thumb|320px|Die risiko vir ekonomiese verlies van ses natuurrampe: tropiese siklone, droogtes, aardbewings, vloede, grondverskuiwings en vulkane.
'n Natuurramp is die skadelike uitwerking van 'n gevaarlike voorval in die natuur op 'n samelewing of gemeenskap. Sommige voorbeelde van natuurlike gevare sluit in droogtes, aardbewings, vloede, hittegolwe, siklone, vulkaniese aktiwiteit, veldbrande en grondverskuiwings – insluitende onderwater grondverskuiwings. Ander natuurlike gevare sluit in sneeustorms, stofstorms, brandstorms, haelstorms, ysreënstorms, sinkgate, donderstorms, tornado's en tsoenami's.
'n Natuurramp kan lewensverlies of skade aan eiendom veroorsaak. Gewoonlik is daar groot ekonomiese skade. Hoe erg die skade is, hang af van hoe goed mense op rampe voorberei is en hoe sterk die geboue, paaie en ander infrastruktuur is. Wetenskaplikes meen al lank dat die term "natuurramp" nie akkuraat is nie en laat vaar behoort te word. In plaas daarvan kan die eenvoudiger term "ramp" gebruik word, terwyl die soort gevaar gespesifiseer word.Cannon, Terry. (1994). Vulnerability Analysis and The Explanation Of 'Natural' Disasters. Disasters, Development and Environment.
'n Ramp vind plaas wanneer 'n natuurlike of mensgemaakte gevaar 'n kwesbare gemeenskap tref. Dit spruit uit die kombinasie van die gevaar en die blootstelling van 'n kwesbare samelewing.
Deesdae is dit moeilik om tussen "natuurlike" en "mensgemaakte" rampe te onderskei. Die term "natuurramp" is reeds in 1976 bevraagteken. Menslike keuses in argitektuur, brandrisiko en hulpbronbestuur kan natuurrampe veroorsaak of vererger. Klimaatsverandering beïnvloed ook hoe gereeld rampe as gevolg van uiterse weergevare. Hierdie "klimaatsgevare" sluit in vloede, hittegolwe, veldbrande en tropiese siklone.
Sekere faktore kan natuurrampe vererger, soos swak boustandaarde, die marginalisering van mense en swak grondgebruikbeplanning. Baie ontwikkelende lande het nie behoorlike ramprisiko-verminderingstelsels nie, en dit maak hulle kwesbaarder as lande waar mense 'n hoë inkomste het. 'n Ongunstige gebeurtenis word slegs 'n ramp as dit 'n kwesbare bevolking raak.
Terminologie 'n "Natuurramp" is die hoogs skadelike impak op 'n samelewing of gemeenskap ná 'n natuurlike gevaarvoorval. Die term "ramp" self word soos volg gedefinieer: "Rampe is ernstige ontwrigtings van die funksionering van 'n gemeenskap wat sy vermoë oorskry om dit met eie hulpbronne te hanteer. Rampe kan veroorsaak word deur natuurlike, mensgemaakte en tegnologiese gevare, sowel as verskeie faktore wat die blootstelling en kwesbaarheid van 'n gemeenskap beïnvloed."
Die Amerikaanse Federale Noodbestuursagentskap (FEMA) verduidelik die verband tussen natuurrampe en natuurlike gevare soos volg: "Natuurlike gevare en natuurrampe is verwant, maar nie dieselfde nie. 'n Natuurlike gevaar is die bedreiging van 'n gebeurtenis wat waarskynlik 'n negatiewe impak sal hê. 'n Natuurramp is die negatiewe impak wat volg op die werklike voorkoms van 'n natuurlike gevaar, indien dit 'n gemeenskap aansienlik skade berokken.
'n Voorbeeld van die onderskeid is dat 'n aardbewing die gevaar is wat die San Francisco-aardbewingramp van 1906 veroorsaak het.
Natuurlike gevare kan in twee breë kategorieë geklassifiseer word: geofisiese en biologiese gevare.
Natuurlike gevare kan deur die menslike impak op die omgewing veroorsaak of beïnvloed word, byvoorbeeld grondgebruikverandering, dreinering en konstruksie.
Daar is 18 natuurlike gevare wat in FEMA se risiko-indeks ingesluit is: sneeustortings, kusvloede, kouegolwe, droogtes, aardbewings, hael, hittegolfwe, tropiese siklone, ysstorms, grondverskuiwings, weerlig, rivieroorstromings, sterk winde, tornado's, tsoenami's, vulkaniese aktiwiteit, veldbrande en winterweer. Daarbenewens is daar stofstorms.
