Die Jameson-inval (Engels: Jameson Raid, 29 Desember 1895 - 2 Januarie 1896) was 'n mislukte aanslag op die onafhanklikheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Cecil John Rhodes, wat in daardie stadium die premier van die Kaapkolonie was, het die inval beplan en gefinansier as deel van sy ideaal om 'n verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag tot stand te bring.
Ten einde die inval in die oë van die res van die wêreld te regverdig, moes dit saamval met 'n kunsmatig aangewakkerde revolusie onder die Uitlanderbevolking van Johannesburg. Die invallers, gelei deur dr. Leander Starr Jameson, sou die Uitlanders dan op hulle versoek te hulp snel, oënskynlik om 'n volskaalse burgeroorlog te voorkom, maar in werklikheid om die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika die geleentheid te gee om tussenbeide te tree.
Hy sou dan aandring op 'n wetgewende vergadering wat deur die Uitlanders oorheers sou word en wat bereid sou wees om Transvaal by 'n Britse federasie te laat aansluit. Die Uitlanderopstand het egter weens 'n gebrek aan geesdrif nooit plaasgevind nie. Jameson se inval is daardeur tot mislukking gedoem. Die inval het die spanning in die Suid-Afrikaanse politiek laat oplaai en grootliks bygedra tot die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899. In 1890 het Cecil John Rhodes (1853- 1902) met die steun van J.H. Hofmeyr en die Afrikanerbond premier van die Kaapkolonie geword. Gerugsteun deur sy persoonlike finansiële mag, was hy toe meer as ooit tevore in 'n gunstige posisie om sy ideale vir 'n verenigde Britse Suid-Afrika te verwesenlik.
Hy het uit die staanspoor verklaar dat hy as premier van die Kaap slegs "Suid-Afrikaanse politiek" sou bedryf, waarmee hy bedoel het dat hy die belange van Suid-Afrika as geheel sou bevorder en enige ontwikkelings van isolasionisme sou teenwerk. Die pogings van Britse imperialiste om die Zuid-Afrikaansche Republiek by 'n Brits-beheerde federasie te betrek of tot aansluiting by 'n tolunie te dwing, het teen 1894 nog geen vrugte afgewerp nie.
Hulle het wel daarin geslaag om die ZAR se uitbreiding ooswaarts na Swaziland te fnuik en die beleid van omsingeling 'n stap verder gevoer deur die anneksasie van Rhodesië (vandag Zimbabwe) in 1894. Betsjoeanaland het reeds in 1885 'n Britse protektoraat geword en Zoeloeland (vandag Natal) is in 1887 geannekseer. Die spoorlyn tussen Pretoria en Delagoabaai, wat die ZAR onafhanklik van Britse hawens sou maak, is egter in 1894 voltooi en die daaropvolgende jaar in gebruik geneem.
Rhodes was bevrees dat die ZAR met sy goudrykdom en 'n eie spoorweg na Delagoabaai tot die ekonomiese reus van Suid-Afrika sou ontwikkel en daardeur sy wil op die Britse gebiede sou kon afdwing. Hy was bereid om enige middel aan te wend am die ZAR se onafhanklikheid te beëindig. Die Uitlandervraagstuk wat in Johannesburg ontstaan het, het aan hom en die ander imperialiste 'n gulde geleentheid gebied am hulle met die ZAR se binnelandse aangeleenthede te bemoei.
Die Uitlandervraagstuk Die buitelanders wat sedert die ontdekking van goud in 1886 in groot getalle na die Witwatersrand gestroom het, het 'n blywende deel van die bevolking van die ZAR geword. Hulle is deur die ouer, gevestigde bevolking (die Boere) as 'n bedreiging beskou. Die Boere het gevrees dat die Uitlanders hulle uiteindelik in getalle sou oortref en dat hulle, wanneer hulle burgerregte verkry het, die regering van die land sou oorneem, die Afrikanertradisies sou ondermyn en moontlik selfs Britse anneksasie sou verwelkom. Die tradisionele plattelandse leefwyse van die Boere was onversoenbaar met die stedelike kapitalisme van die Uitlanders en uit die staanspoor was verhoudings tussen die twee bevolkingsgroepe gespanne.
