Genl. ds. Paul Hendrik Roux (Hopetown, 28 September 1862 – Beaufort-Wes, 8 Junie 1911) was ’n predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk en ’n krygsman in die Anglo-Boereoorlog.

Herkoms Terwyl Dirk Hendrik Roux van die Paarl en sy eggenote, gebore Wiid, op Hopetown op besoek was, is hul oudste seun, Paul Hendrik, gebore. Hy dra die naam van die stamvader, Paul Roux, wat in 1688 as een van die Hugenote in die Kaap aan wal gestap het en baie jare lank die welbekende sieketrooster, onderwyser en voorleser van die Hugenote-gemeente in Drakenstein was, die latere NG gemeente Paarl. Ds. Roux se moeder – van Deense afkoms – was die ma van 15 kinders.

Opleiding duimnael|links|310px|Die bestuur van die Victoria-kollege se "Junior Debating Society", 1882. Voor: Paul Roux, Koos Albertyn, J.P. Smit. Middel: B.J. Haarhoff, J.D. Krige (voors.), C.J. Maritz, G.J. Joubert. Agter: Charlie Roberts, Albert Grobbelaar, Piet Boshoff.

Sy vroegste opleiding ontvang Paul Hendrik op Zeederberg-plein in die Paarl aan die privaat skooltjie van ene mev. Rozensweig. Vir sy middelbare onderwys is hy na die Paarlse Gimnasium waar hy in 1882 gematrikuleer het. Op 17-jarige ouderdom was hy op die punt om in diens van Onze Jan Hofmeyr se De Zuid-Afrikaan te tree as koerantskrywer, maar onder die opwekkingsdienste van ds. (later dr.) Andrew Murray het hy tot bekering gekom, van sy plan afgesien en dadelik besluit om vir predikant te gaan studeer. Ná aflegging van die admissie-eksamen in 1884 is hy na die Kweekskool op Stellenbosch waar hy vyf jaar lank by proff. John Murray en Nicolaas Hofmeyr studeer. Hulle en dr. Andrew Murray het ’n diep invloed op sy jong lewe uitgeoefen en dwarsdeur sy latere bediening was dit merkbaar, veral in sy sterk beklemtoning van die gebed, bekering, verdieping van die geestelike lewe en die waarheid van goddelike genesing. Nadat hy in 1889 sy eindeksamen aan die Kweekskool afgelê het, is hy op ’n studiereis na Europa.

Vrystaatse predikant Ná sy terugkeer uit Europa was hy ’n rukkie hulpprediker in die NG gemeente Johannesburg. In Februarie 1891 is hy na die Oranje-Vrystaat waar hy agtereenvolgens predikant was van die gemeentes Vredefort (1891-’97) en Senekal (1897–1905). Kort nadat hy op Vredefort bevestig is, het hy getrou met mej. Hettie Eksteen van die Paarl - ’n knap, toegewyde vrou, wat in latere jare veral bekend was as die ywerige sekretaresse van die Kaaplandse Helpmekaar. Reeds in sy eerste gemeente het daar onder sy kragtige prediking en sieldeursoekende huisbesoek, ’n geestelike herlewing ingetree. Sy agtjarige verblyf in die gemeente Senekal was egter die belangrikste en vrugbaarste van sy hele bediening. Deur sy besliste optrede en onpartydige regsbesef het hy die heersende kerklike en politieke geskille besleg en eenheid en versoening bewerkstellig. Geestelike doodsheid het plek gemaak vir geestelike opwekking, wat sy hoogtepunt bereik het met die Pinksterfees van 1898. In hierdie tyd is hy na bewering in antwoord op die gebed van dr. Andrew Murray van ’n ernstige keelkwaal genees.

Anglo-Boereoorlog duimnael|regs|200px|Di. Roux (regs staande) en Petrus Postma (links van hom) saam met medeballinge in Ceylon. duimnael|links|380px|Genl. ds. Paul Roux en boere-offisiere in ballingskap op Ceylon.

Ongelukkig het die Tweede Vryheidsoorlog kort daarna uitgebreek en ’n onverwagte einde aan sy idealistiese voornemens gemaak. Hy het hom geroepe gevoel om die burgers van Senekal na die front te vergesel as veldprediker en later, toe hy besluit om aan die oorlog deel te neem as soldaat, het pres. M.T. Steyn hom as veggeneraal aangestel. Op militêre gebied was hy ’n onverskrokke leier, iemand wat vinnig kon dink en optree. Hy het ook onverbiddelik aangedring op dissipline en onvoorwaardelike gehoorsaamheid. Sy militêre loopbaan, so belowend, is binne ’n jaar beëindig toe hy deur die vyand krygsgevangene geneem is. Die kommando van genl. Prinsloo, onder wie genl. Roux hom ook bevind het, is naby die dorp Fouriesburg deur die vyand vasgekeer, waarop genl. Prinsloo, sonder genl. Roux se medewete, met die vyand onderhandel en sy kommando uitgelewer het aan genl. Hunter. Genl. Roux kon nog ontsnap het, maar het dit sy plig geag om, al was dit bitter teen sy sin, die bevele van sy senior, genl. Prinsloo, te gehoorsaam en die leed van die krygsgevangenes te deel.

