Felidae is die familie Katagtiges. Hulle is die strengste vleisetende diere in die orde Carnivora. Die bekendste katagtige is die huiskat, wat sowat 10 000 jaar gelede met die mens begin assosieer het. Die familie sluit egter al die ander wilde katte, ook die groot katte soos die leeu, luiperd en jagluiperd, in.

Bestaande Katagtiges behoort tot twee subfamilies: Pantherinae (wat die tier, leeu en luiperd insluit) en Felinae (wat die poema, cheetah en huiskat insluit).

Die eerste Katagtiges het sowat 25 miljoen jaar gelede hul verskyning gemaak.

Liggaamsbou Die Katagtiges (familia Felidae) het almal ronde koppe met breë, kort bekke. Hulle verskil in die opsig van ander roofdiere, soos byvoorbeeld die Hondagtiges (familie Canidae), wat lang koppe en bekke het. ʼn Korter bek het meer bytkrag en Katagtiges maak meer op die krag van hulle kake staat omdat hulle alleen jag. Hondagtiges het nie soveel bytkrag nodig nie want hulle jag in troppe.

Omdat laasgenoemde langer koppe het, is hulle neuse beter as die van Katagtiges ontwikkel. Waar Hondagtiges hoofsaaklik op hulle reuksintuie staatmaak wanneer hulle jag, is Katagtiges meer van hul oë en ore afhanklik. Leeus en tiere het egter ietwat langer koppe as die res van die Katagtiges. Alle Katagtiges het lang snorbaarde asook tashare om die oë sodat hulle makliker in die donker kan beweeg.

Katagtiges moet besonder stil en soepel beweeg omdat hul prooi voortdurend van gevaar bewus is en maklik kan ontsnap as hulle die gevaar betyds gewaar. Hulle het dus besonder beweegbare ledemate en buigbare ruggrate en ʼn goed ontwikkelde spierstelsel. Veral die agterste deel van die ruggraat is besonder soepel en die agterpote is gespierd omdat hulle krag vir hul aanvalsprong hier lê.

Katagtiges het boonop ook sterk skouers en nekke wat tydens die vangs ingespan word om die prooi van kant te maak. In teenstelling met onder andere die mens, die bobbejaan en die beer, wat soolgangers is, is die Katagtiges toongangers. Die buiging in Katagtiges se bene in die posisie waar die mens se knie sit, is in der waarheid die dier se enkel. Hulle agterpote strek dus van die middel van die been en hulle loop met ander woorde op hulle tone sodat hulle ratser kan beweeg. Die voetkussinkies waarop hulle beweeg, is nie voetsole nie, maar is aan die tone geheg.

Voetkussinkies maak dit vir die Katagtiges moontlik om stil te kan beweeg wanneer hulle hul prooi bekruip. By die woestynkat (Felis marganta) is die voetkussinkies met hare bedek om dit teen die hitte van die sand te beskerm. Katagtiges se voorpote het vyf tone, terwyl die agterpote slegs vier het. Elke toon het 'n klou wat deur middel van 'n buigspier deur 'n spesiale opening in die toonbeentjie teruggetrek kan word. Wanneer die spier ontspan word, trek 'n elastiese band tussen die toonbeentjies die klou boontoe. Omdat Katagtiges hulle kloue kan intrek, skuur dit nie oor die grand wanneer hulle loop nie, en hulle kan dus sagter beweeg.

Die kloue verweer ook nie soos by Hondagtiges nie, maar bly skerp vir gebruik wanneer Katagtiges hul prooi van kant maak. Die toon van die Katagtiges, wat in die ooreenstemmende posisie as die mens se duim sit, raak nie die grond wanneer die diere beweeg nie. Die jagluiperd (Acinonyx jubatus) gebruik die toon byvoorbeeld wanneer hy sy prooi doodmaak. Die res van die jagluiperd se kloue is afgestomp omdat hy dit nie kan intrek nie. 'n Jong jagluiperd kan sy kloue in 'n mate intrek, maar sodra hy ouer word, steek dit voortdurend uit sodat hy beter kan vastrap wanneer hy hardloop. Anders as die res van die Katagtiges, hardloop die jagluiperd sy prooi in.

Die skedel Katagtiges se skedel het aan die bokant 'n beenrif waaraan die spiere van die kake geheg is. Vanweë die aard van die dier se jag- en eetgewoontes moet hy sterk kake en vlymskerp tande hê. Aan die voorkant van elke kaak is daar drie paar snytande wat nie van veeI waarde is nie. Katagtiges gebruik dit slegs om klein stukkies vleis van bene af te vreet of om hulle pelse skoon te maak. Elke kaak het een paar slag- of hoektande wat merkbaar langer as die ander tande is en waarmee die dier sy prooi doodbyt en verskeur.

