Milwaukee 280px Kaart Seël 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|senter Land  Deelstaat 23px Wisconsin Counties Milwaukee CountyWaukesha CountyWashington County Koördinate  Stigting 1785 as handelspos Geïnkorporeer op 31 Januarie 1846 Oppervlakte:    - Totaal 251,7 vk km  Hoogte bo seevlak 188 m Bevolking:    - Totaal (2010) 594 833  - Bevolkingsdigtheid 2 399,5/vk km  - Metropolitaanse gebied 1 555 908  - Combined statistical area (CSA) 1 751 316 Tydsone CST (UTC -6)  - Somertyd CDT (UTC -5) Klimaat    - Tipe Kontinentale klimaat  - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 7,9 °C  - Gem. temp. Januarie/Julie -5,4 / 22,1 °C  - Gemiddelde jaarlikse neerslae 882,9 mm Burgemeester Tom Barrett (D) Amptelike webwerf city.milwaukee.gov

Milwaukee (Engels: [mɪlˈwɔːki]) is die grootste stad en belangrikste hawe van die Amerikaanse deelstaat Wisconsin en die 22ste grootste stad in die land met 'n bevolking van 594 833 volgens die sensus van 2010. Milwaukee lê aan die suidwestelike oewer van die Michiganmeer, 112 kilometer noord van Chicago. Die stad dien as die administratiewe setel van die Milwaukee-distrik en as die kulturele en ekonomiese sentrum van die metropolitaanse gebied van Milwaukee-Racine-Waukesha met 'n totale bevolking van 1,7 miljoen.

Die eerste Europeërs wat die gebied van Milwaukee verken het, was Franse sendelinge en pelshandelaars. Die Franse setlaar Solomon Juneau het hom in 1818 in die gebied gevestig en in 1846 het sy nedersetting met twee ander buurdorpe saamgesluit om as die City of Milwaukee (Stad Milwaukee) geïnkorporeer te word. Danksy die groot getalle Duitse en ander immigrante het die stad in die 1840's en in die volgende dekades vinnig gegroei.

Duitse immigrasie het ook die basis gevorm vir Milwaukee se "goue tydperk" vanaf die middel van die 19de eeu wat deur 'n florerende kulturele en politieke lewe gekenmerk was en sy hoogtepunt in 1912 met die verkiesing van die eerste sosialistiese burgemeester in die Verenigde State bereik het.

Die bewoners van Milwaukee staan in Engels as Milwaukeeans bekend en hulle stad het vanweë sy talle etniese en musiekfeeste die bynaam The City of Festivals gekry. Danksy die groot aantal brouerye wat hulle hoofkwartier in die stad het, word dit ook dikwels Brew City genoem. Ander byname is German Athens (vanweë die sterk Duitse invloed) en Cream City ('n verwysing na die stad se tipiese boumateriaal, roomkleurige bakstene). Milwaukee fungeer steeds as 'n eersterangse kulturele en vermaaksentrum vir die Upper Midwest-streek.

Etimologie Milwaukee se naam is afgelei van die Indiaanse woorde Millioke en Mahn-a-waukee Seepe, wat letterlik "Die Goeie Land" of "Vergaderplek by die Water" beteken. 'n Ander vertaling is "Verruklike of Aangename Landerye". Die eerste ontdekkers het verskillende name aan die Milwaukee-rivier en sy omgewing gegee, soos Melleorki, Milwacky, Mahn-a-waukie, Milwarck en Milwaucki. Baie jare lank het die skryfwyse Milwaukie oorheers, totdat 'n plaaslike dagblad die spelling in die 1830's verander het na Milwaukee. Hierdie skryfwyse het uiteindelik ingeburger geraak.

Geografie en klimaat duimnael|links|Sononder oor die Michiganmeer duimnael|links|Milwaukee se tipiese "meer-effek": koue winde dryf wolke oor die warm water van die Michiganmeer en lei tot swaar sneeuvalle Milwaukee lê aan die wesoewer van die Michiganmeer en by die samevloeiïng van drie riviere: die Menomonee-, die Kinnickinnic- en die Milwaukee-rivier. Ook 'n aantal klein riviere soos die Rootrivier en Lincolnspruit vloei deur die stad. Milwaukee is soos die meeste Amerikaanse stede grotendeels volgens 'n roosterpatroon aangelê; strate wat in noordelike en suidelike rigting loop is oorwegend genommer, terwyl oos-westelike strate name het.

Die stad het vanweë sy ligging 'n uitgesproke kontinentale en vogtige klimaat met vier seisoene, wat deur groot temperatuurverskille gekenmerk word. Weerstoestande in die gebied verander daarnaas vinnig. Milwaukee se gemiddelde jaarlikse temperatuur is die tweede laagste van die VSA se vyftig grootste stede ná Minneapolis.