Kritiek Die term "natuurramp" is reeds in 1976 'n verkeerde benaming genoem. Rampe kan voorkom word. Aardbewings, droogtes, vloede, storms en ander gebeure lei tot rampe as gevolg van menslike optrede en versuim. Swak grond- en beleidsbeplanning en deregulering kan slegter toestande skep. Dit behels dikwels ontwikkelingsaktiwiteite wat rampvermindering ignoreer of versuim om risiko’s te verminder. Die natuur alleen word vir rampe blameer, selfs wanneer dit die gevolg is van mislukkings in ontwikkeling. Rampe ontstaan ook as gemeenskappe versuim om voor te berei. Voorbeelde sluit in onvoldoende bouregulasies, marginalisering van mense, ongelykhede, oorbenutting van hulpbronne, uiterse stedelike uitbreiding en klimaatsverandering.
Die definiëring van rampe as slegs natuurlike gebeure het ernstige implikasies vir begrip van die oorsake van 'n ramp en die verdeling van politieke en finansiële verantwoordelikheid in rampbestuur, vergoeding, versekering en rampvoorkoming. Die gebruik van die term "natuurramp" mislei mense om te dink dat die verwoestende gevolge onvermydelik, buite ons beheer en bloot deel van 'n natuurlike proses is. Gevare (aardbewings, orkane, pandemies, droogtes, ensovoorts) is onvermydelik, maar die impak daarvan op die samelewing is nie.
Daarom is die term volgens sommige kenners onvanpas en moet dit vervang word met die eenvoudiger term "ramp", terwyl die spesifieke kategorie (of soort) gevaar aangedui word.Kevin Blanchard #NoNaturalDisasters – Changing the discourse of natural disaster reporting (16 November 2018)
Skaal Tussen 1995 en 2015 het die meeste natuurrampe in Amerika, China en Indië plaasgevind. In 2012 was daar wêreldwyd 905 natuurrampe, waarvan 93% weerverwant was. Van die rampe was 45% meteorologies (storms), 36% was hidrologies (oorstromings), 12% was klimatologies (hittegolwe, kouegolwe, droogtes, veldbrande) en 7% was geofisiese gebeure (aardbewings en vulkaniese uitbarstings). Tussen 1980 en 2011 was geofisiese gebeure verantwoordelik vir 14% van alle natuurrampe.Natuurrampe in 2012 oorheers deur VSA se weer-uiterstes Worldwatch Institute 29 Mei 2013
Ontwikkelende lande het dikwels onvoldoende kommunikasiestelsels en ondersteuning vir ramprisikovermindering en noodbestuur. Dit maak hulle kwesbaarder vir natuurrampe as ontwikkelde lande.
Invloed 'n Natuurramp kan lewensverlies, beserings en ander gesondheidsgevare veroorsaak, asook die beskadiging van eiendom, inkomsteverlies, sosiale en ekonomiese ontwrigting of omgewingskade.
Sterftes thumb|250px|Wêreldwye sterftes weens natuurrampe (1900-2022).
Wêreldwyd is die totale aantal sterftes as gevolg van natuurrampe oor die afgelope 100 jaar met 75% verminder, danksy die verhoogde ontwikkeling van lande, beter voorbereiding, beter onderwys en hulp van internasionale organisasies. Aangesien die wêreldbevolking gedurende dieselfde tydperk gegroei het, is die afname in die aantal sterftes per capita selfs groter en het dit tot 6% van die oorspronklike hoeveelheid gedaal.
Die sterftesyfer weens natuurrampe is die hoogste in ontwikkelende lande as gevolg van die laer gehalte van boukonstruksies, infrastruktuur en mediese geriewe.
Op die ekonomie thumb|250px|Wêreldwye skadekoste weens natuurrampte (1980-2022).
Wêreldywe ekonomiese verliese as gevolg van uiterste weer-, klimaats- en watergebeure neem toe. Koste het van die 1970's tot die 2010's sewevoudig toegeneem.World Meteorological Society (WMO) (2021). WMO Atlas of Mortality and Economic Losses from Weather, Climate and Water Extremes (1970–2019). https://library.wmo.int/idurl/4/57564 Sosiaal-ekonomiese faktore het bygedra tot hierdie tendens, soos bevolkingsgroei en verhoogde welvaart.
