Sachalin (Russies: Сахали́н, [səxɐˈlʲin]; Japannees: 樺太島, Karafuto-tō) is ’n groot eiland in die noordelike Stille Oseaan. Hoewel dit die noordelikste eiland van die Japannese Argipel is, behoort dit tot Rusland. Dit is Rusland se grootste eiland en vorm saam met die Koerile die federale deelgebied Sachalin-oblast. Die eiland skei die See van Japan in die suidweste van die See van Ochotsk in die noordooste. Sachalin is naby Chabarofsk-krai aan die ooskus van Rusland en net noord van die Japannese eiland Hokkaido geleë. Dit is omtrent ’n vyfde van Japan se grootte.

thumb|250px|links|Die Aniwa-vuurtoring aan die suidpunt van Sachalin-eiland. duimnael|268px|Die ligging van Sachalin-eiland in Rusland. Dit het ’n oppervlakte van 72 492 km² en 'n bevolking van rofweg 500 000, van wie die meeste Russe is. Die grootste stad is die hoofstad van die oblast, Joezjno-Sachalinsk. Die inheemse volke is die Ainoe, Oroks en Nifchers, van wie daar net klein getalle voorkom. Die eiland se naam kom van die Mantsjoe-woord Saghalien.

Sachalin was eens deel van China tydens die Qing-dinastie, hoewel die Chinese beheer soms laks was. Rusland én Japan het later, in die loop van die 19de en 20ste eeu, beheer oor die eiland opgeëis. Hierdie dispute het soms gelei tot militêre konflikte en die verdeling van die eiland tussen die twee magte. In 1875 het Japan afstand gedoen van sy aanspraak op die eiland in ruil vir die noordelike Koerile. In 1905, ná die Russies-Japannese Oorlog, is die eiland verdeel, met die suide wat na Japan gegaan het. Rusland het in 1945, aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog, beslag op die hele eiland sowel as op al die Koerile-eilande gelê. Japan maak nie meer op enige deel van Sachalin aanspraak nie, maar wel op die suidelike Koerile. Die meeste Ainoe op Sachalin het na Hokkaido, sowat 43 km oos daarvan, verhuis nadat die Japannese in 1949 van die eiland afgesit is.

Etimologie Die Mantsjoes het die eiland genoem (Saghalien ula anga hata), "Eiland aan die mond van die Swartrivier". Saghalien beteken "swart" in Mantsjoe en ula beteken "rivier. Saghalien ula is die Mantsjoe-naam van die Amoerrivier.

Die Qing-dinastie het die eiland Kuyedao ("die eiland van die Ainoe") genoem en die inheemse volk het heffings aan die Chinese ryk betaal. Daar was egter geen amptelike grens om die eiland nie, omdat die Qing nie gebiede afgebaken het soos wat in moderne tye gedoen word nie.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis thumb|200px|Die historiese omvang van die Ainoe. Sachalin is sedert die laat Steentydperk bewoon. Talle vuursteenwerktuie soos dié wat in Siberië ontdek is, is aangetref by Doei en Koesoenai, asook gepoleerde steenhandbyle, soos dié uit Europa; primitiewe pottebakkersitems met versierings, soos dié van die Olonets; en steengewigte wat saam met visnette gebruik is. 'n Latere bevolking het spore van bronsitems agtergelaat.

Onder die inheemse volke van die eiland was die Ainoe in die suidelike helfte, die Oroks in die sentrale streek en die Nifchers in die noorde.

Skatpligtiges van die Yuan en Ming Ná die Mongoolse verowering van die Jin-dinastie in 1234 is die Mongole deur die Nifchers en Oedeges aangeval. In reaksie het die Mongole in 1263 'n administratiewe pos opgerig by Noergan (die moderne Tir), by die samevloei van die Amoer en Amgoen-rivier, en die twee volke onderwerp. Uit die oogpunt van die Nifchers het die oorgawe aan die Mongole 'n militêre bondgenootskap daargestel teen die Ainoe, wat hulle grondgebied aangeval het. Volgens die Geskiedenis van Yuan het 'n groep mense bekend as die Guwei (骨嵬), die Nifchers se naam vir die Ainoe, elke jaar die Nifchers aangeval en teen hulle geveg. Op 30 November 1264 het die Mongole die Ainoe aangeval. Die Ainoe het hulle teen Mongoolse heerskappy verset en in 1284 gerebelleer, maar teen 1308 was hulle onderdruk. Hulle het by die poste by Wuliehe, Nanghar en Boluohe heffings aan die Mongole betaal.