Julie is die warmste maand van die jaar met 'n gemiddelde maksimale temperatuur van 28 °C (82 °F) bedags en 19 °C (66 °F) snags. Die koudste maand is Januarie, met maksimale gemiddeldes van -3 °C (27 °F) bedags en -11 °C (13 °F) snags.

Die natste maand is Augustus, wanneer ook die meeste donderstorms voorkom. Hulle raak soms gevaarlik indien hulle gepaard gaan met verwoestende hael en sterk winde. Voorstede, wat in die binneland geleë is, word af en toe ook deur tornado's getref. Sneeuvalle kom gewoonlik tussen November en Maart voor, met 'n jaarlikse gemiddeld van 119 sentimeter. Sneeuval wissel egter heelwat en in 2000 is 126 sentimeter net in Desember aangeteken.

As gevolg van die stad se ligging naby die Michiganmeer ervaar Milwaukee die sogenaamde "meer-effek" – teen die middel van die namiddag vorm daar dikwels 'n konveksie-lugstroming oor die gebiede langs die meer, wat gevolglik tot laer temperature in die somer en hoër temperature in die winter lei. Die meer-effek lei ook daartoe dat Milwaukee hoër sneeuvalle kry as sy omgewing en deur 'n vogtiger klimaat gekenmerk word – aangevoelde temperature in die somer is gevolglik hoër.

Geskiedenis Die tydperk voor 1800 Die gebied van Milwaukee is oorspronklik deur 'n aantal Indiaanse stamme bewoon, waaronder die Fox, Mascouten, Potawatomi en Ho-Chunk (Winnebago) wat hulle vanaf 400 n.C. hier gevestig het. Franse sendelinge en pelshandelaars was die eerste blankes wat die gebied in die laat 1600's en 1700's verken het. Vanaf 1671 tot 1760 het die streek deel uitgemaak van Frankryk se uitgestrekte belangegebied in Noord-Amerika.

Die Franse ontdekker Louis Joliet en Vader Jacques Marquette het met hul ekspedisie in 1674 'n roete verken wat die Mississippirivier met die Michiganmeer verbind het en daarna sowat honderd jaar deur pelshandelaars gebruik is. Die pelshandel was baie dekades lank 'n winsgewende bedryf, maar vanaf die laat 18de eeu het bewers skaars geword. Ná die val van Montreal het Groot-Brittanje in 1760 aanspraak gemaak op die gebied.

Die eerste blanke pelshandelaar wat hom saam met sy gesin in Milwaukee gevestig het, was die Franko-Kanadees Jacques Vieau uit La Baye (tans Green Bay) wat in 1795 'n seisoenale pelshandelspos naby die Menomoneerivier gestig en tot die 1830's handel met plaaslike Indiane gedryf het. Sy handelspos was op die handelspad geleë wat Chicago met Green Bay verbind het, en lê in die huidige Mitchell Park. Vieau het met die kleindogter van 'n Indiaanse hoof getrou. Alhoewel die Vieau-gesin nie die hele jaar deur in die gebied gebly het nie, word hulle nogtans dikwels as die eerste bewoners van die latere Milwaukee beskou. Milwaukee County Historical Society: Milwaukee Timeline. Besoek op 1 Julie 2015

1800 tot 1849 duimnael|links|Standbeeld van Solomon Juneau in Milwaukee se Juneau-park duimnael|Wisconsin-straat omstreeks 1900 Naas Vieau kan twee ander mans daarop aanspraak maak dat hulle 'n beslissende bydrae gelewer het tot die ontstaan van 'n nedersetting. Solomon Juneau, 'n Franko-Kanadese handelaar en klerk uit Montreal, het hom in 1818 as assistent van Vieau hier gevestig. Toe Vieau sy handelspos aan sy dogter, wat as "stigteres van Milwauke" bekend staan, oorhandig het, het Juneau sy skoonseun geword en die onderneming gekoop. Die Juneaus het die handelspos in 1825 na die oostelike oewer van die Milwaukee-rivier verskuif, waar hulle die dorp Juneau's Side (of Juneautown) gestig en sodoende meer setlaars na die gebied gelok het.

Maar Juneau het 'n mededinger met die naam Byron Kilbourn aan die wesoewer van die rivier gehad, wat aan daardie kant die dorp Kilbourntown gestig en seker gemaak het dat die paaie, wat na die rivier gelei het, nie met paaie aan die ander oewer saamgeloop het nie. Milwaukee word nog steeds deur 'n groot voorkoms van brûe met 'n hoekige vorm gekenmerk. Daarnaas het Kilbourn ook kaarte van die gebied versprei wat net Kilbourntown aangedui het en sodoende die indruk gewek het dat Juneautown nie bestaan het nie of dat die oostelike oewer onbewoon en dus minder aantreklik was.

