duimnael|Lidlande van die Verenigde Nasies volgens hul toetreedatums duimnael|300px|Die stigting van die Verenigde Nasies duimnael|Verenigde Nasies se hoofkantoor in New York Stad duimnael|Gebou van die Verenigde Nasies in Wene
Die wêreld van die twintigste eeu het ’n baie ingewikkelde organisasie geword waarin dit byna onmoontlik is vir een volk om in ’n toestand van afsondering van die res te leef. Die hele aard van die wêreld het verander deur die ontwikkeling van vervoer en verbindingsmiddele. Uitvindings soos die radio was in gebruik geneem om nuus oor die wêreld te flits sonder inagneming van nasionale grense. Internasionale betrekkinge maak die een of ander vorm van wêreldsamewerking noodsaaklik.
Die Eerste Wêreldoorlog het die gedagtes van die mensdom met soveel afsku vir oorlog vervul dat ’n internasionale organisasie gestig is, bekend as die Volkebond, waardeur gehoop is dat alle volke sou saamwerk om wêreldvrede in stand te hou. Die Bond het binne sekere perke goed gedoen, maar het nie daarin geslaag om veel ernstige internasionale vraagstukke op te los nie. Toe nuwe diktators in Europa en die Verre Ooste verrys het, is die wêreld weer in konflik gedompel wat nog verskrikliker as die eerste was. Die pogings van hierdie diktators om die wêreld te oorheers, is egter gedwarsboom, en daar is meer as ooit besef dat die mens se denke in die toekoms op wêreldwye grondslag moet wees as ’n toestand van vrede gehandhaaf moet word. Met dié doel voor oë is die organisasie van die Verenigde Volke geskep as ’n middel om verligting te bring in internasionale spanning en om lande aan te moedig om saam te werk ten einde wêreldvrede en orde te bewaar.
Die gedagte aan die stigting van ’n bond van state as ’n grondslag vir vrede was nie iets nuuts toe dit na die Eerste Wêreldoorlog voorgestel is nie. So vroeg as die sestiende eeu het Sully, ’n minister van Hendrik IV van Frankryk, die idee van ’n bond van volke op ’n vae manier voorgestel. Sy voorstel was dat die Europese state ’n universele Christelike statebond sou vorm met ’n groot raad na wie ernstige geskille tussen die verskillende volke verwys kon word. In die sewentiende eeu het Hugo Grotius, ’n Nederlandse regsgeleerde wat geskok was deur die wrede gevegte en plundery wat die Dertigjarige Oorlog gekenmerk het, ’n stel wette aan die hand gedoen wat oorlogvoering sou beperk en ook die skadelike gevolge sou verminder. Sy werk het die eerste stelsel van internasionale reg uiteengesit en sy boek het ’n sterk invloed uitgeoefen oor die gedagtes van baie mense wat sedertdien gearbei het om die vrede te bewaar, of om die skade van oorlogvoering te beperk.
Die Beginjare
Die Konsert van Europa Tydens die negentiende eeu is ’n besliste poging aangewend om vrede te handhaaf. Die Heilige Verbond (1815), gestig op aansporing van tsaar Alexander van Rusland, het gehad as sy doelwit die handhawing van vrede in Europa deur die moondhede te probeer oorreed om in geskille volgens Christelike beginsels te handel. Die Heilige Verbond het egter nooit van krag geword nie. Die was die Konsert van Europa, ’n bond van die groot moondhede, wat in werklikheid probeer het om vrede te handhaaf.
Ongelukkig het dit baie gou slegs ’n instrument geword om enige beweging vir liberale hervorming te onderdruk. Die Konsert (Groot-Brittanje, Rusland, Pruise en Oostenryk) het egter daarin geslaag om oorlog tussen die groot moondhede in Europa vir ’n aantal jare te vermy. Die ernstige tekortkoming in hierdie sogenoemde Konsert was aan die een kant dat dit bestaan het uit net die grootste Europese State en aan die ander kant dat dit nie doeltreffend kon optree nie omdat daar geen permanente administratiewe masjinerie was wat voortdurend kon funksioneer nie.
