duimnael|260px|Ligging van Japan.
Die snelle opkoms van Japan in die moderne wêreld kan beskryf word as een van die merkwaardigste ontwikkelinge van die vorige eeu. Dit is merkwaardig in dié opsig dat 'n volk wie se bestaan tot ongeveer honderd en vyftig jaar gelede vir die wêreld van geen politieke of belang was nie, in dié tydbestek tot een van die toonaangewende wêreldmoondhede geword het. Tot in die 1940’s het die Westerse wêreld nie ten volle die betekenis van die veranderinge besef wat in die Verre-Ooste aan die gang was nie. Hierdie veranderinge was die gevolg van die kontak met die Weste en sy instemminge met die ou kultuur, instellinge en volke van die Ooste.
Japan en Japanners Die Japanse ryk bestaan uit drie groepe eilande wat soos bergtoppe uit die Stille Oseaan naby die ooskus van Asië verrys. Japan is in noue aanraking met Asië, want van Foesan in Korea na die hawe van Sjimoneseki is maar sowat honderd myl (160.93 kilometer). Die land sal dus net so besorg wees oor sy nasionale veiligheid ten opsigte van gebeurtenisse in Asië as wat Groot-Brittanje in die sake van België of Frankryk belangstel. Japan het 'n strawwe klimaat, want tifone kom dikwels gedurende die somer voor, en die winters is, veral in die noorde, baie straf. Buitendien is baie van die berge werksame vuurspuwende berge, en aardbewings is baie algemeen; tot sewentien aardskokke is soms op een dag ervaar. Hierdie strawwe toestande het daartoe bygedra om 'n baie gespierde volk voort te bring.
Politieke en maatskaplike toestande Gedurende die afgelope sewe-en-twintig eeue het daar net een vorstehuis in Japan geheers. Hierdie kontinuïteit word deur die Japanners self sterk benadruk. Daar is aanspraak op gemaak dat die erflike hoof van die staat, die Keiser, van goddelike afkoms was, en dat wát hy ook al gedoen het, noodwendig reg moes wees. Dit was deel van die Japanse tradisie en ritueel om hulle soewerein in hoë eer te hou. Op grond van hul geloof, het hulle geglo dat die welsyn van die volk vereenselwig was met dié van die keiser. Dit is 'n belangrike punt, want dit verklaar waarom die volk so geredelik die veranderinge aanvaar het wat in 1868 enkel deur 'n edik onderteken deur die keiser teweeggebring is.
Tot die tweede helfte van die neëntiende eeu was die hele Japan volgens 'n stelsel van die strengste feodalisme ingerig. Die keiser is as soewerein erken, maar alle werklike mag is uitgeoefen deur die hoof van 'n vername Japanse familie aan wie die titel Sjogoen toegeken is. So groot was die aansien van die Sjogoen, dat hy deur Europeërs wat Japan besoek het, as "U Majesteit" aangespreek is. Die verskillende provinsies is deur feodale leenhere (daimio’s) regeer. Onder hulle het troepe militêre volgelinge (samoerai) gedien. Onder hulle was weer die boere, wat die vernaamste belastingbetalers was, en die ambagslui. Die handelaars is beskou as laerklas, omdat die mening gehuldig is dat hulle niks geproduseer het nie. Nog laer was die werkende klasse, die "onmense" soos hulle genoem is.
Japan was dus soos 'n feodale gemeenskap georganiseer, en is regeer deur 'n vors met onbeperkte mag. In hierdie opsigte het hierdie Oosterse staat baie ooreenkoms met die Wes-Europa van die tydperk vóór die Franse Rewolusie vertoon.
Japan se afsondering van die wêreld Die eerste Europese handelaars wat in Japan geland het, was die Portugese, en wel teen die middel van die sestiende eeu. Hulle is gasvry ontvang, en is deur die Spanjaarde en die Nederlanders gevolg. Na die handelaars het die sendelinge gekom. Die Christene is geduld totdat die Japanse regering agterdogtig begin word het omtrent die bedoelinge van die Europeane. Daarna is die Christene vyftig jaar lank vervolg, totdat alle spore van die Christendom oënskynlik uitgewis was.
