Anna Politkofskaja (Russies: А́нна Политко́вская; 1958–2006) was ’n Russiese joernalis, skrywer en menseregte-aktivis wat bekend was vir haar teenkanting teen die Tsjetsjniese konflik en die eertydse president Wladimir Poetin.World Politics Review LLC, "Politkovskaya's Death, Other Killings, Raise Questions About Russian Democracy" , 31 Oktober 2006 Op 7 Oktober 2006 is sy doodgeskiet in die hyser van haar woonstelblok, ’n onopgeloste sluipmoord wat steeds internasionale belangstelling wek.The State of the World's Human Rights, Amnestie Internasionaal 2009, verslag van Jan.-Des. 2008, p. 272
Politkofskaja het bekend geword danksy haar beriggewing oor Tsjetsjnië."Anna Politkovskaya, crusading Russian journalist", doodsberig (David Hearst), 9 Oktober, Guardian Haar konstante stroom artikels ná 1999 oor toestande in Tsjetsjnië het later verskeie boeke geword wat meestal oorsee gepubliseer is. Russiese lesers het haar egter leer ken deur haar ondersoeke wat in die Russiese koerant Nowaja Gazeta gepubliseer is. Sedert 2000 het sy verskeie gesaghebbende internasionale toekennings vir haar werk ontvang.
In 2004 het sy ’n persoonlike siening van die Rusland onder Poetin gepubliseer met die naam Putin's Russia.Ná haar dood in Rusland gepubliseer op die webtuiste van Nowaja Gazeta «Новая газета» Путинская Россия
Politkofskaja het ’n Amerikaanse paspoort gekry, maar nooit haar Russiese burgerskap prysgegee nie.
Vroeë lewe Politkofskaja is in 1958 in New York Stad gebore as Anna Mazepa. Haar ouers was Oekraïens en was albei diplomate wat by die Verenigde Nasies gewerk het. Anna het in Moskou grootgeword en haar graad in joernalistiek in 1980 aan die Moskouse Staatsuniversiteit behaal. Sy is daar met medestudent Aleksander Politkofski getroud. Hulle het twee kinders gehad, Wera en Ilja.
Aleksander was aanvanklik beter bekend as sy. Hy was ’n mede-aanbieder van Wzgljad, ’n laataand-TV-program.
Joernalistiek Politkofskaja het van 1982 tot 1993 vir die koerant Izwjestija gewerk, en van 1994 tot 1999 as assistent-hoofredakteur van Obsjtsjaja Gazeta onder Jegor Jakowlef, waar sy dikwels oor maatskaplike probleme, veral die lot van vlugtelinge, geskryf het. Van Junie 1999 tot in 2006 het sy rubrieke geskryf vir die tweeweeklikse Nowaja Gazeta, ’n koerant met sterk ondersoekende beriggewing wat van die begin af teen die nuwe regering ná 1991 was. Sy het verskeie toekennings ontvang vir boeke oor Tsjetsjnië, die lewe in Rusland en president Poetin se bewind, onder andere Putin's Russia.
Berigte oor Tsjetsjnië Haar berigte oor Tsjetsjnië was hoog aangeskryf en sy het verskeie toekennings vir haar werk gekry.Naming ceremony for the “Anna Politkovskaya” Press Conference Room, ’n aankondiging deur die Europese Parlement Sy het elk van hierdie toekenningsgeleenthede aangegryp om groter besorgdheid en verantwoordelikheid aan te moedig by Westerse regerings, wat Poetin se bydrae tot die "oorlog teen terrorisme" ná 9/11 verwelkom het. Sy het graag gesê sy is "nie ’n ondersoekende magistraat nie, maar iemand wat die lewe van die burgers beskryf aan diegene wat dit nie self kan sien nie, want wat op televisie gesien en in die meeste koerante gelees word, is verwater en deurtrek van ideologie". Sy het met amptenare, die polisie en militêre leiers gepraat en dikwels hospitale en vlugtelingkampe besoek – in Tsjetsjnië asook in die naburige Ingoesjetië – om onderhoude te voer met mense wat beseer of deur die konflik ontwortel is.
In verskeie artikels teen die oorlog in Tsjetsjnië en die nuwe pro-Kremlin-regering daar, het Politkofskaja berig oor beweerde vergrype deur die Russiese militêre magte, Tsjetsjniese rebelle en die Russies-gesteunde regering onder Achmad Kadirof en sy seun Ramzan Kadirof. Sy het ook geskryf oor skendings van menseregte en die mislukking van beleidrigtings elders in die Noord-Kaukasus. In ’n kenmerkende geval het sy nie net geskryf oor die lot van ’n etnies gemenge ouetehuis wat in 1999 in Grozni met bomme bestook is nie, maar ook met die hulp van haar koerant en openbare steun gesorg dat die bejaardes na veiligheid gebring word.
