Bruin mense is 'n term wat verwys na 'n heterogene etniese groep van veral Suid-Afrika wat wit sowel as swart voorouers het.

Hulle vorm die grootste deel van die Wes-Kaapse en Noord-Kaapse bevolking. Die meeste is bruin Afrikaners en maak deel uit van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap, terwyl ongeveer 10 persent Engels as moedertaal het, meesal in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

Vanweë Suid-Afrika se geskiedenis van rassediskriminasie word die woord Kleurlinge deur baie mense as neerhalend beskou. Die term "bruin mense" word deesdae meesal gebruik. Baie bruin mense verkies ook om hulself "swart", "Khoisan" of slegs "Suid-Afrikaners" te noem.

Met byna 4,4 miljoen mense het die bruin mense in 2009 byna 9% van die Suid-Afrikaanse bevolking verteenwoordig.

Agtergrond duimnael|links|250px|Verspreiding van bruin mense in Suid-Afrika. duimnael|links|250px|Digtheid van bruin mense in Suid-Afrika. Bruin mense se voorouers is hoofsaaklik van Europa, Indonesië, Madagaskar, Maleisië, Mosambiek, Mauritius, St. Helena en ander dele van Suider-Afrika. Benewens die kenmerkende "Kaapse Kleurling"- en "Kaapse Maleier"-kultuur wat in die Wes-Kaap ontwikkel het, kom bruin mense ook in kleiner getalle in ander dele van Suid-Afrika voor. Genetiese studies dui daarop dat bruin mense die hoogste vlak van gemengde afkoms in die wêreld het. Tog is die vroulike bydrae tot die rassegroep, soos gemeet tydens mitochondriese DNS-studies, meesal vanaf die Khoisan.Quintana-Murci L, Harmant C, Quach H, Balanovsky O, Zaporozhchenko V, Bormans C, van Helden PD, et al., (2010). Strong maternal Khoisan contribution to the South African coloured population: a case of gender-biased admixture. American Journal of Human Genetics 86: 611-20. http://www.cell.com/AJHG/abstract/S0002-9297%2810%2900096-0.Schlebusch CM, Naidoo T and Soodyall H (2009). SNaPshot minisequencing to resolve mitochondrial macro-haplogroups found in Africa. Electrophoresis 30: 3657-64. http://onlinelibrary.wiley.com/doi/10.1002/elps.200900197/abstract.

In KwaZulu-Natal is die meeste bruin mense van Britse en Zoeloe-oorsprong, terwyl dié in Zimbabwe ’n mengsel van Shona- of Ndebele- en Britse of Afrikaner-voorouers het. Die Griekwas, daarenteen, stam van die Khoisan en Afrikaner-trekboere af.

Die Suid-Afrikaanse geskiedenis van rassesegregasie en etikettering het teweeggebring dat regerings alle mense van gemengde herkoms saam gekategoriseer het. Die Britse en die apartheidsregerings het hulle as Kleurlinge geklassifiseer. Daarby het ander etniese groepe hulle ook as 'n aparte groep beskou.

Herkoms en verspreiding Die bruin bevolking van Suid-Afrika het ontstaan as gevolg van kontak en assimilasie tussen die Khoi, slawe uit Wes-Afrika en Oos-Indië en wit mense. Die San het net ’n geringe rol in die totstandkoming van die bruin mense gespeel, terwyl Suid-Afrikaanse swart mense, veral trekarbeiders, sedert die begin van die 20ste eeu ’n vername element is. Die belangrikste gebied van oorsprong is die Wes- en Suid-Kaap, maar ’n klein groep het ook in Natal ontstaan. Weens die heterogene oorsprong van die bruin mense kan daar ’n aantal subgroepe onderskei word, van wie die Kaapse bruin mense, die Griekwas en die Kaapse Maleiers die belangrikste is. Laasgenoemde handhaaf ’n afsonderlike groepsidentiteit.

Geskiedenis Europeërs en die Khoi het vir die eerste keer teen die einde van die 15de eeu kontak gemaak ten tyde van die ontdekking van die seeroete om die Kaap na die Ooste. Hierdie eerste, sporadiese kontak is uitgebrei met die koms van Jan van Riebeeck en sy wit nedersetters.

