Vir die spring-spinnekopgenus, sien Bagheera (genus).

Bagheera (Hindi: बघीरा / Baghīrā), die swartluiperd, is 'n denkbeeldige, manlike dierekarakter wat oorspronklik in Rudyard Kipling se Engelse Mowgli-verhale, The Jungle Book ("Die Oerwoudboek", 1894) en The Second Jungle Book ("Die Tweede Oerwoudboek", 1895) verskyn het. Hy is nie slegs die mees gevreesde roofdier in die Indiese reënwoud nie, maar tree ook op as beskermheer, metgesel en vriend van Mowgli. Sy naam staan in Duits en Portugees onderskeidelik as Baghira en Baguera bekend.

Karakteruiteensetting in Die Oerwoudboek Mowgli se Broers (Mowgli’s Brothers) duimnael|Bagheera is 'n swartluiperd. Die leser ontmoet Bagheera op die tydstip wanneer daar van Vader Wolf en Raksha, wat die menswelp, Mowgli, wil aanneem, deur die Seeonee(Seoni)-wolftrop geëis word dat 'n tweede buitestander ten gunste van die nuwe lid moet pleit, net ná Baloo sy insette gelewer het. Hy betree die Raadsrots en, deur net soos Shere Khan, die tier, die Oerwoudswet se skuiwergate, sowel as die twintig wolwe se teerheid vir kos, uit te buit, koop hy Mowgli se lewe met 'n pasdoodgemaakte bul, en help om die kind as deel van die wolftrop groot te maak.

Bagheera het vir Mowgli touwys gemaak hoe om boom te klim en hom ook attent gemaak omtrent die mens se dierstrikke wat orals in die oerwoud gestel is. Soos bloedbroers het hul saam gerus, voetgeslaan en gejag. By laasgenoemde is Mowgli deur die luiperd verbied om enige bees, oud of jonk, te nuttig, omrede sy lewe deur dié van 'n bul gekoop is (toevallig stem hierdie vegetariese gebruik ook ooreen met die nabygeleë Hindoe-statbewoners s’n). Bagheera, wat daarvan bewus is dat Shere Khan die jonger wolwe teen Mowgli opsweep, het die menswelp met soveel woorde probeer meedeel wat 'n gevaarlike kalant die Tier werklik is.

'n Dekade later, op 'n warm dag, waarsku Bagheera weereens vir die seunskind dat, sodra die bejaarde Akela uit die weg geruim is, sy aartsvyand, tesame met die ander jongwolwe, hom sal vermoor, voordat hy wasdom sal bereik. Mowgli verstaan steeds nie waarom sy eie broers teen hom sal draai nie. Bagheera strek hom ten volle lengte uit, en met halftoe oë vra hy Mowgli om onder sy kaak te voel – 'n verborge litteken word so ontdek.

Die melanistiese luiperd lig hom dan oor sy eie hartsgeheime in: Bagheera is in gevangenskap in die Radja van Oodeypore, Britsbesette Indië, se dieretuin gebore. Toe sy ma-luiperd sterf, het 'n smag na vryheid binne hom begin vlamvat. Sodra hy opgewasse en sterk genoeg is, het hy die grendel van sy hok oopgebreek en diep die bosse in ontsnap. Sy woestheid en behendigheid het groot ontsag onder al die oerwoudbewoners gewek; behalwe natuurlik die verwaande Shere Khan. Bagheera se mensekennis het hom deur die jare heen nooit ontgaan nie. Niemand anders, behalwe Mowgli, het ooit uitgevind dat Bagheera eens aan 'n ketting en halsband, vir die mens se vermaak, vasgekluister was nie.

Hy vra vir die seun om hom stip in die oë te kyk, waarna Bagheera binne 'n halfminuut sy kop wegdraai. Hierdeur verduidelik hy die eintlike rede hoekom die wolwe so 'n afsku in Mowgli het: die mens het mag oor die diereryk. Hul kan hom nie in die oë kyk nie, selfs al het hy fisies tussen hulle grootgeword. Mowgli bly nou eenmaal mens deur en deur. Wat Mowgli se toekoms betref, is dit reeds 'n uitgemaakte saak: soos hy, Bagheera, teruggekeer het na die oerwoud, waar hy hoort, sal Mowgli ook later moet terugkeer na die mensdom toe. Instede daarvan om hom, as 'n mens, vir sy verlede te verwyt, het Bagheera vir Mowgli eerder as sy geesverwant vereenselwig, waar altwee van hul werklike tuiste verwyderd is. Dit verduidelik waarom hy veral so 'n hegte vriendskapsband met Mowgli het.

