Die Rugbywêreldbeker 2019 (Japannees: ラグビーワールドカップ2019) is van 20 September tot 2 November 2019 in Japan beslis. Dit was die negende rugbywêreldbekertoernooi van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur Wêreldrugby aangebied word en die vyfde in die Noordelike Halfrond. Dit was die eerste keer wat dié toernooi in Asië en buite die “tradisionele tuiste” van rugby aangebied is. Al die vorige rugbywêreldbekertoernooie is afwisselend in lande van óf die destydse Drienasiesreeks (nou bekend as die Rugbykampioenskap, Suidelike Halfrond) of die destydse Vyfnasiestoernooi (nou bekend as die Sesnasies-toernooi, Noordelike Halfrond) gehou.
duimnael|links|upright|Die Webb Ellis-beker waarom meegeding is Die toernooi se formaat van 2003, 2007, 2011 en 2015 het onveranderd gebly en 20 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 2019 deelgeneem: die twaalf regstreekse kwalifiseerders van die 2015-toernooi (Argentinië, Australië, Engeland, Frankryk, Georgië, Ierland, Italië, Japan, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis), saam met die agt beste spanne van die kwalifisering (Fidji, Kanada, Namibië, Rusland, Samoa, Tonga, Uruguay en die Verenigde State). Soos tydens die Rugbywêreldbeker 2015 was daar geen nuwe toetreders nie.
Tydens die Rugbywêreldbeker 2019 is 48 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die toernooi het op 20 September tussen die gasheer Japan en Rusland op Chōfu, Tokio, se Ajinomoto-stadion afgeskop. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer, terwyl die drie beste spanne van elke groep – altesaam twaalf spanne – regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 2023 in Frankryk gekwalifiseer het. Suid-Afrika het die eindstryd op Internasionale Stadion Jokohama teen Engeland met 32–12 gewen en sodoende sy derde wêreldtitel ná 1995 en 2007 ingepalm. Hiermee het Suid-Afrika Nieu-Seeland se vorige rekord van drie titels geëwenaar en word gelyktydig die suksesvolste span in die rugbywêreldbekergeskiedenis, nadat die Springbokke die eerste twee toernooie misgeloop het. Die telling, waarin twee drieë gedruk is, is behaal met ses strafskoppe deur Handré Pollard en die twee drieë deur Makazole Mapimpi en Cheslin Kolbe, teenoor slegs die vier strafdoele deur Engeland se Owen Farrell. Die verdedigende kampioen Nieu-Seeland het in die derde en Wallis in die vierde plek geëindig.
Voor die afskop van die Rugbywêreldbeker 2019 is Nieu-Seeland, Suid-Afrika en Engeland as gunstelinge op die titel beskou. Die gasheer Japan se oorwinning oor Ierland – een van die groot gunstelinge voor dié toernooi – word as een van die grootste verrassings in die rugbygeskiedenis beskou, soos ook ná die Japannese oorwinning oor Suid-Afrika tydens die Rugbywêreldbeker 2015. Enkele dae vroeër het Uruguay die eerste groot verrassing besorg toe hulle Fidji met 30–27 geklop het. Die grootste skok was die uitskakeling van die mede-gunsteling Argentinië tydens die groepfase nadat hulle deur Engeland met 39–10 geklop is. Die gasheer Japan het hulle 2015-sukses oortref en al sy vier opponente tydens die groepfase – Rusland, Ierland, Samoa en Skotland – verslaan. Japan het vervolgens as die eerste Asiatiese span ooit tot die uitklopfase gevorder, hulle beste prestasie in dié tyd in internasionale rugby; die gasheer is egter deur die latere wêreldkampioen Suid-Afrika met 26–3 geklop.
Vir die eerste keer in die toernooigeskiedenis moes wedstryde, eers dié tussen Nieu-Seeland en Italië asook tussen Engeland en Frankryk, weens die tifoon Hagibis afgelas word. Albei wedstryde is as ’n 0–0-gelykop geag en elke span het vervolgens twee bykomende tabelpunte gekry. Later moes ook die groepwedstryd tussen Kanada en Namibië afgelas word, met dieselfde uitslag vir die tabel.
Die Japannese Nasionale Stadion, wat herbou is vir die Olimpiese Somerspele 2020, was oorspronklik die kern van die Japannese bod vir die Rugbywêreldbeker 2019, maar as gevolg van hersienings aan die planne vir die Japannese Nasionale Stadion moes die stadions vir die Rugbywêreldbeker 2019 opnuut gereël word. Die Internasionale Stadion Jokohama het vervolgens die nuwe hoofstadion geword en ook die eindstryd gehuisves; dié stadion is al tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2002 gebruik.
