Kanker (Latyn: neoplasma malignum) is 'n versameling van siektes waar selle onbeheersde groei toon.

Kanker is die versamelnaam vir 'n groot aantal siektes wat gekenmerk word deur onbeheerde mitotiese seldeling. Die siektes gaan in byna alle gevalle gepaard met die vorming van gewasse.

Die verskillende tipes kanker word ingedeel volgens die weefselsoort of die orgaan waarin dit sy oorsprong het. Die ongehinderde groei van die selle van 'n kankergewas lei daartoe dat die gewas deur die normale anatomiese grense breek en daardeur normale weefsel verdruk en so na ander dele van die liggaam versprei.

Daar bestaan oortuigende bewyse dat kanker ontstaan deur veranderinge in die erflike materiaal (die DNS) van normale liggaamselle. Sulke veranderinge kan eerstens plaasvind vanweë spontane mutasies of mutasies wat veroorsaak word deur faktore soos straling of kontak met sekere chemiese stowwe (karsinogene stowwe). Tweedens kan dit plaasvind deur infeksie met sekere virusse wat oor die vermoë beskik om van hul eie erflike materiaal by dié van die sel in te las en daardeur 'n transformasie in die sel te bewerkstellig.

Die basiese prosesse waardeur die transformasie van 'n gewone sel na 'n kankersel plaasvind, bly egter nog steeds grotendeels onbekend. Volgens die immunologiese benadering ten opsigte van die ontstaan van kanker kry nuut gevormde kankerselle die geleentheid om te groei en in 'n gewas te ontwikkel wanneer die immunologiese verdedigingsmeganisme van die liggaam in gebreke bly om die getransformeerde kankerselle as vreemd te herken en te elimineer.

Hierdie benadering kan uiteindelik lei tot nuwe behandelingsmetodes wat op die stimulering van die liggaam se beskermingsmeganisme gegrond is. Tans is die beste behandeling vir kanker gewoonlik die vroegtydige en algehele verwydering van die gewas deur chirurgie. Die voorkoming van kanker (deur op te hou rook of deur die vermyding van kontak met enige kankerverwekkende stowwe) en die opsporing van die siekte (onder meer deur massale bevolkingsondersoeke) is van die grootste belang.

Algemeen Kanker is die versamelnaam vir 'n reeks siektes wat met onbeheerde sellulêre groei geassosieer word. Gewoonlik word die siekte gekenmerk deur kwaadaardige gewasse, waarvan daar meer as 100 in die menslike liggaam kan voorkom. Die selle in hierdie kankergewasse deel ongehinderd, sodat die gewasse deur die normale anatomiese grense breek en die liggaamsweefsel vernietig.

Die gevaarlikste eienskap van kwaadaardige gewasse is hul neiging om te metastaseer, dit wil sê om deur die hele liggaam te versprei. Hierdie metastase (uitsaaiing) ontstaan deurdat die gewas in die limfvate, bloedvate of liggaamsholtes soos die buikholte ingroei.

Verspreiding deur middel van die limfvate is die algemeenste manier van kankerverspreiding. In beginsel kan metastase oral in die liggaam plaasvind, maar dit kom veral in die longe, lewer, brein en die been van die liggaam voor. Kanker kan in alle liggaamsweefsel ontstaan. Die kanker word gewoonlik geklassifiseer op grond van die orgaan waarin dit voorkom (byvoorbeeld longkanker) of volgens die weefsel waarin dit ontstaan het.

'n Gewas wat in die dekweefsel (vel en slymvliese) ontstaan, word 'n karsinoom genoem. 'n Karsinoom kan net in die plaveiselepiteelselle ontstaan (plaveiselkarsinoom of skubselkarsinoom), of dit kan ontstaan in die klierepiteel wat oral in die dekweefsel voorkom (adenokarsinoom). ln baie gevalle kom gemengde tipes voor. Kanker wat in die selle van die bindweefsel ontstaan, word 'n sarkoom genoem. Na gelang van die soort bindweefsel wat by gewasvorming betrokke is, word onderskei tussen fibrokarsinome ('n karsinoom met buitengewoon baie veselagtige bindweefsel), liposarkome (vetweefsel) en osteosarkome (beenweefsel).