Bagheera stel voor dat Mowgli vuur (beter bekend as die Rooi Blom) as verdedigingswapen byderhand moet hou, vir dit wat die nabye toekoms moontlik mag oplewer. Ná Mowgli se vuurvonds, sê sy vriend vir hom dat Akela die vorige aand die prooi misgevang en dus van die gras afgemaak sou word, was dit nie dat hy, wat Mowgli is, soek was nie. By die vergadering op die Raadsrots spoor Bagheera fluisterend vir Mowgli aan hoe om teen Shere Khan op te tree; staan letterlik agter die seun tydens die onvermydelike teenoormekaarstelling en speel ook die rol van sy vertrooster tydens die uiteindelike tranedal wat volg.

Kaa se Jagtog (Kaa’s Hunting) Hierdie tydgleuf speel sowat drie jaar voor Mowgli se Broers af.

Gedurende Mowgli se lesse sou Bagheera deur die Oerwoud aangedrentel kom om te kyk hoe sy troetelkind vorder, en met sy kop teen 'n boomstam lê en spin terwyl Mowgli die dag se les aan Baloo, sy leermeester, weergee. Bagheera, wie sou verkies het om eerder vir Mowgli te bederf, het medelye met die knaap gehad, omrede die seun, inaggeneem sy jong ouderdom, vragte inligting moes aanhoor en leer, en veral omrede Baloo hom telkens 'n veeg of twee toegedien het sodra die kind iets vergeet het. Terwyl hy sy eie staalblou kloue bewonder, vra Bagheera Baloo omtrent die ‘Meesterwoorde’ uit, wie dit weer vir die ergerlike Mowgli vra om aan die luiperd voor te dra. Mowgli pronk, en spring op Bagheera se rug, vanwaar hy vir sy onderwyser tong uitsteek. Bagheera verskil met Baloo ten opsigte van die manier hoe hy Mowgli opvoed – Mowgli is teen alle diere deur die kodetaal gevrywaar – maar nie teen sy eie soort, die mens, nie.

Toe die swartluiperd later uitvind dat Mowgli met die Bandar-log (aapvolk) bevriend geraak het, is hy teleurgesteld en woedend – sy oë was so hard soos nefriete. Hy weet dat hulle geen wet en leier het nie en nog altyd leuenagtige aandagvrate was; uiteindelik sal daar van Mowgli ontslae geraak word sodra hulle verveeld begin raak. Hy bedink dat Baloo sy plig versuim het om die seun eerder teen hierdie skepsels te waarsku.

Daardie selfde middag, toe Mowgli tussen sy vriende gedurende hul middagslaap weggeraap is, het Bagheera, woedend deur gramskap en kommer, soos nooit tevore agterna geklim, maar die dun takkies het gedurig onder sy gewig meegegee, met kloue vol boombas soos hy herhaaldelik afgegly het. Verontwaardig brul hy weereens vir Baloo waarom hy die Menswelp nie teen die Bandar-log gewaarsku het nie. Hy besef dit is tervergeefs om die ape in te haal en vra die beer om 'n plan te beraam. Baloo is uit wanhopigheid tot raserny gedryf en Bagheera probeer hom tot bedaring bring deur hom te verseker dat Mowgli gewis nie iets sal oorkom nie, hoewel hy in die hande van die berugte Bandar-log is wat geen ‘vrees’ vir enige dier het nie. Met die klem op die woord ‘vrees’ onthou Baloo skielik hierdeur dat Kaa die aapvolk se enigste vyand is, en stel voor om hom te gaan spreek. Bagheera, wat nie veel omtrent Kaa, die ‘Rotsslang’, se doen en late weet nie, het aanvanklik ewe agterdogtig vir Baloo probeer ontmoedig, maar tog besluit om saam met hom ‘Kaa rede te laat insien’.

Om Kaa teen die Bandar-log op te rui, herroep Bagheera ingedagte byname wat die aapvolk die luislang al toegesnou het. Toe hy sien dat Kaa hierdeur ontstel word, gaan hy doodluiters voort hoe die ape ook bespiegel dat Kaa al sy tande verloor het en niks groter as 'n boklam sal aandurf nie, omrede hy deur 'n bokram se horings afgeskrik word. Met Kaa wat nou behoorlik opgewerk is, verduidelik Bagheera kortliks hoe hul geliefde Mowgli deur die neutestelers ontvoer is; onderbreek Kaa voordat hy met een van sy lang staaltjies kan begin; bedank Chil, die patrysvalk, vir die rigtingaanwysings om by die Koue Lêplek uit te kom; deel die soekgeselskap mee dat die ligging 'n halfaand se reis daarvandaan is en moet al sy kragte inspan om met Kaa se blitsige pas mee tred te hou.