In 1637 het die Sjogoen 'n bevel uitgevaardig dat geen Europeër toegelaat sou word om in Japan te land nie, en dat geen Japannees die land sou mag verlaat nie. Daar het 'n tydperk van isolasie begin wat tot die middel van die neëntiende eeu geduur het. Die enigste kontak met die buitewêreld was deur middel van die Nederlanders wat, aangesien hulle Protestants en anti-Spaans was, beskou is as ook teen die Christendom, en toegelaat is om een beperkte handelstasie op 'n klein eilandjie in die hawe van Nagasaki aan te hou.
Dit was vir die Sjogoenaat egter nie moontlik om Westerse invloed heeltemal uit te sluit nie. Deur die Nederlanders by Nagasaki is die Westerse geleerdheid, die sogenaamde Nederlandse studies, in Japan ingevoer. Die kennis wat op dié wyse van die Westerse wetenskap, veral mediese kennis, verkry is, het 'n diepgaande uitwerking op die Japanse denkwyse gehad, en gaandeweg die begeerte aangewakker om verkeer met vreemde volke te hervat. Verligte Japanse denkers en skrywers het daarop gewys dat die mag en rykdom van die Westerse volke berus het op die snelle uitbreiding van buitelandse handel en skeepvaart en van die nywerhede.
Die beëindiging van Japan se isolasie Buitelandse faktore was die oorsaak dat die afsondering van Japan beëindig is. Omdat hy die suidwaartse gebiedsuitbreiding van Rusland en die toenemende belangstelling in die aanknoping van handelsbetrekkinge met China gevrees het, het die Sjogoenaat 'n heftige anti-buitelandse opstoking teen Europese nasies wat probeer het om Japan binne te kom, aangewakker. Dit was eintlik as gevolg van die druk wat deur die Verenigde State uitgeoefen is, dat die Japanse regering genoodsaak was om sy houding te verander. Vroeëre pogings om handelsverdrae met Japan te sluit het almal misluk. In 1853 het kommodoor Perry Edobaai (naby Tokio) met vier skepe binnegevaar en aan die keiser 'n brief van die Amerikaanse president oorhandig. Die versoeke daarin vervat was: Beter beskerming vir Amerikaanse seelui wat skipbreuk gely het (die bemannings van walvisvaarders wat in Japanse waters skipbreuk gely het, is voorheen wreed mishandel) Dat Amerikaanse skepe geregtig sou wees om in Japanse hawens brandstof in te neem, en Die oopstelling van een of meer hawens vir Amerikaanse handel.
Toe Perry 'n jaar later met 'n groter eskader oorlogskepe weer kom, vind hy dat die Japannese besluit het om die versoeke in te willig, en 'n verdrag van vrede en vriendskap is toe gesluit. Handelsverdrae is daarna ook met Groot-Brittanje, Rusland en die Nederlanders onderteken. Japan, sowel as China, was nou vir die Europese handel oopgestel.
Restourasie (1867) Die toestemming wat aan die Westerse moondhede verleen is om Japan binne te kom, was die oorsaak van 'n binnelandse politieke omwenteling. 'n Aantal van die magtige stamme in die suide het alreeds uitgesien na 'n geleentheid om die ondergang van die Sjogoen te bewerkstellig, want hulle het geglo dat die keiser in werklikheid die wettige soewerein was. In 1854 het hierdie vyande van die Sjogoen hul kans waargeneem, en die geroep ,,Weg met die barbare (uitlanders) en weg met die Sjogoen”, het deur die land weergalm. Twee van die suidelike leenhere het die Europeane openlik uitgetart, maar hulle is sonder veel omslag deur 'n bombardement van die moondhede tot onderwerping gedwing. Die gevoelens van die leenhere het nou so hoog geloop, dat daar besef is dat slegs 'n verenigde volk kon hoop om die nasionale veiligheid te bewaar.
