Hendrik van Blerk (1915–2010), ook wel oom Hendrik genoem, was 'n Afrikaanse skrywer en digter. Sy eerste boek, Dit blom tussen bantoms, is in 1949 uitgegee. Hy het honderde romans, jeugverhale, kortverhale, asook feiteboeke oor die geskiedenis van die Afrikaner die lig laat sien. Hy het ook onder die skuilnaam Melt Froneman geskryf.Skrywer sterf op Kersdag, Die Volksblad, 28 Desember 2010.Afrikaner: https://ankoren.wordpress.com/2010/09/04/28-augustus-2010-hulde-aan-oom-hs-van-blerk/
Lewe en werk
Herkoms en vroeë lewe Hendrik Stephanus Hertzog van Blerk is op 27 November 1915 in Regentspark in Johannesburg gebore as die jongste van ’n gesin van drie en die enigste seun. Sy ouers is Francois Petrus van Blerk en Elizabeth Maria Maryna Magrietha Pretorius.Geni: https://www.geni.com/people/Hendrik-Van-Blerk/6000000034447512429 Sy ma sowel as sy skoonma is as jong meisies tydens die Anglo-Boereoorlog in die konsentrasiekampe in die Vrystaat. In hierdie oorlog verloor sy pa se familie hul plaas nadat dit afgebrand is en hulle dit nie daarna kon herwin nie. Hierdie ervarings gee aan Hendrik ’n rykdom van inligting wat later in sy boeke neerslag vind. Aanvanklik maak sy pa ’n lewe met graaf- en pikwerk by Hartebeespoortdam. Sy vader het egter ’n swerwersnatuur wat altyd na beter soek en derhalwe trek die gesin baie rond, onder andere ’n hele paar keer na die delwerye. Hendrik gaan vir die eerste keer op Heidelberg skool, waarna hy sy opleiding kry by ’n padmakerskooltjie in tente wat die padmakerskamp vergesel waar hulle ook al nuwe paaie moes bou. Nog later gaan hy skool op Springs, Welgedacht, Modderfontein, Rooikoppies en Brits. Nadat hy standerd twee deurgekom het, gaan hy saam met sy pa met ’n donkiewaentjie na Lichtenburg se diamantdelwery toe en gedurende die winter verhuis die gesin meer permanent hiernatoe. Hier voltooi hy standerd drie en die volgende jaar woon hulle as bywoners op ’n plaas op Mafikeng, waar hy saam met ’n paar ander kinders per donkiekar tien kilometer daarvandaan ’n skool op Rooigrond bywoon. Daarvandaan is hulle terug delwery toe en nadat hy standerd vyf voltooi het, trek hulle weer. Hy is eers weer in Augustus die volgende jaar skool toe, hierdie keer na ’n tweemanskooltjie op die plaas Rietpan in Wes-Transvaal, waar die gesin weer bywoners is. Eindelik behaal hy sy standerd ses-sertifikaat in 1931 op die dorpie Delareyville.
Finansiële probleem Toe die gesin na Johannesburg verhuis, staak Hendrik sy studie en delf vir ’n rukkie spoeldiamante in Lichtenburg. Hierna verhuur hy hom as sestienjarige seun aan ’n houtryer, wat hout op ’n donkiekar vanaf Marico vervoer. In 1932 beland hy self in die middel van die depressie in Johannesburg. Hier doen hy verskeie werke en is eers fabriekwerker, dan boodskapper en padmaker. Saam met sy ouers en twee susters kan hulle teen 1935 nog slegs ’n motorhuis sonder ’n plafon bekostig om in te woon. Later is hy rioolslootgrawer, werk in ’n meubelfabriek en tree dan vir ’n kort tydjie in diens van die Suid-Afrikaanse Spoorweë. Eindelik kom hy as mynwerker in die goudmyne tereg.
Politieke oortuigings Gedurende die Tweede Wêreldoorlog sluit hy hom aan by die Ossewabrandwag en is onder andere betrokke by die opblaas van ’n poskantoor in Benoni, waartydens ’n verbyganger deur die ontploffing gedood word. Op 9 Julie 1942 word hy dan weens ’n aanklag van kwaadwillige beskadiging van staatseiendom tot die dood veroordeel. Ná 28 dae in die dodesel word die vonnis versag na lewenslange gevangenisstraf, effektief twintig jaar. In die Sentrale Gevangenis in Pretoria begin hy ernstig skryf. Wanneer die Nasionale Party in 1948 aan die bewind kom, word hy op 12 Junie 1948 vrygelaat nadat hy ses jaar en 24 dae in de tronk deurgebring het. Hy tree dan in die huwelik met stafverpleegster Petronella Johanna (Nell) Snyman. Die egpaar het twee dogters (Petronella Johanna – Petra, wat self later dig en die digbundel Skerf publiseer, en Elizabeth Maryna) en twee seuns (Willem Sternberg en Hendrik Stephanus). Die gesin vestig hulle eers in Ermelo waar hy graangradeerder word, waarna hulle terugkeer na Johannesburg. Hier is hy eers ’n joernalis en word dan skoolbuskontrakteur. Hy het ’n ou skoolbus gekoop waarmee hy kinders na die skole toe aangery het en terwyl hulle in die klas is, sit hy in die bus en skryf.