Hulle spreek af dat Kaa die Westelike Muur sal nader sodra die donker wolk die maan bedek, terwyl Bagheera na die terrasse sal gaan. Bagheera spring klokslag links en regs tussen die ape in en jaag teen die helling op – dit veroorsaak 'n kabaal van vrees en woede wat opgeskop word. Toe Bagheera deur die rollende, skoppende massa onder hom gepootjie word, skreeu een dat die luiperd op die plek doodgemaak moet word. 'n Bytende, krappende en verskeurende menigte sak op die kat toe, terwyl vyf tot ses ape Mowgli teen die somerhuismuur opgetrek en 4,5 meter ver deur 'n opening in die koepeldak laat val. Deur 'n gleuf in die muur gewaar die mensekind hoe Bagheera, vir die eerste keer sedert sy geboorte, verbete om sy lewe moet veg. Mowgli skreeu vir Bagheera om by die watertenk uit te kom. Met die wete dat Mowgli veilig is, verkry die luiperd nuwe moed en druk duim vir duim reguit na die opgaartenks deur. Uit 'n geplas kon Mowgli aflei dat Bagheera die watertenk bereik het, waar die apies hom nie kon bykom nie. Omring deur hordes ape, en uit die onvermoë om Baloo te help, lig Bagheera sy druppende ken op en roep noodgedwonge al hygende om Kaa se hulp.

Die ape probeer op die vlug slaan, maar word met Kaa se sissende woorde tot stilstand gebring en tjoepstil gemaak, wat Bagheera die kans vergun om uit die watertenk te klim en homself droog te skud. Hy vra vir Kaa om Mowgli uit die gevangenis te kry; hy self kan niks meer doen nie. Hy wil net vir Mowgli kry en loop, voordat die ape hulle weer aanval. Kaa verklaar stellig aan Bagheera dat geen aap sal roer nie, en bevry Mowgli. Toe Mowgli met 'n skok opmerk hoe ‘sy broeders’ bloei, merk Bagheera, terwyl hy sy lippe lek, lakonies op dat ander in dieselfde toestand verkeer, verwysende na die dooie ape wat rondgesaai lê. Met Baloo se segging dat Mowgli sy trots is, maak Bagheera in 'n droë stem die kind ongemaklik met die woorde : ‘Daarvan sal ons later oordeel’. Hy stel Mowgli aan Kaa, hul almal se lewensredder, voor en gebied dat die seun volgens hul tradisie die luislang bedank.

Tydens die hipnotiese, betowerende dans van Kaa, word Bagheera, net soos al die ape en Baloo, ook vasgevang, waarna Mowgli, wat onvatbaar hierteen is omdat hy mens is, sy twee vriende met moeite moet verwyder. Fluisterend smeek Bagheera die seun om sy hand op sy skouer te hou, anders sou hy outomaties na die slang toe moet teruggaan.

Buite in die oerwoud, waar die driemanskap weer onder die bome staan, sê Bagheera sidderend dat Kaa oor meer kennis as hulle beskik en dat, as hy agtergebly het, hy verseker in die slang se keelgat sou afgeloop het. Mowgli kan nie begryp waaroor die hele bohaai gaan nie en maak die uitlating dat die hele skouspel vir hom maar net 'n groot slang was wat lawwe sirkels op die grond gemaak het en wie se hele neus seer was. Hieroor raak Bagheera briesend en lees vir Mowgli deeglik die leviete voor. Hy noem onder andere dat sy en Baloo se wonde, pyn en lyding aan Mowgli toegeskryf kan word, asook dat hul vir vele dae nie sal kan jag nie. As die Swartluiperd, is sy eer diep gekrenk deurdat hy genoodsaak was om Kaa se hulp in te roep en, (saam met Baloo) soos klein voëltjies belaglik gemaak is met die Honger-dans – alles omrede Mowgli met die Bandar-log omgegaan het.

Hy vra vir Baloo wat die Oerwoudwet bepaal, waarop Baloo sugtend antwoord dat ‘berou steeds nie straf kan vervang nie’, maar, in teenstelling met sy eie ruwe tugtiging aan die aanvang van die verhaal, ook vinnig bylas dat die luiperd moet onthou dat die seun nog baie klein is. Daar word ook aan Mowgli gevra of hy enigiets te sê het, waarop die kind antwoord dat sy straf welverdiend is. Bagheera deel ses ligte houe uit wat vir 'n sewejarige soos hale sou gevoel het, hoewel dit uit 'n luiperd se oogpunt nie eens 'n luiperdwelpie uit die slaap sou kon wek nie.

Na die hele onsmaaklikheid afgehandel is, is alles vergewe en vergete; Bagheera vra Mowgli om op sy rug te klim om hom sodoende tuis te besorg. Mowgli, met sy kop wat op Bagheera se rug gerus het, het met die terugtog nie eens wakker geword toe die luiperd hom langs Moeder Wolf se sy in die grot neergelê het nie.

Tier! Tier! (Tiger! Tiger!)