Rooiplein (Russies: Красная площадь, Krásnaja plósjtsjad) is 'n plein in Moskou. Met die historiese geboue al om die plein is dit die bekendste plein in die stad en een van die bekendstes ter wêreld. Dit skei die Kremlin, die eertydse keiserlike vesting en tans die amptelike woning van die president van Rusland, van die historiese handelsbuurt bekend as Kitai-gorod. Verder bevat dit die beroemde Sint Basilius-katedraal, die Lenin-mausoleum, die GUM-afdelingswinkel, die Moskouse Historiese Staatsmuseum en vele ander historiese geboue.
Omdat van Moskou se grootste strate van hier in alle rigtings uitwaaier en later snelweë word, word Rooiplein dikwels beskou as die hart van Moskou en die hele Rusland. Die plein en die Kremlin is sedert 1990 saam 'n Unesco-wêrelderfenisgebied.
Oorsprong en naam duimnael|links|Die Rooiplein, soos gesien vanuit die Sint Basilius-katedraal duimnael|Kaart van Rooiplein (1917), met die Moskouse Historiese Staatsmuseum links bo (noordwes) en die Sint Basilius-katedraal regs onder (suidoos).
Die plein was aanvanklik die hoofmark in Moskou. Dit is ook gebruik vir seremonies en afkondigings en sommige tsaars is daar gekroon. Van die begin af is die plein ook deur Russiese regerings gebruik vir amptelike seremonies en dit het geleidelike bebou geraak.
Die naam Rooiplein is nie afgelei van die kleur van die plaveisel of die kleur wat met kommunisme verbind word nie. Dit kom van die Russiese woord красная (krasnaja), wat vandag net "rooi" beteken maar in die dae toe die plein sy naam gekry het, ook "mooi" beteken het. Die woord "mooi" is aanvanklik vir die Sint Basilius-katedraal op die plein gebruik, maar later ook vir die plein self. Die Russiese naam beteken dus eintlik "Mooi Plein".
Die plein is aanvanklik Weliki Torg (Groot Mark) of net Torg (Mark) genoem, daarna Troitskaja na 'n klein Drie-eenheid-kerk wat daar gestaan het. Dit is eers in 1661-'62 Mooi Plein / Rooiplein genoem.
Verskeie antieke Russiese stede se hoofplein word ook "Krasnaja Posjtsjad" genoem na aanleiding van Moskou s'n.
Geskiedenis Voor die 18de eeu duimnael|300px|Palmsondagoptog. duimnael|links|200px|Boekstalletjies op die Spasski-brug (Apollinari Wasnetsof). duimnael|links|200px|Rooiplein in die 17de eeu (Apollinari Wasnetsof).
Die oostekant van die Kremlin-driehoek, wat aan Rooiplein lê, tussen die riviere Moskwa en die nou ondergrondse Neglinnaja, is beskou as die kwesbaarste kant van die Kremlin in 'n aanval omdat dit nie soos die ander kante deur riviere of enige ander natuurlike hindernisse beskerm is nie. Dié deel van die Kremlinmuur was dus die hoogste, en verder het die Italiaanse argitekte wat die versterkings gebou het, Iwan die Verskriklike oorreed om die gebied langs die muur oop te laat om dit makliker te maak om op vyande te skiet. In 1493 en 1495 is dekrete afgekondig waarin die sloping van alle geboue binne 230 meter van die muur gelas is.
In 1508–1516 het die Italiaanse argitek Aloisio die Nuwe 'n grag voor die Oostelike muur gebou wat die Moskwa- en die Neglinnaja-rivier verbind. Die Alewizof-grag was 541 meter lank, 36 meter wyd en 9,5–13 meter diep. Dit is met kalksteen uitgevoer en in 1533 is steenmure van 4 meter dik weerskante daarvan gebou. Daar was drie poorte aan dié kant van die muur, waarvan die Spasski die hoofpoort was wat deur die tsaars gebruik is. Van hier het eers 'n hout- en daarna 'n steenbrug oor die grag geloop. Boeke is op die brug verkoop.
Rooiplein het later 'n handelsentrum geword. Iwan die Grote het gelas dat handel net tussen individue kon plaasvind, maar mettertyd is dié reël verbreek en is permanente markgeboue opgerig. Ná 'n brand in 1547 het Iwan die Verskriklike die houtwinkels in rye gereorganiseer. Die strate Iljinka en Warwarka is opgedeel in die boonste rye (nou die GUM-afdelingswinkel), middelrye en onderste rye.
