n tydgenoot, "kan ek niet dan goed getuigen. Hij was ons nooit kwaad gezind. Hij klaagde dat de steunpilaren zijner gemeente hem ontvallen waren".

Tydens die eerste eeu van die gemeente se bestaan het die volgende leraars hier gearbei, behalwe hulppredikers wat van tyd tot tyd die vaste leraar bygestaan het: William Murray (1854-'65), ds. C.S. Morgan (1866-'73), ds. J.R. Albertyn (1874-'83), Gerrit van Niekerk (1884-1903), Paul August Winter (1903-'08), Ebbe Dommisse (1909-'1920), Louis Johannes Fourie (1921-'38), G.P. van den Berg (1939-'41), J.L. Nel (1940-'41), G.C. le Roux (1942-'47), I.E. Heyns (1943-'46), J.J. Sieberhagen (1946-'50), P.F. de V. Muller (vanaf 1948) en N. Schreuder (vanaf 1951).

Ds. Dommisse se termyn Ontvangs op Middelburg Vrydagoggend 22 Januarie 1909 was Middelburg in rep en roer in afwagting van die koms van die nuwe leraar, ds. Ebbe Dommisse, wat omstreeks tienuur sou aankom. Talle rytuie is al vroeg weg om ds. en mev. Dommisse tegemoet te gaan. Op die plek waar die ontmoeting plaasgevind het, is Psalm 146:1 gesing en 'n gebed deur die heer G. Viljoen gedoen, waarna die stoet dorpwaarts gekeer het. Intussen het die Sondagskoolkinders by die pastorie hul plek ingeneem in rye, waartussen die leraar en sy vrou na die pastorie sou loop. Om tienuur het die lang optog aangekom, met ds. en mev. Dommisse in die eerste rytuig, 'n landau deur vier perde getrek. 'n Hele skare van gemeentelede was teenwoordig toe hulle afklim en plek inneem op die verhoog wat voor die tuinhek van die pastorie opgerig is, en waaroor die woord "Welkom" in groot goue letters gepryk het. Die kinders het Breng mij de oude tijding gesing onderwyl die volgende gaste op die verhoog plekke ingeneem het: die konsulent, ds. J.H. Krige, ds. A.J. Malherbe van Dewetsdorp, eerw. Dekker, ds. J.G.H. van der Walt van die Geref. Kerk, en eerw. A.J. Kropholler. 'n Aantal adresse is toe aangebied van die kerkraad, die Sondagskoolonderwysers en -kinders, die Christelike Strewersvereniging, die Christelike Jongelingsvereniging, die NG sendinggemeente, die publieke skoolkomitee en die munisipaliteit.

Ds. Dommisse het kortliks op die verskillende adresse geantwoord en gesê dat hy baie klein voel om te dink dat hy die voetstappe van 'n groot man soos wyle ds. Winter moes druk. Van die Here sou egter die krag kom om die stryd op hom te neem. Hy was veral bly dat die eerste adres van die kerkraad was, want hy verwag veel van hulle. Hulle moes die Aärons en die Hurs wees om sy arms te sterk; hulle moes die oë van die gemeente wees en hom help om sy weg te baan tot die hart van die lede. Sy antwoord op die ander adresse was ook kernagtig en welsprekend, en met 'n "God seën u almal" het die verrigtinge afgeloop.

Enige susters van die gemeente het die nuwe leraar en sy gesin, die besoekende predikante, die kerkraadslede en hul eggenotes, en die sendelinge 'n eetmaal aangebied wat deur almal geniet is. Ook hier was daar toesprake waarop ds. Dommisse gepas geantwoord het. In die namiddag was daar 'n baie aangename tuinparty op die landboutentoonstellingsterrein. Die musiekkapel is verander in 'n resepsiekamer en die gemeentelede en gaste is aan ds. en mev. Dommisse deur die heer G.N.A. Theunissen voorgestel.

Saterdagoggend was die groot kerk vol toe ds. Dommisse bevestig is. Ds. Van der Walt en sy kerkraad en nog baie ander lede van die Gereformeerde Kerk was teenwoordig. Die feesredenaar was ds. A.J. Malherbe van Dewetsdorp, 'n boesemvriend van ds. Dommisse. Hy het na aanleiding van Joh. 1:6 gepreek: "Daar was 'n man van God gestuur, wie se naam Johannes was."

Ná die bevestiging het die gebruiklike seënwense plaasgevind. In die namiddag was die kerk weer stampvol toe ds. Dommisse sy intreepreek lewer; sy teks was "Ga met ons en wy zullen u weldoen" (Num. 10:29). Die verrigtinge is Sondagaand afgesluit met 'n konferensie met die gemeente oor Bekering, waaraan al die besoekende predikante deelgeneem het. Daarna is afskeid geneem van ds. Krige as konsulent. Hy het veral die kerkraad, eerw. Dekker en eerw. Kropholler bedank vir hulle hulp wat sy werk lig gemaak het. 'n Adres vergesel van 'n beurs is aan ds. Krige, uit naam van die kerkraad, aangebied. Ds. Dommisse, wat as voorsitter vir die aand opgetree het, het almal weer bedank vir die hartlike ontvangs en die feestelikhede het tot 'n end gekom met die sing van Gesang 96 en die uitspreek van die seën deur ds. Krige.

