Die Kimriese kat (Engels: Cymric) is ’n langharige katras wat deur sommige katverenigings beskou word as ’n langharige weergawe van die Manx. Dié twee rasse stem in alle opsigte ooreen buiten die haarlegte en albei kan in een werpsel voorkom.
Geskiedenis Die kat se naam kom van Kimre (Cymru), die inheemse Walliese naam vir Wallis. Die ras word egter nie met Wallis verbind nie en die naam is waarskynlik gebruik om ’n Kelties-klinkende naam aan die kat te gee. Die kat het sy oorsprong op die Eiland Man, hoewel Kanada beweer die langharige weergawe is in dié land ontwikkel. Baie katverenigings noem die kat die langharige Manx of Manx-langhaarkat.
Langharige katte het nog altyd op die Eiland Man voorgekom in Manx-werpsels, maar daar is nie met hulle geteel nie. In die 1960's het soortgelyke katte in Kanada hul verskyning gemaak en daar is toe met hulle geteel. Dit het egter lank gevat voor enige katverenigings hulle aanvaar het. Die Manx is in die 1920's erken, maar die Kimriese kat is in die 1960' die eerste keer geskou en het eers in die 1970's in gewildheid toegeneem.
Beskrywing Die Kimriese kat is ’n gespierde, kompakte kat met ’n middelmatige tot groot lyf. Hulle het groot, ronde oë en die ore sit ver uitmekaar. Die hare is halflank en dig. Alle kleure en patrone word aanvaar en die oë kan koper, groen, neutbruin of blou wees.
Vier stertlengtes word aanvaar: van ’n duik waar die stert moet wees tot sterte wat amper so lank as ander katte s’n is. Dit is onmoontlik om te voorspel watter lengte sterte in ’n werpsel sal voorkom.
Die katte is intelligent, spelerig en kom goed met ander troeteldiere oor die weg. Hulle is lieftallig en glad nie aggressief nie.
Sien ook Lys van katrasse
Verwysings
Eksterne skakels Suider-Afrikaanse standaarde
15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Katrasse