Die feit dat 'n kwaadaardige gewas van die slukderm byvoorbeeld 'n plaveiselkarsinoom (slymvlies), 'n adenokarsinoom (klierweefsel) of 'n sarkoom (bindweefsel) kan wees, dui daarop dat baie moontlikhede bestaan. Laastens is daar ook 'n groep kwaadaardige neoplasmas van die limfstelsel (Iimfome) en van die bloed en bloedvormende organe (Ieukemie). Sekere tipes leukemie word nie deur 'n gewas veroorsaak nie, maar word gekenmerk deur die onbeheerde groei van leukosiete. Kanker kom meestal op 'n ouer leeftyd voor. Daar is egter 'n aantal vorme van kanker wat by uitstek kinders aantas. Dit is veral die geval met leukemie. Daarbenewens is daar gewasse wat in die kinderjare ontstaan uit jong, ongedifferensieerde weefsels (blastome).

In die Westerse lande, waar aansteeklike siektes onder beheer gebring is, is kanker saam met hart-en bloedvatsiektes die vernaamste oorsaak van dood. Die simptome van kanker kan baie uiteenlopend en verraderlik wees omdat dit maklik as die simptome van die een of ander onbelangrike kwaal beskou kan word. In die eerste plek bestaan die moontlikheid dat die gewas direk gevoel of gesien kan word. In so 'n geval moet die aard van die swelsel onmiddellik deur 'n geneesheer vasgestel word omdat daar 'n baie beter kans op herstel is as 'n kwaadaardige gewas vroegtydig behandel word. Kanker begin egter in die meeste gevalle met simptome wat nie baie spesifiek is nie, soos moegheid, pyn of bloedarmoede.

Verder kan 'n longgewas byvoorbeeld aanleiding gee tot langdurige hoesbuie, 'n dermgewas tot veranderinge in die ontlasting en 'n gewas van die blaas of niere tot bloederige urine. Die aanwesigheid van 'n gewas kan gewoonlik deur middel van 'n algemene liggaamsondersoek, bloedtoetse, 'n X-straalondersoek, sonar en gerekenariseerde tomografie (aftasting van die hele liggaam) vasgestel word. Vinnig delende kankerselle sal meer van 'n bepaalde toegediende radioaktiewe verbinding opneem as normale selle. Die metode (sintigrafie) kan gebruik word om te bepaal of 'n kwaadaardige gewas wel in die liggaam bestaan. 'n Definitiewe diagnose kan verkry word deur 'n deel van die verdagte weefsel te verwyder en vir patologiese ondersoek en diagnose voor te lê.

Ontstaan Reeds jare lank word die oorsprong van kanker intensief bestudeer en baie belangrike bevindings is gemaak. Tog bly die mens se werklike begrip van die ontstaansproses van die siekte nog baie gebrekkig Die gebruik wat verskeie lande vandag het om kankergevalle op groot skaal te registreer, is van groot belang vir kankernavorsing. Hieruit is baie gegewens oor die gedrag en verloop van kanker verkry. Die verspreiding van die siekte het byvoorbeeld duidelike geografiese verskille.

In Japan kom baie meer maagkanker voor as elders in die wêreld en die ou Transkei het die hoogste voorkomssyfer vir slukdermkanker. By Joodse vroue kom baarmoederkanker min voor en dit kan toegeskryf word aan bepaalde reëls oor seksuele gedrag onder ortodokse Jode.

Navorsing het verder bewys dat vroue met baie kinders 'n groter kans het om kanker van die serviks (nek van die uterus) op te doen as diegene sonder enige kinders, terwyl laasgenoemde groep 'n groter risiko loop om kanker van die baarmoederliggaam (corpus uteri) op te doen. Borskanker kom minder voor onder vroue wat hul babas self borsvoed as onder vroue wat nie hul babas aan die bors gevoed het nie, moontlik weens hormooninvloede.

Kankerverwekkende stowwe 'n Baie belangrike ontdekking was dat kontak met sekere stowwe aanleiding kan gee tot die ontstaan van kanker. Die bekendste voorbeeld hiervan is die verband tussen rook en longkanker. Navorsing het bewys dat honderde ander chemiese stowwe potensiële kankerverwekkers (met ander woorde karsinogenies) is.

By die mens is dit egter nog net in enkele gevalle bewys, en die bewyse berus boonop op omstandigheidsgetuienis, So is daar aanduidings dat benseen ('n petrochemiese produk) leukemie kan veroorsaak. Asbes kan kanker van die pleura (membraan wat die longe omsluit) en die peritoneum (membraan wat die ingewandsholte uitvoer) veroorsaak nadat die persoon vir 'n paar jaar aan die stof blootgestel was. Sekere koolwaterstofverbindings in die uitlaatgasse van voertuie is in groot mate karsinogenies.

