Dr. Ernest George Jansen (Dundee, 7 Augustus 1881 – 25 November 1959) was ’n kultuurleier, skrywer, kabinetsminister, Speaker van die Volksraad en voorlaaste goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika. Hoewel hy in 1934 saam met ander leiers van die Nasionale Party met die Suid-Afrikaanse Party saamgewerk het om die Verenigde Party te stig, het hy skaars vyf jaar later uit dié party bedank en teruggekeer na die sogenaamde Herenigde Nasionale Party nadat die eerste minister genl. J.B.M. Hertzog se mosie van neutraliteit in die Volksraad verslaan is en Suid-Afrika oorlog teen Duitsland verklaar het. In die vyf jaar dat hy in die Verenigde Party was, het sy vrou, Mabel Jansen, deurentyd 'n stoere Nasionalis gebly.Afrikaner Geskiedenis: http://www.afrikanergeskiedenis.co.za/7-augustus/
Jeugjare Jansen is op Strathearn naby Dundee in Natal gebore as die seun van Andries Louis Jansen en Cornelia Carolina Wohlitz.Geni: https://www.geni.com/people/Dr-Ernest-G/6000000028949409336 Sy vader was ’n onderwyser wat hom later tot die landbou wend. Hy ontvang sy eerste skoolopleiding tuis van sy vader, maar gaan daarna na Ladysmith en matrikuleer uiteindelik aan die Hoërskool Durban in 1898 waar hy die enigste Afrikaanssprekende leerling was. Op skool het Jansen uitgeblink in sport en het hy vir die skool se eerste span krieket en sokker gespeel, en hy was ook twee agtereenvolgende jare victor ludorum. In 1902 het die jong Ernest (so gedoop weens ’n klerikale fout omdat hy na sy oupa aan moederskant, ’n Duitse boer, Ernst Georg moes geheet het) by ’n prokureursfirma in Pietermaritzburg begin met sy leerkontrak en deur afstandonderrig in die regte studeer aan die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop en behaal die grade B.A. en L.L.B. Hy is in 1906 as prokureur toegelaat en vier jaar later begin hy en H. Murray die prokureursfirma Murray en Jansen. In 1913 word hy as advokaat tot die balie toegelaat. Hy trou met Martha Mabel Pellissier en hulle het een kind, Erns Louis Jansen, wat ’n Transvaalse regter en later appèlregter geword het en oorlede is in Pretoria op 23 Mei 2011.
Kultuurleier In die oorwegend Engelssprekende Natal het Jansen ’n leidende rol in die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur gespeel. Hy was prominent in die kultuur-historiese verenigingslewe van dié provinsie. Hy het onder meer in die besture van die Debats- en Letterkundige Vereniging van Pietermaritzburg gedien, wat hy in 1908 gestig het, en ook van die Voortrekkermuseumkomitee. Hy het die stigting van soortgelyke verenigings elders in die Tuinprovinsie aangemoedig, wat in Maart 1910 saamgebind is in die Unie van Debatsverenigingen. Dit het weer gelei tot die stigting van De Organisatie van Hollandse Taalvrienden in 1914. Hierin speel Jansen ’n groot rol in die stryd om Afrikaans erken te kry as onderrigmedium. ’n Blywende bydrae was die stigting saam met sy vrou en prof. G. Besselaar in Pietermaritzburg van die Saamwerk-Unie van Natalse Vereniginge in 1917, waarvan hy voorsitter gebly het tot 1924 en wat die voorloper was van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. Jansen was ’n stigterslid van die F.A.K. Onder leiding van die Jansen-egpaar begin die Saamwerk-Unie die eerste eksamens in die Afrikaanse taal, wat aanvanklik deur hulle gereël, gevoer en bestuur is.
