Sir Henry Bartle Edward Frere (Wallis, 29 Maart 1815 – 29 Mei 1884) was 'n Britse goewerneur aan die Kaapkolonie.
Hy word in 1834 aangestel in die Indiese staatsdiens en vertrek na Bombaai. In 1862 word hy aangestel as goewerneur van Bombaai en in 1867 word hy lid van die Raad vir Indië. In 1876 word hy tot ridder geslaan. In 1877 word hy spesiaal deur lord Carnarvon as goewerneur van die Kaapkolonie en hoë kommissaris in Suid-Afrika benoem om federasie van die Suid-Afrikaanse geweste tot stand te bring. Die volgende jaar kom hy in hewige botsing met die eerste minister van die Kaapkolonie, John Molteno, oor die grensoorlog, en ontbind sy ministerie. Gordon Sprigg stel 'n nuwe kabinet saam. Daarna vertrek Frere na Natal, waar sy ultimatum aan Cetshwayo die Anglo-Zoeloe-oorlog ontketen. In 1880 word hy as goewerneur teruggeroep en na Londen ontbied om aanklagte van wanbestuur in die gesig te staar. Hy sterf op 29 Mei 1884 en word in die St. Paulus-katedraal begrawe.
Die dorp Frere in KwaZulu-Natal, Mount Frere in die Oos-Kaap en die Frere-hospitaal in Oos-Londen Webwerf van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement is na hom vernoem en Lady Frere, in dieselfde provinsie, na sy vrou.
Sien ook Lys van kommandeurs en goewerneurs van die Kaapkolonie
Bronne Albertyn, C.F. dr. (hoofred.). 1972. Die Afrikaanse Kinderensiklopedie. Kaapstad: Nasou. Raper, P.E. 1987. Dictionary of South African Place Names. Johannesburg: Lowry Publishers.
Verwysings
Kategorie:Britse goewerneurs van die Kaapkolonie Kategorie:Mense in die Anglo-Zoeloe-oorlog Kategorie:Geboortes in 1815 Kategorie:Sterftes in 1884