Die Dnjepr of Dnipro (Russies: Днепр; Belarussies: Дняпро; Oekraïens: Дніпро; Engels: Dnieper) is 'n rivier wat van die Waldaiheuwels naby Smolensk in Rusland deur Belarus en Oekraïne na die Swartsee vloei. Dit is die langste rivier in Oekraïne en Belarus en die vierde langste een in Europa (ná die Wolga, Donau en Oeral). Die totale lengte is 2 200 km en dit het ’n stroomgebied van 516 300 km².

In die oudheid was die rivier deel van die Barnsteenroetes. In die tweede helfte van die 17de eeu het die Pools-Litause Gemenebes en die Tsaredom Rusland om die gebied meegeding en is Oekraïne verdeel tussen die linker- en regteroewer. In die Sowjettyd het die rivier bekend geword vir sy hidroëlektrisiteitsdamme en groot reservoirs. Die Tsjernobil-kernramp van 1986 het aan die Pripjatrivier, net bo dié sytak se samevloei met die Dnjepr, voorgekom.

Die Dnjepr is ’n belangrike begaanbare waterweg vir die ekonomie van Oekraïne en word deur die Dnjepr-Boegkanaal aan ander waterweë in Europa verbind.

Naam Die naam Dnjepr is afgelei van óf Sarmaties óf Skities en beteken "die verafgeleë rivier".Mallory, J.P. en Victor H. Mair. The Tarim Mummies: Ancient China and the Mystery of the Earliest Peoples from the West. Londen: Thames and Hudson, 2000. p. 106 (Daarteenoor beteken Dnister die "nabygeleë rivier".)

Verwysings

Eksterne skakels Dnieper River by die Encyclopedia of Ukraine 1911 Encyclopædia Britannica – Dnieper

Kategorie:Riviere in Oekraïne Kategorie:Riviere in Rusland Kategorie:Riviere in Belarus