Die Khoi was veeboere, en om sy verversingspos aan die gang te hou, moes Van Riebeeck met hulle handel dryf. Feitlik terselfdertyd is slawe van Wes-Afrikaanse en Oos-Indiese afkoms as werkers ingevoer. Die wit mense was aanvanklik daarop ingestel om vriendskaplike betrekkinge met die Khoi aan te knoop omdat die handel uitgebrei moes word. Die Khoi is soms in die Kasteel onthaal, en van die wit mense het met Khoi-meisies getrou. Biologiese assimilasies het ook tussen die wittes en slawe plaasgevind.

Die Khoi het betreklik min georganiseerde weerstand gebied toe die wit mense hul tuiste, Wes-Kaap, binnedring en baie van hulle het arbeiders by die wit mense geword. Epidemies, soos dié van die dodelike pokke, en droogtes het egter ook ’n belangrike rol gespeel in die vinnige agteruitgang van die Khoi se eeue oue kultuur en stamorganisasie.

Slegs ’n klein aantal het na die binneland gevlug, terwyl die meeste mettertyd in die ekonomiese struktuur van die Westerse samelewing opgeneem is. Die San was oorspronklik baie aggressiewer teenoor die wittes, maar ook onder hulle is dié wat nie na die binneland gevlug het nie, by die wit stelsel ingeskakel. Hulle was egter min in getal. Intussen het die getalle van die slawe aansienlik toegeneem en weens hul noue kontak met die wit mense het hulle verwestering vinnig geskied, wat deur trouery na die Khoi oorgedra is.

’n Verdere faktor wat ’n belangrike rol in die verwestering van bruin mense gespeel het, was sendingwerk. Veral onder die Britse heerskappy is sendingwerk op groot skaal aangepak sodat feitlik al die inheemse volke teen die einde van die 18de eeu onder die invloed van ’n Christelike godsdiens was. Teen die einde van die 19de eeu is ’n vyfde element tot die bruin gemeenskap toegevoeg in die vorm van swart trekarbeiders na Wes- en Suid-Kaapland. Later het assimilasie ook in beperkte mate tussen bruin en swart mense elders in Suid-Afrika plaasgevind.

Gemeenskapslewe

Taal en godsdiens Afrikaans is die huistaal van sowat 80% van die bruin mense, maar die meeste kan ook Engels praat. In die laaste tyd is daar ’n tendens onder veral die stedelike bruin mense om meer Engels te praat en talle lees ook eerder Engelse koerante en tydskrifte as Afrikaanse publikasies. Sowat 90% van die bruin mense is Christene en baie behoort tot die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk. Die res behoort hoofsaaklik tot die Anglikaanse, die Kongregasionalistiese, die Apostoliese, die Rooms-Katolieke en die Metodistekerk. Die Maleiers is feitlik almal Moslems, terwyl 'n baie klein groep bruin mense ook tot die Joodse en ander nie-Christelike kerke behoort.

Kulturele aspekte Bruin mense het ’n besondere aanvoeling vir musiek en ritme en is baie lief vir sang. Daar is talle sang- en koorverenigings asook orkeste in die bruin gemeenskap. Veral bekend is die Eoan-groep, wat al talle geslaagde opera- en balletuitvoerings in Kaapstad op die planke gebring en ook toere onderneem het. Die Kaapse Karnaval, wat jaarliks in Januarie in Kaapstad gehou word, en die Maleierkoor- en orkesuitvoerings vorm 'n belangrike deel van die stad se vakansieseisoen.

Die karnaval bestaan uit verskeie mededingende groepe wat vroeër jare op Nuwejaarsdag al singende en dansende deur Kaapstad se strate geparadeer het. Deesdae word die karnaval, waartydens die klopse hul toertjies en vrolike, helderkleurige kostuums vertoon, in 'n stadion aangebied. Die feestelikhede in die Kerstyd vind in 'n gewyde atmosfeer plaas, maar is nie minder aanskoulik nie. Dit bestaan hoofsaaklik uit kore en orkeste wat Kersliedere sing en speel. Bruin mense presteer ook op die gebied van die uitvoerende kunste en die letterkunde. Bekende bruin Afrikaanse digters is Adam Small, S.V. Petersen en P.J. Philander.

