Boeddhisme is ’n Dharmiese geloof of filosofie (Sanskrit: dharma; Pali: dhamma). Dit sluit ’n verskeidenheid tradisies, gelowe en spirituele gebruike in wat grootliks geskoei is op die leringe van Gautama Boeddha, algemeen bekend as die Boeddha ("die verligte een").

duimnael|180px|links|Een van die oudste bekende voorstellings van die Boeddha (1ste tot 2de eeu, Tokio Nasionale Museum). Volgens die Boeddhistiese tradisie het die Boeddha tussen die 6de en 4de eeu v.C. op die noordoostelike Indiese subkontinent gewoon en ander onderrig."Buddhism". (2009). In Encyclopædia Britannica aanlyn. URL besoek op 26 November 2009 Boeddhiste beskou hom as ’n "verligte" of "ontwaakte" onderwyser wat sy insig gedeel het om ander te help om hul lyding te beëindig deur die verbanning van onkunde en begeertes en deur die ontwikkeling van hul gees.

Geleerdes erken oor die algemeen twee bestaande takke van Boeddhisme: Theravada ("Tradisie van die Oudstes", soms verkeerdelik "Hinayana" genoem) en Mahayana ("Die Groot Voertuig"). Theravada het baie volgelinge in Sri Lanka en Suidoos-Asië (onder meer in Thailand, Birma, Laos, Kambodja). Mahayana kom voor in Oos-Asië (onder meer in China, Korea, Japan, Viëtnam, Singapoer, Taiwan) en sluit in die tradisies van Suiwer Land, Zen, Nichiren-Boeddhisme, Tibettaanse Boeddhisme, Shingon en ander. Vajrayana, ’n stel leringe wat toegeskryf word aan Indiese siddhas, kan beskou word as ’n derde tak of bloot deel van Mahayana. Tibettaanse Boeddhisme, soos beoefen in Tibet, Bhoetan, Nepal, die Himalajastreek van Indië, Kalmikië,"Candles in the Dark: A New Spirit for a Plural World" deur Barbara Sundberg Baudot, bl. 305 Mongolië en omringende gebiede, volg die Vajrayana-leringe van die 8ste-eeuse Indië.

In Theravada-Boeddhisme is die primêre doel die behaling van die verhewe staat nirwana, wanneer ’n mens ontsnap van die siklus van lyding en hergeboorte. In Mahayana- en Tibettaanse Boeddhisme word na boeddhaskap gestrewe deur ’n bodhisattva te word en juis in dié siklus te bly met die doel om ander te help om verligting te behaal.

Boeddhistiese skole verskil oor die presiese aard van die pad na nirwana, die belangrikheid en egtheid van verskeie geskrifte en veral die toepassing daarvan. Een ding waaroor almal eens is, is dat daar geen skeppingsgod bestaan nie. Die grondbeginsels van die Boeddhistiese tradisie is die Drie Juwele: die Boeddha, die dharma (geloof) en die sangha (gemeenskap). Om "toevlug tot die drievoudige juweel" te neem is tradisioneel ’n verklaring dat iemand die Boeddhistiese pad volg, en onderskei Boeddhiste gewoonlik van nie-Boeddhiste. Ander praktyke kan insluit die gehoorsaming van etiese grondreëls; die ondersteuning van die kloostergemeenskap; afstanddoening van die gewone lewe om ’n Boeddhistiese kloosterlewe te lei; die ontwikkeling van die gees en die beoefening van meditasie; die kweek van groter wysheid en oordeel; die bestudering van die geskrifte; godsdienspraktyke; seremonies; en, in die Mahayana-tradisie, smeekbedes tot die boeddhas en bodhisattvas.

Die lewe van die Boeddha duimnael|220px|’n Reliëfwerk wat uitbeeld hoe Gautama die huis verlaat (The Great Departure, 1ste tot 2de eeu, Guimet-museum). duimnael|links|160px|Die Vajrashila, waar Gautama onder ’n vyeboom gesit en verligting behaal het (Mahabodhi-tempel, Indië, 2011). Siddhartha Gautama is omstreeks die 6de eeu v.C. in Lumbini in die huidige Nepal gebore en het in Noord-Indië gewoon. Geskrifte gee verskillende weergawes van sy lewe. Die meeste kenners meen hy het wel bestaan, ander onderrig en ’n kloosterorde gestig, maar aanvaar nie alle besonderhede in sy biografieë nie. Volgens die skrywer Michael Carrithers behoort die algemene riglyne waar te wees: geboorte, volwassenheid, afstanddoening, soeke, verligting en bevryding, onderrig, die dood.

