duimnael|Die eerste trekker deur Wladimir Krichatski duimnael|Wanneer kommuniste droom deur Walter Womacka. Posseël wat ter geleentheid van die Xde Partyvergadering van die SED in 1981 deur die DDR-posdiens uitgereik is duimnael|Ouditorium van die Boezloedja-monument op die bergpiek Chadji Dimitar, Bulgarye. Met fondse, wat deur die Getty-stigting in Los Angeles beskikbaar gestel word, sal die monument teen verval bewaar word

Sosialistiese realisme (soms afgekort tot Sosrealisme) was 'n kunsbeweging en styl wat in 1932 deur die Sentrale Komitee van die Kommunistiese Party van die Sowjetunie as verpligtend vir die produksie van literatuur, beeldende kuns en musiek gestel is. Dit het later vir die hele sosialistiese stelsel van die Oosbloklande verpligtend geword.

Kunstenaars is opgeroep om die "werklikheid in sy rewolusionêre ontwikkeling... waaragtig en konkreet-histories uit te beeld". Gedurende Josef Stalin se bewind is literêre vormeksperimente en abstrakte kuns ten strengste afgekeur en kunstenaars verplig om die sosialistiese werklikheid volgens 'n partygebonde sienswyse uit te beeld. Hierdie werklikheid is in die kuns gevolglik geïdealiseer en mooier voorgestel as wat dit regtig was. Sodoende het kunstenaars – naas skrywers veral skilders en argitekte – in 'n toenemende mate staatspropaganda oorgedra. Hulle is ingespan om Stalin se leiersrol te bevestig en die mite van 'n nuwe "Goue Tydperk" te skep wat deur die "nuwe, sosialistiese mens" ingelui sou word. Kunstenaars sou dus werke skep wat hul eie tyd doelbewus verheerlik.www.sozialismus.net: Manipulation durch Kunst – Stalinistische Architektur der 30er und 40er Jahre

Sosialistiese realisme het die Sowjet-kunslewe as amptelike doktrine tot die ontbinding van die Sowjetunie in 1991 oorheers. Dit het kort ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog sy sterkste uitwerking op die kunste gehad. Eers ná Stalin se afsterwe in Maart 1953 is die staat se riglyne vir kunstenaars ietwat verslap en afwykings toegelaat, alhoewel openbare optredes en uitstallings van kunstenaars steeds gesensureer is. Sedert die 1980's het kunstenaars in Oosbloklande in nouer aanraking met die kunslewe van westerse lande gekom wat 'n regstreekse invloed op die Oos-Europese kunswêreld begin uitoefen het. Sodoende het Sosialistiese realisme as die heersende kunsstroming reeds voor die politieke omwenteling in die Oosblok vanaf 1989 gekwyn.

Sosialistiese realisme in die Sowjetliteratuur Agtergrond duimnael|Kasimir Malewitsj: Suprematism (Supremus No. 58), 1916, Kunsmuseum in Krasnodar duimnael|Ons sal die party se opdrag vervul! Sowjet-plakkaat van 1957 Die 1920's, die dekade ná die Russiese Oktoberrewolusie in 1917, was in die Sowjetunie gekenmerk deur 'n groot verskeidenheid van kreatiewe en eksperimentele kuns- en literatuurstrominge. Ná die bevryding van die tsaristiese sensuur was kunstenaars entoesiasties oor die nuwe tydgees en het in 'n groot aantal nuutgestigte kunsgroepe (Russies „групповщина“, foneties „groeppofsjtsjina”) en -verenigings soos LEF, LCK en Proletkult met innoverende konsepte na vore gekom om die arbeidersliteratuur te bevorder, soms op 'n aggressiewe manier.

Avantgardistiese strominge in die kultuur het aan die begin van die dertigerjare egter steeds minder aantrekkingskrag uitgeoefen en is ook op internasionale vlak geleidelik deur nuwe tendense soos klassisisme en ruralisme (soos die "bloed-en-bodem-literatuur" in fascistiese lande) vervang.Reinhard Lauer: Geschichte der russischen Literatur. Von 1700 bis zur Gegenwart. München: Beck 2000, bl. 695

Dit was onder meer Kasimir Malewitsj, die grondlegger van kunsstrominge soos konstruktivisme en suprematisme, wat ná die rewolusie van 1917 blykbaar tot 'n belangrike dryfkrag agter 'n nuwe kulturele stroming ontwikkel het wat – analoog met die ontwikkeling op politieke gebied – 'n volstrek nuwe pad sou aandurf. Hy het die kunsskool van Witebsk tot 'n sentrum van die suprematisme omgevorm en tot in die middel van die 1920's beduidende funksies in Sowjet-Russiese kunsliggame vervul. Danksy die steun, wat deur die volkskommissaris Anatoli Loenatsjarski aan die nuwe stroming verleen is, kon dit sonder regstreekse inmenging deur die owerheid ontwikkel. In hierdie vroeë fase is suprematisme soms ook as 'n stylmiddel in politieke propaganda gebruik.

