duimnael|Die skets van Jan Celliers wat afgedruk is op die stofomslag van die boek Jan Celliers Ons Volksdigter, in 1961 saamgestel deur P.J. Nienaber.
Johannes Francois Elias Celliers (12 Januarie 1865 – 1 Junie 1940) was 'n Afrikaanse digter, kortverhaalskrywer en dramaturg. Hy is veral bekend vir Die vlakte en ander gedigte (1908) en die epiese gedig Martjie (1911). Een van sy bekendste gedigte is Dis al.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,
Celliers het in 1874 met 'n ossewa na Pretoria getrek, waar sy vader, Jan F. Celliers oprigter en eerste redakteur van De Volksstem geword het. Hy studeer in Pretoria, Stellenbosch, Wellington en Delft (1887–1890). Daarna het hy as landmeter en later as staatsbibliotekaris in Pretoria (1894–1899) gewerk. Tydens die Anglo-Boereoorlog was hy op kommando en het hy 'n oorlogsdagboek gehou, wat later gepubliseer is. Ná die oorlog het hy saam met sy gesin na Europa verhuis, waar hy hom in die letterkunde verdiep het. In 1907 keer het hy en sy gesin na Suid-Afrika terug.Geni: http://www.geni.com/people/Johannes-Francois-Elias-Celliers/6000000012479011435
Hy was die medestigter van Die Brandwag, wat bedoel was om Afrikaans as taal te bevorder. Hy was in hierdie tyd ook in die departement van binnelandse sake in Pretoria werksaam. Van 1918 tot met sy aftrede was hy professor aan die Universiteit van Stellenbosch. Ná sy aftrede vestig hy hom eers in Kaapstad, maar later op Harrismith in die Vrystaat.
Lewe en werk
Vroeë lewe en herkoms Johannes Francois Elias Celliers is op 12 Januarie 1865 op die plaas Wagenmakersvallei in die distrik Wellington (destyds in die Kaapkolonie) gebore as die oudste kind in die gesin. Hy het ’n broer, Isaac Bisseaux, en drie susters, Susanna Wilhelmina (Sannie), Anna Sibella Magdalena en Hester Maria.Geni: http://www.geni.com/people/Johannes-Francois-Elias-Celliers/6000000012479011435 Sy suster Sannie trou later met die bekende beeldhouer Anton van Wouw. Sy vader is die joernalis Jean Francois Celliers en sy moeder is Magdalena Bisseaux. Sy oupa aan moederskant is die bekende sendeling van die Paryse Sendinggenootskap te Wellington, Isaac Bisseaux, wat in 1829 na Suid-Afrika gekom het. Aan vaderskant is hy ’n afstammeling van Josué Sellier (’n ou spelling van Celliers) en Elisabeth Couvret, beide Franse Hugenote wat na die herroeping van die Edik van Nantes uit Orleans gevlug het en na enkele jare in Nederland in 1700 na die Kaap gekom het. Skaars drie jaar na Jan se geboorte trek die familie van Wellington na Kaapstad, waar sy vader subredakteur word van Het Volksblad en hy begin skoolgaan aan ’n Engelse skool en later aan ’n Skotse kerkskool.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Celliers,_Jan_Franois_Elias Van sy agste jaar af begin hy geleidelik doof word. Hierdie doofheid is ’n aangebore gebrek waaraan hy sy hele lewe lank ly en wat veroorsaak dat hy sy latere lewe in eensaamheid slyt.