President Paul Kruger en die Volksraad het nogtans besef dat die Uitlanderbevolking nie geïgnoreer kon word nie. Reeds in 1887 het Kruger die goudvelde besoek en onderneem om soveel moontlik van die Uitlanders se griewe uit die weg te ruim. Hulle was veral ontevrede oor die hoë lisensiegelde en die hoe invoerregte. Hulle het aangedring op 'n eie munisipale regering en wou eiendomsreg op hul standplase verkry. Kruger het verklaar dat die Uitlanders as 'n integrerende deel van die bevolking beskou sou word. Wat die kwessie van stemreg en verteenwoordiging in die Volksraad betref, het hy egter besluit om 'n middeweg te volg waardeur die onafhanklikheid van die ZAR nie in gevaar gestel sou word nie en waardeur die Uitlanders, sonder wie die ZAR nie kon klaarkom nie, ook nie heeltemal vervreem sou word nie. Die middewegbeleid was gegrond op 'n Tweede Volksraad, wat in 1890 ingestel is. Die Tweede Volksraad was ondergeskik aan die Eerste Volksraad en sou seggenskap hê oor sake van plaaslike belang waarby staatsbeleid nie betrokke was nie. Lede van die Tweede Volksraad kon deur alle burgers ouer as 16 jaar, insluitende Uitlanders wat reeds twee jaar genaturaliseer was, gekies word.
Om vir die Tweede Volksraad verkiesbaar te wees, moes 'n persoon minstens 30 jaar oud wees, vaste eiendom besit, tot 'n Protestantse geloof behoort en reeds twee jaar stemgeregtig wees. In die geval van 'n Uitlander was dit dus 4 jaar na naturalisasie. Lede van die Eerste Volksraad kon gekies word deur persone wat voor 1890 burgerskap verkry het, persone wat na 1890 burgerskap op grond van geboorte by bereiking van 16-jarige ouderdom verkry het en persone wat reeds vir 10 jaar vir die Tweede Volksraad verkiesbaar was. Dit het dus daarop neergekom dat die Uitlanders eers 14 jaar na naturalisasie stemreg vir die Eerste Volksraad kon verkry.
Die bestaan van twee volksrade het die spanning tussen Johannesburg en die Eerste Volksraad nie verlig nie, maar eerder daartoe bygedra. Die Uitlanders was nie tevrede met die geringe mate van verteenwoordiging wat hulle gehad het nie en hul griewe het toegeneem. In 1892 is die Transvaal National Union deur advokaat Charles Leonard in Johannesburg gestig. Leonard het vroeër reeds in die Kaapkolonie teen die ZAR geagiteer en het Rhodes se imperialisme ondersteun. Die oogmerke van die TNU was die handhawing van die onafhanklikheid van die ZAR, die verkryging van gelyke politieke regte vir almal en die uitskakeling van die Uitlanders se griewe. Leonard se doelwit was egter die uiteindelike ondergang van die ZAR.
In 1893 en in 1894 het die TNU versoekskrifte aan Kruger voorgelê waarin hulle om stem reg gevra het. Hulle het egter geen welslae daarmee behaal nie en die gedagte het by hulle begin posvat dat Kruger persoonlik die grootste struikelblok was en dat die Eerste Volksraad meer inskiklik sou wees sodra sy invloed verdwyn. In hul openbare agitasies en in hul persveldtogte het hulle hulle nie net teen die "wanbestuur" en die "korrupsie" van die regering uitgespreek nie, maar ook persoonlike aanvalle op Kruger gedoen. In die presidentsverkiesing van 1893 het die TNU hom by Kruger se teenstander, die meer progressiewe kommandant generaal Piet Joubert, geskaar. Die skrale meerderheid waarmee Kruger die verkiesing gewen het, was in groot mate aan die Uitlanders se propaganda te wyte. In 1894 het die regering van die ZAR die taktiese flater begaan om die Uitlanders vir militêre diens op te kommandeer in die oorlog teen Mapog in Noord-Transvaal. Baie Uitlanders het geweier en protesvergaderings gehou. Hulle het daarop gewys dat hulle geen burgerregte geniet het nie en dat hulle dus nie burgers van die land was en tot militêre diens verplig kon word nie. Brittanje het die versoek van die Uitlanders as 'n gulde geleentheid beskou om hom met die binnelandse aangeleenthede van die ZAR te bemoei en sodoende die soewereiniteit van die staat te ondermyn.
