duimnael|250px|Hierdie spotprent beeld die heersers van Duitsland, Frankryk, Rusland, Oostenryk-Hongarye en die Verenigde Koninkryk uit, besig om te probeer keer dat die pot vol imperialistiese en nasionalistiese spanning oorkook en 'n Europese oorlog begin. Hulle het in 1912 en 1913 daarin geslaag, maar in 1914 misluk.

Die gebeurtenisse wat tot die Eerste Wêreldoorlog gelei het verwys na voorvalle in Europa en elders wat gedurige wrywing tussen die verskillende Europese state veroorsaak het en eindelik op ’n wêreldoorlog in 1914 uitgeloop het. Dit word ook nou verbind met die verloop van gebeure in die Balkanstate ná die Frans-Pruisiese Oorlog. Dit was as gevolg van gebeurtenisse in die Nabye-Ooste dat Duitsland en Rusland mettertyd vervreemd geraak het en dat Rusland en Oostenryk as vyande teenoor mekaar te staan gekom het.

Nasionale aspirasies in die Balkanstate Brittanje en Frankryk het saam met Turkye teen Rusland kant gekies in die Krimoorlog om te verhinder dat die swak Turkse ryk verbrokkel. Destyds het Turkye oor die hele Balkanskiereiland tot so ver noord as die Donou geheers. Die vorstedomme Moldawië en Walachye aan die mond van dié rivier het ook onder Turkse beheer gestaan. Die regering van die Turkse sultan was egter korrup en hy was swak. Die Christene wat in dié gebiede gewoon het, wou die Turkse juk afwerp en onafhanklik word. Dié ideaal is reeds in 1830 deur die Grieke verwesenlik. Die Slawiese volke, soos die Serwiërs, Bulgare, Bosniërs en Montenegryne, het soortgelyke politieke aspirasies gekoester, en die provinsie Moldawië en Walachye eweneens. Dit was hierdie uiting van nasionaliteitsbewussyn wat die Balkanlande in 'n voortdurende toestand van onrus gehou het en dit die kruitvat van Europa gemaak het.

Kragtens die bepalinge van die Vrede van Parys sou Moldawië en Walachye aan die einde van die Krimoorlog (1856) 'n nasionale regering onafhanklik van Turkye gekry het. Hierdie twee vorstedomme wou egter verenig en algehele onafhanklikheid verkry, en hul vereniging is ten spyte van teenstand van Turkye, Oostenryk en Brittanje teweeggebring, toe die nasionale vergaderings van albei gebiede dieselfde prins gekies het. Die nuwe staat is Roemenië genoem en die kroon is aan prins Karel, 'n bloedverwant van Willem I, aangebied wat dus 'n natuurlike geneentheid jeens Duitsland gekoester het, wat ook in die Balkanstate belang gestel het.

Ook op 'n ander manier het die voorwaardes van die verdrag nie die gewenste uitwerking gehad nie. Daar is bepaal dat nóg Rusland nóg Turkye oorlogskepe in die Swartsee sou hou. Ná die nederlaag van Frankryk in die Frans-Pruisiese oorlog het Rusland die geleentheid benut om hierdie bepalinge van die vorige verdrag te ignoreer en het hy 'n begin gemaak met die versterking van Sebastopol en die heropbou van sy vloot in die Swartsee, 'n stap waarteen Brittanje slegs protes kon aanteken.

Rusland en die Balkanstate Benewens sy ou ambisie om sy invloed suidwaarts in die Balkanskiereiland uit te brei en veral Konstantinopel in besit te kry, het Rusland ook uit hoofde van sy godsdiens (die Oosters-Ortodokse Kerk) groot belangstelling begin toon in 'n groeiende beweging onder die Slawiese volke – die doel van die pan-Slawiese beweging was om nouer aansluiting tussen al die Slawiese volke in die Balkan teweeg te bring en onafhanklikheid te verwerf. Die bedrywighede van Russiese agente in gebiede soos Serwië, Bulgarye en Montenegro het baie Serwiërs en Kroate in die Turkse en Oostenrykse ryke onthuts, en Oostenryk meer in die aangeleenthede van die Balkan laat belangstel. Die eintlike aanvang van vyandelikhede is veroorsaak deur 'n opstand in die provinsies Bosnië en Herzegowina in 1875, wat hoofsaaklik deur Serwiërs bewoon is. Die moeilikheid het ontstaan deur die strawwe en onbillike behandeling wat die Christene in hierdie gebied van die Turke moes verduur. In die volgende jaar het Bulgarye ook in opstand gekom uit meegevoel met Bosnië.