Tydens sy maande lange ballingskap op Ceylon het hy hom, ondanks groot persoonlike opofferings, onderskei as ’n sielesorger en kampvegter vir die regte van die verdrukte ballinge. Omdat hy uitgeblink het as ’n Afrikanerleier, was dit geen wonder nie dat leiers soos genl. J.B.M. Hertzog en pres. M.T. Steyn met sy dood telegramme van deelneming gestuur het en die kerk- en volksman dr. J.D. Kestell hom so hoog geroem het op die begrafnis.

Op Ceylon was hy tot ’n geruime tyd ná die vrede in ballingskap. Hy keer terug na Senekal om uit die as van die oorlogsverwoesting op tydelike en geestelike gebied ’n nuwe gemeente op te bou. Met geloofsmoed en deursettingsvermoë het hy ’n begin hiermee gemaak.

Beroep na Beaufort-Wes duimnael|regs|210px|Ds. Roux se weduwee, Hettie, omstreeks 1917 toe sy Kaapstad se sekretaresse van die Helpmekaarbeweging was. Sy is op 13 Julie 1864 in Agter-Paarl gebore as Hester Helena Eksteen. Hullle is getroud op 20 Junie 1891. Sy was die dogter van Jacob Eksteen en Gezina Maria Hugo. Biografiese besonderhede van ds. Roux op die familie Eksteen se webtuiste. URL besoek op 28 September 2013.

Ná die vertrek van die NG gemeente Beaufort-Wes se sesde leraar, ds. Pieter van der Merwe, het die kerkraad nie minder nie as sewe beroepe uitgebring. Die sewende is op 7 September 1905 op ds. Paul H. Roux van Senekal in die Vrystaat uitgebring. Hy is ook ’n paar maande vantevore beroep, maar het toe bedank. Dié keer het hy die beroep aangeneem. Op Vrydag 3 November 1905 is genl. ds. Paul Roux en sy gesin hartlik deur die gemeente verwelkom. Ds. H.J.L. du Toit van die NG gemeente Richmond het die bevestigingsrede uitgespreek.Die volgende leraars het ook aan die plegtigheid deelgeneem: di. G.A. Maeder van Victoria-Wes (die konsulent, wat in 1907 sy emeritaat aanvaar het), P.A. Roux, J.W.L. Hofmeyr en die eerww. H.D. Kretzen en L. Pienaar asook mnre. Lock en Pegram van die plaaslike Engelse gemeenskap. Na aanleiding van die woorde van Josef aan die farao (Gen. 41:15), toe laasgenoemde hom laat roep het om sy drome uit te lê, het ds. Roux, die indrukwekkende prediker wat hy altyd was, ’n treffende intreepreek gelewer. Dit het berus op drie gedagtes: die verwagting enersyds, die onmag andersyds en die uitkoms van Bo. Die nuwe predikant, wat deur die Anglo-Boereoorlog reeds beroemd geword het, het ’n baie gunstige indruk op die gemeente gemaak en almal kon ná die plegtigheid "dankbaar en blymoedig" huiswaarts keer.

Nuwighede op Beaufort-Wes duimnael|320px|links|Beaufort-Wes se “nuwe” pastorie is in 1904 langs die vorige leraarswoning, wat ’n driekwart eeu deur die gemeente se predikant bewoon is, in Donkinstraat opgerig. Hier het die Roux-gesin gewoon van 1905 tot 1911.

