duimnael|links|Die landsdele van Tsjeggië: duimnael|links|Die Praagse Karelsbrug oor die Vltava-rivier (Duits: Moldau) is onder Karel IV begin

Boheme (Tsjeggies: Čechy, Duits: Böhmen, Nederlands: Bohemen, Latyns: Bohemia) was 'n land in Sentraal-Europa en is tans, naas Morawië (Tsjeggies: Morava) en Tsjeggies-Silesië, een van die drie historiese landsdele van Tsjeggië. Sy bewoners word Bohemers genoem. Die historiese hoofstad is Praag (Praha).

Boheme is in die weste van Tsjeggië geleë en word in die suide begrens deur Oostenryk, in die weste deur Beiere, in die noorde deur Sakse en die Lausitz, in die noordooste deur Silesië, en in die ooste deur Morawië.

Boheme was in sy lang geskiedenis een van die lande van die Boheemse Kroon. In teenstelling met Middeleeuse Pole, wat hom tot diplomatieke betrekkinge met die Heilige Romeinse Ryk (HRR) beperk het, het Boheme as koninkryk deel geword van die HRR se politieke raamwerk.Heinz Schilling: Siedler Geschichte Europas - Die neue Zeit. Berlin: Siedler 1999, bl. 98 Die Boheemse koning was een van vyf sogenaamde keurvorste wat die Romeins-Duitse koning verkies het.

Vervolgens, vanaf die 19de eeu, was Boheme 'n provinsie in en die industriële kernland van die Habsburgse dubbelmonargie Oostenryk-Hongarye. Tussen 1918 en 1939 en tussen 1945 tot 1992 het Boheme deel uitgemaak van Tsjeggoslowakye. Ná dié land se opsplitsing in twee onafhanklike republieke, Tsjeggië en Slowakye, vorm Boheme die groter deel van die Tsjeggiese Republiek - sowat twee derdes van die totale oppervlakte.Encyclopædia Britannica: Bohemia. Besoek op 25 Junie 2017 Sy ryk en veelsydige kultuur is onder meer gevorm deur die wisselwerking van Tsjeggiese, Oostenryks-Duitse en Joodse invloede.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|links|Die migrasies van die Boïers Alhoewel Slawiessprekende Tsjegge hulle gedurende die 5de of 6de eeu n.C. in die gebied gevestig het, verwys die landsnaam na sy vroeëre bewoners, die Keltiese Boïers, wat omstreeks 400 v.C. uit hul oorspronklike stamland tussen die Ryn-, Main- en Donauriviere na die gebied van die huidige Boheme gemigreer het om die eerste histories gedokumenteerde volk suid van die Reuse- en Ertsgebergte te word. Hier het hulle betreklik groot nedersettings gevestig, goudmunte geslaan en handel gedryf met ander dele van Europa. Sowat 400 jaar later het hulle onder die druk van Romeine in die suide en Germaanse stamme uit die noorde geswig. Die Germaanse Markomanne het onder leiding van Marbod 'n magtige ryk gestig wat oor Boheme en Morawië gestrek het. Marbod se bewind is later omvergewerp, maar desondanks het sy stam 'n beslissende magsfaktor gebly. Nog voor die 6de eeu n.C. het die Markomanne hulle blykbaar uit die streek teruggetrek. Die rede vir hul verdwyning is steeds onbekend.

Wes-Slawiese stamme het die oorspronklike Donaugrens vanaf 527 aangeval en hulle blykbaar ook in groter getalle in Boheme gevestig. Volgens mitologiese oorlewerings was een van hul aanvoerders, Čech, die naamgewer vir die land en sy bewoners. Maar reeds in die tweede helfte van die 6de eeu het die Aware, 'n nomadiese steppevolk uit Sentraal-Asië, Slawiese stamme in die gebied onderwerp. Hulle is eers vanaf 796 deur die Frankiese koning Karel die Grote uit Boheme verdryf. Die bevryding het teen 'n baie hoë prys gekom - die vorstedomme Boheme, Morawië en Wes-Slowakye het deel van die Frankiese Ryk geword en was vervolgens skatpligtig aan die Frankiese konings. Om hulself aan dié skatpligtigheid te onttrek, het die vorstedomme saamgesluit in 'n politieke unie waarna geskiedkundiges later as die "Groot-Morawiese Ryk" sou verwys. Hier het Tsjeggiese vorste uit die Přemyslide-dinastie in die nuutgestigte Praag 'n leidende rol gespeel.