Omdat die sultan van Turkye onder die indruk was dat hy die ondersteuning van Brittanje gehad het, het hy nie ag geslaan op die eise vir hervorming in die ontevrede gebiede wat Oostenryk met die goedkeuring van Rusland, Duitsland en die steun van Frankryk en Italië aan hom gestel het nie. Groot gruweldade is deur die gewone Turkse troepe sowel as bendes troepe teen die Bulgare gepleeg, en baie duisende is vermoor. Sulke optrede het die gemoedere in die hele Europa hoog laat loop. In Engeland het Gladstone die volk beweeg om sy anti-Russiese vooroordeel te laat vaar en geëis dat die Turke "sak en pak uit die provinsies wat hulle verwoes en ontheilig het", verwyder word.

Na 'n mislukte opstand deur Serwië en Montenegro en 'n vrugtelose konferensie in Konstantinopel, het tsaar Aleksander II in 1877 oorlog teen die sultan verklaar. Die Turke het die volgende jaar oorgegee, maar nie voordat hulle die Russe verskeie nederlae toegedien het nie. Die Russiese opmars na Konstantinopel het Disraeli (lord Beaconsfield), wat sterk pro-Turks was, verontrus en hy het die Britse vloot na die Dardanelle gestuur. Oostenryk het geëis dat 'n wapenstilstand onderteken word. Die Russe het geswig en toe aan die Turke hulle voorwaardes gestel.

Met die verdrag van San Stefano (1878) is 'n nuwe staat, Bulgarye, gestig wat van die Donou tot die Egeïese See gestrek het. Dit het beteken dat die Turkse ryk feitlik uitgewis is.

Die Kongres van Berlyn Engeland, sowel as Oostenryk, was verontrus oor wat Rusland in die Balkan vermag het en het geëis dat ’n konferensie gehou word om die verdrag te bespreek. Nadat hierdie twee moondhede oorlogsvoorbereidings begin tref het, het Rusland toegestem en die Kongres van Berlyn is in Julie 1878 byeengeroep onder die voorsitterskap van Bismarck, "die eerlike makelaar”, wat beweer het dat hy slegs ’n vriendskaplike reëling wou teweegbring sonder om enige voordeel vir Duitsland te soek.

In werklikheid het hy die vernaamste beslissing reeds gereël voordat die kongres byeengekom het. Daar is ooreengekom dat Bulgarye ’n onafhanklike staat sou wees, maar skatpligtig aan Turkye, en hul grondgebied sou verklein word. Bosnië en Herzegowina is as afsonderlike provinsies onder Oostenrykse bestuur geplaas, hoewel hulle nie deel van Oostenryk sou wees nie. Serwië, Montenegro en Roemenië het onafhanklike state gebly. Rusland het Bessarabië verkry en sodoende sy gebied langs die Swartsee uitgebrei. Aan Engeland is die eiland Siprus toegeken. Só is elf van die sewentien miljoen Christene van die Turkse regering bevry.

Alhoewel die Britse ministers triomfantlik van die konferensie na Engeland teruggekeer het, het dit daarna geblyk dat geen blywende skikking deur die kongres verkry is nie. Die inkorting van Bulgarye se grondgebied het tot ’n oorlog tussen hom en Serwië gelei en daartoe bygedra dat die Balkanlande gedurig in ’n staat van onrus gebly het. Enersyds het Engeland gestrewe om die Turkse ryk se voortbestaan te verseker deur die Russiese eise te beveg, maar Turkye was aan die agteruitgaan, "’n siek man", en niks kon die verbrokkeling van die ryk keer nie. Andersyds is die Oostenrykse politieke belange in die Balkan uitgebrei, en die ontevredenheid van Serwië en Montenegro daarmee sou uiteindelik een van die hoofredes vir die Eerste Wêreldoorlog in 1914 wees. Die belangrikste gevolg van die Berlynse Kongres was die uitwerking wat dit op die Europese bondgenootskappe gehad het.

Bismarck en die Europese alliansies Reeds vanaf die einde van die Frans-Pruisiese oorlog en die anneksasie van Elsas-Lotaringe het Bismarck Frankryk gevrees. Hy het geglo dat dit lank sou duur voordat dié land van sy nederlaag kon herstel, maar dit het geblyk dat hy hom vergis het.

Frankryk het sy oorlogskadevergoeding binne twee jaar afbetaal. Toe Frankryk sy leër begin uitbrei, het dit byna tot ’n oorlog met Duitsland in 1875 gelei; maar die tydige tussenkoms van die Russiese tsaar en koningin Victoria het dit voorkom. Bismarck se strewe was nou om alliansies op te bou ten einde te verhoed dat Frankryk bondgenote kry. Hy het self geskryf: "Solank as wat Frankryk geen bondgenote het nie, is hy nie ’n gevaar vir Duitsland nie."