Mense wat vir lang tydperke aan gasagtige vinielchloried blootgestel word, kry makliker 'n sekere soort lewergewas (angiosarkoom). Vinielchloried word by plastiekvervaardiging gebruik, aromatiese amiene, wat in die verlede in sintetiese kleurstowwe gebruik is, kan moontlik blaaskanker veroorsaak. Soms kom die skadelike stowwe die liggaam saam met voedsel binne. Sommige insektedoders en sintetiese versoeters (siklomaat) het in proefdiere kanker veroorsaak.

Die fungus Aspergillus flavus, wat op bepaalde plante, byvoorbeeld grondboontjies, groei, skei 'n stof (aflatoksien) af wat by diere lewerkanker veroorsaak. In sekere gebiede van Afrika waar 'n groot deel van die voedsel met fungi besmet is, is lewerkanker by die mense 'n algemene verskynsel. Navorsers vermoed ook dat slukderm- en maagkanker, wat baie in die Verre Ooste voorkom, verband hou met die voeding. Dit is verder duidelik dat die toename in nywerheidsontwikkeling en veral lugbesoedeling 'n bedreiging vir 'n steeds toenemende aantal mense sal word.

Virusse Omvattende ondersoeke is gedoen om die rol van bakterieë en virusse in kanker te bepaal. Daar is geen aanduiding dat bakterieë 'n rol in die ontwikkeling van kanker speel nie. 'n Groot aantal virusse kan egter by hoër diersoorte kanker veroorsaak. Daar is aanduidings dat dit by die mens met sommige virusse ook die geval kan wees.

Eksperimenteel is die betrokkenheid van virusse by kanker egter baie moeilik bewysbaar omdat die afwesigheid van viruspartikels in 'n gewas geen bewys is dat daar nie aanvanklik 'n virus betrokke was nie. Bewyse is ook moeilik te verkry omdat gevaarlike eksperimente soos die toediening van sulke moontlik kankerverwekkende virusse by die mens nie gedoen kan word nie. Sekere tipes herpesvirusse is verdag omdat hulle in pasiënte met baarmoederkanker aangetref is.

'n Ander herpesvirus, die Epstein-Barr-virus, is ontdek in pasiënte wat Burkitt se limfoom onder lede het. Burkitt se limfoom is 'n vorm van limfklierkanker wat slegs in 'n bepaalde gebied van Afrika voorkom. Groot hoeveelhede teenliggame teen die Epstein-Barr-virus is nie net in pasiënte met Burkitt se limfoom gevind nie, maar ook by pasiënte met 'n bepaalde gewas van die farinks (keelholte), 'n siektetoestand wat in Afrika en die Verre Ooste aangetref word.

Virusse met RNS as erflikheidsmateriaal (onkornavirus; onko=gewas) is klaarblyklik by leukemie van belang. Virusse wat uit die weefsel van borskanker by die mens geïsoleer is, toon sterk ooreenkomste met virusse wat borskanker by muise, rotte en ape veroorsaak, In hierdie geval is daar ook aanduidings dat 'n onkornavirus betrokke is,

Veranderinge in erflikheidsmateriaal Daar bestaan vandag oortuigende bewyse dat kanker ontstaan deur veranderings in die erflikheidsmateriaal (deoksiribonukleïensuur - DNS) van die sel. Deur hierdie verandering (transformasie) verloor die sel sy vermoë om sy eie groei te beheer. Daar bestaan twee teorieë oor hoe die veranderinge in die erflikheidsmateriaal bewerkstellig word. Die eerste hipotese is dat dit deur middel van mutasies in die DNS van die sel plaasvind. Sulke mutasies kan spontaan plaasvind of kan deur kontak met mutagene chemiese stowwe veroorsaak word.

Baie van die bekendste kankerverwekkende stowwe is algemene mutagene, dit wil sê hulle veroorsaak DNS-mutasies. Mutasies kan ook deur ultraviolet- en ander ioniserende bestraling veroorsaak word. Daar was byvoorbeeld 'n hoë voorkoms van skildklierkanker en leukemie onder die oorlewendes van die atoombomaanvalle op Hirosjima en Nagasaki. Mense wat röntgenbestraling vir 'n vergrote skildklier ontvang het ('n behandeling wat sedertdien gestaak is) het baie jare later skildklierkanker ontwikkel.