'n Paar jaar later is die Katedraal van die Voorbidding van Gods Moeder aan die Grag (Собор Покрова что на Рву) of kortliks die Pokrof-katedraal (Покровский Собор), algemeen bekend as die Sint Basilius-katedraal, aan die grag gebou. Dit was die eerste gebou wat aan die plein sy huidige silhoeët gegee het (die Kremlintorings het toe nog nie tentdakke gehad nie). In 1595 is die houtwinkels met steengeboue vervang en 'n steenplatform (bekend as Lobnoje Mesto) is gebou van waar die tsaar se edikte afgekondig is.
Rooiplein is as 'n heilige plek beskou en verskeie feestelike optogte is hier gehou. Op Palmsondag het die patriarg op 'n donkie van die Sint Basilius-katedraal na die Kremlin gery, vergesel van die tsaar en die volk.
Tydens die uitdrywing van die Pole in 1612 uit Moskou het prins Dmitri Pozjarski die Kremlin vanuit die plein binnegegaan. Daarna het hy die Kazan-katedraal laat bou.
In 1624–1625 het die Spasskaja-toring 'n tentdak gekry. In die laat 17de eeu is alle houtgeboue op die plein gesloop en het al die Kremlintorings, behalwe die Nikolskaja-toring, tentdakke gekry.
Die 18de eeu In 1702 is die eerste openbare teater in Rusland naby die Nikolski-poort gebou. Dit is in 1737 in 'n brand verwoes.
Tydens haar bewind het Katharina die Grote verbeterings op die plein laat aanbring en in 1786 het die argitek Matweef Kazakof 'n nuwe Lobnoje Mesto van steen gebou, effens wes van die vorige een.
Die 19de en 20ste eeu duimnael|150px|Die Gedenkteken vir Minin en Pozjarski. In 1804 is die plein op versoek van die handelaars geplavei. In 1806 is die Nikolskaja-toring herbou en het dit ook 'n tentdak gekry. Die volgende verbeteringsfase van die plein het begin ná die inval van Napoleon en die brand in 1812. Die grag is in 1813 toegegooi en bome is daar geplant. Aan die oostekant is nuwe geboue in die keiserlike styl gebou. In 1818 is die Gedenkteken vir Minin en Pozjarski opgerig. Dit is ter ere van Koezma Minin en prins Dmitri Pozjarski, wat in 1612 'n leër op die been gebring het om die Pole uit die Kremlin te verdryf en so 'n einde te bring aan die Russiese Tyd van Beroeringe.
In 1874 is die Moskouse Historiese Staatsmuseum aan die noordwestekant van die plein gebou. Van die winkels is gesloop en nuwe geboue van 1888 tot 1893 opgerig. Die boonste rye (vandag GUM) was in werklikheid die eerste afdelingswinkel in Rusland. In dié tyd (in 1892) is elektriese lanterns ook aangebring.
Die 20ste en 21ste eeu 'n Paar maande ná die Russiese Rewolusie in 1917 het Moskou weer die hoofstad van Rusland geword en ná 1922 die hoofstad van die nuut gestigte Sowjetunie. Die plein het sy belangrikheid herwin en die fokuspunt van die nuwe staat geword. Dit het veral bekend geword vir die militêre parades en ander propaganda-geleenthede wat daar gehou is.
Die eerste daarvan het reeds op 7 November 1918 plaasgevind op die eerste viering van die rewolusie toe onder andere 'n strooipop wat die tsaar voorstel, daar verbrand is.
Die Kazan-katedraal en ander historiese geboue is gesloop om plek te maak vir die groot militêre voertuie wat deur die plein moes beweeg. (Hulle is ná die verbrokkeling van die Sowjetunie herbou.) Daar was selfs planne om die beroemde Sint Basilius-katedraal te sloop, maar Stalin het dit ná groot teenstand afgekeur.
duimnael|links|'n Militêre parade op Rooiplein. Twee van die grootste parades was dié in 1941 toe Josef Stalin die mag van die Sowjetunie wou demonstreer te midde van die aanslag deur die Nazi's, en die Oorwinningsparade van 1945 toe baniere van verslane Nazi-leërs aan die voet van die Lenin-mausoleum gegooi is. Die Sowjetunie het talle parades hier gehou op Meidag en vir die viering van Oorwinningsdag en die Russiese Rewolusie.
Ook demonstrasies is soms op die plein gehou, soos met die inval van soldate van die Sowjetunie en ander Oosblok-lande in Tsjeggo-Slowakye wat die einde van die sogenaamde Praagse Lente ingelui het. 'n Groep van agt andersdenkendes het op 25 Augustus 1968 op die plein protes teen die inval aangeteken. Hulle is binne minute deur die polisie en KGB-veiligheidswagte in hegtenis geneem. Ses van hulle is later verhoor en het verskeie strawwe gekry – van tronkstraf tot verbanning.