Die jaguar (Panthera onca) se tande maak eerste met sy prooi kontak wanneer hy hom bespring, en die skok wat die hoektande moet absorbeer, is soms so groot dat hulle breek. Die uitgestorwe oerkat, die sabeltandtier (familie Machairodontidae), het uitermate lang hoektande gehad (17 tot 20 cm) waarmee hy sy prooi eerder verwond as doodgebyt het. Van die bestaande spesies het die gevlekte luiperd (Panthera (Neofelis) nebulosa), wat in Indië, Sumatra en Kalimantan voorkom, die grootste hoektande. Verder bestaan die gebit van Katagtiges uit drie paar kiestande aan die bokaak en twee paar aan die onderkaak.

Die kiestande reg agter die hoektande aan die bokaak is klein en ontbreek soms. Die agterste tande aan die bokaak en die voorstes aan die onderkaak is skeurtande. Omdat Katagtiges sulke wye bekke het, word die kiestande wat aan die kant van die bek sit, met gemak gebruik om vleis van 'n karkas af te skeur. Hulle het nie maaltande nodig nie omdat hulle spysverteringstelsel besonder goed ontwikkel is. Stukke vleis word sommer heel ingesluk.

Die skedel en strottehoof is deur middel van 'n aantal klein beentjies, die tongbeentjies, met mekaar verbind. By die groot Katagtiges (genus Pantherini) word die klein beentjies met elastiese ligamente verbind sodat die wand van die keel en die tong maklik saam met die stembande kan vibreer om 'n diep gromgeluid voort te bring. Klein Katagtiges (genus Felini) se tongbeentjies is solied en hulle kan dus nie sulke harde gromgeluide maak nie. Hulle kan egter spin terwyl hulle in- en uitasem, terwyl groot Katagtiges net kan spin wanneer hulle uitasem. Die katagtige se tong is bykans so skerp soos 'n rasper, en hy gebruik dit om bene skoon te lek en sy pels skoon te hou. Hoewel die katagtige in vergelyking met ander soogdiere 'n redelik groot brein het, reageer hy hoofsaaklik instinkmatig.

Sintuie Katagtiges se gesigsvermoë en tassin is besonder goed ontwikkel. Omdat die diere hoofsaaklik in die nag jag, is hulle oë aangepas om 'n goed gekamoefleerde prooi in die donker te gewaar. In teenstelling met herbivore, waarvan die oë so te sê aan die kant van hul koppe sit, is Katagtiges se oë na vore gerig. Terwyl herbivore voortdurend op die uitkyk moet wees vir gevaar, het die roofdier niks om te vrees nie en hoef hy nie rondom hom te kan sien nie. Katagtiges het opvallend groot oë.

Agter die netvlies met sy sensitiewe selle is 'n laag wat ligstrale reflekteer. Die netvlies word in werklikheid dus twee maal geprikkel: wanneer die ligstrale inkom en wanneer dit uitgaan. Katagtiges se gevoelige oë word beskerm deurdat die pupille vertikaal en spleetvormig is, en vernou kan word om die daglig uit te hou. Afgesien daarvan dat die dier sy pupille na gelang van die ligsterkte groter en kleiner kan maak, kan hy ook die grootte van die vertikale pupil verder verklein deur sy ooglede op skrefies te trek. Nie alle Katagtiges se oë is egter ewe goed ontwikkel nie.

Die klein katte kan hulle pupille tot 'n dun spleet saamtrek, terwyl die Afrikaanse gouekat (Felis (Protelis) aurata) ʼn ovale pupil en groot katte ronde pupille het. Katagtiges het besonder goed ontwikkelde ore wat selfs die fynste geluidjie kan opvang. Hulle kan hul ore ook in alle rigtings draai sodat hulle presies kan vasstel waar ʼn geluid vandaan kom. Sommige spesies het vergrote oorskulpe terwyl ander, soos die rooikat, die karakel en die oerwoudkat, lang haarpluimpies aan die punte van hul are het.