Onder die Ming-dinastie (1368-1644) is Sachalin onder die "stelsel vir onderdrukte volke" (ximin tizhi) geplaas. Van 1409 tot 1411 het die Ming 'n buitepos naby die ruïnes van Tir op die Siberiese vasteland opgerig, en dit was tot in die middel 1430's werksaam. Die Ming het mense van die plaaslike volke in diens geneem vir administratiewe poste. Dié poste was oorerflik deur die vaderlike lyn. In ruil vir die heffings het die Ming hulle van syuniforms voorsien.

Qing-skatpligtiges thumb|220px|'n Franse kaart uit 1821 wat Sachalin as deel van die Qing-ryk aandui.

Die Qing-dinastie het Sachalin Kuyedao ("die eiland van die Ainoe") genoem. Hulle het mag op die eiland begin uitoefen ná die Verdrag van Nertsjinks in 1689, wat die Stanowoi-berge as die grens tussen die Qing en die Russiese Ryk bepaal het. Die volgende jaar het die Qing soldate na die eiland gestuur en geëis dat die bewoners, insluitende die Ainoe, heffings met pelse betaal. Soldate is oor die hele eiland, buiten die suidelike punt, gestuur om die heffings aan die bewoners op te dwing.

Bewoners wat heffings moes betaal, moes volgens hulle hala (die clan aan vaderskant) en gashan (dorp) registreer. 'n Aangewese hoof van elke eenheid was in beheer van sekuriteit sowel as die jaarlikse insameling en aflewering van die pelse. Weer eens het die bevolking syklere in ruil gekry. Die heffingsbetalers is ook toegelaat om by die plek van betaling handel te dryf met amptenare en ander mense. Daardeur het die Qing-dinastie politieke stabiliteit na die streek gebring en 'n fondament vir handel en ekonomiese ontwikkeling geskep.

Die Qing het 'n kantoor in Ningguta, halfpad op teen die Moedanrivier, opgerig om pelse van die laer Amoer en Sachalin te hanteer. Heffings was veronderstel om na streekskantore gebring te word, maar die laer Amoer en Sachalin is as te ver beskou en dus het die Qing elke jaar amptenare direk na dié streke gestuur om heffings te gaan haal en geskenke uit te deel. In 1732 was 6 hala, 18 gasban en 148 huishoudings in Sachalin as heffingsbetalers geregistreer, en teen 1750 altesaam 56 hala en 2 398 huishoudings.

Japannese verkenning en kolonisasie In 1635 het die Matsumae-streek in Hokkaido twee mans gestuur om Sachalin te verken. In 'n vroeëre poging om die eiland te koloniseer is 'n Japannese nedersetting in 1679 aan Sachalin se suidpunt gvestig.Time Table of Sakhalin Island Kartograwe van die Matsumae-clan het 'n kaart van die eiland geteken en dit "Kita-Ezo" genoem ("Noord-Ezo"; Ezo is die ou naam vir die eilande noord van Honsjoe).

thumb|220px|Mamiya Rinzo het Sachalin op sy kaart as 'n eiland beskryf. In die 1780's het die invloed van die Tokugawa-sjogoenaat op die Ainoe van Suid-Sachalin aansienlik toegeneem. Teen die begin van die 19de eeu het die Japannese ekonomiese sone gestrek tot halfpad met die ooskus op. Die meeste van die Ainoe het ophou heffings aan China betaal. Die Matsumae-clan was eintlik in beheer van Sachalin, maar hulle het nie die Ainoe daar beskerm of oor hulle regeer nie. Hulle het eerder Chinese sy uit die Ainoe gekry, wat hulle in Honsjoe as Matsumae se spesiale produk verkoop het. Die Ainoe het ook hulle syuniforms wat die Qing aan hulle gegee het, aan die Matsumae verkoop – die sy was van 'n veel hoër gehalte as dié wat in Nagasaki verkoop is en het die Matsumae se prestige verhoog.

Eindelik het die Tokugawa-regering besluit hulle kan nie op die Matsumae staatmaak nie en in 1807 het hulle beheer van Sachalin oorgeneem.

Japan het sy soewereiniteit oor Sachalin in 1807 afgekondig, en in 1809 het die bekende Japannese verkenner en kartograaf Mamiya Rinzo gesê Sachalin is 'n eiland.

Europese verkenning thumb|180px|Sachalin se voorkoms op ou kaarte het aansienlik gewissel. Op dié kaart uit 1773 het Jean Baptiste Bourguignon d'Anville die eiland aangetoon, maar net die noordelike deel. Hy het gedink die suidelike deel is deel van die vasteland.