Haar artikels, waarvan baie saamgevat is in A Dirty War (2001) en A Small Corner of Hell (2003), beeld ’n konflik uit wat beide Tsjetsjniese vegters en Russiese dienspligtiges in monsters verander het en ’n hel geskep het vir die mense wat tussen hulle beland het. Volgens haar het die orde wat kamtig onder die Kadirofs herstel is, net die marteling, ontvoerings en moorde verdoesel, óf deur die Tsjetsjniese owerheid óf deur die verskeie federale magte in Tsjetsjnië. Een van haar laaste ondersoeke was na die beweerde massavergiftiging van Tsjetsjniese skoolkinders met ’n sterk en onbekende chemiese stof wat hulle vir maande siek gemaak het."What made Chechen schoolchildren ill?" – Die Jamestown-stigting, 30 Maart 2006.
Kritiek teen Poetin en die FSB Nadat Politkofskaja in die Weste bekend geword het, is sy gevra om Putin's Russia (later met die subtitel Life in a Failing Democracy) te skryf, ’n wyer verslag oor haar mening en ondervinding nadat die voormalige KGB-luitenant-kolonel Wladimir Poetin eerste minister geword het onder president Boris Jeltsin en hom in 2000 opgevolg het. Dit het natuurlik Poetin se voortsetting van die Tsjetsjniese Oorlog ingesluit. In die boek beskuldig sy die Russiese geheime diens, die FSB (die opvolger van die Sowjetunie se KGB), daarvan dat hulle alle burgerlike vryhede onderdruk sodat hulle ’n Sowjet-styl diktatorskap tot stand kan bring, maar erken: "Dit is ons wat verantwoordelik is vir Poetin se beleidrigtings . . . die gemeenskap het grenslose onbelangstelling getoon . . . terwyl die Tsjekiste hulle in die mag ingegrawe het; ons het hulle toegelaat om ons vrees te sien, en daardeur hul drang versterk om ons soos beeste te behandel. Die KGB respekteer net die sterkes. Dit verslind die swakkes. Ons van alle mense behoort dit te weet." Sy het ook geskryf: <blockquote>"Ons word weens ons eie onkunde teruggegooi in ’n bodemlose Sowjet-put, in ’n inligtingsvakuum wat die dood beteken. Al wat ons oorhet, is die internet, waar inligting steeds vrylik beskikbaar is. As jy egter wil voortgaan om as ’n joernalis te werk, is dit met algehele onderworpenheid aan Poetin. Anders kan dit die dood beteken, ’n koeël, gif of ’n verhoor – wat ook al ons spesiale dienste, Poetin se waghonde, goeddink."Poisoned by Putin", Guardian Unlimited, 9 September 2004</blockquote>
Ook begin sy 'n essay met die titel Is Ek Bang?, met: "Mense vertel dikwels vir my ek is ’n pessimis, dat ek nie in die krag van die Russiese volk glo nie, dat ek obsessief is in my teenkanting teen Poetin en niks anders raaksien nie,"
en sluit dit af met die woorde: "As enigiemand dink hulle kan troos vind in die 'optimistiese' beskouing, laat hulle dit doen. Dit is beslis die maklike manier, maar dit is die doodsvonnis van ons kleinkinders."Obituaries: Anna Politkovskaya , The Times, 9 Oktober 2006"Russia's Secret Heroes", an excerpt from A Small Corner of Hell: Dispatches from Chechnya."Disquiet On The Chechen Front", TIMEeurope Heroes 2003
’n Russiese dagboek In Mei 2007, ná haar dood, het die uitgewer Random House haar A Russian Diary gepubliseer. Dit bevat uittreksels uit haar aantekeningboek en ander geskrifte. Dit het die subtitel A Journalist's Final Account of Life, Corruption, and Death in Putin's Russia en gee ’n verslag van die periode van Desember 2003 tot Augustus 2005, oor onder andere wat sy beskryf as "die dood van die Russiese parlementêre demokrasie", die skoolgyselaardrama in Beslan en die "winter en somer van ontevredenheid" van Januarie tot Augustus 2005.pp 187-98, A Russian Diary, 2007. In ’n nota skryf die vertaler: omdat sy vermoor is voor die vertaling klaar was, "moes die finale redigering voortgaan sonder haar hulp".p xi, A Russian Diary, 2007.