Katte wat op groot, oop vlaktes woon, soos die woestynkat (Felis margarita), die manoel (Felis (Octocolubus) manul), die Chinese woestynkat (Felis beiti) en die swartpootwildekat (Felis nigripes), het vergrote trommelholtes in die binne-oor. Reuk en smaak is net by die klein Katagtigesalbei goed ontwikkel. Hulle is dan ook, wat hulle dieet betref, meer kieskeurig as die groteres. Alle Katagtiges het ʼn sogenaamde ewewigsintuig wat hulle in staat stel om altyd op hul pote te land wanneer hulle val.

Wanneer 'n katagtige val, draai hy sy kop onmiddellik in die regte posisie. Hy trek sy voorpote tot by sy gesig terug, strek die agterpote uit en draai sy lyf sodat die onderkant van die voorste helfte van die liggaam parallel met die grond is. Daarna steek hy sy voorpote uit, maak sy agterpote wyd oop, en draai die agterste helfte van sy lyf ook parallel met die grond. Die kat krom sy rug om die impak van die val te verlig en land netjies op sy tone. Die stert word ook gebruik om die ewewig te behou.

Pelse Die meeste Katagtiges het pragtige pelse. Die pelse kan monokleurig wees soos by die leeu (Panthera leo), gestreep soos by die tier (Panthera tigris), gespikkel soos by die luiperd (Panthera pardus) of gevlek soos by die gevlekte luiperd (Panthera (Neotelis) nebulosa). Die patrone en kleure van Katagtiges se pelse is by uitstek vir kamoeflering bedoel en varieer baie. Die tier word byvoorbeeld in verskeie geografiese gebiede aangetref en elke spesie het 'n kenmerkende streeppatroon.

Die rooikat (Felis (Caracal) caracal) het byvoorbeeld 'n bont pels wanneer hy jonk is, maar sy pels word later roesbruin om by die kleur van die woestyn aan te pas. Die kleurpatrone van Katagtiges se pelse hou verband met die omgewing waarin hulle aangetref word. So sal katte wat in oop vlaktes voorkom, ligter pelse hê, terwyl katte wat in oerwoude aangetref word, donker strepe of kolle het om met die skaduwees saam te smelt. Die meeste katte hou hul pelse skoon en is ook andersins baie sindelik.

Aangesien die meeste katagtiges ʼn vaste nes het wat skoon gehou moet word, begrawe hulle hul uitwerpsels in die grond of werp dit in die water uit. Jagluiperds en die groot Katagtiges is die uitsondering. Hulle versorg nie hulle pelse goed nie, en begrawe ook nie hulle uitwerpsels nie. Vroeër is Katagtiges in so 'n mate ter wille van hul pelse gejag dat sommige spesies vandag byna uitgeroei is.

Voortplanting Katagtiges leef en jag gewoonlik alleen, maar wanneer dit paartyd is, sal hulle mekaar se afgebakende gebiede oorvleuel en die mannetjies en wyfies sal selfs saam jag. Katagtiges het nie noodwendig vasgestelde paartye nie: leeuwyfies kan byvoorbeeld tot vier keer per jaar ovuleer, terwyl die sneeuluiperdwelpies slegs in die lente of vroeë somer gebore kan word wanneer dit warm en kos volop is. Wanneer ʼn wyfie bronstig raak, rol sy soos enige huiskat op die grond om die mannetjie uit te lok.

Paring vind op die hoogtepunt van die wyfie se bronstigheid plaas. Dit word deur "liefkosing" deur die mannetjie voorafgegaan. Hy maak spesiale geluide en vryf met sy kop teen die wyfie. Paring kan meer as een keer plaasvind. Die draagtyd by klein Katagtiges is sowat twee maande en by grotes sowat drie maande. 'n Werpsel kan van 2 tot 6 kleintjies bevat en die wyfies maak die werpsel gewoonlik alleen groot. Die kleintjies is blind wanneer hulle gebore word en heeltemal hulpeloos.

Sodra hulle egter groot genoeg is om self kos in die hande te kry, verlaat hulle die sorg van hul moeder. Leeus is die enigste sosiale Katagtiges. Hulle kom in troppe voor omdat hulle gewoonlik hul prooi in groter kuddes probeer vang en dus nie alleen jag nie. Daarom bly leeuwelpies oor die algemeen langer in die sorg van die moeder. Manlike welpies kan in die trap bly tot hulle drie jaar oud is voordat hulle deur die volwasse mannetjies verdryf word, terwyl vroulike welpies gewoonlik in die trop aanbly. Wanneer 'n leeuwyfie kleintjies het, sorg ander lede van die trop gewoonlik dat sy kos kry. Wanneer die wyfie self gaan jag, bly van die ander leeuwyfies gewoonlik by die kleintjies agter.