Onderwys Tot in 1841 het sendinggenootskappe al die skoolgeriewe vir bruin kinders verskaf. In daardie jaar het die staat vir die eerste keer 'n finansiële bydrae tot bruin onderwys begin lewer. Sedert 1980 is alle kinders tussen die ouderdomme van 7 en 16 jaar skoolpligtig, en in 1981 was daar meer as 760 000 leerlinge in primêre en sekondêre skole. Onder die apartheidsregering het die staat sowat 85 kleuterskole en 'n opleidingsentrum vir kleuterskoolonderwysers, verskeie skole vir dowes, blindes en andersins gestremde kinders, asook primêre en sekondêre onderwys vir volwassenes gehad.

Ekonomiese bedrywighede Aanvanklik was die bruin mense hoofsaaklik half- en ongeskoolde arbeiders wat as bouers, messelaars, timmermanne en verwers ’n belangrike bydrae tot die vroeë boubedryf aan die Kaap gelewer het. Baie was ook vissers en plaasarbeiders, en laasgenoemde het ’n belangrike aandeel in die ontwikkeling van die wyn-, vrugte- en graanplase in Wes-Kaapland gehad.

Die Maleiers was bedrewe meubelmakers, kleremakers en kuipers. 'n Ander belangrike arbeidsveld was die dienstesektor, terwyl baie bruin mense in administratiewe, klerklike en verkoopsposte werksaam was. Om die ekonomiese ontwikkeling van die bruin mense te stimuleer, is die Kleurling-ontwikkelingskorporasie in 1962 gestig. Die korporasie het kapitaal aan sakemanne verskaf, opleidingskursusse aangebied en die oprigting van winkelsentrums, fabrieke en dies meer onderneem.

Politieke ontwikkeling Ná die vrystelling van die slawe in 1836 het bruin mense dieselfde politieke regte as witmense gehad, en met Uniewording is al die bruin mense van die Kaapprovinsie saam met die wit mense op dieselfde kieserslys geplaas. Bruin mense kon nie tot die Parlement verkies word nie, maar wel tot die Provinsiale Raad. Ná 'n reeks hofsake en 'n grondwetlike krisis is wetgewing deurgevoer waarvolgens bruin mense op 'n afsonderlike kieserslys geplaas is en vier wit verteenwoordigers tot die Parlement kon verkies.

Die verteenwoordiging, asook verteenwoordiging in die Kaapse Provinsiale Raad, is in 1968 afgeskaf. 'n Verteenwoordigende Kleurlingraad (VKR) is in die lewe geroep wat uit 40 verkose en 20 benoemde lede bestaan het. Die eerste verkiesing in 1969 is deur die Arbeidersparty gewen. Die Regering het 20 verteenwoordigers van die Federale Party tot die VKR benoem en hoewel die Arbeidersparty by die stem bus gewen het, het hy die amptelike opposisie gevorm. Die volgende verkiesing in 1975 is weer deur die Arbeidersparty gewen.

Die regering het dié keer nog verteenwoordigers van die party tot die VKR benoem sodat die party 'n volstrekte meerderheid in die raad sou hê. Die Arbeidersparty het tot met die ontbinding van die VKR in 1980 ferm standpunt teen die regering ingeneem. Die VKR is ontbind enersyds omdat alle belangrike politieke groepe onder die bruin mense daarop aangedring het dat dit afgeskaf moet word en andersyds omdat die Presidentsraad in dieselfde jaar in die lewe geroep is om voorstelle te doen oor 'n nuwe grondwetlike bedeling vir wit mense, bruin mense, Indiërs en Chinese. Laasgenoemde raad het bestaan uit 60 benoemde lede, onder wie verskeie vooraanstaande bruin leiers. In 1973 is 'n kommissie van ondersoek na aangeleenthede rakende die bruin bevolking onder voorsitterskap van prof. Erika Theron deur die regering aangestel, maar min van die kommissie se aanbevelings is aanvaar.

Maleiers (herkoms en kultuur)

Geskiedenis