In 1874 verhuis die gesin per ossewa na Pretoria, waar Celliers se vader reeds in 1873 stigter en redakteur van De Volkstem word. Die gesin vestig hulle in ’n huis in Boomstraat in Pretoria. Hierdie eiendom word in 1895 aan die Staat verkoop vir die oprig van die nasionale dieretuin wat steeds daar geleë is. Sy vader is later lid van die Volksraad vir Johannesburg en stigter van die Afrikanerparty in Transvaal kort na die slag van Majuba in 1881. Tydens die Eerste Vryheidsoorlog word sy vader in hegtenis geneem weens sy verset teen die Britse bewind. In Pretoria gaan Jan na ’n Engelse kerkskooltjie voordat sy vader hom na meneer Dely se skool op Kerkplein stuur. Kerkplein was daardie jare die algemene uitspanplek van waens wat dorp toe kom en het ook gedien as die dorp se sportgronde. Meneer Dely word opgevolg deur Cornelis J. van Boeschoten, later onderstaatsekretaris van die Zuid-Afrikaansche Republiek, by wie Celliers vir die eerste keer Nederlandse onderrig kry. President Burgers stel daarna vir meneer Van Gorkom van Nederland aan as Superintendent van Onderwys in Transvaal en mnr. Van Boeschoten word vervang deur die Nederlandse meneer Kuiper, wat later die Weesheer word. In 1877 toe die Engelse Transvaal annekseer word die skool gesluit en dan werk Jan vir ’n ruk as addresseerder by sy vader se koerant. Van 1879 tot 1881 gaan hy skool aan die Gimnasium te Stellenbosch en spandeer dan twee jare (1881–1882) aan die Jongenskool op Wellington. Hierna keer hy in 1883 terug na Pretoria, waar hy tot 1887 meester Wessel Louis se skool besoek en matrikuleer. In 1887 vertrek hy na Nederland waar hy aan die Polytechnische Skool in Delft studeerLiterator: http://www.literator.org.za/index.php/literator/article/viewFile/137/480 en later ook in Leiden onder professors Van de Sande Bakhuizen en Schols. Hier lê hy die landmeterseksamen af, ten spyte van die feit dat hy self erken dat hy geen aanleg gehad het vir Wiskunde nie. By sy terugkeer na Suid-Afrika aan die einde van 1889 werk hy vir ’n jaar lank as landmeter vernaamlik in die Bosveld. Hy geniet nie hierdie werk nie en sluit dan vanaf 1891 vir bykans drie jaar aan as spesiale klerk in die Onderwysdepartement. In 1894 word hy aangestel as Staatsbibliotekaris in Pretoria, ’n werk wat hy geniet en waarin hy hom uitleef. Op 6 Desember 1894 tree hy in die huwelik met Susanna Jacoba Dürr. Uit die huwelik word ’n dogter, Maria Elizabeth (Marie), en drie seuns, Johannes Francois (Johan), Henri Josua (Henri) en Albert Couvret, gebore. Die familie vestig hulle in ’n huis in Sunnyside in Pretoria.
Anglo-Boereoorlog Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit hy hom op 16 Oktober 1899 by die Boeremagte aan by die Kaaplandse front by Colesberg. Hiervandaan is hulle na Kroonstad in ’n poging om daar lord Roberts se opmars vanuit ’n sterker verdedigingsposisie te stuit. Toe hierdie plan misluk keer hulle op 29 Mei 1900 terug na Pretoria, ’n dag nadat president Paul Kruger en die meeste van sy amptenare reeds die stad verlaat het. Generaal Louis Botha gee opdrag dat alle vegtende burgers Pretoria moet verlaat om so ’n vreedsame oorgawe te bewerkstellig. Voordat die burgers die opdrag ontvang, is die Britse soldate egter reeds in die stad. Celliers bly aanvanklik in die stad, maar kruip in sy huis weg toe dit verpligtend word om die eed van getrouheid en neutraliteit aan die Britse kroon af te lê. Dit word al hoe onveiliger vir hom, want as hy gevang word, kan hy selfs geskiet word of anders as krygsgevangene weggestuur word. Op 24 Augustus 1900 verlaat hy Pretoria vermom as ’n vrou saam met mevrou Malan, die dogter van generaal Piet Joubert, en haar twee klein seuntjies. Hulle moet deur verskeie wagposte van die Britse magte gaan, maar bereik die Malans se plaas agter Magaliesberg veilig, vanwaar hy weer by ’n kommando naby die huidige Brits aansluit. Saam met die burgers van generaal Christiaan Beyers trek hulle suidwaarts om by generaal De la Rey aan te sluit. Op 13 Desember 1900 is hy naby die Slag van Nooitgedacht, maar moet die perde oppas en neem nie self aan die slag deel nie. Later is hy lid van ’n kommando onder generaal Jan Kemp, maar omdat hy nie sy eie perd gehad het nie is hy ook in die laaste fase van die oorlog nie by ’n offensief betrokke nie. Op 12 Mei 1902 naby Swartruggens woon hy ’n inligtingsvergadering by onder leiding van generaal De la Rey, waar die burgers moes stem tussen vrede ongeag die koste of vrede met die behoud van onafhanklikheid. Nie ’n enkele stem word vir vrede ongeag die koste uitgebring nie en dit word dan sy verwagting dat vrede gepaard sal gaan met onafhanklikheid. Op 5 Junie 1902 bereik die nuus van die vredesluiting sy kommando en word dit begroet met groot blydskap en dankbaarheid. Die volgende dag vertrek almal na Doornkom, waar hy tot sy ontnugtering die ware toedrag van sake moet aanhoor en gevra word om sy wapen neer te lê. Tydens die oorlog hou hy getrou dagboek en hierdie dagboek word in 1978 deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing gepubliseer.
