Die Koue Oorlog (Russies: холо́дная война́, cholodnaja woina, Engels: Cold War; 1947–1991) was ’n langdurige toestand van politieke konflik, militêre spanning en ekonomiese mededinging wat ná die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) hoofsaaklik tussen die Sowjetunie en sy satellietstate aan die een kant en die Westerse wêreld, veral die Verenigde State, aan die ander kant ontstaan het. Hoewel die twee belangrikste magte amptelik nooit regstreeks gebots het nie, het die konflik gelei tot militêre bondgenootskappe, die strategiese ontplooiing van wapens, uitgebreide hulp aan swakker lande, spioenasie, propaganda, ’n wapenwedloop, mededinging op internasionale sportgeleenthede en tegnologiese mededinging soos die ruimtewedloop.
Hoewel hulle in die Tweede Wêreldoorlog bondgenote teen die Spilmoondhede was, het die USSR en VSA verskil oor politieke filosofie en die samestelling van die wêreld ná die oorlog terwyl hulle die grootste deel van Europa beset het. Die Sowjetunie het die Oosblok geskep met die Oos-Europese lande wat hy beset het, sommige as sosialistiese Sowjetrepublieke geannekseer en ander satellietstate gemaak het. Van die laasgenoemde lande is later gekonsolideer as die Warskouverdragslande (1955–1991). As teenvoeter vir kommunisme het die VSA en sy bondgenote verenigings soos Navo gestig.
Die VSA het die Marshall-plan in werking gestel om Europa te help om vinniger te herstel ná die oorlog, maar die Sowjetunie wou die meeste Oosbloklande nie toelaat om deel te neem nie. Elders, soos in Latyns-Amerika en Suidoos-Asië, het die USSR kommunistiese rewolusies aangevuur en gesteun, en hy is deur verskeie Westerse lande en hul bondgenote teengestaan. Sommige lande het hulle by Navo en die Warskouverdrag geskaar, en ander het lid geword van die Beweging van Onverbonde Lande.
Tydens die Koue Oorlog was daar tydperke van relatiewe kalmte en ander van groot internasionale spanning, soos met die Berlynse Blokkade (1948–1949), Korea-oorlog (1950–1953), Berlynse Krisis van 1961, Viëtnamoorlog (1959–1975), Kubaanse missielkrisis (1962), Sowjetoorlog in Afghanistan (1979–1989) en Navo se Able Archer 83-oefeninge in November 1983. Albei kante het hulle tot détente gewend om politieke spanning te verlig en daarmee regstreekse militêre aanvalle te verhoed.
In die 1980's, onder Ronald Reagan, het die VSA diplomatieke, militêre en ekonomiese druk op die USSR verhoog in ’n tyd toe die land reeds ekonomiese stagnasie onder Leonid Brezjnef beleef het. In die laat 1980's het die Sowjet-president Michail Gorbatsjof die bevrydende hervormings perestroika ("herbouing, herstrukturering", 1987) en glasnost ("openheid", c. 1985) ingestel. Die Koue Oorlog het geëindig ná die verbrokkeling van die Sowjetunie in 1991, waarna die VSA die dominante militêre mag was en Rusland die grootste deel van die Sowjet-kernarsenaal besit het. Die Koue Oorlog en die gebeure in dié tyd het ’n groot impak op die moderne wêreld gehad.
Oorsprong van die term duimnael|links|300px|Pres. Ronald Reagan van Amerika (links) en pres. Michail Gorbatsjof van die Sowjetunie hou samesprekings in Genève, Switserland in 1985. Met die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die Engelse skrywer en joernalis George Orwell die term "Koue Oorlog" gebruik in die essay “You and the Atomic Bomb” wat op 19 Oktober 1945 in die Britse koerant Tribune verskyn het. Hy het ’n wêreld voorgestel wat in die skadu van ’n dreigende kernoorlog lewe en gewaarsku teen " ’n vrede wat geen vrede is nie", hy het dit ’n permanente "koue oorlog" genoem. Orwell het na die oorlog verwys as ’n ideologiese konfrontasie tussen die Sowjetunie en die Westerse magte. In The Observer van 10 Maart 1946 het Orwell verder geskryf "ná die Moskou-konferensie in Desember verlede jaar het Rusland ’n 'koue oorlog’ teen Brittanje en die Britse Ryk begin.”Orwell, George, The Observer, 10 Maart 1946
Die persoon wat die term blykbaar eerste gebruik het om die naoorlogse geopolitiese spanning tussen die Sowjetunie en sy satellietstate en die VSA en sy Wes-Europese bondgenote te beskryf, was Bernard Baruch, ’n Amerikaanse finansier en presidensiële raadgewer. Hy het op 16 April 1947 in Suid-Carolina ’n toespraak gelewer, geskryf deur die joernalis Herbert Bayard Swope, en gesê: “Laat ons nie onder ’n waan verkeer nie: ons is vandag midde-in ’n koue oorlog.”'Bernard Baruch coins the term "Cold War"', history.com, 16 April 1947. Besoek 2 Julie 2008. Die koerantverslaggewer en –rubriekskrywer Walter Lippmann het die term verder bekend gestel met sy boek Cold War (1947).