Internasionale Samewerking Verkry Tydens die negentiende eeu is ’n algemene poging egter aangewend om gesonde internasionale betrekkinge tussen die verskillende state te verkry op gebiede anders as die suiwer politieke terrein. As voorbeelde is daar ’n hele aantal ooreenkomste oor sake soos die Internasionale Rooikruis (1864 te Genève), posgeld, telegraafwese, spoorweë, skeepvaart en openbare gesondheid (Instituut vir Gesondheid te Parys 1907). Te dikwels het geskiedskrywers die bittere oorlogvoering tussen volke beklemtoon, terwyl die permanente waarde wat deur hierdie internasionale ooreenkomste verkry is, oor die hoof gesien is. Die stigting van ’n Internasionale Pos-unie (1875), waarvolgens sowat sestig lande gesamentlik die koste van ’n vaste kantoor in Bern dra, het ’n eenvormige posooreenkoms teweeggebring waar daar voorheen net chaos was. Sonder sulke samewerking op die gebied van poswese sou dit nie moontlik wees om basiese tariewe vas te stel of om briewe te verseker of internasionale geldsertifikate gebruik nie.
Internasionale Arbitrasie Gedurende die negentiende eeu was daar ook verskeie geleenthede waarop toevlug geneem is tot internasionale arbitrasie in ’n poging om politieke vraagstukke op ’n vreedsame manier te beslis. Een van die beroemdste gevalle was die arbitrasie-saak betreffende die skade wat in Amerikaanse seegebied aan skeepvaart aangerig is deur die rowerskip van die suidelike state van Amerika, die Alabama, en die eise wat om vergoeding teen die Britse regering ingestel is. Laasgenoemde het toestemming gegee dat die vaartuig gebou word. ’n Arbitrasieraad is in Genève byeengeroep (1868) om dié en ander uitstaande geskille tussen Brittanje en die Verenigde State te besleg. ’n Ander saak wat met sukses deur arbitrasie geskik is, was die geskil tussen Brittanje en Venezuela oor die westelike grens van Brits-Guiana in 1895. Arbitrasie was ’n besliste voorwaartse stap. Staatsmanne het bewus geword van die waardevolle werk wat gedoen kan word deur die stigting van die een of ander permanente vorm van arbitrasie. Terwyl daar sowat agt sake van arbitrasie gedurende die jare 1820–1840 gehou was, was daar negentig gevalle in die laaste twee dekades van daardie eeu.
Permanente Arbitrasiehof In 1898 het die Tsaar Nicolaas II van Rusland, wat ontsteld was oor die snelle toename in bewapening, voorgestel dat ’n byeenkoms van die moondhede in Den Haag plaasvind om die moontlikheid te bespreek van ’n vermindering in bewapening en die bevordering van vrede. So ’n konferensie is die volgende jaar gehou en is deur ses-en-twintig afgevaardigdes van groot en klein moondhede bygewoon, maar na ’n sitting van twee maande was nog geen vordering gemaak in die saak waarvoor die konferensie belê is nie. Drie konvensies is opgestel oor die vreedsame beslegting van internasionale geskille, die wette en gebruike van oorlogvoering op land en die beperkinge op oorlogvoering ter see. Hierdie konvensies is naderhand deur die regerings van die groot moondhede bekragtig. Daar is besluit dat ’n voltydse Arbitrasiehof (Haagse Geregshof) geskep sou word waardeur dit moontlik gemaak is vir die verskillende lande betrokke in enige geskil wat mag ontstaan om geskikte skeidsregters te kies.