Volgens een vertelling was hy ’n prins en het ’n astroloog met die naam Asita kort ná sy geboorte Gautama se pa, Suddhodana, besoek en voorspel die kind sou óf ’n groot koning word óf afstand doen van die materiële wêreld om ’n heilige man te word – dit sou afhang van of hy die lewe buite die mure van die paleis sou sien.

Suddhodana wou seker maak sy seun word koning en het hom verbied om die paleis te verlaat. Op 29-jarige ouderdom het Gautama egter ’n paar keer uitgeglip en die lyding daarbuite aanskou. Hy het toe die koninklike lewe agtergelaat om ’n oplossing vir hierdie lyding te vind.

Ses jaar lank het hy probeer en misluk. Op 35-jarige ouderdom het hy eendag in Bodh Gaya onder ’n vyeboom (Ficus religiosa) gaan sit en mediteer, en homself voorgeneem om nie weer op te staan voordat hy verligting behaal het nie. Ná baie dae het hy eindelik sy geestelike kettings afgeskud en homself so bevry van die siklus van lyding en hergeboorte. Toe hy opstaan, was hy ten volle verlig.

Kort hierna het hy in Sarnath volgelinge gelok en ’n kloosterorde gestig. Toe het hy, as die Boeddha, vir die res van sy lewe die pad na verligting wat hy ontdek het, aan ander geleer terwyl hy deur die noordoostelike Indiese subkontinent gereis het. Hy is op 80 jaar (in 483 v.C.) in Kushinagar, Indië, dood.

Die Boeddha het self na die vier belangrikste plekke van sy lewe verwys wat Boeddhiste tydens 'n pelgrimstog sal besoek. Gevolglik is Lumbini, Bodh Gaya, Sarnath en Kushinagar belangrike bedevaartsplekke vir Boeddhiste.

Boeddhistiese begrippe Die lewe en wêreld Samsara duimnael|180px|’n Tradisionele Tibettaans-Boeddhistiese thangka, wat die wiel van die lewe met sy ses vlakke uitbeeld. In Boeddhisme word samsara gedefinieer as die voortdurend herhalende siklus van geboorte en die dood. Dit verwys spesifiek na die belewing van een hergeboorte ná die ander binne die ses vlakke van die bestaan, waar elke vlak verstaan kan word as ’n fisieke of sielkundige toestand wat gekenmerk word deur ’n spesifieke soort lyding. Samsara ontstaan uit avidya (onkunde) en word gekenmerk deur dukkha (lyding, angstigheid, ontevredenheid). Deur Boeddhisme is bevryding van samsara moontlik.

Karma duimnael|links|220px|Gautama is hier veras (Ramabhar-stoepa, Kushinagar, Indië). Karma (van Sanskrit vir "aksie, werk") is in Boeddhisme die krag wat samsara aandryf. Goeie, kundige dade (Pali: kusala) en slegte, onkundige dade (Pali: akusala) kweek "sade" in die gedagtes wat óf in hierdie lewe óf in ’n toekomstige lewe (ná hergeboorte) vrugte voortbring na gelang van die soort dade. Die vermyding van slegte dade en die kweek van goeie dade word sila genoem.

In Theravada-Boeddhisme is daar geen verlossing van of vergifnis vir jou karma nie, want dit is ’n suiwer onpersoonlike proses wat deel is van die heelal. In Mahayana-Boeddhisme word geglo die dreunsing of selfs net aanhoor van sekere soetras (soos die Lotus-, Angulimaliya- en Mahayana Mahaparinirvana-soetra) kan groot dele van jou negatiewe karma uitdryf. Ander skole soos Vajrayana beskou die sing of opsê van mantras as die manier om ontslae te raak van voorheen negatiewe karma.

Hergeboorte Hergeboorte verwys na ’n proses waarvolgens wesens deur ’n reeks lewens gaan; elke lewe duur van bevrugting tot die dood. Die leerstelling van anatta verwerp die begrip van ’n permanente self of ’n onveranderlike, ewige siel soos dit in Hindoeïsme en die Christendom voorkom. In Boeddhisme is geen self onafhanklik van die res van die heelal nie. Hergeboorte tot nuwe lewens kan verstaan word as die voortsetting van ’n dinamiese, altyd veranderende proses van pratityasamutpada ("afhanklike ontstaan") wat bepaal word deur die wette van oorsaak en effek (karma) eerder as dié van een wese wat van een bestaan tot ’n volgende gereïnkarneer word.

Elke hergeboorte vind plaas op een van vyf vlakke volgens Theravada-Boeddhiste, of ses volgens ander skole. Naraka-wesens: dié wat in een van baie narakas (helle) woon; Preta: dié wat soms gedeeltelik mense se ruimte deel, maar vir die meeste mense onsigbaar is; ’n soort "spook"; Diere: hulle deel mense se ruimte, maar is ’n ander lewensvorm; Mense: een van die vlakke van hergeboorte waarin nirwana behaal kan word; Asuras: vertaal as demone, titane of antigode; dit word nie deur die Theravada-tradisie as ’n aparte vlak erken nie; Devas, insluitende Brahmas: vertaal as gode, geeste of engele.

