Samara-oblast (Russies: Сама́рская о́бласть, Samarskaja oblast) is ’n deelgebied van Rusland. Dit lê in die Wolga- Federale Distrik en die hoofstad is Samara. Volgens die Russiese sensus van 2010Оценка численности населения на 1 января 2014 года и в среднем за 2013 год het dit ’n inwonertal van 3  215 532.

Die oblast grens in die noorde aan Tatarstan, in die ooste aan Orenburg-oblast, in die suide aan Kazachstan, in die suidweste aan Saratof-oblast en in die weste aan Oeljanofsk-oblast.

Geskiedenis Die Russiese Ryk het in 1851 ’n goewernaat in die gebied gestig. Die Samara-goewernaat is uit Samara geadministreer. Tydens die Russiese Rewolusie van 1905 het ’n rebellie in November dié jaar op die dorp Nowaja Tsarewsjtsjina (nou Wolzjski) uitgebreek en na die dorp Stari Boejan versprei. Dit het daartoe gelei dat die afgestigte Republiek Stari Boejan vir ’n kort rukkkie in die goewernaat gestig is. Nadat die plaaslike polisie nie daarin kon slaag om die rebellie te beëindig nie, is dit deur ’n ekspedisie Kosakke en gendarmes onder die visegoewerneur van die Samara-goewernaat onderdruk.

Onder Sowjetbewind is die grootste deel van die goewernaat se gebied omskep in die Middel-Wolga-oblast, wat op 14 Mei 1928 gestig is. Meer as ’n jaar later, op 20 Oktober 1929, is dit weer omskep in die Middel-Wolga-krai.Administrative-Territorial Structure of the Union Republics. 1987., p. 162 Op 27 Januarie 1935 is Samara en die krai hernoem tot onderskeidelik Koeibisjef en Koeibisjef-krai, ter ere van die Bolsjewistiese leier Walerian Koeibisjef. Op 5 Desember 1936 is die krai verander in die Koeibisjef-oblast met die aanvaarding van die Sowjetgrondwet van 1936.

Op 25 Januarie 1991 het die stad sy ou naam teruggekry en die oblast is hernoem tot Samara-oblast. Op 1 Augustus 1997 het Samara-oblast ’n magverdelingsooreenkoms met die federale regering onderteken waarvolgens hulle outonomie gekry het. Dié ooreenkoms is op 22 Februarie 2002 afgeskaf.

Toljatti in Samara-oblast is die grootste stad in Rusland wat nie die hoofstad van ’n deelgebied is nie.

Demografie

Volgens die Russiese sensus van 2010 het die oblast ’n inwonertal van 3  215 532. Hiervan is 85,6% Russe, 4,1% Tatare, 2,7% Tsjoewasjiërs, 2,1% Mordwiene, 1,4% Oekraïners en 0,7% Armeniërs.

Godsdiens Volgens ’n opname in 2012"Arena: Atlas of Religions and Nationalities in Russia". Sreda, 2012.2012 Arena Atlas Religion Maps. "Ogonek", № 34 (5243), 27/08/2012. Retrieved 21/04/2017. Archived. behoort 35% van die oblast se inwoners tot die Oosters-Ortodokse Kerk. Ander Ortodokse lidmate maak 1,6% van die bevolking uit, ander Christene 7,8%, Moslems 1,9% en aanhangers van inheemse gelowe 0,8%. Altesaam 29,6% is spiritueel, maar nie godsdienstig nie, 12,6% is ateïsties en 10,7% hang ander gelowe aan of het nie die vraag beantwoord nie.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Russiese oblaste