duimnael|links|300px|Dr. D.F. Malan, E.G. Jansen en A.J.R. van Rhijn. By dié geleentheid het Jansen, as goewerneur-generaal, Van Rhijn as minister in die Malan-kabinet ingehuldig. Jansen het lewendig belanggestel in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en skryf die gesaghebbende Die Voortrekkers in Natal in 1938, Uit die Voortrekkertyd in 1939Open Library en Die Boerekongres in Natal in 1942. Deur sy, sy vrou en sy swaer ds. (later prof.) George Murray Pellissier se ywer is die Geloftekerk in Pietermaritzburg bewaar. Hy het ook ’n groot aandeel daarin gehad dat die Engelenburg-huis vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekom is. Van die Akademie was hy in 1909 ’n stigterslid. Dit het destyds nog bekend gestaan as die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst. Jansen was sedert 1938 voorsitter van die Sentrale Volksmonumentekomitee en Eeufeeskommissie, wat vir die organisasie, oprigting en hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument verantwoordelik was. In 1949 tree hy weer as voorsitter van die Voortrekkermonument se Inhuldigingskomitee op. Hy was seremoniemeester tydens die hoeksteenlegging in 1938 en die inhuldiging van die Voortrekkermonument in Desember 1949.
Koerantredakteur duimnael|links|200px|Jansen was getroud met Mabel Jansen, gebore Pellissier, ’n Afrikaanse kultuurleier, opvoedkundige, politikus en skryfster. Die Nasionale Pers het in 1918 besluit om De Afrikaner, wat toe lank reeds Dinsdae en Vrydae in Pietermaritzburg verskyn het, aan te koop. Jansen was destyds een van die vernaamste Nasionaliste in die Natalse hoofstad wat druk op die Nasionale Pers uitgeoefen het om De Afrikaner as sakeonderneming, met sy drukkery, uitgewery en boekhandel oor te neem. Jansen het soos baie ander Afrikaners in Natal gevoel die koerant, onder redakteurskap van ’n eksentrieke Hollander, dr. J. Vrolik, verleen onvoldoende en inkonsekwente steun aan die Nasionale saak. Die Nasionale Pers neem die koerant in November daardie jaar oor en op 18 September 1919 besluit die direksie om Jansen te nader en die redakteurskap aan hom aan te bied teen ’n salaris van £30 per maand, met die reg om as advokaat te bly praktiseer. Jansen aanvaar die pos op 1 Desember 1919, maar na nog onderhandelings berig die hoofbestuur in April 1920 dat hy teen ’n salaris van £50 per maand aangestel sal word, waarvan die Nasionale Party gevra is om in die eerste jaar of twee £150 by te dra.
duimnael|links|250px|Jansen was in 1909 ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dié berig het in die koerant Het Westen verskyn. Jansen bedank ná net nege maande as redakteur. Hy was nou die Natalse leier van die Nasionale Party en het gemeen hy kon geldelik beter vaar as hy sy regspraktyk voortsit. Nietemin het die egpaar Jansen in hierdie jare albei skrywers geword. Hy het aan die geskiedenis van die Voortrekkers in Natal gewerk en sy vrou het haar eerste drama, “Afrikaner harte” gelewer wat by die Pers in Pietermaritzburg gedruk en oral in Natal opgevoer is. Deur die nuwe blad het die Jansens ’n aansienlike stoot aan die Afrikaanse kultuurlewe in Natal gegee. Onder die leiding van die egpaar het die Saamwerk-Unie in ’n reeks los bylaes in Die Afrikaner sy kultuurwerk onder die Afrikaners in Natal bevorder. Die egpaar was in die jare wat die Nasionale Pers die koerant besit het (1918 tot ’25), in verskeie hoedanighede op die voorgrond.
Adv. Jansen was die aanvaarde leier van die Afrikaners in Natal as toonaangewende regsgeleerde, sakeman, politikus, kultuurleier, joernalis en geskiedskrywer. Mev. Jansen as kultuurleidster, skryfster, joernalis en politikus. C.F.J. Muller skryf in Sonop in die Suide:Muller, C.F.J. 1990. Sonop in die Suide. Kaapstad: Nasionale Boekhandel. “Sy het haar oortuigings nie weggesteek nie en was soms voortvarend . . . Maar twee swaeltjies kon nie somer maak nie. Van 1921 af moes die Jansens sittings van die Parlement bywoon. Dit het ’n gaping gelaat; die ander Afrikanerleiers in Natal was nie van dieselfde statuur nie.” Daarom verkoop die Nasionale Pers die Natalse tak in 1925 aan mnr. S. Ferreira van Pietermaritzburg.