Gyselaardramas Politkofskaja was nou betrokke by die poging om oor die vrylating van gyselaars te onderhandel in die gyselaardrama in 2002 in ’n teater in Moskou. Met die Beslan-skoolgyselaardrama in September 2004 in die Noord-Kaukasus, het sy daarheen gevlieg om as bemiddelaar op te tree, maar is in Rostof-aan-die-Don van die vliegtuig gehaal toe sy uiters siek geword het (sien Vergiftiging).Anna Politkovskaya, I tried and failed, The Guardian, 30 Oktober 2002
Verhouding met die Russiese owerhede In Moskou is Politkofskaja nie na nuuskonferensies of -byeenkomste genooi wat deur Kremlin-amptenare bygewoon is nie, uit vrees dat die organiseerders daarvan verdink sou word dat hulle haar goedgesind is. Talle top-amptenare het egter glo met haar gepraat wanneer sy met ondersoeke vir haar artikels besig was. Volgens een van haar artikels het hulle met haar gepraat, "maar net as daar nie gevaar was dat hulle gesien sou word nie: buite in skares, of in huise waarheen hulle met ’n ompad gereis het, soos spioene". Sy het ook beweer dat die regering haar toegang tot inligting probeer blokkeer het en haar naam sleggemaak het.
Doodsdreigemente Ná die moord op Politkofskaja het ’n kollega by Nowaja Gazeta, Wjatsjeslaf Izmailof (voorheen ’n militêre onderhandelaar), gesê hy weet van minstens nege ander gevalle waar Politkofskaja se lewe in gevaar was. Volgens hom gaan "soldate in die voorste linies nie so dikwels in ’n oorlog in en oorleef nie".Nowaja Gazeta, Oktober 2006//
Politkofskaja self het nie ontken dat sy bang was nie, maar het net so verantwoordelik vir en bekommerd oor haar informante gevoel. Op ’n konferensie oor persvryheid in Desember 2005 in Wene het sy gesê: "Mense boet dikwels met hul lewe as hulle hardop sê wat hulle dink. Om die waarheid te sê, ’n mens kan sterf omdat jy vir my inligting gegee het. Ek is nie die enigste een in gevaar nie. Ek het voorbeelde wat dit bewys." Sy het dikwels doodsdreigemente ontvang weens haar werk, ook dreigemente dat sy verkrag sou word. Sy is selfs eenkeer met ’n kamma-teregstelling gedreig terwyl soldate in Tsjetsjnië haar gevange gehou het."Her Own Death, Foretold", 15 Oktober 2006.
Aanhouding in Tsjetsjnië Vroeg in 2001 is Politkofskaja deur militêre amptenare in die suidelike dorp Chottoeni aangehou."How the heroes of Russia turned into the tormentors of Chechnya", 27 Februarie 2001. Sy het klagtes van 90 Tsjetsjniese families ondersoek oor strafaanvalle deur federale magte. Sy het ’n onderhoud gevoer met ’n ouma, Rosita van die dorpie Towzeni, wat twaalf dae lank geslaan, met elektriese toerusting geskok en in ’n put aangehou is. Die mans wat haar aangehou het, het gesê hulle werk vir die FSB. Hulle het ’n losprys van Rosita se familie geëis, wat vir ’n kleiner bedrag onderhandel het wat hulle sou kon bekostig. ’n Ander ondervraagde het die moorde en verkragtings van Tsjetsjniese mans beskryf in ’n "konsentrasiekamp met ’n kommersiële aanslag" naby Chottoeni.A concentration camp with a commercial bias: A report on a business trip to a zone , Anna Politkovskaya, 6 Februarie 2001, Nowaja Gazeta No. 14No evil limit: They shoot less now, but hopes are fading , Anna Politkovskaya, 1 Maart 2001, Nowaja Gazeta, No. 15The story of an unknown soldier , Anna Politkovskaya, 5 Maart 2001, Nowaja Gazeta, no. 16
Toe sy die kamp verlaat, is Politkofskaja deur Russiese soldate aangehou, ondervra, geslaan en verneder. ". . . die jong offisiere het my gemartel deur my vernuftig op al my teer plekke te slaan. Hulle het na my kinders se foto's gekyk en gesê wat hulle graag aan die kinders sou wou doen. Dit het omtrent drie uur aangehou." Daarna het hulle ’n kamma-teregstelling uitgevoer met ’n BM-21 Grad-vuurpyllanseer-stelsel. Sy is ook tee gegee met gif in wat haar laat opgooi het en beslag is op haar bandopnames gelê.
Vergiftiging