duimnael|Die Duitse Bond, Noord-Duitse Bond en die Duitse Keiserryk duimnael|Die stigting van die Duitse Keiserryk
Hierdie artikel bespreek die Unifikasie van Duitsland.
Die Vooruitgang van die Zollverein (Tolverbond) In 1815 was die Duitse state op ekonomiese gebied die mees agterlike in Europa. Dit was hoofsaaklik daaraan te wyte dat elkeen van die talryke staatjies besig was om die ontwikkeling van die binnelandse handel te strem deur die heffing van swaar invoerbelastings binne en op die grense van hul gebiede. Hierdie ekonomiese beleid het die ontwikkeling van die handel tussen die verskillende state gestrem. In Pruise was daar byvoorbeeld sewe-en-sestig verskillende tariewe binne sy grens van krag. As gevolg van die verhoogde vervoerkoste kon die nywerhede nie uitbrei nie, nóg die handel bloei. Die feit dat sy grondgebied oor die Duitse Bond versprei gelê het, het Pruise aan die invoerregte van agt-en-twintig verskillende state onderwerp. Die uitgestrekte grenslyn van Pruise van meer as 4000 myl (4 828 kilometer) het die insameling van invoerbelastings bemoeilik en smokkelhandel in die hand gewerk. Ten einde die Pruisiese nywerheid en handel aan te moedig, het Massen, die Pruisiese hervormer en dissipel van Adam Smith, in 1818 'n tolverbond vir Pruise gestig. Alle binnelandse tolgrense is afgeskaf en inwendige vryhandel ingestel. Alle tolgelde op goedere van omliggende state of vreemde moondhede is aanmerklik verminder, ten einde smokkelhandel teen te werk. Binne afsienbare tyd het Pruise op ekonomiese gebied vooruitgegaan. Die onmiddellike uitwerking daarvan was dat etlike van die kleinere state wat aan Pruisiese gebied gegrens het, by die Tolverbond aangesluit het, met die doel om te deel in die ekonomiese voordele aan so 'n unie verbonde. Teen 1828 is ander state beweeg om die voorbeeld van Pruise te volg. In daardie jaar het Beiere en Württemberg 'n suidelike Tolverbond gesluit; later in dieselfde jaar het die sentrale state soos Sakse, Brunswyk, Hesse en Hannover 'n soortgelyke stap geneem. Oostenryk, ekonomiese selfonderhoudend, het egter buite die tolunie gebly. Dus teen die einde van 1828 was die state van die Bond, met uitsluiting van Oostenryk, in drie ekonomiese eenhede verdeel. Daar het naderhand 'n beweging ontstaan om by die Pruisiese verbond aan te sluit. In 1829 het die suidelike groep 'n handelsooreenkoms met Pruise getref vir die wedersydse vermindering van invoerregte. In 1833 het dit tot die stigting van die tolunie gelei. Hierdie uitgebreide Pruisiese Tolverbond het binnelandse vryhandel tussen sewentien state, met 'n totale bevolking van ses-en-twintig miljoen, moontlik gemaak. Jaarliks is tolkongresse byeengeroep ten einde handelsvraagstukke wat die state geraak het, te behandel. Intussen het die Sentrale Tolverbond ontbind, en die meerderheid van die lede daarvan, soos Hesse-Cassel (1831) en Sakse (1833), het nou by die Pruisiese verbond aangesluit. In 1853 het Baden ook gevolg, en in die volgende tien jaar die meerderheid van die kleinere state. Teen 1852, toe Hannover ook in die Pruisiese Tolverbond toegelaat is, was byna alle state van die Bond, behalwe Oostenryk, lede van die Zollverein. Oostenryk het toe begeer om ook by dié tolunie aan te sluit. Pruise was egter vasbeslote om hierdie invloedryke politieke mededinger buite die unie te hou. Hy het as argument aangevoer dat die Tolverbond slegs vir Duitse state bedoel was en dat die Oostenrykse ryk met sy menigte vreemde kulture dus nie in aanmerking kon kom nie. Toe die Konvensie van Olmütz gesluit is, het Pruise dus die ekonomiese leierskap in Duitsland behou.