Latere jare en sterfte In die laat dertigerjare koop hy ’n landbouhoewe naby Benoni, waar hy vanaf 1938 met onderbrekings woon en waar hy ook later aftree. Die jare wat hy in die tronk was, het die Ossewa-Brandwag in opdrag van kommandant-generaal Hans van Rensburg die volle uitstaande bedrag vir die hoewe afbetaal uit erkenning vir Hendrik se bydrae tot die versetstryd teen die Smuts-regering en dié se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog saam met Engeland teen Duitsland.KZN Heritage: http://kznheritage.org/hendrik-stephanus-hertzog-van-blerk/ Hendrik is sy hele lewe besonder aktief in die regse Boerepolitiek en bring onder andere die Majuba Boerevolktrust op die been. Hy is op 25 Desember 2010 oorlede.Anoniem. Afrikaanse skrywer sterf op Kersdag. Beeld, 28 Desember 2010.
Skryfwerk Hy begin sy skrywersloopbaan deur vanaf 1938 kortverhale vir tydskrifte te skryf, waarvan meer as driehonderd tydens sy leeftyd verskyn. Hierdie verhale verskyn ook onder die skuilname Jan Pretorius, Ronelle de Savoye en Melt Froneman. Klaarblyklik geïnspireer deur sy eie swaarkry en moeilike ervarings stel hy in sy werke die leser voor aan die ruwe wêreld van die diamantdelwer (Dit blom tussen bantoms), die houtryer (Los donkies) en die mynwerker (Daarom is die winddreun diep, Twee stuiwers vir ’n mossie en Die mynramp), terwyl hy ook oor die tronklewe skryf in Kas Plesie se hartseerdae. Uitstaande kenmerke van hierdie romans is sy vermoë tot karakteruitbeelding van ’n groep minder bevoorregte mense wat blootgestel is aan ’n noodlot wat hulle selde begryp en nooit beheer nie. Hy maak egter te veel gebruik van stereotipiese mense (skurke, misleide meisies, dweepsugtige sektes) en ’n veelvoud van uiterlike gebeure wat op die oog af eerder op die effek ingestel is as wat dit ’n werklike noodsaak in die gang van die verhaal verteenwoordig. Telkens slaag hy egter daarin om met sy goeie gebruik van humor en raak sêdinge die losstaande tonele op interessante wyse te beskryf.
Sy eerste boek is Dit blom tussen bantoms De Villiers, Meyer. Standpunte. No. 23, Maart 1952.wat in 1949 gepubliseer is en oor die delwersgemeenskap handel. Hierdie boek is in die tronk geskryf en dit is saam met ’n gevangene wat vrygelaat is, na die uitgewers uitgesmokkel. Tot sy groot verleentheid kom dit per pos na hom terug, maar die gevangenisowerheid sien sy oortreding oor die hoof. Die bantoms van die titel verwys na die onegte diamante (figuurlik die opdrifsels van die lewe) wat tussen die blomme of edele mense op die delwerye leef. ’n Groot verskeidenheid werklike mense van allerlei slag en soort word aan die leser voorgestel. Daar is die gelukkiges en die edele mense wat selfs in haglike omstandighede hoë morele beginsels handhaaf, maar ook die minder gegoedes en die uitsigloses wat hulle lot in die lewe gedwee aanvaar maar tog in hulle beperkte uitkyk en afgestompte lewensgevoel steeds interessante wesens bly. Sommige gedeeltes is verfrissend treffend en oorspronklik, maar die romangeheel is nie besonder heg gebind nie.Cilliers, Stoffel. Beeld, 26 Januarie 2009.