Dit dui daarop dat verhoogde blootstelling die belangrikste faktor in ekonomiese verliese is. 'n Deel hiervan is egter ook te wyte aan klimaatsveranderings wat deur die mens veroorsaak word.Seneviratne, S.I., X. Zhang, M. Adnan, W. Badi, C. Dereczynski, A. Di Luca, S. Ghosh, I. Iskandar, J. Kossin, S. Lewis, F. Otto, I. Pinto, M. Satoh, S.M. Vicente-Serrano, M. Wehner, and B. Zhou, 2021: Weather and Climate Extreme Events in a Changing Climate. In Climate Change 2021: The Physical Science Basis. Contribution of Working Group I to the Sixth Assessment Report of the Intergovernmental Panel on Climate Change [Masson-Delmotte, V., P. Zhai, A. Pirani, S.L. Connors, C. Péan, S. Berger, N. Caud, Y. Chen, L. Goldfarb, M.I. Gomis, M. Huang, K. Leitzell, E. Lonnoy, J.B.R. Matthews, T.K. Maycock, T. Waterfield, O. Yelekçi, R. Yu, and B. Zhou (eds.)]. Cambridge University Press, Cambridge, United Kingdom and New York, NY, USA, pp. 1513–1766, Newman, R., Noy, I. The global costs of extreme weather that are attributable to climate change. Nat Commun 14, 6103 (2023).
Op die omgewing Tydens noodgevalle soos natuurrampe en gewapende konflikte kan meer afval geproduseer word, terwyl afvalbestuur 'n laer prioriteit geniet in vergelyking met ander dienste. Bestaande afvalbestuursdienste en infrastruktuur kan ontwrig word, wat gemeenskappe met onbeheerde afval en verhoogde rommel laat. Onder dié omstandighede word menslike gesondheid en die omgewing dikwels negatief beïnvloed.
Natuurrampe (soos aardbewings, tsoenami’s en orkane) het die potensiaal om binne 'n kort tydperk 'n beduidende hoeveelheid afval te genereer. Afvalbestuurstelsels kan buite werking of beperk wees, wat dikwels aansienlike tyd en finansiering verg om te herstel. Die tsoenami in 2011 in Japan het byvoorbeeld enorme hoeveelhede puin veroorsaak: die Japanese departement van omgewingsake het beraam 5 miljoen ton afval is geproduseer. 'n Deel van dié afval, meestal plastiek en skuimrubber, het teen laat 2011 aan die kuslyne van Kanada en die VSA uitgespoel. Aan die weskus van die VSA het dit die hoeveelheid rommel met ’n faktor van 10 verhoog en moontlik uitheemse spesies daarheen vervoer. Storms veroorsaak ook baie plastiekafval. ’n Studie deur Lo et al. (2020) het ’n toename van 100% in die hoeveelheid mikroplastiek gerapporteer op strande wat in 2018 ná ’n tifoon in Hongkong ondersoek is.
’n Beduidende hoeveelheid plastiekafval kan tydens rampverligtingsoperasies geproduseer word. Ná die aardbewing van 2010 in Haïti is die afval wat deur verligtingsoperasies gegenereer is, as ’n "tweede ramp" beskryf. Die Amerikaanse weermag het berig miljoene waterbottels en voedselhouers van skuimrubber is versprei, alhoewel daar geen operasionele afvalbestuurstelsel was nie. Meer as 700 000 plastiekseile en 100 000 tente is benodig vir noodskuilings. Die toename in plastiekafval, gekombineer met swak wegdoeningspraktyke, het daartoe gelei dat oop dreineringskanale verstop geraak het, wat die risiko van siektes verhoog het.
Konflikte kan grootskaalse verplasings van gemeenskappe tot gevolg hê. Mense wat onder dié omstandighede leef, word dikwels van minimale afvalbestuursgeriewe voorsien. Brandputte word algemeen gebruik om gemengde afval, insluitend plastiek, te vernietig. Lugbesoedeling kan tot respiratoriese en ander siektes lei. Sahrawi-vlugtelinge woon byvoorbeeld al byna 45 jaar lank in vyf kampe naby Tindouf, Algerië. Omdat afvalinsamelingsdienste onderbefonds is en daar geen herwinningsgeriewe is nie, het plastiek die strate en omgewing van die kampe oorstroom. Daarteenoor het die Azraq-kamp in Jordanië, wat vlugtelinge uit Sirië huisves, afvalbestuurstelsels; van die 20,7 ton afval wat per dag geproduseer word, is 15% herwinbaar.
Op vroue en kwesbare bevolkings As gevolg van die sosiale, politieke en kulturele konteks van baie plekke oor die wêreld heen word vroue dikwels buitensporig deur rampe geraak. In die Indiese Oseaan-tsoenami van 2004 het meer vroue as mans gesterf, deels omdat minder vroue kon swem. Tydens en ná ’n natuurramp loop vroue ’n groter risiko om deur geslagsgebaseerde geweld geraak te word en is hulle kwesbaarder vir seksuele geweld. Ontwrigte wetstoepassing en swak regulasies dra almal by tot ’n verhoogde risiko van geslagsgebaseerde geweld en seksuele aanranding.