Die Betekenis van die Tolverbond Die Tolverbond het die beweging ten gunste van die staatkundige unifikasie van Duitsland op verskillende maniere beïnvloed: Vir die eerste maal was Duitsland 'n ekonomiese eenheid, en die tolkongresse was bewys dat hierdie handelseenheid die voorloper van unifikasie op politieke gebied kon wees. Duitsland het op ekonomiese gebied 'n geweldige verandering ondergaan, want die handel en die nywerhede het net so belangrik as die landbou geword. Die uitbreiding van die handel het aanleiding tot die stigting van groot banke gegee. 'n Oorvloed van kapitaal was 'n prikkel tot die ontginning van die steenkool- en ystermyne. Groot staalfabrieke is opgerig, met stede wat hierdeur vinnig gegroei het. Die Industriële Omwenteling het vinnig ontwikkel. 'n Magtige middelstand het ontstaan wat ten gunste van politieke unifikasie was, sodat Duitsland 'n magtige staat kon word en op internasionale gebied 'n belangrike rol kon speel. Dit sou die Duitse oorsese handel bevorder. In 1859 is 'n sterk organisasie gestig met die doel om nasionale eenheid onder die leiding van Pruise te bevorder. Hierdie idee is deur vooraanstaande geskiedskrywers soos Sybel en Treitschke in hul geskrifte gepropageer. Gemeenskaplike ekonomiese belange het die individualisme van die verskillende state verswak en was bevorderlik vir die opbloei van algemene Duitse patriotisme en 'n begeerte na politieke eenheid. Die daarstelling van 'n netwerk van goeie paaie, kanale, spoorweë en telegrafiese verbindings en die instelling van 'n algemene posstelsel het die administrasie van 'n verenigde Duitsland deur een sentrale gesag moontlik gemaak. Aangesien Pruise, die besitter van die rykste nywerheidsgebiede, die leier van hierdie ekonomiese stelsel was, het die verskillende state na hom, nie na Oostenryk nie, opgesien om Duitse politieke eenheid te verwesenlik. Die Pruisiese Zollverein het dus die weg voorberei vir die vereniging van Duitsland onder Pruise en so die taak van Willem I en die Pruisiese eerste minister en latere Duitse rykskanselier Otto von Bismarck vergemaklik.
Die Troonbestyging van Willem I en die Politieke Betekenis daarvan Die nasionale beweging wat sy toppunt met die byeenroeping van die Frankfurtse parlement (1848) bereik het, het getoon dat die Duitse state alreeds die oë gerig gehad het op Pruise, wat trouens ook al die ekonomiese gebied die voortou geneem het, in plaas van Oostenryk, as die politieke leier van Duitsland. Daar was verskeie redes vir hierdie houding. Frederik Willem IV het liberale neigings getoon. Pruise was die grootste van die suiwer Duitssprekende state; sy belange was uitsluitend Duits. Pruise is toe nog beskou as 'n belangrike militêre moondheid weens die rol wat dit gespeel het in die gebeurtenisse wat tot die val van Napoleon Bonaparte gelei het. Sedert die diplomatieke neerlaag wat in 1850 by Olmütz toegedien het, het Pruise in die politieke aangeleenthede van Duitsland op die agtergrond gebly, want Frederik Willem IV was bang vir die mag van Oostenryk. In 1858 het hy egter verstandelik onbekwaam geraak en is hy deur sy broer, Willem I, opgevolg, wat as regent opgetree en in 1861, met sy broer oorlyde, koning geword het. Die nuwe vors het 'n kragtige beleid gevolg. Willem I was hart en siel 'n Pruis en het vas geglo dat dit die roeping van Pruise was om die Duitse state onder sy leierskap te verenig. Daar hy iemand was wat sy lewe in die leër deurgebring het, was hy oortuig dat eenheid deur wapengeweld verkry moes word, aangesien konstitusionele middels reeds misluk het.
Stryd met die Parlement Willem I het, ondanks teenwerking van sy parlement, 'n begin gemaak met die reorganisasie van die leër en in 1859 twee uitstekende manne aangestel om sy hervormings op militêre gebied uit te voer, naamlik Von Roon as Minister van Oorlog en Von Moltke as hoof van die Generale Staf. Verpligte militêre opleiding wat reeds in 1813 ingestel was, is nooit streng toegepas is nie, met die gevolg dat die oorlogsmag van Pruise tot 215 000 man beperk was. In 1859 het Von Roon egter militêre diensplig vir alle burgers streng toegepas, en die tydperk wat in die reserwemag deurgebring moes word, van twee tot vier jaar verhoog. Deur hierdie maatreëls is die leër tot 450 000 man vergroot. Hierdie reorganisasie het Willem I in botsing met sy parlement gebring. Die koning was inderdaad nie goedgesind teenoor hierdie liggaam nie, omdat hy geen geloof in liberale instellinge gehad het nie.