Boheme en sy buurlande het nog deel uitgemaak van die Beierse bisdom Regensburg.Paul Mai: Die Quellenlage zur Kirchengeschichte Böhmens im Bischöflichen Zentralarchiv Regensburg. Besoek op 28 Junie 2017 Om naas hul politieke ook die kerklike selfstandigheid te verwerf, het die heersers hulle tot die Bisantyne gewend wat ingestem het om sendelinge onder leiding van twee broers, Cyrillus en Methodius van Saloniki, na Boheme, Morawië en Slowakye uitgestuur het. Die sendingwerk in Boheme is vanuit Morawië begin waar Cyrillus en Methodius op 5 Julie 863 aangekom het. Hulle het die Evangelie nie in Latyn gepredik nie, maar in die Slawiese landstaal. 5 Julie is in Tsjeggië ná die Fluweelrewolusie van 1989/90, waartydens die kommunistiese bewind omvergewerp is, tot openbare vakansiedag verklaar.

In die 10de eeu was groot dele van Boheme gekersten. Tegelykertyd het die heersende Přemyslide-dinastie hul Boheemse magsgebied gekonsolideer. Ondanks hul toenemende afhanklikheid van die Heilige Romeinse Ryk het die Přemyslide daarin geslaag om Morawië by hul magsfeer in te sluit en die twee landsdele in 'n gemeenskaplike koninkryk te verenig.

Boheme onder die Přemyslide-dinastie duimnael|Portret van Otakar I Přemysl op 'n Tsjeggiese 20 Kroon-banknoot Vratislav II, wat tussen 1061 en 1092 geregeer het, was die eerste Přemyslide-heerser wat die titel "Koning van Boheme" as 'n persoonlike en nie-oorerflike voorreg uit die hande van die Heilige Romeinse keisers ontvang het. Die belangrikste heerser uit die dinastie, Otakar I, is as erflike koning van Boheme benoem. Boheme was vervolgens 'n koninkryk binne die politieke raamwerk van die Heilige Romeinse Ryk wat as Ryksleen beskou is. As keurvorste van die Ryk het sy konings hoë ereampte beklee soos dié van Pincerna Imperii (Reichsschenk). Otakar II het van Boheme een van die leidende moondhede in Sentraal-Europa gemaak wat ook ekonomies gefloreer het. In die tyd van Oostenryk se Interregnum het Otakar II dele van dié land in sy magsgebied ingesluit. Om dit verder uit te brei tot die Adriatiese See, het Otakar II daarnaas ook oorloë teen Hongarye gevoer.

Die regeringstyd van Otakar I Přemysl en sy seun Wenceslaus I is deur ingrypende maatskaplike veranderinge in Boheme gekenmerk. Een van die heersers se belangrikste doelwitte was om tot dusver onbewoonde gebiede te koloniseer. Hiervoor is, ook met die steun van adel en kloosters, groot getalle Duitssprekende setlaars in Boheme gevestig wat nie net intensiewe boerderymetodes in landelike streke ingevoer het nie, maar ook talle nuwe nedersettings gestig het. Boheme se reg- en geldstelsel is aangepas by dié veranderinge, net soos die land se handelsbetrekkinge. Boheme se oorskot landbougoedere moes, net soos die produkte van ambagsmanne, uitgevoer word, en so is nuwe handelsbande aangeknoop en het nuwe handelspaaie ontstaan. Die groeiende vraag na edel- en ander metale was die drywer vir die ontwikkel van die plaaslike mynbousektor.

Begin van etniese dualisme Met die golf van Duitssprekende immigrante is Boheme se demografiese struktuur doelbewus verander na dié van 'n etniese dualisme, die naasbestaan van twee volksgroepe van Tsjeggies- en Duitssprekendes wat een van die beslissende faktore van Boheme en Morawië se politieke, ekonomiese en sosiale ontwikkeling tot in die 20ste eeu sou word.

Nog in 1921, drie jaar ná die ontbinding van die Habsburgse dubbelmonargie Oostenryk-Hongarye, wat as anachronistiese veelvolkestaat ervaar en deur beweerde nasionale state op etniese basis vervang is (alhoewel dié lande vanweë hul etniese samestelling op hul beurt weer as veelvolkestate beskou moes word), en ondanks die negatiewe uitwerkings van die Hussiete- en die Dertigjarige Oorlog, was 22,5 persent van die Boheemse bevolking Duitssprekend. Eers toe het hulle begin om 'n spesifieke nasionale bewussyn as sogenaamde Sudete-Duitsers te ontwikkel.Jörg K. Hoensch: Eine Geschichte Böhmens und Mährens - Im Herzen Europas. In: Zeit Online, 29 April 1994. Besoek op 27 Junie 2017