Die "Staatsinstituut vir Kunskultuur" (GINChUk), waar Malewitsj die amp van direkteur beklee het, is in 1926 gesluit.Roger Behrens: Krise und Illusion. Berlyn-Hamburg-Münster: LIT Verlag 2003, bl. 157 Malewitsj het as balling na Wes-Europa gegaan en hom later by die realisme aangesluit.

'n Nuwe skrywersvereniging In sy dekreet "Oor die re-organisasie van literêre en kunstenaarsverenigings", wat op 23 April 1932 uitgereik is, het die Sentrale Komitee van die Kommunistiese Party die ontbinding van alle bestaande groeperings en organisasies besluit en die stigting van 'n (voorlopige) Al-Russiese skrywersvereniging (WSP) aangekondig. Veral groeperings wat hulle op radikale proletariese arbeidersdigkuns ("Proletkult") toegespits het soos RAPP, wat sedert 1918 in die lewe geroep is en op hul beurt tot die ontbinding van ander groeperings bygedra het, is deur hierdie besluit geraak.

Twee jaar later is met voorbereidings vir die eerste Al-Russiese kongres van Sowjet-skrywers in Augustus 1934 begin waarop die nuwe doktrine openlik gedebatteer en die Sowjet-skrywersvereniging gestig is. In sy statute is die Sosialistiese realisme as "verpligtende kunsmetode" vasgeskryf. Die besluit het soos volg gelees:

Die Sosialistiese realisme as hoofmetode van Sowjet-literatuur en literêre kritiek vereis dat die kunstenaar 'n waaragtige, histories presiese uitbeelding van die werklikheid in sy rewolusionêre ontwikkeling oplewer. Die waaragtige en historiese konkreetheid van uitbeelding in die kuns moet rekening hou met take soos die ideologiese omvorming en opvoeding van arbeiders in die gees van die sosialisme.

Altesaam 591 skrywers, wat 52 nasies verteenwoordig het, het die kongres bygewoon. Die sentrale figuur van die byeenkoms was Maksim Gorki, die eerste voorsitter van die Sowjet-skrywersvereniging. Sommige van die deelnemers het as gevolg van die debatvoering oor nuwe metodes groter vryhede en veelsydigheid ten opsigte van onderwerpe en vorme verwag. Nogtans het die eerste redevoering van Andrei Sjdanof as verteenwoordiger van die Sentrale Komitee van die KP reeds duidelik na die aanstaande ideologiese vasstelling van metodes in die kuns verwys. Kampanjes, waardeur in die volgende jare terme soos partydigheid, volksverbondenheid, gepastheid vir die massa's en verstaanbaarheid gepropageer is, het die literêre vorme geleidelik begin inperk. Humeur, ironie en satire, grotesk-absurde vorme en eksperimentele literatuur het – tenminste volgens die amptelike kunsbeleid – ondenkbaar geword.

Vorme duimnael|Wladimir Majakofski, omstreeks 1925 Die Sosialistiese realisme het in formele opsig die poging onderneem om Romantiek en Realisme met mekaar te verenig – vanuit die Russiese perspektief was hierdie kunsstrominge die twee literêre hoofbewegings van die 19de eeu. Die manier van uitbeelding sou hierby as literêre metode aan die Realisme ontleen word, terwyl die Romantiese stylperiode as voorbeeld vir die positiewe gees en emosies van 'n nuwe rewolusionêre Romantiek sou dien. Daar is ook verduidelik dat die Sosialistiese realisme sy wortels eerder in die Klassisisme as in die Romantiek sou hê.

In albei gevalle is nuwe inhoude, wat in ooreenstemming met die heersende beleid was, in ou literêre vorme gegiet – dikwels op 'n redelik triviale manier. Avantgardistiese digters, wat in hul poësie nuwe vorme van literêre uitdrukking ontwikkel het, of naturalistiese strominge het nie meer in hierdie konsep gepas nie. Slegs Wladimir Majakofski (1893–1930), wat in die 1920's nog deur die proletariese arbeidersdigters gekritiseer is, is vir sy werk deur Boecharin en Stalin in 1935 met die eretitel "klassieke Sowjet-digter" bekroon.

