Die witstertmuishond (Ichneumia albicauda) is 'n muishond wat in die oostelike en sentrale areas van Suid-Afrika sowel as Mosambiek, Zimbabwe en die Okavango Delta in Botswana voorkom.

Voorkoms en bou Die soogdier word tot 4.5 kg swaar en is grysbruin met relatief lang swart bene. Die laaste vier-vyfdes van die stert het kenmerkende lang wit hare. Die kop is effens ligter van kleur as die lyf. Die kruis is hoër as die skouers as gevolg van die lang agterbene. Daar is ook twee subspesies: Meller se muishond en die kleinwitstertmuishond. Die mannetjies is effens swaarder as die wyfies.

Habitat Hulle hou van waterryke boomveld, langs riviere en vleie in droër dele en hou ook van vogtige tipes bosveld.

Gewoontes Die soogdiere eet kewers, termiete, grondvoëls, muise, paddas, slange en vrugte. Hulle is naglewend en kom eers na donker uit en is baie aktief in die eerste gedeelte van die nag. Die Witstertmuishond maak nes in ou erdvark of springhaasgate en is alleenlopers. Die soogdier draf gewoonlik met sy neus naby die grond en sy natuurlike vyande is die leeu en luiperd.

Voortplanting Een tot drie kleintjies word vanaf September tot Desember gebore.

Sien ook Lys van Suider-Afrikaanse soogdiere Lys van Suider-Afrikaanse soogdiere volgens wetenskaplike name Suider-Afrikaanse soogdiere en hul ordes

Bron Die Soogdiergids van Suider-Afrika. Burger Cillié. . 2009

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Muishonde