Die eerste Europeër wat Sachalin sover bekend besoek het, is Maarten Gerritsz Vries, wat dele van die ooskus in 1643 aangedui het. Die Nederlandse kaptein het egter nie besef dit is 'n eiland nie. 17de-eeuse kaarte het dikwels dié plekke (en soms ook Hokkaido) as deel van die vasteland aangedui.

thumb|220px|links|Maarten de Vries (1643) het 'n kaart van Sachalin geteken, maar nie besef dit is 'n eiland nie. As deel van 'n landwye Chinees-Franse karteringsprogram het die Jesuïete Jean-Baptiste Régis, Pierre Jartoux en Xavier Ehrenbert Fridelliin in 1709 by 'n Chinese span aangesluit wat op besoek was aan die Amoer (wat hulle onder die Mantsjoe-naam, Saghalien Ula of "Swartrivier", geken het). Hulle het by boorlinge gehoor van die eiland naby die kus.

Die Jesuïte het nie kans gekry om self die eiland te besoek nie en die geografiese inligting wat die plaaslike bewoners verskaf het, was nie genoeg om hulle te laat besef dit is die plek wat in 1643 deur De Vries besoek is nie. Baie 17de-eeuse kaarte dui dus 'n vreemd gevormde Sachalin aan, wat uit net die noordelike deel van die eiland bestaan.

Die suidelike deel, het hulle gedink, maak deel uit van die vasteland.

Dit was eers ná die besoek van Jean-François de la Pérouse dat die eiland op Europese kaarte naastenby geteken is soos hy werklik lyk. Eilandbewoners wat hy ontmoet het, het vir hom gesê die eiland se naam is "Tchoka" (of dit is hoe hy dit in Frans aangeteken het), en dié naam is daarna op 'n paar kaarte gebruik.

19de eeu

Wedywering tussen Rusland en Japan thumb|220px|Goelag-gevangenes kry voetboeie in Sachalin. thumb|220px|Die Anton Tsjechof-museum in Aleksandrofsk-Sachalinski, Rusland. Dit is die huis waarin hy in 1890 op Sachalin gebly het.

Op grond van 'n aanname dat dit 'n uitbreiding van Hokkaido was, beide geografies en kultureel, het Japan in 1845 weer soewereiniteit oor die hele eiland afgekondig (sowel as oor die Koerile-eilande), terwyl Rusland soortgelyke aansprake gemaak het.

thumb|links|220px|Setlaarslewenswyse. Op 'n feesdag naby 'n kerk, 1903.

In 1849 het die Russiese navigator Gennadi Newelskoi die bestaan en begaanbaarheid bewys van die seestraat wat later sy naam sou kry. Russiese setlaars het steenkoolmyne, administrasiegeriewe, skole en kerke op die eiland begin bou. In 1853-'54 het Nikolai Roedanofski 'n opname van die eiland gedoen en dit gekarteer.

In 1855 het Rusland en Japan die Verdrag van Sjimoda onderteken, waarvolgens burgers van albei lande op die eiland kon woon: Russe in die noorde en Japannese in die suide, sonder 'n duidelike grens tussen hulle.

In 1857 het die Russe 'n Goelag-strafkamp op die eiland opgerig. Die eiland het aan albei lande behoort tot met die ondertekening van die Verdrag van Sint Petersburg in 1875, waarvolgens Japan afstand doen van sy aanspraak op die eiland. In 1890 het die beroemde skrywer Anton Tsjechof die kamp besoek en sy memoires daaroor geskryf.

Verdeling volgens die 50ste parallel Japannese magte het Sachalin aan die einde van die Russies-Japannese Oorlog ingeval en beset. Volgens die Verdrag van Portsmouth van 1905 is die suidelike deel onder die 50ste breedtegraad aan Japan teruggegee, terwyl Rusland die noordelike drie vyfdes behou het. In 1920, tydens die Siberiese ingryping, het Japan weer die noordelike deel beset. Dit is in 1925 aan die Sowjetunie teruggegee.

Japan het Suid-Sachalin as Karafuto-chō (樺太庁) bestuur, met die hoofstad in Toyohara (die hedendaagse Joezjno-Sachalinsk). 'n Groot aantal migrante is van Korea af gebring. Die noordelike, Russiese helfte van die eiland het Sachalin-oblast gevorm, met die hoofstad in Aleksandrofsk-Sachalinski.

Tweede Wêreldoorlog