Ds. Roux het ’n hele paar nuwighede ingevoer. Hy was ’n groot kindervriend en die eerste Kinderfees is deur hom in April 1907 georganiseer en is daarna (altans in sy tyd) gereeld gehou. Die eerste gedrukte gemeenteprogram is deur hom aan die begin van 1907 uitgegee. Hy was ook die eerste persoon wat die dankofferkaartjie-stelsel hier ingevoer het, ook in 1907. In sy tyd, en wel die jaar vantevore, is daar vir die eerste keer ’n salaris aan die kassier (£20) uitbetaal. Dit was ook ds. Roux wat in September 1906 vir die eerste maal gesangbordjies in die kerk laat aanbring het. Onder sy leiding het die kerkraad in 1906 daartoe oorgegaan om die kerk met gas te verlig. Hierdie asetileen-ligte was ’n groot verbetering op die ou olielampe wat veral sekere dele van die kerk baie swak verlig het. Dit alles bewys die deeglikheid, organisasietalent en die sin vir gesonde vooruitgang van dié predikant. Met sy koms het die gemeente skuld van sowat £5 385 gehad en was dit nie vir sy alte vroeë siekte en dood nie, sou hy seker die skuld so goed as uitgewis het.

Sy liefde vir die sending Ds. Roux het baie sterk gevoel vir die opvoeding, veral in die praktiese handwerk- en ambagsrigting van die minderbevoorregte volksgenoot. Aangespoor deur die stigting van ’n paar bloeiende spin-en-weefskole in die Vrystaat deur Emily Hobhouse en ander ná die Anglo-Boereoorlog, het hy hom, ongelukkig sonder veel sukses, beywer vir die stigting van ’n soortgelyke skool op Beaufort-Wes. Daar is selfs op rekening van die kerkraad ses spinwiele aangekoop en ’n onderwyseres aangestel, maar die ondersteuning was so swak – slegs vier leerlinge – dat die hele onderneming gestaak en die skool gesluit moes word. Vir hom en sy ander steunpilaar, diaken P. Martin, was dit ’n groot teleurstelling.

Maar veral was ds. Roux ’n vurige sendingman. Hy was deurdring van dié waarheid: “ ’n Gemeente sal leef namate hy sendingwerk doen.” As lid van die Algemene Sendingkommissie het hy hom binne sowel as buite die gemeente vir die sending beywer. Toe daar byvoorbeeld in 1907 en 1908 deur middel van die kruistogte spesiale pogings aangewend is om de sendingfondse te styf, was hy een van die eerste wat sy medewerking aangebied het. Saam met ds. (later prof.) John du Plessis, dr. Andrew Murray en ander het hy ander gemeentes besoek om belangstelling in die sending op te wek en fondse in te samel. So het dr. Murray teen die einde van 1908 ’n sendingkonferensie op Beaufort-Wes belê. Ondanks die knaende droogte wat die distrik toe geteister het (in die tydperk van 1948 en 1962, byvoorbeeld, was die distrik meer as 40 persent van die tyd amptelik ’n droogtegeteisterde gebied), Barnard, W.S, Smit, P.S. en Van Zyl, J.A. 1972. Suid-Afrika. Die land en sy streke. Kaapstad Bloemfontein Johannesburg: Nasou Beperk. is daar by die Sondagaanddiens nog meer as £100 ingesamel. Dit was op aandrang van ds. Roux dat die kerkraad ’n paar maande daarna die wenslikheid van die aanstelling van ’n eie buitelandse sendeling oorweeg het. (Destyds het "buitelands" verwys na enige plek buite die Kaapkolonie.)

Reeds in 1907 het hy die permanente sendingkommissie uit die kerkraad laat saamstel en in samewerking met die plaaslike sendingvereniging, wat omstreeks 1889 gestig is, het hy uiteindelik die kerkraad beweeg om by wyse van proefneming spesiale geestelik werk onder die skaapherders op die buiteplase te begin (1908). Eers twee jaar later is daarin geslaag om ’n geskikte evangelis, J.J. van Noordwyk, te kry, wat met ’n trapfiets en later ’n motorfiets die skaapwagters en hul gesin op die plase besoek en geestelik bearbei het. Die plaaslike hulpsendingverenigings (Sendingvereniging, Vroue- en Mannesendingbond) het die kerkraad gehelp om die salaris te vind. Hierdie geseënde werk onder plaaswerkers moes ongelukkig met die vertrek van Van Noordwyk in April 1918 gestaak word.

Die Excelsior-skool duimnael|links|190px|Ds. Paul Roux toe hy predikant op Beaufort-Wes was.

Ds. Roux het hom op Beaufort-Wes sommer dadelik begin beywer vir die opheffing van minderbevoorregte kinders. Dit het 'n verskuiwing van die bestaande Armskool ingesluit. Hiervoor het hy geleentheid gekry toe die Zending Vereeniging in 1906 die skoolraad versoek om die sendingsaal in Donkinstraat te ontruim. Die raad het, hoofsaaklik danksy ds. Roux se bemoeiing, dadelik 'n nuwe skool beplan en op 26 Maart 1907 het die stadsraad toegestem om 'n erf tussen De Villiers- en Brandstraat daarvoor te skenk.