Los donkies (1950) beskryf die lewe van die houtryers in die Bosveld tydens die depressiejare, terwyl temas soos godsdiens, aanneem van kinders oor kleurgrense en diefstal ook belig word. Die verhaal beskryf enkele sukkelmaande in die lewens van ’n groepie houtryers wat in die Depressie met donkiewaens van die Barkly-Wes delwerye Bosveld toe ry, waar hulle hout koop om dit op die delwerye te gaan verkoop. Benewens die uiteenlopende karakters en hulle wedervarings loop drie liefdesintriges ook parallel in die roman. Daar is die leier Flip Hoets se broer, Jan Hoets, en Adali, maar Adali se ouers is nie blank nie en Jan word gedwing om tussen haar en sy ma te kies. Die wegloper-weeskind Mankjapie de Blaans is verlief op die veertienjarige Sannie Rotter, maar die weeshuis spoor hom op en hy moet teruggaan. Hy loop weer weg, maar by sy terugkoms om Sannie te kom haal kry hy ’n groot teleurstelling. Daar is ook haaslip-Stoffel, wat in die ewe onaansienlike Rebekka (Bekkie) sy maat ontmoet. Die lewensomstandighede van hierdie groep sukkelaars en hulle geestelike en materiële armoede is die deurlopende tema.
Romans met mynwerkerslewe as tema Verskeie romans het die mynwerkerslewe op die Rand as tema, insluitendeAntonissen, Rob. Standpunte. No. 26, Desember 1952. Daarom is die winddreun diep (1951). Reën van erbarming (1952) speel af in ’n minder gegoede buurt van Johannesburg, waar die mynwerkers en ander gewone mense bly. Die eerlike Roelie van Wyk en sy broer Henkie is albei op dieselfde meisie verlief, maar Henkie is nie soos sy broer nie en kan nie vertrou word nie. Daar is ook Kitty, wat ’n gawe man aan die dood afstaan, maar nie werklik daaroor begaan is nie omdat sy nog nooit haar hart vir slegs een man kon gee nie, die ruwe Blondie Pretorius en Ralie Grové met haar onbeantwoorde liefde.
Twee stuiwers vir ’n mossie (1959) speel af op die mynwerkersdorp Lover’s Walk. Hierdie mense word realisties uitgebeeld, met die baie karakters wie se lewens almal op mekaar s’n inwerk. Treffend is die natuurlike dialoog wat deur die karakters gebruik word en die wesenlike armoede en erbarmlikheid van hulle lewens, met die harde werklikheid wat telkens versag word deur die milde humorsin van die skrywer. Ook die karakterisering is oortuigend, met die karakters wat eg menslik voorgestel word in hulle sterk- en swakpunte.
Van Die mynramp (1964) is ’n Engelse rolprent, Pressure burst, gemaak en die boek word ook in Nederlands vertaal en vir die radio verwerk. Nege blankes en 97 swart mense word in die myn vasgekeer wanneer die tonnel agter hulle toeval en die vasgekeerdes bevind hulle sonder kos, water of vars lug. Onder hulle is die leier Kalman Stern, die diep godsdienstige Duimpie Blom, die bekende geleerde en humanis dr. James Brown, die moordenaar Dempsey Mans en Boet Weber wie se gewete hom mal maak. Hulle weet dat slegs ’n wonderwerk hulle kan red en hierdie wete laat vreemde dinge in hulle gemoedere plaasvind. Verskeie mense se verhale word hier ineengevleg om die atmosfeer in so ’n druksituasie te skets en ook in die mense se verlede en hulle lewens te delf.
Soos gras is sy daeAntonissen, Rob. Standpunte. Nuwe reeks 17 en 18, Mei-Desember 1957. (1954) speel af teen die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog. Dit is ’n dorpsroman waarin die godsdiens, politiek en die liefde ’n groot rol speel. Ds. Charl Coetzee word aangestel as die eerste predikant van Jakkalskraal, waar hy gou ’n spesiale plek in Hester de Beer se hart verwerf. Charl se keuse is egter die aantreklike Werda Scholten. Met die uitbreek van die oorlog loop gemoedere egter gou hoog, met vriende wat in vyande verander weens botsende politieke beskouings. Die dominee en sy vrou raak betrokke in die gedrang en nou leer Charl eers werklik vir Werda en Hester ken. Hy word dan voor ’n baie moeilike keuse gestel, om te kies tussen sy roeping of sy liefde.
Die tollenaar van Tiekiedraai (1956) beskryf die eng bestaan van kleinhoewe-bewoners.
Geboorteplaas (1959) is ’n plattelandse liefdesroman met die staking van die mynwerkers in 1922 as verdere agtergrond. Die hoofkarakter is Flip Staden, met sy liefde vir Geboorteplaas en vir die bure se dogter Emmie. Flip is egter arm en die plaas behoort nie aan hom nie, terwyl Emmie se ouers wil hê dat sy met die gladde Willem Mortel moet trou, sodat sy hulle eie armoede en swaarkry gespaar kan bly. Die siening van die karakters en die gebeurtenisse waarin hulle betrokke is, word op voortreflike wyse nie-sentimenteel en nugter uitgebeeld. Die taalgebruik is ook onopgesmuk en suiwer.