Volgens Oos-Asiatiese en Tibettaanse Boeddhisme is daar ’n tussenvlak (Tibettaans: bardo) tussen een lewe en die volgende een. Die ortodokse Theravada-tradisie verwerp dit; tog is daar dele in die Samyutta-nikaya van die Pali-kanon wat blykbaar die idee steun dat die Boeddha vertel het van so ’n tussenvlak.

Lyding: oorsake en oplossings Die Vier Edel Waarhede duimnael|Die Boeddha leer die Vier Edel Waarhede aan sy volgelinge (Sanskrit-manuskrip; Nalanda, Bihar, Indië. Die leringe oor die Vier Edel Waarhede word beskou as sentraal tot die leerstellings van Boeddhisme en verskaf ’n konsepraamwerk vir Boeddhisme. Dié vier waarhede verduidelik die aard van dukkha, die oorsake daarvan en hoe dit oorkom kan word. Die vier waarhede is:

duimnael|180px|Die dharmachakra, of dharmawiel, verteenwoordig die Edel Agtvoudige Pad. Die waarheid van dukkha, of die aard daarvan: dit word gewoonlik vertaal as lyding, angstigheid, onvoldoendheid ens. en het drie aspekte: die ooglopende lyding van fisieke of geestelike siektes, veroudering en afsterwing; die angstigheid of stres van vashou aan dinge wat voortdurend verander; ’n subtiele ontevredenheid wat alle lewensvorme ervaar weens die feit dat alle lewensvorme verander, en deeltyds en sonder kern of inhoud is. Op dié vlak dui die term op ’n gebrek aan tevredenheid, ’n gevoel dat dinge nooit aan ons verwagtings of standaarde voldoen nie. Die waarheid van die oorsprong van dukkha. Die oorsprong kan bekend wees. Dit word gewoonlik verduidelik as begeertes (Pali: tanha, "dors"), bepaal deur onkunde (Pali: avidya). Op ’n dieper vlak word die grondoorsaak van dukkha beskou as onkunde oor die ware aard van realiteit. Die waarheid van die beëindiging van dukkha: dit is moontlik om dukkha te beëindig. Die waarheid van die weg wat lei tot die beëindiging van dukkha: daar is ’n Edel Agtvoudige Pad na die beëindiging van dukkha.

Die Edel Agtvoudige Pad Die Edel Agtvoudige Pad bestaan uit agt verwante faktore of voorwaardes wat saam kan lei tot die beëindiging van dukkha. Dié agt faktore is: korrekte insig, korrekte bedoeling (gedagtes), korrekte rede, korrekte handeling, korrekte lewensonderhoud (beroep), korrekte inspanning, korrekte bewustheid en korrekte konsentrasie.

Die faktore dui nie op "fases" wat die een ná die ander afgelê word soos op ’n gewone pad nie, maar is agt dimensies van ’n mens se optrede – geestelik en liggaamlik – wat onderling afhanklik werk en saam ’n volledige pad of lewenswyse definieer.

Die agt faktore word gewoonlik in drie afdelings verdeel:

Afdeling Faktor Sanskrit, Pali BeskrywingWysheid(Sanskrit: prajñā,Pali: paññā)1. Korrekte insigsamyag dṛṣṭi,sammā ditthiOm die werklikheid te sien soos dit is, nie soos dit lyk nie2. Korrekte bedoelingsamyag saṃkalpa,sammā sankappa Bedoeling van afstanddoening, vryheid en onskadelikheidEtiese optrede(Sanskrit: śīla,Pali: sīla)3. Korrekte redesamyag vāc,sammā vācaOm te praat op ’n eerlike manier wat ander nie seermaak nie4. Korrekte handelingsamyag karman,sammā kammantaOm so op te tree dat ander nie seerkry nie5. Korrekte lewensonderhoudsamyag ājīvana,sammā ājīva’n Nieskadelike beroepKonsentrasie(Sanskrit en Pali: samādhi)6. Korrekte inspanningsamyag vyāyāma,sammā vāyāma’n Poging om te verbeter7. Korrekte bewustheidsamyag smṛti,sammā sati’n Bewustheid om dinge te sien soos dit is;’n bewustheid van jou eie realiteit, sonder begeertes of afkerigheid8. Korrekte konsentrasiesamyag samādhi,sammā samādhiKorrekte meditasie of konsentrasie, wat verduidelik word as die eerste vier jhanas

Die vier verhewe geestestoestande