Agtergrond duimnael|250px|Amerikaanse troepe in Augustus 1918 in Wladiwostok tydens die Geallieerdes se inmenging in die Russiese Burgeroorlog Historici verskil oor presies wanneer die Koue Oorlog begin het. Die meeste meen dit was net ná die Tweede Wêreldoorlog, terwyl ander dink dat dit teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog begin het, hoewel spanning tussen die Russiese Keiserryk en ander Europese lande en die VSA reeds teen die middel van die 19de eeu begin het.
Wees die Russiese Rewolusie van 1917 (ná die land se onttrekking aan WOI) was Sowjet-Rusland geïsoleer in internasionale diplomasie. Die leier, Wladimir Lenin, het gesê die Sowjetunie het te doen met ’n "vyandelike kapitalistiese omsingeling", en hy het diplomasie beskou as ’n wapen om die Sowjetunie se vyande verdeel te hou. Hy het begin met die stigting van die Komintern, wat ’n beroep gedoen het vir rewolusionêre omwentelinge oorsee.
Sy opvolger, Josef Stalin, wat die Sowjetunie beskou het as ’n "sosialistiese eiland", het gesê die land moet toesien dat "die huidige kapitalistiese omsingeling vervang word deur ’n sosialistiese omsingeling." Reeds in 1925 het Stalin gesê hy beskou die internasionale politiek as ’n bipolêre wêreld waarin die Sowjetunie lande sou lok wat na sosialisme oorhel, en kapitalistiese lande sou state lok wat na kapitalisme oorhel, terwyl die wêreld in ’n tydperk van "tydelike stabilisasie van kapitalisme" was voordat hy eindelik sou ineenstort.
Verskeie gebeure het wantroue tussen die Westerse magte en die Sowjetunie aangeblaas: die Bolsjewiste se uitdaging van kapitalisme; die geldelike steun van die USSR in 1926 aan ’n Britse werkerstaking wat daartoe gelei het dat Brittanje betrekkinge met die USSR verbreek het; Stalin se stelling in 1927 dat vreedsame naasbestaan met "die kapitalistiese lande … besig is om te verdwyn"; bewerings van ’n sameswering vir ’n beplande staatsgreep onder leiding van Frankryk en Brittanje; die Groot Suiwering, wat bestaan het uit ’n reeks veldtogte van politieke onderdrukking en vervolging waarin meer as ’n halfmiljoen Sowjet-burgers tereggestel is;Communism: A History (Modern Library Chronicles) by Richard Pipes, pg 67 die Moskou-verhore, met onder meer bewerings van Britse, Franse, Japannese en Duitse spioenasie; die Weste se steun aan die Wit Leër tydens die Russiese Burgeroorlog; die VSA se weiering tot in 1933 om die Sowjetunie te erken; en die USSR se toetrede tot die Verdrag van Rapallo.
WOII en die tyd daarna (1939–1947) Molotof-Ribbentrop-verdrag (1939–1941) duimnael|Wjatsjeslaw Molotof onderteken die Molotof-Ribbentrop-verdrag in Moskou Die Sowjetunie se betrekkinge met die Weste het verder versleg toe die Sowjetunie en Duitsland ’n week voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, die Molotof-Ribbentrop-verdrag onderteken het wat ’n geheime ooreenkoms ingesluit het om Pole en Oos-Europa tussen die twee lande te verdeel.Day, Alan J.; East, Roger; Thomas, Richard. A Political and Economic Dictionary of Eastern Europe, bl. 405 ’n Week later, in September 1939, het die twee lande Pole en die res van Oos-Europa begin verdeel deur middel van invalle in die onderskeie lande wat volgens die verdrag aan elkeen toegeken is.Kennedy-Pipe, Caroline, Stalin's Cold War, New York : Manchester University Press, 1995,
Vir die volgende jaar en ’n half het hulle op ekonomiese gebied saamgewerk en belangrike oorlogsmateriaal uitgeruil, totdat Duitsland die verdrag verbreek het met Operasie Barbarossa, die inval in die Sowjetunie deur die gebiede wat die twee lande voorheen tussen hulle verdeel het.