Die derde bekende stigter was George H. Walker, wat op grond suid van die Milwaukeerivier aanspraak gemaak het, insluitende Juneautown, waar hy in 1834 'n blokhuis opgerig het. Hierdie gebied het gegroei en as Walker's Point bekend gestaan.

Tot by die 1840's het al drie dorpe in so 'n mate gegroei dat hulle op 31 Januarie 1846 saamgesluit het en as City of Milwaukee geïnkorporeer is. L. Solomon Juneau is as sy eerste burgemeester verkies. In die 1840's en in die volgende dekades het die stad danksy 'n groot aantal Duitse immigrante stewige groei getoon. Milwaukee is selfs "Deutsches Athen" (die "Duitse Athene") genoem en tot by die 20ste eeu was daar meer Duitstaliges en Duitse dagblaaie in die stad as Engelstaliges en Engelstalige koerante. Milwaukee se telefoongids bevat nog steeds meer as veertig bladsye met Duitse name soos Schmidt of Schmitt – aansienlik meer as die Engelse Smiths.

Teen die middel van die 19de eeu het Milwaukee die bynaam Cream City gekry – afgelei van die groot hoeveelhede roomkleurige bakstene wat uit die Menomoneeriviervallei gekom het en in die plaaslike boubedryf gebruik is. Milwaukee het op die hoogtepunt van dié bedryf meer as 15 miljoen bakstene per jaar opgelewer, waarvan 'n derde na bestemmings buite die deelstaat uitgevoer is.

1850 tot 1900 duimnael|links|Die Adolph Schoenleber-gebou in die Old World 3rd Street Historic District, 'n voorbeeld van Victoriaanse Italianate-boukuns duimnael|Die Raadsaal van Milwaukee Teen die middel van die laat 19de eeu het Wisconsin en die Milwaukee-gebied 'n belangrike bestemming vir talle demokraties gesinde Duitse immigrante geword wat ná die mislukte Duitse rewolusie van die jaar 1848 'n nuwe heenkome oorsee gesoek het. Hulle het hier goedkoop grond en die burgerlike vryhede gevind wat hulle gesoek het. Duitse intellektueles het selfs die stigting van 'n vrye Duitse republiek in die gebied oorweeg, maar uiteindelik die opgradering van Milwaukee se sosiale en kulturele lewe bevorder en 'n aantal teaters en musiekgeselskappe is gestig. Die groot golf Duitse immigrante het 'n blywende invloed op Milwaukee en die deelstaat Wisconsin se ekonomie, politiek en kultuur gehad. Die bevolking het in die tydperk tussen 1850 en 1851 meer as verdubbel tot 46 000. Tydens die Amerikaanse Burgeroorlog het die stad se nywerhede sterk uitgebrei.

Maar ook in Milwaukee het sosiale onrus ontvlam. Die stad se eerste vakbond, die Knights of Saint Crispin, is reeds in 1867 in die skoenbedryf gestig. Met die uitbreiding van nywerhede het ook werkers begin om hulle in 'n groeiende aantal vakbonde saam te sluit. Op 5 Mei 1886 het stakende staalwerkers na 'n fabriek in die voorstad Bay View gemarsjeer. Hulle is deur 'n groep lede van die Nasionale Garde voorgekeer, wat volgens 'n bevel van Wisconsin se goewerneur vuur geopen en sewe van die werkers gedood het. Die tragiese gebeurtenis staan as die Bay View-slagting (Bay View Massacre) bekend.

In die laat 19de eeu is die eerste voorstede van Milwaukee geïnkorporeer, waaronder die bovermelde Bay View wat in die tydperk tussen 1879 en 1886 as 'n selfstandige dorp bestaan het. In 1892 is Whitefish Bay, South Milwaukee en Wauwatosa geïnkorporer. Later het ook Cudahy (1895), North Milwaukee (1897) en East Milwaukee (wat sy naam later tot Shorewood gewysig het, 1900) gevolg. In die vroeë 20ste eeu is West Allis (1902) en West Milwaukee (1906) bygevoeg, wat die eerste generasie van die sogenaamde "binnekring-voorstede" voltallig gemaak het.

In die algemeen het die welvarende residensiële voorstede langs die noordelike oewer van die Michiganmeer uitgebrei, terwyl die werkersklas hom in die suidelike industriële voorstede gevestig het. Die westelike voorstede was in hierdie opsig gemengde gebiede.