Oorsese lewe Hy keer op 9 Junie 1902 terug na Pretoria, waar hy uitvind dat hy sy pos as Staatsbibliotekaris kwyt is. Gelukkig het hy voor die oorlog ’n trommel met goue Kruger-ponde in die agterplaas van sy huis begrawe. Hierdie geld stel die gesin (sy vrou en twee kinders op daardie stadium) in staat om nog in 1902 na Nederland te vertrek. Hiervandaan gaan hulle na Switserland, waar hy verder in die letterkunde studeer. Hulle bly eers in Maison Gatti en verhuis dan in 1903 na die dorpie Pallens sur Montreux, digby Clarens aan die meer van Genève. Hier kom hulle in aanraking met president Kruger en verskeie ander Boere-vlugtelinge en skenk sy vrou geboorte aan hulle twee jongste seuns. In 1907 keer die gesin aan boord die skip Gascon terug na Suid-Afrika en die gesin bly weer in die huis in Sunnyside. Aanvanklik is hy werkloos en kry dan werk as liasseerder en later vertaler by die Departement van Binnelandse Sake, waarna hy vertaler word in die Departement van Landbou. Hy vertaal enigiets van slaghuisregulasies en pluimveevoer tot “resepte vir varkenskos”, ’n betrekking wat vir hom sieldodend is en hy is dan ook uitermate ongelukkig in sy werk. In hierdie tyd word hy saam met Gustav Preller een van die oprigters van Die Brandwag (wat op 31 Mei 1910 die eerste keer verskyn) en dien vir tien jaar in die redaksie.
Loopbaan as skrywer Die Universiteit van Stellenbosch benoem hom met behulp van die Jan Marais-fonds van die begin van 1920 tot buitengewone hoogleraar om hom sodoende in staat te stel om meer aandag aan sy skryfwerk te wy en hom so van die verveling van sy werk as vertaler te vrywaar. Volgens aanduidings is hierdie betrekking egter nie ’n sukses nie. Sy doofheid skep ’n hindernis tussen hom en sy studente en sy buitengewone professoraat het geen vaste plek in die erkende leerplan nie, met die gevolg dat sy lesings swak bygewoon word. Hy is verder geen goeie orator wat stimulerende lesings kan gee nie. Reeds in Januarie 1922 keer hy weens die woningnood terug na sy huis in Pretoria en kom hierna elke jaar vir sowat ’n maand tot ses weke na Stellenbosch om sy doseerwerk af te handel. Die vergoeding vir die posisie is nie sodanig dat dit sy finansiële probleme oplos nie en hierdie stres het waarskynlik belemmerend ingewerk op sy literêre produksie. Sy vrou is onverwags in 1926 oorlede en dit is vir hom ’n groot emosionele slag, wat hy sukkel om te verwerk. Bowendien was sy vrou weens sy toenemende doofheid die skakel tussen hom en die buitewêreld. Haar dood beteken ook die desintegrasie van die gesin. Sy dogter Marie is op 2 November 1922 met die mediese student Hugo Stegmann getroud, maar hulle eerste kind en Celliers se eerste kleinkind, Marietjie, is baie jonk dood. Sy oudste seun Johan vertrek in 1919 na Europa om hom in die skilderkuns toe te lê en hy werk en woon onder meer tien jaar in Parys in Frankryk. By sy terugkeer na Suid-Afrika leef hy ’n kluisenaarslewe op ’n plaas buite Johannesburg. Sy seun Henri studeer klavier in Europa en trou hier met ’n Tsjeggiese pianiste, hoewel hy nie self groot sukses as musikant behaal nie. By sy terugkeer na Suid-Afrika blink hy uit as belowende toneelspeler, maar pleeg vroeg selfmoord. Celliers se jongste seun Albert is nooit getroud nie en bly in Kaapstad, waar hy op jeugdige ouderdom reeds begin blind word.
Persoonlike lewe en sterfte Na die dood van sy vrou skryf Celliers niks meer nie en kort ná haar dood onderneem hy saam met sy seun Henri ’n reis na Parys in Frankryk. In 1929 lê hy die professoraat neer en woon hierna vir ’n ruk op Harrismith. Die laaste tiental jare van sy lewe lei hy ’n betreklik eensame bestaan in die woning Veredic bokant Leeuwenhof in Tamboerskloof in Kaapstad, waar hy by die skilder John Esterhuizen en sy vrou inwoon. Op 1 Junie 1940 is hy tydens besoek aan sy dogter in Aucklandpark in Johannesburg oorlede en hy word begrawe in die Heldeakker van die ou kerkhof in Pretoria.
Skryfwerk
Poësie