Reeds in 1872 het die Duitse kanselier daarin geslaag om die stigting van die Driekeiserverbond te bewerkstellig. Dit was 'n vae verstandhouding tussen die keisers van Duitsland, Oostenryk en Rusland dat hulle sou saamstaan om die vrede te bewaar en die groei van sosialisme en republikeinsgesindheid teen te staan. Op die Kongres van Berlyn in 1878 het dit egter duidelik geblyk dat 'n verwydering tussen Duitsland en Rusland ingetree het, en dat Oostenrykse en Russiese belange in die Balkan tot 'n botsing sou lei. Bismarck het besluit om Oostenryk te ondersteun, aangesien dit Engeland, wat anti-Russies was, sou vervreem. Terselfdertyd sou dit daartoe bydra om Duitsland groter beheer in Suidoos-Europa te gee. In 1879 is die Tweevoudige Verbond tussen Duitsland en Oostenryk gesluit. Dit was 'n suiwer defensiewe verbond wat vir wedersydse steun voorsiening gemaak het ingeval enigeen van die twee lande deur Rusland aangeval sou word, en waardeur elkeen onderneem het om neutraal te bly indien een van hulle deur Frankryk aangeval sou word.

Bismarck wou ook Italië in die Verbond insluit ten einde te voorkom dat hy 'n bondgenoot van Frankryk word. Italië was alreeds bedug vir die strewe van die klerikale party in Frankryk om die Pous se staatkundige mag in Rome te herstel. Die kanselier het probeer om die kloof tussen die twee lande wyer te maak deur Frankryk in die geheim aan te moedig om Tunis te bekom, ’n optrede wat hom in botsing met Italië sou bring. In 1881 het Frankryk Tunis beset en in die daaropvolgende jaar het Italië, omdat sy uitbreidingsplanne in Noord-Afrika daardeur gedwarsboom is, by Duitsland en Oostenryk aangesluit in die Drievoudige Verbond.

Volgens hierdie verbond sou Italië hulp ontvang van die twee ander moondhede indien hy deur Frankryk aangeval word. Hierdie verbond is van tyd tot tyd hernu, en het tot die aanvang van die Eerste Wêreldoorlog geduur.

Bismarck en Rusland Bismarck was egter nie tevrede met hierdie defensiewe verbond tussen die twee moondhede nie, want hy wou enige bondgenootskap tussen Frankryk en Rusland verhoed. Tsaar Aleksander III, wat die troon in 1881 bestyg het, was Frankryk nie goedgesind nie aangesien hy republikeinsgesindheid verafsku het. Hy was ook bereid om met Duitsland versoen te raak. Die kanselier is dus in staat gestel om een van sy grootste diplomatieke prestasies te behaal. In 1881 is volgens die beroemde Herversekeringsverdrag, waardeur die vorige Driekeiserverbond feitlik herleef het, ooreengekom dat Duitsland, Rusland en Oostenryk neutraal sou bly indien een van hulle in ’n oorlog met ’n ander moondheid betrokke raak. Dit was natuurlik nie alleen van toepassing op Frankryk nie, maar ook op Turkye. Die verdrag is in 1884 hernu. Deur hierdie verbonde het Bismarck dus 'n besonder gunstige posisie vir Duitsland in Europa verkry. Net hy was egter in staat om sulke botsende bondgenootskappe aan die gang te hou. Toe Wilhelm II na die afdanking van Bismarck in 1890 die oppergesag in Duitsland aanvaar het, het die kanselier se ingewikkelde stelsel van bondgenootskappe in duie gestort.

Die Tweeledige Verbond Die Duitse keiser was nie bereid om die verdrag met Rusland te hernu nie, maar het sy volle steun aan die Oostenrykse verbond toegesê. Rusland was nou in Europa geïsoleer, aangesien die Drievoudige Verbond hernu is en dit gelyk het asof Engeland hierdie moondhede goedgesind was. Die onmiddellike gevolg was 'n toenadering tussen Rusland en Frankryk, al was hul politieke instellinge so geheel en al verskillend. Na heelwat onderhandelinge het Rusland en Frankryk 'n Tweevoudige Verbond aangegaan, maar dit is nie voor 1895 bekend gemaak nie. Op hierdie manier is Europa in twee gewapende kampe verdeel. Aan die een kant was Duitsland, Oostenryk en Italië en aan die ander Rusland en Frankryk.

Die Stryd om grondgebied in Afrika