Sektes en opvoeding duimnael|regs|250px|Ds. en mev. Dommisse teen die einde van sy dienstyd op Middelburg, Kaap. Gedurende die vakature, voor ds. Dommisse se koms, het die sektes taamlik opgang gemaak op Middelburg, maar die getroue arbeid en evangelieprediking van die nuwe leraar het al die sektes binne 'n jaar 'n natuurlike dood laat sterwe. Dié bearbeiding was nie maklik nie, want die gemeente was groot en die predikant het in daardie dae nog kar en perde of 'n ryperd gebruik. So uitgebrei was die werk dat eerw. Dekker, die plaaslike sendeling, gevra is om teen 'n vaste vergoeding die leraar behulpsaam te wees met besoek op die dorp en met buitekerke waar nodig.

Ds. Dommisse het baie belang getel in die opvoeding van die kinders van die gemeente. Tydens sy bediening is deur sy arbeid, bemoediging en die oprig van 'n kerkkoshuis al die kinders van die twee gemeentes (NG en Geref. kerk) op skool gebring. Die twee kerke het gewoonlik besonder goed saamgewerk in belang van die opvoeding op Middelburg. Die NG kerk het ook 'n studiefonds gestig om hulpbehoewende seuns en dogters te help om hul studies voort te sit; hierdie geleende gelde moes terugbetaal word sodra hulle begin verdien sodat die fonds 'n voortdurende bron van hulp kon word. Die lange jare van droogte het groot armoede in die gemeente veroorsaak, en om 'n goeie verdienste te besorg aan baie huisgesinne, het die kerkraad en die ACVV onder leiding van mev. Dommisse 'n wasinrigting opgerig wat 'n groot sukses was. Baie seuns en dogters is ook in hierdie jare na nywerheidsinrigtings weggestuur om later goeie en nuttige burgers te word.

In 1911 het mnr. en mev. Johannes van Jaarsveld 'n mooi nuwe rostrum in die kerk laat plaas, die galery laat verander en drie nuwe hanglampe as geskenk gegee. Die ou preekstoel is afgestaan aan die gemeente Steynsrust in die Vrystaat.

Een jaarlikse basaar duimnael|links|300px|Die vorige kerkgebou, afgeneem omstreeks 1916.

In 1912 het die kerkraad, in samewerking met die Vrouesendingbond en die ACVV, besluit dat daar in die vervolg net een groot jaarlikse basaar in die gemeente gehou sal word, naamlik die dankfeesbasaar, en dat uit die opbrengs die som van minstens £60 aan die VSB en ACVV elk betaal sou word vir hul werksaamhede. Hierdie besluit is jare lank volgehou en die somme aan die twee liggame deur die kerkraad uitbetaal het gewissel van £60 tot £85 elk per jaar. Eindelik, egter, is in 1923 die gedagte in die kerkraad uitgespreek dat albei liggame voortaan niks meer uit die dankfeesfondse behoort te kry nie maar vir eie fondse moes sorg.

In die loop van 1914 het die kerkraad besluit om die leraar se werk te vergemaklik deur 'n motorkar vir hom te koop — vir 'n som van £250 nie te bowegaande nie! Vroeg in 1915 het mev. Dommisse ernstig siek geword en het die kerkraad ter wille van haar herstel verlof aan ds. Dommisse verleen om met 'n ander leraar vir drie maande werkkringe te ruil. Ds. Dommisse het vir talle beroepe bedank in die loop van sy bediening op Middelburg, maar in 1920 het hy 'n beroep na Caledon aangeneem.

Ds. Dommisse se afskeid 'n Groot afskeidsresepsie is op 28 Augustus 1920 gehou op die tentoonstellingsterrein om die gemeente die geleentheid te gee om van ds. en mev. Dommisse afskeid te neem. Elke deel van die samelewing is daar verteenwoordig en eerw. Andries Dreyer was seremoniemeester, terwyl mnr. G. Viljoen 'n adres aangebied het. Aan mev. Dommisse is ook 'n adres, onderteken deur al die vrouelede van die gemeente, aangebied. Die gevoelvolle toesprake deur die predikante van ander kerkgenootskappe, asook van die openbare liggame, het getuig van die liefde en agting wat deur almal gekoester is vir die leraar en sy gade, wat blykbaar baie aangedaan was deur die blyke van gevoel wat die vergadering getoon het.

Sondagoggend het ds. Dommisse sy afskeidsrede gelewer en in die aand het hy van die jongmense afskeid geneem. Dinsdagaand is aan ds. en mev. Dommisse 'n afskeidsdinee, waaraan sowat 60 mense deelgeneem het, in die Commercial Hotel aangebied. Die verrigtings was van baie aangename aard en is afgesluit met 'n gebed deur die leraar. Woensdagoggend het ds. en mev. Dommisse vertrek en 'n groot skare het hulle by die stasie kom groet.

Kerklike geboue