Die nasionale vlag van Nieu-Seeland (Engels: flag of New Zealand; Maori: te haki o Aotearoa) is in 1869 ontwerp en amptelik op 12 Junie 1902 aanvaar. Die vlag staan ook bekend as die Nieu-Seelandse vaandel en is gebaseer op die Britse Blou vlootvaandel. Dit vertoon ’n blou veld met die Union Jack in die skildhoek en op die wapperkant vier gesentreerde rooi sterre met wit fraiings wat die Suiderkruis verteenwoordig.

Nieu-Seeland se eerste vlag, die vlag van die Verenigde Stamme van Nieu-Seeland, is in 1834 aangeneem, ses jaar voor Nieu-Seeland se afstigting van Nieu-Suid-Wallis en die stigting van ’n eie kolonie ná die ondertekening van die Verdrag van Waitangi in 1840. Die vlag is deur ’n vergadering van Maori-hoofmanne by Waitangi in 1834 gekies en het uit ’n Sint Joriskruis met ’n ander kruis in die skildhoek met vier sterre op ’n blou veld bestaan. Met die stigting van die kolonie in 1841 het die gebruik van Britse vaandels begin. Die huidige vlag is ontwerp en aanvaar in 1869 vir gebruik deur die kolonie se skepe en het ná goedkeuring deur koning Edward VII in 1902 die amptelike vlag geword. Dit vertoon die Britse Blou Vaandel met ’n gestileerde voorstelling van die Suiderkruis daarop wat die vier grootste sterre uitbeeld. Elke ster verskil effens van die ander in grootte. Die Union Jack in die skildhoek herinner aan Nieu-Seeland se koloniale bande met die Verenigde Koninkryk en sy lidmaatskap in die Britse Statebond. Die verhouding van die vlag is 1:2 en die kleure is rooi (Pantone 186C), blou (Pantone 280C) en wit. Die verhouding en kleure is identies aan die Union Jack.

Sedert die 1970’s word daar ’n vlagdebat oor ’n verandering van die vlag gevoer. In 2016 is ’n bindende referendum in twee fases oor ’n vlagverandering gehou. Die tweede stemming is op 24 Maart beëindig en die land het met 57% tenoor 43% gekies om die huidige vlag te behou.

Ontwerp Die amptelike vlag van Nieu-Seeland word gedefinieer in Nieu-Seeland se Vlagwet van 1981.

Bestanddele

Die vlag van Nieu-Seeland gebruik twee prominente kenmerke: Die Union Jack (of Union Flag) Die Suiderkruis (of Crux)

In sy oorspronklike gebruik as die vlag van die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland kombineer die Union Jack drie heraldiese kruise wat die lande van die Verenigde Koninkryk verteenwoordig (soos in 1801 saamgestel): Die rooi Sint Joriskruis van Engeland Die wit skuinse Sint Andrieskruis van Skotland Die rooi skuinse Sint Patrickkruis van Ierland

Die Union Jack verwys na Nieu-Seeland se geskiedenis as ’n Britse kolonie.

Die Suiderkruis is die helderste konstellasie sigbaar in die Suidelike Halfrond en word reeds sedert die vroeë dae van Britse kolonisering in dié lande gebruik om Australië en Nieu-Seeland te verteenwoordig. Die vier sterre is vyfpuntig. Daarbenewens word in die Maori-mitologie na die Suiderkruis as Māhutonga verwys, ’n opening in Te Ikaroa (die Melkweg) waardeur stormwinde ontsnap het.

In teenstelling met ander Suiderkruisvlae soos dié van Australië, Brasilië, Papoea-Nieu-Guinee en Samoa vertoon Nieu-Seeland se vlag nie die Epsilon Crucis, die kleinste van die Suiderkruissterre, nie.

Simboliek Die vlag moet reghoekig wees en sy lengte tweekeer langer as sy breedte wat dit ’n verhouding van 1:2 gee. Dit vertoon ’n koningsblou agtergrond met ’n Union Jack in die skildhoek en vier gesentreerde vyfpuntige sterre op die wapperkant. Die presiese kleure is bepaal as Pantone 186 C (rooi), Pantone 280 C (blou) en wit. Volgens die Departement van Kultuur en Erfenis, die staatsdepartement wat vir die vlag verantwoordelik is, herinner die koningsblou agtergrond “aan die blou see en lug wat ons omring” en die sterre “dui op Nieu-Seeland se plek in die Suidelike Stille Oseaan”. Die geskiedeniswebwerf van die Nieu-Seelandse regering verklaar: “Sy koningsblou agtergrond is afgelei van die vaandel van die Koninklike Vloot se Blou Eskader.”