Bondgenote teen die Spilmoondhede (1941–1945) Tydens sy samewerking met die Geallieerdes, wat in 1941 begin het ná die Duitse inval in die Sowjetunie, het die USSR vermoed dat die Britte en Amerikaners saamgesweer het en toegelaat het dat die USSR die spit afbyt in die gevegte teen Nazi-Duitsland voordat hulle tot die stryd toegetree het sodat hulle op die nippertjie tussenbeide kon tree en die vredesvoorwaardes bepaal.
In 1944 het dit gelyk of die USSR op sy beurt gewag het voor hy hulp verleen het aan die Poolse ondergrond se Warskou-opstand teen die Nazi's.Norman Davies, "Rising'44", Pan Macmillan, 2004 By minstens een geleentheid het ’n Sowjet-vlieënier ’n vliegtuig van die Britse Lugmag neergeskiet as hulp aan die Poolse rebelle.Neil Orpen, "Airlift to Warsaw", University of Oklahoma Press, 1984
Konferensies oor na-oorlogse Europa duimnael|links|Die "Groot Drie" op die Jalta-konferensie: Winston Churchill, Franklin D. Roosevelt en Josef Stalin Ná die oorlog het die Geallieerdes verskil oor hoe die Europese kaart daar moet uitsien en waar die grense moes wees. Daar was ook verskille oor die handhawing van naoorlogse sekuriteit. Die Westerse Geallieerdes wou ’n veiligheidsnetwerk hê waarin demokratiese regerings so wyd as moontlik verteenwoordig is en wat lande in staat sou stel om hul verskille vreedsaam op te los deur middel van internasionale organisasies.
Vanweë Rusland se ondervinding deur die geskiedenis van gereelde invalle, asook die groot menseverlies (geskat op 27 miljoen) en vernietiging tydens WOII,"Leaders mourn Soviet wartime dead", BBC News, 9 Mei 2005. Besoek op 2 Julie 2008. wou die USSR sekuriteit verhoog deur beheer te hê oor die interne sake van naburige lande.
By die Jalta-konferensie in Februarie 1945 kon die Geallieerdes nie ’n definitiewe ooreenkoms bereik oor die raamwerk vir die naoorlogse Europa nie. Ná die Gealieerde oorwinning in Europa in Mei het die Sowjetunie Oos-Europa in effek beset, terwyl die Westerse magte ’n sterk teenwoordigheid in Wes-Europa behou het.
Die Sowjetunie, die VSA, Brittanje en Frankryk het besettingsones en ’n los raamwerk vir magsbeheer deur dié vier lande in die besette Duitsland geskep. Die Geallieerdes het die Verenigde Nasies geskep vir die handhawing van wêreldvrede, maar die mag van sy Veiligheidsraad is lamgelê deur die reg van individuele lede om besluite te veto. Die VN het dus ’n onaktiewe forum geword vir die uitruil van polemiese retoriek, en die Sowjetunie het dit uitsluitlik beskou as ’n forum vir propaganda.
Begin van die Oosblok duimnael|Naoorlogse besettingsones in Duitsland, 1945 In die laaste fases van WOII het die Sowjetunie die fondament gelê vir die Oosblok deur verskeie lande wat in die Molotof-Ribbentrop-verdrag aan hom toegeken is, as Sowjet-republieke te annekseer. Dit het ingesluit Oos-Pole (wat ingesluit is in twee verskillende sosialistiese Sowjetrepublieke), Letland (wat die Lettiese Sosialistiese Sowjetrepubliek geword het),Senn, Alfred Erich, Lithuania 1940 : revolution from above, Amsterdam, New York, Rodopi, 2007 Estland (die Estiese Sosialistiese Sowjetrepubliek), Litaue (die Litause Sosialistiese Sowjetrepubliek), ’n deel van Oos-Finland (die Karelies-Finse Sosialistiese Sowjetrepubliek) en Oos-Roemenië (die Moldawiese Sosialistiese Sowjetrepubliek).
Potsdam-konferensie en die Japannese nederlaag duimnael|Churchill, Harry S. Truman en Stalin op die Potsdam-konferensie By die Potsdam-konferensie, wat laat in Julie begin het nadat Duitsland oorgegee het, het groot verskille ontstaan oor die toekomstige ontwikkeling van Duitsland en Oos-Europa.