In 1904, tydens die Russies-Japannese oorlog, het president Roosevelt voorgestel dat nog ’n konferensie gehou word. Dit is egter uitgestel tot 1907, toe die Tsaar weer ’n konferensie van die moondhede in Den Haag belê het. Daar was vier-en-veertig afgevaardigdes teenwoordig en die sitting het vier maande geduur. Heelwat meer sake is bespreek as by die eerste geleentheid. ’n Eerlike poging is aangewend om oor sekere bepaalde reëls ooreen te kom betreffende oorlogvoering. ’n Poging om ’n permanente hof vir internasionale reg te skep, het misluk omdat die kleiner moondhede gelyke verteenwoordiging met die groot moondhede geëis het.
Ná 1913 het die hofsittings van die Haagse Geregshof in die Vredespaleis in Den Haag plaasgevind. Hierdie gebou is opgerig deur geldelike steun van Carnegie, die Amerikaanse staalmagnaat. Ongelukkig is al die goeie werk wat ook al deur hierdie konferensies verrig kon gewees het, deur die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog verhinder. Selfs met die uitbreek van die oorlog het president Wilson van die Verenigde State, wat ’n ondertekenaar van die ooreenkomste in Den Haag was, die moontlikheid van bemiddeling soos deur die Haagse konferensies beoog, te berde gebring.
Gevoelens het teen daardie tyd egter so hoog geloop dat niemand bereid was om saam te werk nie.
Die Volkebond Daarna het vier jaar (1914–1918) van bittere oorlogvoering gevolg op ’n skaal wat tot dusver onbekend was, en wat ’n geweldige verlies aan menselewens en grootskaalse vernietiging van eiendom veroorsaak het. Selfs gedurende daardie jare was daar baie mense wat gesoek het na die een of ander vorm van masjinerie waardeur dit moontlik sou wees om oorlog te vermy. Veral in Brittanje en die Verenigde State is verenigings gestig vir die bevordering van die Volkebondgedagte.
Die Volkebond Gestig In Januarie 1918 het Woodrow Wilson, president van die Verenigde State van Amerika, sy beroemde ,,Veertien Punte” as ’n grondslag vir die vredesverdrae gepubliseer. Die veertiende punt het aan die hand gegee ,,dat ’n algemene genootskap van volke gestig word op die grondslag van spesifieke ooreenkomste”. Vooraanstaande manne in die Verenigde State, soos Lansing, en in die Britse Statebond, soos lord Robert Cecil, generaal Smuts en Lord Phillimore, het aangedring op die stigting van so ’n bond. By die vredeskonferensie te Versailles is vir die stigting van ’n Volkebond in die vredesverdrag voorsiening gemaak.
As gevolg van al hierdie bedrywigheid is die Handves van die Volkebond opgestel en het dit op 10 Januarie 1920 in werking getree. Die hoofkwartier van die Bond was in Genf. Die ondertekenaars van die verdrae het outomaties die artikels van die Handves aanvaar.
Lidmaatskap van die Volkebond Daar is gehoop dat alle lande mettertyd lede van die Bond sou word en uiteindelik is byna vier vyfdes van die wêreld se bevolking in die Bond verteenwoordig. Nietemin was daar van die begin af ernstige gapings, want verskeie vername lande het nie as lede toegetree nie. President Wilson was een van die vernaamste voorstanders van die sodanige Bond en voorsiening is gemaak vir die toetrede van die Verenigde State. Die Senaat van die Verenigde State het egter geweier om die Handves te bekragtig, aangesien dit begerig was dat die land hom moes isoleer van internasionale sake. Hierdie groot moondheid het dwarsdeur die bestaan van die Bond gevolglik nooit lid geword nie, hoewel hy dikwels ’n verteenwoordiger gestuur het om aan die besprekings deel te neem. Sowjet-Rusland het wel aan die verskeie konferensies deelgeneem, maar is nie voor 1934 verteenwoordig nie, aangesien die Westerse demokrasieë die verspreiding van kommunistiese denkbeelde gevrees het. Die afwesigheid sedert die begin van die Bond se bestaan van hierdie twee moondhede en Duitsland was ’n ernstige tekortkoming en het die Bond se werklike doeltreffendheid ernstig benadeel. Die mening is wel eens uitgespreek dat dit die vernaamste rede vir die mislukking van die Bond was.