Op 28 Mei 1987 het 'n jong Duitse amateurvlieënier, Mathias Rust, met 'n Cessna 172 naby Rooiplein geland. Hy het later gesê hy wou 'n "denkbeeldige brug" bou tussen die twee kante van die Koue Oorlog. Die feit dat hy deur 'n verdedigingstelsel gedring het wat as "ondeurdringbaar" beskou is, het 'n groot impak op die Sowjet-verdedigingsmagte gehad. Verskeie senior offisiere, onder andere die minister van verdediging, is afgedank. Rust is tot vier jaar tronkstraf gevonnis, waarvan hy minder as 'n jaar uitgedien het voor hy as 'n welwillendheidsgebaar vrygelaat is.
In 1990 was die Kremlin en Rooiplein van die eerste plekke in die Sowjetunie wat op Unesco se lys van wêrelderfenisgebiede geplaas is.
In onlangse jare is groot konserte op Rooiplein gehou, onder andere deur The Prodigy, t.A.T.u., Shakira, Scorpions, Paul McCartney, Roger Waters en Red Hot Chili Peppers. Laasgenoemde se konsert, op 14 Augustus 1999, is deur sowat 200 000 mense bygewoon. Paul McCartney se optrede, op 24 Mei 2003, was 'n historiese oomblik vir baie, aangesien The Beatles en hul musiek in die Sowjetunie verban was. Dit was die eerste optrede deur 'n Beatle in Rusland. Sedert 2006 word 'n ysskaatsbaan elke winter voor die ingang van die GUM gebou.
In Mei 2008 het Rusland weer 'n Oorwinningsdagparade op Rooiplein gehou. Dit was die eerste keer sedert die verbrokkeling van die Sowjetunie in 1991 dat Russiese militêre voertuie oor die plein gery het.
Bakens aan Rooiplein
Rooiplein is sowat 330 meter lank en 70 meter breed. Die geboue om die plein is almal op die een of ander manier belangrik. Die enigste standbeeld op die plein is die Gedenkteken vir Minin en Pozjarski voor die Sint Basilius-katedraal ter ere van die twee mans wat 'n einde help bring het aan die Tyd van Beroeringe. Daarnaby is die Lobnoje Mesto. Albei het vroeër nader aan die middel van die plein gestaan, maar is geskuif om plek te maak vir militêre voertuie tydens Sowjet-parades.
Die Moskouse Historiese Staatsmuseum duimnael|180px|Die Moskouse Historiese Staatsmuseum. Aan die noordwestekant van die plein staan die opvallende donkerrooi gebou van die Historiese Staatsmuseum (Государственный Исторический музей, Gosoedarstwenni Istoritsjeski Moezei). Dit is in 1875–1883 gebou en is dus een van die nuutste geboue aan die plein. Die eerste apteek in Moskou het van die begin van die 18de eeu op dié plek gestaan. Dit is in 1755 ombou en was twee dekades lank die eerste kampus van die destyds nuut geboude Moskouse Staatsuniversiteit.
Die museumgebou is spesiaal gebou vir die Historiese Museum, wat in 1872 gestig is, en in Mei 1883 ingewy. Die argitek was Wladimir Sherwood, wat dikwels gebruik gemaak het van die tradisionele Russiese styl. Die gebou het 'n ou Russiese voorkoms gehad: Die fassade herinner aan dié van tradisionele Russies-Ortodokse kerke, met torings wat pas by die Kremlintorings. Die vorm van die dak herinner aan dié van die Terem-paleis in die Kremlin, 'n styl wat in die 16de en 17de eeu gebruik is vir herehuise.
Vandag is die Historiese Museum die grootste en bekendste geskiedenismuseum in Rusland. Dit bevat sowat 4,5 miljoen items uit die Russiese geskiedenis en hou jaarliks spesiale temagebonde uitstallings.
Opstandingspoort en Iberiese Kapel duimnael|180px|Die Opstandingspoort. Die Opstandingspoort (Воскресенские ворота, Woskresenskije worota, ook bekend as Иверские ворота, Iwerskije worota of die Iberiese Poort) is een van die twee ingange na die Kremlin vanuit die noordwestelike rigting.
Sedert 1669 het die houtkapel wat voor die poort gestaan het (en weg van Rooiplein gewys het) 'n replika gehuisves van die Ikoon van die Poortwagter, waarmee wonderwerke glo verrig is. Die oorspronklike ikoon word in die Georgiese Iweron-klooster op Berg Atos gehou, vandaar die naam Iwerski of Iberiese vir beide die kapel en die poort. In 1781 is 'n nuwe steenkapel in die plek van die houtkerk gebou.