350px|senter|Konstruksieblad vir die ontwerp van die Nieu-Seelandse vlag. Die hoogte van die vlag is twee maal die breedte daarvan

Die kennisgewing wat op 27 Junie 1902 in die Nieu-Seelandse Staatskoerant verskyn het, gee ’n tegniese beskrywing van die sterre en hul posisies op die Nieu-Seelandse vaandel:

Kleure duimnael|Die Nieu-Seelandse vlag wapper in Wellington 40pxKleurskema Blou Rooi Wit Pantone 280 C 186 C Veilig RGB 0-0-102 204-0-0 255-255-255 Heksadesimaal #000066 #CC0000 #FFFFFF CMYK C100-M70-Y0-K20 C0-M100-Y80-K5 C0-M0-Y0-K0

Geskiedenis Vroeë vlae in Nieu-Seeland Maori’s het nie vlae gehad totdat die Europeërs hulle aan Nieu-Seeland bekendgestel het nie, toe hulle hulle spoedig aangeneem en deel van hul kultuur gemaak het. Sommige Maori’s het tradisionele geweefde materiale soos paki aan hul skepe geheg wanneer hulle by internasionale handel betrokke was.

Die behoefte aan ’n vlag vir Nieu-Seeland het die eerste keer duidelik geword toe die handelskip Sir George Murray, wat by Horeke in Hokianga gebou is, in 1830 in die hawe van Sydney deur doeane-amptenare in beslag geneem is. Die skip het sonder ’n vlag geseil wat ’n skending van die Britse seevaartwette was. In dié tyd was Nieu-Seeland nie ’n kolonie nie en het die land ook geen vlag besit nie. Onder die passasiers was twee belangrike Maori-leiers, moontlik Patuone en Taonui. Die skip se aanhouding is dus as ’n vernedering van die Maori-volk beskou. Tensy ’n vlag gekies is, sou die doeane voortgaan om skepe in beslag te neem. Ná dié insident is die skip in 1831 opgeveil en deur Thomas McDonnell gekoop. Hy het onder ’n Sint Joriskruis met ’n blou skildhoek en daarin ’n halfmaan gevaar. The Sydney Herald het na dié vlag as “die Nieu-Seelandse kleure” verwys, maar dit kon ook net McDonnell se huisvlag gewees het.

Vlag van die Verenigde Stamme duimnael|links|Die vlagpaal van Waitangi op die Noordeiland vertoon (van links na regs) die vlag van die Verenigde Stamme van Nieu-Seeland, die vlootvaandel van Nieu-Seeland en die Union Jack, soos afgeneem op 5 Februarie 2006, een dag voor Waitangi-dag duimnael|Vlae van die Maori-konings, 1857 duimnael|Vlag van die Maori-koning, 1863 Die eerste vlag van Nieu-Seeland is op 9 Maart (of 20 Maart) 1834 aanvaar ná ’n verkiesing deur die Verenigde Stamme van Nieu-Seeland, ’n vergadering van Maori-leiers wat deur die Britse inwoner James Busby in Waitangi belê is. Die Verenigde Stamme het later die onafhanklikheidsverklaring van Nieu-Seeland in Waitangi in 1835 afgekondig. Drie vlae is voorgestel, almal is ontwerp deur die sendeling Henry Williams, wat ’n belangrike rol by die vertaling van die verdrag van Waitangi in 1840 gespeel het. Die leiers het twee andere voorstelle wat die Union Jack ingesluit het, ten gunste van ’n gemodifiseerde Sint Joriskruis of die Wit Vaandel, wat deur Henry Williams se Sendinggenootskap-skepe gebruik is, afgekeur. 231 Hierdie vlag het bekend geword as dié één van die Verenigde Stamme van Nieu-Seeland en is amptelik in die Staatskoerant van Nieu-Suid-Wallis in Augustus 1835 gepubliseer met ’n algemene beskrywing sonder ’n omsoming of die aantal van die punte op die sterre. Die behoefte aan ’n vlag is as dringend beskou, nie net omdat Nieu-Seelandse skepe in Sydney in beslag gelê is weens die niegebruik van ’n nasionale vlag nie, maar ook as simbool van onafhanklikheid, wat deur die Maori-leiers verklaar is.

Die vlag word nog steeds aan die Waitanga-vlagpaal gehys en is sigbaar op Waitangi-dag, elke 6 Februarie.