Die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, sir Henry Loch, is na Pretoria gestuur om met Kruger te onderhandel. Met die aankoms van Loch op Pretoriastasie op 25 Junie 1894 is die president van die ZAR deur 'n groot groep Uitlanders beledig. Nadat hulle Loch geesdriftig toegejuig het, het hulle die perde voor die koets waarin Loch en Kruger gesit het, uitgespan en self die koets na die hotel getrek terwyl hulle Rule Britannia gesing en die Union Jack gewaai het. Loch het die hotel saam met die Uitlanders binnegegaan en Kruger net so in die koets laat sit. Loch het niks gedoen om die voorval af te keur nie, maar het tog aan Kruger se versoek voldoen en nie 'n besoek aan Johannesburg gebring nie.
Hoewel die opkommandering van die Uitlanders as gevolg van Loch se besoek gestaak is, is daar nie tot 'n vergelyk aangaande toekomstige militêre diens deur die Uitlanders gekom nie. Kruger was bereid om hulle kwyt te skeld mits Brittanje sekere wysigings aan die Londen-konvensie van 1884 aanbring. Daarvoor was Loch nie te vinde nie. Met die ontmoeting tussen Loch en Kruger het die Uitlandervraagstuk 'n nuwe wending geneem. Dit was nou nie meer 'n suiwer binnelandse aangeleentheid van die ZAR nie, maar 'n internasionale aangeleentheid waarmee Brittanje, op grond van die Londen-konvensie, hom in die toekoms in toenemende mate sou bemoei.
Die vernedering wat Kruger tydens Loch se besoek ondergaan het, het groot verontwaardiging by die Boere uitgelok en verhoudings tussen die Uitlanders en die owerheid het vinnig agteruitgegaan. In 1895 is nog 'n versoekskrif, hierdie keer met 35 000 handtekeninge, aan die regering voorgelê. Dit is deur die Volksraad van die hand gewys maar het groot publisiteit in die Britse pers geniet en simpatie vir die Uitlanders se griewe by die Britse regering en die Britse volk gewek. Die griewe, wat al hoe meer geword het, is volledig uiteengesit in die manifes van die TNU (die Leonard-manifes), wat op 26 Desember 1895 gepubliseer is. Sommige van die griewe was gegrond, party was oordrewe en ander was verdraai.
Afgesien van die stemregkwessie was die Uitlanders, volgens die manifes, ontevrede oor die gebrek aan munisipale selfbestuur, die dinamietmonopolie wat die prys van dinamiet hoog gehou het, die regering se beleid om konsessies toe te staan, die "korrupsie" in die regering, die "diktatoriale neigings" van die president, die diskriminasie teen die Uitlanders op grond van taal en godsdiens, die gebruik van Hollands as voertaal in die skole, onvoldoende onderwys vir Uitlanderkinders, die hoë belastings, hoë invoer- en spoorwegtariewe en die "wanadministrasie" ten opsigte van die Swart volke.
Die manifes was tot die hele Blanke bevolking van die ZAR gerig en het geëis dat 'n nuwe grondwet vir 'n "ware republiek" opgestel word waarin almal gelyke regte sou geniet, die geregshowe onafhanklik, die onderwys meer liberaal en Engels en Hollands die amptelike tale sou wees. Die meeste Uitlanders het egter meer belang by hul materiële welvaart gehad as by die stigting van die TNU se "ware republiek". Die ontevredenheid aan die Rand is kunsmatig aangewakker deur imperialisties gesinde agitators soos Leonard en mynmagnate soos Lionel Phillips, wat in 1893 voorsitter van die Kamer van Mynwese geword het.
Phillips het self verklaar dat dit nie maklik was om die Uitlanders tot opstand op te sweep nie omdat die meerderheid van hulle nie in stem reg en die val van die Kruger-regering belang gestel het nie. Boonop was daar verdeeldheid onder die Uitlanders oor die rigting wat ingeslaan moes word indien 'n opstand teen Kruger se bewind sou slaag: moes Transvaal 'n onafhanklike republiek bly of moes Britse anneksasie gevra word?
Die inval Rhodes het self die Uitlanders as 'n onvoorspelbare faktor beskou. Toestande aan die Witwatersrand kon moontlik so verander dat die Uitlandervraagstuk nie meer deur Brittanje en die imperialiste in Suid-Afrika gemanipuleer kon word nie. Daarom het hy reeds in 1894 besluit om 'n opstand onder die Uitlanders te organiseer waaroor hy self beheer kon uitoefen. Die Britse premier, lord Salisbury, die Minister van Kolonies, Joseph Chamberlain en die nuwe Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, sir Hercules Robinson, was deeglik bewus van Rhodes se planne, maar slegs op nie-amptelike vlak, en het dit goedgekeur.