Politieke loopbaan duimnael|250px|Die goewerneur-generaal, dr. E.G. Jansen, en sy vrou, Mabel Jansen, omstreeks 1953. duimnael|250px|Die Suid-Afrikaanse kabinet in 1958. Voor: dr. Eben Dönges, Paul Sauer, dr. Hendrik Verwoerd, dr. E.G. Jansen, adv. C.R. Swart, adv. Eric Louw. Agter: J.J. Serfontein, M.D.C. de Wet, dr. A.J.R. van Rhijn, sen. Jan de Klerk, Ben Schoeman, P.K. le Roux, adv. F.C. Erasmus en Tom Naudé. duimnael|200px|Huisgenoot plaas in September en Oktober 1957 'n reeks voorblaaie van Suid-Afrikaanse leiers. Jansen kom op 14 Oktober laaste aan die beurt. Hy betree die politiek kort voor Uniewording as sekretaris van die Afrikanerorganisasie Het Kongres en neem aktief aan die verkiesingsveldtog van 1910 deel, maar stel hom nie verkiesbaar nie. Hy bly in die amp van sekretaris toe Het Kongres De Volksvereniging word. Ná Uniewording, en nadat De Volksvereniging in die SAP opgeneem is, beklee hy die amp van sekretaris van die Suid-Afrikaanse Party in Natal tot 1915 terwyl hy ook op die party se hoofbestuur gedien het. Met die wegbreek van genl. J.B.M. Hertzog uit die SAP in 1914, het Jansen hom nie onmiddellik gevolg nie. Hy was van mening dat die beginselbasis van Hertzog reg was, maar dat die Nasionale Party nie die regte taktiek gevolg het nie. Met die samenstelling van die NP in Natal was Jansen nie teenwoordig nie en dit was eers met sy benoeming as kandidaat vir Umvoti in Julie 1915 dat hy hom met die NP vereenselwig het. Tydens die verkiesing verloor hy met 143 stemme teen G. Leuchars van die Suid-Afrikaanse Party.
Met die samestelling van die Vryheidsdeputasie in 1919 is Jansen en A.T. Spies as Natalse verteenwoordigers aangewys. Hulle het onder leiding van Hertzog op 4 Maart 1919 met die Nederlandse skip Bawean na Europa vertrek om ooreenkomstig ’n bepaling in die Veertien Punte van pres. Woodrow Wilson van die VSA betreffende die regte van kleiner nasies en die waarborg van hul vryheid, te eis dat die onafhanklikheid van Transvaal en die Oranje-Vrystaat herstel moet word. Na heelwat wedervaringe en talle teleurstellings het die deputasie uiteindelik Lloyd George, premier van Brittanje, op 5 Junie 1919 in Parys te spreke gekry. Hy het hulle per brief laat weet dat hul standpunt nie verteenwoordigend van die mening van die meerderheid Suid-Afrikaners was nie. Met Wilson kon hulle nie ’n afspraak gereël kry nie en na ’n lang omweg het die deputasie op 3 September 1919 in Durban aangeland. Alhoewel die sending misluk het, het Jansen en sy kollegas se deelname aan die deputasie tot gevolg gehad dat Afrikanernasionalisme ná hul terugkeer ’n faktor in die Suid-Afrikaanse politiek sou word.
As afgevaardigde na die Afrikaner-Herenigingskongres in Bloemfontein op 22 September 1919 het Jansen ook ’n rol gespeel in die pogings om die Afrikaners in die NP en die SAP weer polities bymekaar te bring. Hy is aangewys as een van die vyf NP-lede van die Versoeningskommissie wat met vyf SAP-lede moes onderhandel. Hul pogings het egter misluk en die twee partye het mekaar weer tydens die 1920-verkiesing geopponeer. In Vryheid is Jansen deur J.J.C. Emmett van die SAP met 81 stemme verslaan, maar met die verkiesing die volgende jaar het hy Emmett met drie stemme gewen. Jansen het hierdie kiesafdeling 22 jaar in die Volksraad verteenwoordig en was die eerste verteenwoordiger van die NP in Natal.