Union Jack

duimnael|upright|Hōne Heke kap die Union Jack se vlagpaal by Kororāreka in 1844 Ná die ondertekening van die verdrag van Waitangi is die Britse Union Jack gebruik, terwyl die voormalige vlag van die Verenigde Stamme nog steeds gebruik is deur ’n aantal Nieu-Seelandse skepe en in baie gevalle ook op land. So het die “New Zealand Company” in Wellington voortgegaan om die vlag van die Verenigde Stamme te gebruik, totdat goewerneur William Hobson in Mei 1840 ’n klein gewapende mag gestuur het (na aanleiding van sy verklaring van Britse soewereiniteit). Die Union Jack was as simbool van die Britse gesag die teiken van die vlagpaaloorlog wat in 1844 begin het en volgens sommige geskiedkundiges die begin van die Nieu-Seelandse Oorloë was.

Die Union Jack was die “meerderwaardige vlag” en is tot in 1965 bo die Nieu-Seelandse vlag gehys.

Vlae gebaseer op verskeie blou vaandels duimnael|upright|Die eerste luitenant Albert Hastings Markham, ontwerper van die vlag van Nieu-Seeland Tydens die inval van die Waikato (Julie 1863 tot April 1864) van die Nieu-Seelandse Oorloë het die Britse magte besef dat hulle koloniale skepe benodig om teen die Maori’s te veg. Die koloniale regering het daarna vaartuie bekom wat met Britse Vloot-offisiere beman was. Die skepe was onder plaaslike en nie Admiraliteitsbeheer nie. ’n Gewapende skip, die Victoria wat in besit was van die kolonie Victoria, het versterking na Nieu-Seeland vervoer vir die veldtog en deelgeneem aan bombardemente van Maori’s. Die Britse regering was bekommerd oor die ontwikkeling van sy kolonies se eie vlote wat nie onder die beheer van die Koninklike Vloot se Admiraliteit was nie.

Dit het daartoe gelei dat die Britse parlement die Koloniale Vlootverdedigingswet van 1865 goedgekeur het, wat die koloniale regerings toegelaat het om skepe te besit, ook vir militêre doeleindes, onder die bepaling dat hulle onder die bevel van die Koninklike Vloot sou moes wees. In 1866 het die Britse Admiraliteit kolonies aangeraai, wanneer hulle skepe besit wat onder die wet val, hulle ’n gewysigde blou vaandel met ’n koloniale kenteken moes gebruik. Nieu-Seeland het destyds nie ’n eie koloniale kenteken of ’n wapen gehad nie en dus is in 1867 net die letters “NZ” vir die Engelse naam New Zealand by die Blou Vaandel bygevoeg volgens ’n dekreet deur goewerneur George Grey op 15 Januarie 1867.

In 1869 het die eerste luitenant van die Royal Navy-skip HMS Blanche, Albert Hastings Markham, ’n ontwerp vir ’n nasionale vaandel voorgelê aan Sir George Bowen, die goewerneur van Nieu-Seeland. Dit het gevolg op ’n versoek deur Bowen aan Markham om met ’n nuwe vlagontwerp vorendag te kom na aanleiding van ’n versoek aan Bowen deur die koloniale kantoor. Sy ontwerp, wat die Suiderkruis gebruik, is op 23 Oktober 1869 goedgekeur. Dit is aanvanklik net op regeringskepe gebruik, maar is in ’n oplewing van patriotisme ná die Anglo-Boereoorlog aanvaar as die de facto nasionale vlag in 1902. Om die verwarring tussen die verskillende ontwerpe van die vlag te beëindig, het die liberale regering die New Zealand Ensign Act 1901 goedgekeur, wat deur koning Edward VII op 24 Maart 1902 aanvaar is en die vlag as Nieu-Seeland se nasionale vlag verklaar. Medaljes wat toegeken is aan soldate wat in die Tweede Vryheidsoorlog geveg het, bevat die ontwerp van die vlag van die Verenigde Stamme, wat daarop dui dat dié vlag destyds wyd gebruik is in Nieu-Seeland.

Vertoning tydens geveg Een van die eerste bekende vertonings van die Nieu-Seelandse nasionale Blou Vaandel tydens ’n geveg was by Quinn's Post tydens die Slag van Gallipoli in 1915. Dit was egter nie amptelik vertoon nie. Die vlag is na Nieu-Seeland teruggebring deur Private John Taylor, Canterbury Bataljon. Die eerste keer dat die vlag van Nieu-Seeland tydens ’n seegeveg en die eerste amptelike keer ooit getoon is, was op die HMNZS Achilles tydens die Slag van die Rio de la Plata in 1939.

Vlagwet en protokol duimnael|links|Die silwervaring (Alsophila dealbata) is ’n nasionale simbool van Nieu-Seeland en word onder andere deur die All Blacks en die Black Caps gebruik duimnael|upright|Die Nieu-Seelandse vlag op halfstok op die Matariki-gebou by die Universiteit van Canterbury nadat Sir Edmund Hillary oorlede is