Ten einde hierdie eenheid te bewerkstellig, het die Sjogoen wat in 1866 sy amp aanvaar het, in 1867 bedank, en so die jong keiser, Mutsohito (1867-1912) self die oppergesag oor die land aanvaar. Kort daarna het al die daimio’s hulle onderwerp, en dit is gevolg deur 'n maatskaplike en ekonomiese omwenteling wat 'n nuwe tydperk in die geskiedenis van Japan ingelui het. Die hervormings het almal van die keiser uitgegaan, en is dus sonder aarseling deur die volk aanvaar. Die keiser het vir sy bewind die benaming Meiji (verligte regering) gekies. Binne die tydsbestek van 'n kwart eeu was die verwestering van Japan reeds ver gevorder, en was hy ook reeds in staat om sy plek onder die groot moondhede van die wêreld in te neem.
Dikwels is al beweer dat die Japannese na-apers is, en slegs die denkbeelde van ander volke oorneem en by hul omstandighede aanpas. Hierdie kritiek moet egter met heelwat voorbehoud aanvaar word. Japan is in groot mate deur die Chinese kultuur en godsdiens asook die deur die Chinese regeringstelsel beïnvloed. Die Japannese was egter nie slaafse navolgers nie. Japan het 'n vreemde beskawing nagevolg, oorgeneem en aangepas om in sy eie behoeftes te voorsien, maar toe die proses voltooi is, was sy beskawing Japans en nie Chinees nie.
Die verwestering van Japan Politieke en maatskaplike veranderinge
(a) Afskaffing van die leenstelsel
Een van die treffendste kenmerke van die rekonstruksie van Japan was die snelheid waarmee 'n feodale gemeenskap in 'n industriële gemeenskap omgeskep is. Die eerste teken van 'n naderende verandering was toe die keiser van sy vorige afsondering afgesien het en persoonlik die diplomatieke verteenwoordigers van die buitelandse moondhede ontvang het, en hom daarna ook aan sy onderdane getoon het. Die beginsels waarop al die daaropeenvolgende hervormings gebaseer was, is uiteengesit in die ,,Oktrooi-Eed van Vyf Artikels” wat die keiser in van die nuwe denkbeelde wat deur die regering aanvaar is, was die oorplasing van die hof van die heilige verblyfplek in Kioto na Edo, wat tot Tokio (oostelike hoofstad) herdoop is. 'n Nuwe Raad en Staat is gevorm, met 'n kanselier en sewe staatsdepartement. In 1869 is feodalisme afgeskaf. Die voormalige landgoedere van die leenhere is omgeskep tot prefekture onder regeringsamptenare wat die plaaslike bestuur moet behartig, en 'n eenvormige reg- en muntstelsel is ingevoer. Op hierdie wyse is 'n maatskaplike omwenteling teweeggebring, en is die hele volk verenig.
(b) Reorganisasie van die Leër en die Vloot
Een van die eerste noodsaaklike maatreëls van die stigting van 'n sterk nasionale leër in die plek van die Samoerai-magte. Die staande leër en die polisiemag is gereorganiseer en gemoderniseer. Teen 1873 was diensplig reeds ingevoer, waarvolgens alle mans op die ouderdom van twintig jaar dienspligtig geword het, en op hierdie wyse is 'n nasionale leër tot stand gebring. Aanvanklik het die afrigting van die leër onder Franse leiding geskied, maar as gevolg van die sukses van Duitsland in die Frans-Pruisiese Oorlog is die Franse deur Duitse instrukteurs vervang.
Baie van die Samoerai het openlik teen hierdie militêre veranderinge in opstand gekom. Hulle was nie teen die keiser gekant nie, maar teen dié ministers wat, volgens hulle gemeen het, hom van verkeerde advies bedien het. In die daar opeenvolgende burgeroorlog (1877) het die nasionale leër getoon dat dit heeltemal in staat was om so 'n toestand die hoof te bied, en die rebelle is verslaan. Dit is egter betekenisvol dat die ou veggees van die samoerai in die leër behou is. Wat die vloot betref, het Japan na Brittanje omgesien as indertyd die vernaamste seemoondheid. Die grondslag van die magtigste Japanse vloot is in 1873 gelê. Hoewel stoom- en seilskepe reeds in gebruik geneem was, was dit noodsaaklik om moderne oorlogskepe te bekom. Hulle is van Brittanje aangekoop.