200px Caspar David Friedrich
Duitse skilder en tekenaar
Kunsstroming Vroeë Romantiek
Beduidende werke 160px Der Mönch am Meer160pxDie Lebensstufen Caspar David Friedrich (* 5 September 1774 in Greifswald; † 7 Mei 1840 in Dresden) was een van die beduidendste skilders en tekenaars van die vroeë Romantiese skilderkuns waarop hy saam met Philipp Otto Runge beslissende invloed uitgeoefen het.
Friedrich het sy opleiding as kunstenaar aan die Kopenhaagse Akademie ontvang en was sedert 1798 in Dresden werksaam. Hier het hy met die skilder Philipp Otto Runge en leidende verteenwoordigers van die literêre Romantiek in aanraking gekom.
Baie van Friedrich se werke is natuur- en landskapstonele met 'n dikwels swaarmoedige inslag en metafisies-transendente karakter. Ten opsigte van hul strenge komposisie is sy werke sterk deur Klassisistiese landskapskilderye beïnvloed. Wording en vergaan staan sentraal in sy skilderkuns, waarby sy motiewe meestal simboliese gehalte het - jaargetye, natuurverskynsels, bouvalle en die mens, wat as eenling teenoor die oorweldigende natuur staan, word as allegorie van die menslike lewe uitgebeeld.
Friedrich se simboliek was rigtingwysend vir die 19de eeuse skilderkuns. Sy hoofwerke sluit Kreuz im Gebirge (Tetschener Altar, 1808), Der Mönch am Meer ("Die monnik by die see", 1810), Kreidefelsen auf Rügen ("Krytrotse op Rügen", omstreeks 1818), Das Eismeer (ook bekend as Die gescheiterte Hoffnung, 1824) en Die Lebensstufen (omstreeks 1834) in.
Lewe
Caspar is gebore in Greifswald, in wat toe nog Sweedse Pommere was. Hy was die seun van 'n meulenaar, Adolf Gottlieb Friedrich, en sy vrou Sofia Dorotea. Hy was die sesde van tien kinders en is streng volgens Lutherse waardes en sedes grootgemaak. Hy het die meeste van sy familie op 'n baie jong ouderdom verloor. In 1781 is sy moeder aan tifuskoors oorlede, en hy het ook twee susters en 'n broer verloor.
Friedrich het sy eerste tekenlesse in 1790 ontvang. Deur sy onderwyser het hy die teoloog Ludwig Kosegarten ontmoet en vertroud geraak met die werk van die skilder Adam Elsheimer, wat albei 'n diepgaande invloed op hom gehad het. Hy het ook letterkunde en estetika by Thomas Thorild gestudeer.
Van 1794 tot 1798 het hy aan die Akademie vir Beeldende Kunste in Kopenhagen gestudeer, waar hy deur Christian August Lorentzen en Jens Juel onderrig is. Kort na sy studies het hy na verskeie Duitse stede gereis om gravures, etse en houtsneewerk te skep. Na sy reis het hy hom permanent in Dresden gevestig.
Hy het veral bekend geword vir die allegoriese landskappe wat hy in sy middeljare geskilder het: hulle beeld tipies beskouende silhoeëtte uit, omring deur naghemel, oggendmis, blaarlose bome of Gotiese ruïnes. Sy hoofbelangstelling as kunstenaar was die oorpeinsing van die natuur. Friedrich het verbintenisse gesoek met 'n kring van Romantici, insluitend Ludwig Tieck, Novalis, Heinrich von Kleist en Philipp Otto Runge. In 1810 het hy in aanraking gekom met Goethe, en in 1821 met Vasily Zhukovsky.
Anders as die meeste kunstenaars van sy generasie, het hy nie 'n Italiaanse reis onderneem om sy kunsopleiding te voltooi nie, maar het inspirasie gevind in die landskappe van sy eie omgewing: Rügen, die Dresden-gebied (die "Saksiese Switserland ") en later in sy loopbaan die Reusegebergte en die Harz-bergreeks.
Na 1808 het Friedrich meer bekend geword deur die uitstalling van sy skildery "Kreuz im Gebirge" (Die Tetschener-altaar). Dit beeld 'n kruisbeeld op 'n eensame rots onder 'n dreigende, bewolkte lug uit. Die skildery het 'n kontroversie veroorsaak omdat dit nie die kruisiging van Jesus was nie, maar die asemrowende landskap wat die meeste aandag getrek het.
In 1810 het Friedrich en sy vriend Georg Friedrich Kersting 'n staptog deur die Reusegebergte onderneem, wat gelei het tot die produksie van nuwe skilderye." Monnik aan die See" en "Abdy in die Eikebos" is hoog op prys gestel deur die publiek by die Berlynse Akademie-uitstalling. Die Pruisiese Kroonprins het die skilderye gekoop, en Friedrich het 'n lid van die Berlynse Akademie geword.
Nadat Dresden in 1814 van die Franse bevry is, het Friedrich se politieke skilderye "Die Gryp van Arminius" en "Die Jagter in die Bos" die hoofattraksies van die Dresden Kunsuitstalling geword. Sy bekendste werk, "Die Ysmeer ", wat 'n skip uitbeeld wat deur drywende ys vergruis word, is in 1823/1824 geskep.
Friedrich is in 1824 as professor in landskapskilderkuns aan die Dresden Akademie aangestel. In 1825 het sy produktiwiteit afgeneem as gevolg van oorwerk. Die gevolglike vermindering in inkomste het tot bitterheid en bedanking gelei. Deur die bemiddeling van sy vriend en digter, Vasily Zhukovsky, kon Friedrich tussen 1835 en 1840 'n paar werke aan die Russiese Tsaristiese hof verkoop. In 1835 het hy 'n beroerte gehad waarvan hy slegs gedeeltelik herstel het, gevolg deur 'n tweede beroerte wat hom byna heeltemal verlam het. Hy is in 1840 in Dresden oorlede. Sy weduwee moes die Tsaar om finansiële ondersteuning vra, want Friedrich het feitlik niks gehad om agter te laat nie.
Verwysings
Kategorie:Duitse skilders Kategorie:Geboortes in 1774 Kategorie:Sterftes in 1840