duimnael|regs|300px|Die Britse Ryk in 1897.

Gedurende die negentiende eeu het verskeie bewegings die politieke samestelling van Brittanje en die state van Wes-Europa heeltemal verander. As gevolg van die ontwikkeling van selfbestuur het die gewone volk 'n rol in die regering van hul land begin speel. Magtige nasionale state is gevorm, namate mense wat deur dieselfde kulturele en politieke bande verbonde was, staatkundige eenheid verwerf het. Gedurende dieselfde tydperk was daar soortgelyke bewegings binne die Britse Ryk, veral in daardie dele waar talryke blanke gemeenskappe hulle gevestig het. Een van dié bewegings het op die ontwikkeling van volledige selfregering in die groter kolonies uitgeloop, waardeur hulle bevry is van inmenging in hul huishoudelike sake deur die Kroon. 'n Ander beweging het die federasie van uitgestrekte gebiede in enkele staatkundige eenhede wat as Vrygeweste erken is, tot gevolg gehad. Hierdie Vrygeweste het uiteindelik konstitusionele gelykheid met Brittanje verlang, en ontwikkel tot die status van soewereine volke wat tesame die Britse Gemenebes van Nasies vorm.

Die Omvang van die Britse Ryk omstreeks 1815 Britse Oppermag in Amerika en Indië Gedurende die agttiende eeu het Brittanje se oorsese besittings en handel uitgebrei. Tydens die handelsoorloë wat hy teen Frankryk, Nederland en Spanje gevoer het, het hy die oppermag op see verwerf en sy mededingers verslaan en sodoende die politieke beheer in Indië, Noord-Amerika en die Wes-Indiese Eilande in die hande gekry. Ondanks die feit dat Brittanje die Dertien Kolonies verloor het, toe hulle hul onafhanklikheid verwerf het (1783), was hy aan die einde van die eeu nog die belangrikste koloniale moondheid in Europa.

Die Verwerwing van Strategiese Basisse duimnael|regs|320px|Botany Bay, 'n waterverfskildery van 1788 deur Charles Gore. Dit was Brittanje veral te doen om sy oorsese ryk met sy waardevolle handel teen vyandelike aanvalle te beveilig. Hy het hierdie doel as gevolg van die Napoleontiese oorloë bereik. Verseker van sy onbetwiste oppermag op see ná die oorwinning by Trafalgar (1805), het Britse magte die meeste van die kolonies van Frankryk, Holland en Spanje vóór die neerlaag van Napoleon by Waterloo beset. Na die beëindiging van die Napoleontiese oorloë (1814) het Brittanje aanspraak gemaak op dié strategiese besittings wat hy tydens die vyandelikhede beset het, ten einde sy handelsroetes en kolonies in die Nuwe Wêreld en die Ooste te beveilig. Die Kaap en Ceylon moes deur Nederland, en Mauritius deur Frankryk aan hom afgestaan word ten einde sy seemag in die Suid-Atlantiese en Indiese Oseaan vir die beskerming van sy belange in Indië en Australië te konsolideer. Deurdat hy Malta behou het en sy invloed in die Ioniese Eilande erken is, het Brittanje sy posisie in die Middellandse See versterk. Deur die verkryging van die Spaanse Trinidad en die Franse St. Lucia en Tobago het hy sy vat op die Karibiese See in Amerika versterk. Intussen is Britse gesag vanuit die strafkolonie by Botanybaai (1788) oor die hele Australiese vasteland en die Nieu-Seelandse eilande uitgebrei. 'n Ander gevolg daarvan was die opbouing van Britse politieke belange in die Stille Oseaan vroeg in die neëntiende eeu.

Koloniale Uiteenlopendheid Die Britse kolonies het aanmerklik van mekaar verskil wat geografiese ligging, ekonomiese ontwikkeling en bevolking betref. Aangesien hierdie omstandighede bepaal het hoeveel vordering in die neëntiende eeu op die weg na selfregering gemaak sou word, is dit nodig om die kolonies in meer besonderhede te beskou.