Toe die parlement sy voorstelle verwerp, het Willem gevolglik die grondwet verontagsaam en sy planne sonder parlementêre toestemming ten uitvoer gebring. In 1862, toe die koning 'n groter leërbegroting ingedien het, het die parlement geweier om die benodigde geldmiddele te stem. Liewer dan die hervorming van die leër prys te gee, het Willem besluit om afstand van die troon te doen. In wanhoop het Von Roon die koning oorgehaal om Bismarck, 'n man vermaard weens sy onafhanklike optrede, te versoek om 'n nuwe ministerie te vorm en die parlement uit te daag. Hy was bekend vir sy selfstandigheidsin, moed en afkeer van parlementêre prosedure en instellinge. Bismarck, wat op daardie tydstip Pruisiese gesant in Parys was, het geredelik die aanbod aanvaar, en in September 1862 het hy president van die ministerie geword.
Bismarck se Politieke Beskouinge Otto von Bismarck was afkomstig van 'n adellike familie van Pruisiese junkers (landadel). Hy het die eerste lewenslig in 1815 aanskou. Weens sy afkoms was hy konserwatief in sy beskouinge, 'n vurige voorstander van die monargie en gekant teen liberale instellinge. Hy het tot 'n hoë amp in die Pruisiese staatsdiens geklim, maar die sleurwerk was vir hom te eentonig, en in 1839 het hy sy betrekking neergelê en hom op die landgoed van sy vader in Pommere as landjunker gaan vestig. In 1847 het hy die landelike lewe vaarwel gesê en sy politieke loopbaan begin as lid van die Pruisiese Landdag in Berlyn, alwaar hy sy politieke oortuigings met krag verkondig het. Hy het opgetree as 'n geesdriftige ondersteuner van die Pruisiese monargie en van die idee van die goddelike reg van konings. Hy het geglo dat die grootheid van Pruise nie aan die Pruisiese volk te danke was nie, maar aan sy Pruisiese vorste. Hy het hom ook verset teen elke poging van die koning om meer regte aan die liberaalgesindes toe te staan en 'n behae daarin geskep dat Willem die kroon deur die Frankfurtse ,,rewolusionêres" aangebied, van die hand gewys het. Dit was verder sy strewe om die gesag van Pruise oor Duitsland te laat uitbrei; nie om Pruise in Duitsland te laat opgaan nie. Die moedige verset van Bismarck teen die liberalisme het hom in die guns van die koning gebring, wat hom in 1851 tot Pruisiese afgevaardigde in die Landdag van die Bond te Frankfurt benoem het. Sy ondervinding gedurende die agt jaar as afgevaardigde het hom 'n onversoenlike vyand van Oostenryk gemaak, omdat hy besef het dat dit die strewe van Oostenryk was om Pruise nie as 'n gelyke in die Bond te erken nie, maar tot 'n posisie van magteloosheid te verneder. Sy wens was dat Duitsland onder die leiding van Pruise verenig sou word. Om hierdie doel te bereik, moes Oostenryk verslaan word. Dan sou die Bond vernietig, en die Duitse state onder die leierskap van Pruise gereorganiseer kon word. Die unifikasie van Duitsland kon nie, so het hy gemeen, deur toesprake of debatte in die parlement tot stand gebring word nie, maar deur ,,bloed en staal".
Sy tydperk van diens as gesant in St. Petersburg (1859-62) het veel bygedra tot sy kennis van politieke sake op die vasteland en sy ervaring in die diplomasie. Dit was vir hom duidelik dat die hulp van Rusland nodig sou wees indien Oostenryk oorwin moes word. Hy het derhalwe die vriendskap van die Tsaar probeer verkry. In 1862 het hy 'n paar maande lank as gesant in Parys diens gedoen, waardeur hy in staat gestel is om die bekwaamheid van Napoleon III en sy ministers na waarde te skat. Toe hy na Berlyn as president van die Pruisiese ministerie teruggeroep is, was Bismarck dus deeglik toegerus vir die reusetaak om die unifikasie van Duitsland onder die leiding van Pruise aan te pak.
Bismarck en die Pruisiese Parlement Toe die parlement geweier het om die vereiste geldmiddele vir die leër te stem, het