Heerskappy van die Huis Luxemburg duimnael|Die Boheemse Kroonjuwele word in die Praagse kasteel se Sint-Vituskatedraal bewaar, waaronder die Kroon van Sint Wenceslaus wat in 1347 in opdrag van Karel IV vir sy kroningsplegtigheid vervaardig is. Dit is die vierde oudste kroon in Europa Toe Otakar II tydens 'n inval in Oostenryk gesneuwel het, was Boheme se lot beseël. Sy magsgebied en invloed is merkbaar beperk, terwyl die heerskappy van die Přemyslide-dinastie in 1306 beëindig is. Vanaf 1310 is die koninkryk Boheme deur die Huis Luxemburg geregeer. Teen die einde van die 14de eeu het hul magsgebied naas Boheme ook Morawië, Silesië, Opper- en Nederlausitz ingesluit. Karel van Luxemburg, wat as Boheemse koning geregeer het, is in 1355 as Karel IV tot keiser van die Heilige Romeinse Ryk verkies. Hy word onthou as stigter van die Universiteit van Praag, wat in 1348 gevestig is. 'n Oorgrote meerderheid van die dosente en studente was egter Duitssprekend sodat na die instelling ook as die eerste Duitse universiteit verwys kan word. Ewe noemenswaardig was Karel se bydrae tot die groei van Praag wat onder sy heerskappy grootliks uitgebrei en uiteindelik tot keiserlike regeringsetel van die Heilige Romeinse Ryk verhef is. Vanaf dié tydperk was Praag een van die leidende intellektuele sentrums en kunsmetropole in Sentraal-Europa.

Hussiete-oorloë en heerskappy van die Jagiellone In die vroeë 15de eeu het die godsdienstige stryd tussen die Rooms-Katolieke Kerk en aanhangers van die Boheemse kerkhervormer Jan Hus, wat in 1415 in Konstanz, Suid-Duitsland as ketter verbrand is, op 'n oorlog tussen Boheemse Hussiete en Rooms-Katolieke magte uit Boheme en ander dele van die Heilige Romeinse Ryk uitgeloop. Die konflik was nie suiwer godsdienstig van aard nie, maar het ook voortgespruit uit beweerde sosiale en maatskaplike misstande. So het Hussiete ook in opstand teen die welvarende Duitssprekende bevolking gekom en op die stigting van 'n nasionale Boheemse staat aangedring. Morawië is nouliks geraak deur die Hussiete-oorlog wat in sy westelike buurland tienduisende menselewens geëis het.

In die slag van Lipany het die Taboriete, die radikale vleuel van die Hussiete-beweging, in 1434 'n verpletterende neerlaag teen 'n militêre alliansie van Katolieke en gematigde Hussiete (die sogenaamde Utraquiste) gely. So kon in 1436 tydens die Konsilie van Basel 'n skikking bereik word waarvolgens aan gematigde Hussiete 'n mate van geloofsvryheid toegestaan is, terwyl die Rooms-Katolieke Kerk se gesag in geestelike sake beperk is.

In 1437 het die Luxemburg-dinastie uitgesterf. Die Boheemse adel kon voordeel trek uit die voortgaande dispuut rondom die troonopvolging en sy politieke invloed merkbaar vergroot - ten nadeel van die monargie, stedelike bevolkings en die boerestand. Die laasgenoemde is van die meeste van sy vryhede ontneem, sommige boere se status is deur adellike grondbesitters selfs afgeskaal tot dié van lyfeienes. Die Poolse Jagiellone-dinastie, wat Boheme tussen 1471 en 1526 geregeer het, was nie in staat om 'n effektiewe regering in Boheme daar te stel nie.

Bewind van die Huis van Habsburg duimnael|'n Vertoning van die historiese veldslag van die Wit Berg (Bílá Hora) waaraan in 2014 honderde akteurs en aktrises deelgeneem het duimnael|'n Historiese kaart van 1864 wys Duitssprekende gebiede in Boheme In 1526 het die Jagiellone in hul manlike linie uitgesterf. Die Habsburgse aartshertog van Oostenryk, Ferdinand I, broer van die magtige keiser Karel V, het vervolgens aanspraak gemaak op die Boheemse troon. Uiteindelik het Boheme onder Habsburgse bewind gekom, en Ferdinand het, ondanks die feit dat hy Rooms-Katoliek was, aanvanklik 'n gematigde standpunt ten opsigte van godsdienstige sake ingeneem. Maar kort voor lank is hy - net soos sy opvolgers - genoodsaak om sy Protestantse opponente openlik te konfronteer. Teen die middel van die 16de eeu het die Jesuïete-orde die opdrag gekry om die Teenreformasie in Boheme deur te voer. Naas godsdienstige dispute het die beperking van politieke regte en hoë belastingtariewe, wat uit die Habsburgse oorlogvoering teen die Turke voortgespruit het, tot groot ontevredenheid gelei.