Aardrykskundige Ligging (a) In die trope het Brittanje verskeie eilande en handelsposte besit. Die meeste hiervan was in die Wes-Indiese Eilande, wat nog altyd belangrik was weens hul produksie van suiker en tabakprodukte, waarvoor daar 'n groot afsetgebied in Europa was. Jamaika was die grootste eiland, en St. Lucia en Tobago is kort tevore aangeskaf omdat hulle goeie hawens waardevol kon wees vir die handhawing van die Britse see-oppermag in die Karibiese See. Deur die verkryging van Trinidad is Brittanje se vat op die handelsroetes na Suid-Amerika, waar hy gedurende die Napoleontiese oorloë uitgebreide handelsbelange verwerf het, versterk. Hierdie belange kon uitgebrei word, aangesien die kolonies besig was om 'n geslaagde onafhanklikheidsoorlog teen hul moederland te voer. Die Suid-Amerikaanse vasteland was nou beskikbaar as afsetgebied vir Britse goedere en vir handel. In Wes-Afrika was daar handelsposte by plekke soos Bathurst en Akkra, 'n oorblyfsel van die slawehandel met Amerika wat in 1807 beëindig is, en Sierra Leone, 'n kolonie wat vir vrygestelde slawe gestig is. Hierdie plekke kon as vlootbasisse dien ten einde die handelsroetes in die Suid-Atlantiese Oseaan na die Ooste te beskerm. Die Indiese skiereiland het reeds die ekonomiese middelpunt van die Tweede Britse Ryk, wat na die verlies van die Amerikaanse Kolonies opgebou is, geword. In hierdie land het die Britse Oos-Indiese Kompanjie Britse invloed vinnig gedurende die Napoleontiese oorloë en daarná uitgebrei deur die sluiting van verdrae met die inlandse vorste. Die Kaap, Ceylon en Mauritius is in 1815 behou ten einde die Britse handel en politieke mag in Indië te beskerm. Op die seeweg na die Ooste was die Kaap die poort na die Indiese Oseaan. (b) In die gematigde lugstreek was die volksplantingskolonies geleë, waarheen mense in groot getalle verhuis het om 'n nuwe tuiste te soek. Daar was ses van hierdie kolonies in Noord-Amerika – Ontario, Quebec, Nieu-Skotland, Nieu-Brunswyk, Prins Eduard-eiland en Newfoundland. Hulle was langs die Sint Lawrence-rivier geleë, en was bure van die jong groeiende republiek, die Verenigde State van Amerika. Na die verlies van die Amerikaanse kolonies het Brittanje nedersettings in Australasië gestig en sodoende politieke belange in die Stille Oseaan verkry. Die bandietenedersetting wat in 1788 by Botanybaai deur kaptein Phillip gestig was, het met die hulp van vrygestelde misdadigers en immigrante tot die kolonies Nieu-Suid-Wallis, Victoria, Tasmanië en Suid-Australië ontwikkel. Queensland en Wes-Australië is teen die middel van die neëntiende eeu bygevoeg. In die dertiger jare het immigrasie van dieselfde aard tot die kolonisasie van Nieu-Seeland gelei. Aan die suidelike punt van Afrika was die Kaapkolonie, wat beskou is as 'n volksplantingskolonie. Alhoewel dit 'n talryke slawebevolking gehad het en as 'n strategiese punt vir die veiligheid van die handel en belange in die Ooste gedien het, is dit in die gematigde lugstreek geleë en het dit 'n groot aantal blanke koloniste bevat, wat hierdie land hul vaste tuiste gemaak het.