Met sowat 857,28 miljoen televisiekykers wêreldwyd was die Rugbywêreldbeker 2019 die mees gesiene rugbywêreldbekertoernooi in dié tyd. Altesaam is daar sowat 1,7 miljoen kaartjies vir die 45 wedstryde verkoop, waarmee elke wedstryd gemiddeld 37 745 toeskouers gelok het. Saam met die Olimpiese Somerspele 2020 in Tokio was die Rugbywêreldbeker 2019 een van twee groot sportkompetisies in Japan binne twee jaar; albei behoort tot die mees gesiene sportgeleenthede ter wêreld. Tydens die Olimpiese Somerspele 2020 is sewesrugbywedstryde gehou, waarmee Japan twee van die rugbywêreld se belangrikste toernooie binne twee jaar gehuisves het. Die Olimpiese Somerspele 2020 is as gevolg van die wêreldwye Covid-19-pandemie deur die Internasionale Olimpiese Komitee en die Japannese reëlingskomitee egter vir een jaar uitgestel.
Toewysing duimnael|400px|Kaart van die kandidaatlande vir die Rugbywêreldbeker 2019 Die wêreldbeheerliggaam Wêreldrugby (tot 2014: Internasionale Rugbyraad) het tot op 15 Augustus 2008 vir bode van belangstellende lande wat die Rugbywêreldbeker 2015 of Rugbywêreldbeker 2019 wou aanbied tyd gegee. Tot op hierdie datum was slegs ’n formele verklaring sonder gedetailleerde planne voldoende. ’n Rekord van tien lande het vervolgens hulle belangstelling vir een van die twee toernooie aangekondig: Australië, Engeland, Ierland, Italië, Jamaika, Japan, Rusland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis. Van hierdie tien lande het ses hulle kandidatuur in die eerste helfte van 2009 teruggetrek. Engeland, Italië, Japan en Suid-Afrika was vervolgens die moontlike kandidaatlande; met Engeland en Japan as gunstelinge.
Tydens ’n spesiale vergadering van die Internasionale Rugbyraad wat op 28 Julie 2009 in Dublin gehou is, is die Rugbywêreldbeker 2015 aan Engeland toegeken, terwyl die Rugbywêreldbeker 2019 aan Japan toegewys is. Japan het voorheen ook aangebied om die Rugbywêreldbeker 2011 te huisves, maar dié toernooi is in Nieu-Seeland aangebied. Die Internasionale Rugbyraad was destyds van mening dat Japan nie volle stadions kan waarborg nie.
Beide Hongkong en Singapoer het aangebied om van die wedstryde te huisves en het deel gevorm van die Japannese Rugbyunie se oorspronklike suksesvolle gasheerbod, maar albei stadstate was nie deel van die 14 plekke wat die organiseerders op 5 November 2014 amptelik as gasheerstede aangekondig het nie. Daarmee het dit ná die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika, die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië en die Rugbywêreldbeker 2011 in Nieu-Seeland die vierde rugbywêreldbekertoernooi geword wat geheel en al in een land aangebied is.
Deelnemers Kwalifisering duimnael|Grafiek van die kwalifiseringsproses vir die Rugbywêreldbeker 2019 Naas die gasheer Japan, wat ook met sy derde plek tydens die groepfase van die Rugbywêreldbeker 2015 gekwalifiseer het, het ook die agt deelnemers aan die kwarteindrondte en die drie ander derdeplek-spanne van die 2015-groepfase vir die Rugbywêreldbeker in 2019 gekwalifiseer. Vervolgens is agt van die 20 plekke van die toernooi tydens die kwalifisering uitgespeel. Die kwalifiseringstoernooi is in vyf streeksgroepe verdeel: Afrika, Noord-Amerika saam met Suid-Amerika, Asië, Europa en Oseanië. Twee plekke elk is vir die nasionale spanne van die Amerikas en Oseanië gereserveer en een elk vir Afrika en Europa. Die twee oorblywende plekke is tydens ’n interkontinentale kwalifiseringsrondte (uitspeel tussen Europa en Oseanië) en ’n uitspeelwedstryd gespeel. As die regstreekse klassifiseerders getel word, het 93 spanne in aanmerking gekom vir kwalifisering vir die finale toernooi in Japan.