Genres en motiewe Kenmerkende literêre motiewe in hierdie periode is die helde wat by die bou van die nuwe Sowjet-samelewing uitblink – so is byvoorbeeld 'n kult rondom arbeid en werkers ontwikkel. Die industrialisering van 'n voorheen nog merendeels agrariese land het 'n groot inset van alle betrokkenes geverg, maar ook 'n nuwe soort helde – Sowjet-helde. Lugvaartpioniers, vlieëniers en skeepsbemannings was hierby sentrale akteurs.

Om die verdedigingsparaatheid teenoor die fascistiese buiteland te verhoog, is daar later ook 'n nou verbinding tussen skrywers en die Rooi Leër ontwikkel. Reeds in 1930 is die Rooi Leër se literêre organisasie (LOKAF) in die lewe geroep, met Maksim Gorki as een van sy bekendste lidmate. Ook op ander gebiede het skrywers presies gedefinieerde maatskaplike funksies begin vervul.

Die Sosialistiese realisme het sy eie kenmerkende literêre genres ontwikkel soos die roman-epos (Russies Роман-Эпопея, in vakkringe soms ook "roman-epopee" genoem) waarvoor klassieke heldedigte (soos Eugen Onegin) met die burgerlike roman-genre (met werke soos "Oorlog en vrede") versmelt is. In hierdie werke is beduidende historiese tydperke met die persoonlike lotgevalle van romanhelde verbind en met groot uitvoerigheid geteken. 'n Aantal bekende skrywers het beduidende bydraes tot die nuwe genre gelewer, waaronder Aleksei Tolstoi het met sy heldedig Хождение по мукам ("Die lydensweg") en Michail Sjolochof met Тихий Дон ("Die Stille Don"). duimnael|Wassili Wassilewitsj Koepzof: ANT 20 "Maksim Gorki", 1934 'n Ander beduidende literêre genre van die Sosialistiese realisme, die roman, was onderverdeel in drie subgenres:

Tot in die laat 1930's was die produksieroman die belangrikste van hierdie subgenres. Sy sentrale onderwerpe het onder meer landboukundige kolchosse, kollektivering en "ontkoelakisering", industriële opbou, ontginning van natuurlike hulpbronne, sabotasie en klassestryd ingesluit. Bekende skrywers van produksieromans was Michail Sjolochof, Fjodor Panfjorof en Leonid Leonof; later ook Wsewolod Kotsjetof. Die genre van opvoedingsromans het uit Stalin se grondstelling dat skrywers 'n bydrae tot die opvoeding van die volk moes lewer asook die vestiging van 'n volledig nuwe waardestelsel in die opvoedingstelsel onder Stalin se bewind. In opvoedingsromans is onderwerpe soos die ontwikkeling van die mens tot 'n "sosialistiese persoonlikheid", patriotisme en die getroue navolging van die partylyn behandel. Suksesvolle opvoedingsromans het Nikolai Ostrofski se Hoe die staal gehard is en Anton Makarenko se Opvoedkundige gedig ingesluit. Die historiese roman het in die 1930's 'n nuwe benadering tot geskiedenis gebied, sonder om die sienswyse van die historiese materialisme (Karl Marx) te laat vaar. Dit het nie meer soseer op die historiese klassestryd gefokus soos dit in die 1920's nog die geval was nie, maar eerder begin om belangrike gebeurtenisse van die "nasionale verlede" te verduidelik en te ontleed. Historiese romans werke is nogtans steeds met betrekking tot die moderne Sowjet-tydperk geskryf – geskiedkundige gebeurtenisse is òf as negatiewe voorbeelde aan die leser gestel òf indirek as parallele tot die heersende magstelsel gekonstrueer. Merkwaardige voorbeelde van die genre is die werke van Aleksei Tolstoi, Aleksei Nowikof-Priboi en Sergei Sergejef-Tsjenski.

Bevordering en politieke suiwerings Die kulturele ommeswaai het gepaard gegaan met strenge sensuur, vervolging en politieke "suiwerings" van skrywers wat die heersende ideologie nie wou navolg nie. Hulle is as "skadelike indiwidue" („вредители“) of "volksvyande" („враги народа“) bestempel en het ongekende vervolging ervaar. Na aanleiding van dokumente, wat in die Loebjanka se argiewe ontdek is, word daar beraam dat altesaam sowat 2 000 skrywers in hegtenis geneem is, waarvan 1 500 òf in kampe oorlede òf tereggestel is.