Bevolking duimnael|regs|300px|Quebec in 1763. Die tropiese besittings het 'n veelrassige bevolking gehad. Die blanke koloniste het daar as 'n klein maar invloedryke minderheid gewoon. Te midde van 'n groot slawebevolking in die Wes-Indiese Eilande het die blanke planters die ekonomiese mag in die hande gehad. In Wes-Afrika het die blanke amptenare, handelaars en sendelinge met 'n talryke onontwikkelde bevolking in aanraking gekom. Die skiereiland Indië was bewoon deur 'n ontsaglike groot inheemse bevolking bestaande uit verskillende kulture wat verskillende tale gepraat het en aanhangers van verskeie godsdienste was. Daar was die blanke 'n beampte van die magtige Engelse Oos-Indiese Kompanjie en het hy die Kompanjie se ekonomiese belange probeer bevorder of sy administratiewe pligte as beampte in diens van die Kompanjie uitgevoer. Weens die strawwe klimaatstoestande van dié dele, het die blanke hom nie metterwoon as kolonis in die tropiese streke gevestig nie. Sy verblyf daar was slegs tydelik van aard, en hy het aan die end van sy dienstermyn na sy vaderland teruggegaan. Vir die blanke was die gematigde lugstreek daarenteen 'n gebied van blywende vestiging, want die klimaat was soortgelyk aan dié van sy tuisland. Beskou uit die oogpunt van blanke kolonisasie, was die kolonies geleë langs die Sint-Laurensrivier in 1815 die belangrikste Britse besittings in die gematigde lugstreek. Ontario is deur die “United Empire Loyalists” gekoloniseer. Hulle was die mense wat tydens die Amerikaanse opstand lojaal aan Brittanje gebly het en ná die beëindiging van vyandelikhede daarheen verhuis het. Quebec, 'n Franse kolonie, is in 1763 aan Brittanje afgestaan. In teenstelling met Ontario, waar die nedersetters Engelssprekende Protestante was, was die oorgrote meerderheid van sy bevolking Franssprekende Rooms-Katolieke. Alhoewel Quebec 'n Britse kolonie was, is die Franse toegelaat om hul taalregte, hul burgerlike regstelsel, hul feodale stelsel van grondbesit en hul Rooms-Katolieke godsdiens te behou. Ten tyde van sy anneksasie (1814) het die Kaapkolonie Brittanje voor 'n soortgelyke volkvraagstuk as dié in Quebec vyftig jaar tevore geplaas, want sy blanke bevolking was van vreemde herkoms en oorwegend Nederlandssprekend. Hier, net soos in Quebec, is die Hollandssprekendes toegelaat om hulle identiteit te behou, alhoewel hulle Britse onderdane geword het. Hollands het die landstaal gebly, die Romeins-Hollandse reg is as die regskode behou, en die Nederduits Gereformeerde Kerk is erken. In die Kaapkolonie is die konstitusionele ontwikkeling as gevolg van die aanwesigheid van 'n groot nie-blanke bevolking van wie 'n deel slawe was, egter vertraag. Die vestiging van 'n blanke bevolking van Britse herkoms in die Australiese kolonies het 'n homogene samelewing net soos dié wat in Ontario en Brittanje, die tuisland van die koloniste, woonagtig was, tot stand gebring. Die Britse Ryk het teen 1815 'n baie heterogene bevolking gehad. 'n Groot deel van die blanke bevolking was nie van Britse afkoms nie. Die nie-blanke volke het Asiate en Afrikane, sowel as baie slawe, ingesluit. Van laasgenoemdes was die meeste op die suikerplantasies in die Wes-Indiese Eilande gevestig.

Die Ewolusie van Koloniale Selfbestuur Gedurende die neëntiende eeu het verskeie Britse kolonies tot selfregerende kolonies ontwikkel. Ander het egter koloniale besittings gebly wat direk uit Londen deur die Ministerie van Kolonies bestuur is.

Kroonkolonie- of Beampteregering In baie gevalle het die Ryksregering 'n kolonie direk uit Londen bestuur deur middel van 'n benoemde goewerneur as sy verteenwoordiger. Dit is die eenvoudigste vorm van koloniale bestuur en word Kroonkolonieregering genoem. Die goewerneur was slegs aan die Sekretaris vir Kolonies in Londen vir sy optrede verantwoordelik. Hy het wette vir die kolonie gemaak by wyse van proklamasie en kon alle amptenare behalwe die hoogste onder hom uit hul betrekkings ontslaan. Onder hierdie regeringsvorm het die koloniste geen verteenwoordiging hoegenaamd in die regering gehad nie. Hierdie soort kroonkoloniebestuur het in besittings bestaan wat vir die vloot of die leër van strategiese waarde was, in watter geval die goewerneur gewoonlik 'n hoë vloot- of militêre offisier was. In kolonies met 'n multikulturele bevolking of waar die blanke bevolking klein in getal of onervare in selfregering was, is 'n burgerlike persoon as goewerneur aangestel. Die meeste tropiese kolonies sowel as 'n paar in die gematigde lugstreek, soos Quebec en die Kaapkolonie, het hierdie strenge vorm van kroonkolonieregering gehad.