Die volgende spanne het regstreeks vir die Rugbywêreldbeker 2019 gekwalifiseer: Japan as gasheer en groep-derdeplek 2015, Nieu-Seeland as verdedigende kampioen, Australië as naaswenner en Suid-Afrika as derde plek in 2015, Argentinië as halfeindrondtespan, die spanne van die kwarteindrondte Ierland, Frankryk, Skotland en Wallis, asook die derde plekke in die groepfase Italië, Georgië en Engeland. In Julie 2017 het die Verenigde State as Amerikas 1 gekwalifiseer toe hulle Uruguay met ’n algehele telling van 80–44 verslaan het. Twee weke later is Fidji en Tonga bevestig as kwalifiseerders van Oseanië, as onderskeidelik Oseanië 1 en 2. Amerikas 2 is in Februarie die volgende jaar gevul toe Uruguay Kanada met ’n algehele telling van 70–60 geklop het. In Julie 2018 het Samoa die uitspeelwedstryd teen Duitsland gewen en vir die toernooi gekwalifiseer. Een maand later het Namibië vir sy sesde agtereenvolgende rugbyêreldbekertoernooi gekwalifiseer toe die span die Afrikabeker beklink het. Kanada het deur heruitdunning gekwalifiseer nadat die span die uitspeelrondte gewen het.
Aanvanklik het Roemenië as Europa 1 vir die toernooi gekwalifiseer, maar nadat die nasionale rugbyspanne van België, Roemenië en Spanje tydens hulle kwalifisering uitgeslote spelers ingespan het, is hulle vir elke wedstryd met hierdie spelers met puntaftrekking beboet. Vervolgens het Rusland onmiddellik vir die Rugbywêreldbeker 2019 gekwalifiseer, terwyl Duitsland, ondanks soms swaar nederlae, tot die volgende rondte gevorder het. Duitsland, wat as naaswenner van die uitspeel geëindig het, het die Rugbywêreldbeker 2019 egter net-net misgeloop, nadat hulle die beslissende wedstryd teen Kanada verloor het.
Kwalifiserende spanne Die volgende 20 spanne het vir die Rugbywêreldbeker 2019 gekwalifiseer. Rusland, wat Roemenië vervang het, is die enigste verandering in die 20-span-lys van die Rugbywêreldbeker 2015. Dit is die eerste toernooi wat Roemenië misgeloop het.
duimnael|400px|Spanne wat aan die kwalifiseringstoernooi deelgeneem en die wat regstreeks gekwalifiseer het; altesaam 93 spanne het deelgeneem. duimnael|400px|Uitslag van die kwalifisering: SpanKwalifiseringmetodeVerskynings by eindstrydeLaaste verskyningVorige beste prestasieGroepGasgeerNegende2015Groepfase (1987, 1991, 1995, 1999, 2003, 2007, 2011, 2015)ARegstreeksNegende2015Derde plek (2007)CNegende2015Kampioen (1991, 1999)DNegende2015Kampioen (2003)CNegende2015Naaswenner (1987, 1999, 2011)CVyfde2015Groepfase (2003, 2007, 2011, 2015)DNegende2015Kwarteindrondte (1987, 1991, 1995, 2003, 2011, 2015)ANegende2015Groepfase (1987, 1991, 1995, 1999, 2003, 2007, 2011, 2015)BNegende2015Kampioen (1987, 2011, 2015)BNegende2015Vierde plek (1991)ASewende2015Kampioen (1995, 2007)BNegende2015Derde plek (1987)DOseanië 1Agste2015Kwarteindrondte (1987, 2007)DUitspeelwennerNegende2015Kwarteindrondte (1991)BAfrika 1Sesde2015Groepfase (1999, 2003, 2007, 2011, 2015)BEuropa 1Tweede2011Groepfase (2011)AUitspeelwedstrydwennerAgtste2015Kwarteindrondte (1991, 1995)AOseanië 2Agtste2015Groepfase (1987, 1995, 1999, 2003, 2007, 2011, 2015)CAmerikas 2Vierde2015Groepfase (1999, 2003, 2015)DAmerikas 1Agtste2015Groepfase (1987, 1991, 1999, 2003, 2007, 2011, 2015)C
Stadions duimnael|Die Japannese Nasionale Stadion in Tokio, kern van die Japannese bod, was nie betyds klaar vir die Rugbywêreldbeker 2019 nie Die lys wat in 2009 bekendgemaak is ná die toernooitoewysing het 22 stadions bevat. Oorspronklik is oorweeg om van die wedstryde in Hongkong (Hongkong-stadion) en Singapoer (Nasionale Stadion) te huisves. Die amptelike lys wat op 2 Maart 2015 bekendgemaak is, het 12 stadions bevat. Onder andere is die Internasionale Stadion Jokohama bygevoeg, wat nie op die oorspronklike lys was nie. Hongkong en Singapoer is van dié lys verwyder, waarvolgens al die wedstryde in Japan aangebied is.