William, Prins van Wallis (volle naam: William Arthur Philip Louis; gebore 21 Junie 1982 in Paddington, Westminster), is die oudste seun van koning Charles III en wyle prinses Diana, wat in 1997 oorlede is. Hy is die regmatige erfgenaam van die Britse troon.
William is in Londen gebore en het skoolgegaan aan Wetherby, Ludgrove en Eton-kollege. Hy het 'n deel van sy brugjaar in Belize en Chili deurgebring voordat hy 'n meestersgraad in geografie aan die Universiteit van Sint Andrews behaal het. Hy het daarna opleiding aan die militêre akademie Sandhurst ontvang voordat hy in die Blues and Royals diens gedoen het. Hy het in April 2008 aan die lugmagkollege Cranwell gegradueer en vroeg in 2009 by die Britse lugmag se Soek-en-reddingsmag aangesluit. Van Julie 2015 af was hy twee jaar lank 'n voltydse vlieënier in die Oos-Agliese Lugambulans.
Die prins voer amptelike pligte namens die koning uit. Hy is beskermheer van meer as 30 welsyn- en militêre organisasies, met sy welsynwerk wat sentreer om geestesgesondheid, bewaring en noodwerkers. In Desember 2014 het hy die "United for Wildlife"-inisiatief gestig, wat daarop gemik is om onwettige wildhandel wêreldwyd te verminder. In April 2016 het die Cambridges en prins Harry die bewusmakingsveldtog "Heads Together" vir geestesgesondheid gestig om mense aan te spoor om oor hulle geestesgesondheidsprobleme te praat.
In 2011 is William die Hertog van Cambridge gemaak voor sy troue met Catherine Middleton. Hy het die Hertog van Cornwall en van Rothesay geword nadat sy pa, koning Charles III, die troon op 8 September 2022 bestyg het. Die volgende dag is hy die Prins van Wallis en Graaf van Chester gemaak, titels wat gebruik word deur die regmatige erfgenaam van 'n regerende monarg, en Catherine het die Prinses van Wallis geword. Die egpaar het drie kinders: prins George, prinses Charlotte en prins Louis.
Lewensloop duimnael|links|Op die balkon van Buckinghampaleis ná die bruilof Prins William het aan die skole Wetherby, Ludgrove en Eton-kollege skoolgegaan, daarna geografie aan die Skotse Universiteit van Sint Andrews gestudeer en sy militêre opleiding aan die militêre akademie Sandhurst voltooi.
Hy is op 29 April 2011 getroud met Kate Middleton (nou Catherine, Prinses van Wallis), wat hy in 2001 aan die Universiteit van Sint Andrews leer ken het. Hulle was sedert 2002 in 'n verhouding en het in Oktober 2010 verloof geraak. Sir Thomas Fairfax (c. 1475–1520), voorvader van die 17de-eeuse Engelse generaal sir Thomas Fairfax (1612–1671), is hul gemeenskaplike voorouer.
Met sy troue het William die Hertog van Cambridge geword en op 8 September 2022, toe sy pa koning word, het hy ook die Hertog van Cornwall geword. Die volgende dag, op 9 September 2022, het hy Prins van Wallis geword. Op 22 Julie 2013 is William en Catherine se eersteling, prins George (volle name: George Alexander Louis), gebore , op 2 Mei 2015 hul tweede kind, prinses Charlotte (Charlotte Elizabeth Diana), en op 23 April 2018 hul derde kind, prins Louis (Louis Arthur Charles). Dit is die eerste keer sedert 1894-1901, tydens die bewind van koningin Victoria, dat drie geslagte troonopvolgers gelyk lewend is.
Prins William is 'n lid van die Kerk van Engeland, soos gebruiklik deur die Britse koninklike familie. Hy het 'n jonger broer, prins Harry (gebore 1984). Deur hul moeder stam hulle af van die 17de-eeuse Engelse koning Karel II.
William het saam met sy vader, stiefmoeder en broer in Clarence House gewoon. Tussen 2010 en 2013, toe William 'n Britse lugmagreddingsvlieënier was, het hy en Catherine by Anglesey, 'n eiland in die noordweste van Wallis gewoon.
Aanspreekvorm 21 Junie 1982 - 29 April 2011: SKH Prins William van Wallis 29 April 2011 - 8 September 2022: SKH die Hertog van Cambridge in Skotland: SKH die Graaf van Strathearn 8 September 2022 - 9 September 2022: SKH die Hertog van Cornwall en Cambridge Sedert 9 September 2022: SKH die Prins van Wallis in Skotland: SKH die Hertog van Rothesay in Cornwall: SKH die hertog van Cornwall
Stamboom </center>
Verwysings
Bronne Engelse en Nederlandse Wikipedias.
Eksterne skakels
Amptelike webwerf
Kategorie:Huis van Windsor Kategorie:Geboortes in 1982 Kategorie:Lewende mense