'n Anglisisme in Afrikaans is 'n woord, uitdrukking of sinskonstruksie wat uit Engels kom of direk onder invloed van 'n Engelse woord, uitdrukking of sinskonstruksie ontstaan het, wat anders is as normale Afrikaans. Suiwer taalkundig gesproke is 'n anglisisme nie iets wat noodwendig vermy moet word nie, maar weens Afrikaans se taalstryd van die afgelope eeu teen Engelse invloed word anglisismes in Afrikaans gewoonlik omskryf as iets wat suiwer Afrikaans in die gevaar stel of wat uit standaard-Afrikaans geweer moet word.
Die hantering van anglisismes in Afrikaans is dikwels subjektief en onwetenskaplik. Boonop is die kwessie van anglisismes vir baie Afrikaanssprekendes 'n emosionele of patriotistiese saak. Soms word barbarismes wat mettertyd algemeen in Afrikaans ingang vind, selfs deur taalkundiges nie as "anglisismes" beskryf nie. Soms word uitdrukkings wat bloot lyk soos Engels, maar nie werklik uit Engels kom of onder invloed van Engels ontstaan het nie, as "anglisismes" gereken. Die feit dat 'n bepaalde gebruik wel anglisisties is, lei soms daartoe dat sprekers uit onkunde ook die korrekte gebruik van dieselfde woord vermy of as 'n anglisisme beskou.
Verskillende gesaghebbende bronne definieer "anglisisme" verskillend, maar in die meeste gevalle word 'n anglisisme beskou as iets waarvan daar die gevaar is dat dit mettertyd sal veroorsaak dat 'n meer tradisionele uitdrukking in onbruik val. Dit blyk veral uit die gebruik van woorde soos "strydig", "verdring", "indringer" en "gewraakte" om anglisismes mee te beskryf. Vir baie mense is iets slegs 'n "anglisisme" as dit sleg is. Daar is selfs taalkundiges wat meen dat indien 'n bepaalde gebruik wel uit Engels kom, maar dit nie 'n bestaande woord of uitdrukking verdring nie of indien dit 'n huidige leemte vul, dit nie 'n "anglisisme" is nie.
Sommige mense beskou idiomatiese uitdrukkings waarvan daar 'n soortgelyke vorm in Engels voorkom, en waarvoor daar 'n alternatief bestaan of uitgedink kan word wat nie soos die Engels lyk nie, ook as anglismes. Dit lei soms tot verryking van die taal wanneer uitdrukkings doelbewus geskep word om in die plek van vermeende anglisismes gebruik te word (bv. "oortjies van die seekoei" i.p.v. "punt van die ysberg") of om die Engelse vorm te probeer vermy, selfs al word dit in ander Wes-Germaanse tale geleenvertaal (bv. "voetsoolvlak" i.p.v. "graswortelvlak").
Afrikaanssprekendes is oor die algemeen meer bewus van anglisismes as sprekers van ander tale omdat Suid-Afrika 'n meertalige land is waarin Engels en Afrikaans voortdurend noue kontak met mekaar het. Die meeste internasionale nuus en tegnologie kom Suid-Afrika binne deur die medium van Engels, en aangesien heelwat Afrikaanssprekers grotendeels volledig tweetalig is, word dié inligting dikwels deur nieberoepsvertalers uit Engels in Afrikaans vertaal, wat daartoe lei dat Afrikaans voortdurend onder druk van Engelse terme, segswyses en sinsbou staan.
Leenwoorde en leenvertalings is nie anglisismes nie, aangesien dit normale Afrikaans is om woorde te leen (bv. "garage") of te leenvertaal (bv. "grondeienaar" n.a.v. "land owner"). Iets is slegs 'n anglisisme as dit afwyk van normale Afrikaans of die manier waarop die taalkundige verskynsel normaalweg in Afrikaans hanteer word. Metafore, vergelykings en spreekwoorde wat soortgelyk is aan Engels is dikwels ook nie anglisismes nie.
Onkunde en opset is nie relevant nie: indien 'n spreker daarvan onbewus is dat iets uit Engels kom, of die uitdrukking by ander Afrikaanssprekers geleer het (bv. ouers, vriende, media, skool), of dit nie sélf uit Engels vertaal het nie, kan dit nog steeds 'n anglisisme wees.
Doen Vermeende anglisisme Voorgestelde alternatiefRede vir wel/nié anglisismeHy doen my 'n guns. Hy bewys my 'n guns.Nederlands: iemand een plezier doenDit het niks daarmee te doen nie. Dit het niks daarmee te make nie.Volgens HAT is hierdie uitdrukking aanvaarbare Afrikaans.Sy gedrag doen hom eer aan. Sy gedrag strek hom tot eer.Nederlands: zijn naam eer aandoenHy doen nog sy hare in sy kamer. Hy kam/borsel nog sy hare in sy kamer.Volgens HAT is "doen" in die betekenis "versorg" of "behartig" aanvaarbare Afrikaans.Sy laat haar hare by die haarkapster doen. Sy laat haar hare by die haarkapster kap/krul/kleur.Volgens HAT is "doen" in die betekenis "versorg" of "behartig" aanvaarbare Afrikaans.Ek kan nie sonder my motor doen nie. Ek kan nie sonder my motor klaarkom nie.Jy kan met 'n nuwe baadjie doen. Jy het 'n nuwe baadjie nodig.Ons span doen vanjaar baie goed. Ons span vaar/presteer vanjaar baie goed.Hy laat sy huis opdoen. Hy laat sy huis opknap.Hou jy van braaivleis? Ek doen! Hou jy van braaivleis? Ja, baie!/Ek wel!/Ek hou wel daarvan!Dit sal doen. Dit sal deug. Dit is genoeg; voldoende.
Gaan Vermeende anglisisme Voorgestelde alternatiefRede vir wel/nié anglisismeDaar sal niks verkeerd gaan nie. Daar sal niks skeefloop nie.Die vleuel gaan vir die hoek. Gaan vir jou opponent. Die vleuel pyl hoek toe. Storm op jou opponent af.Ek sal sonder kos gaan. Ek sal sonder kos bly.Die kwaai vrou het vir my gegaan. Die kwaai vrou het my ingeklim/ingevlieg.Jy sal dié winter sonder 'n reënjas moet gaan. Jy sal dié winter sonder 'n reënjas moet klaarkom.
Hard Vermeende anglisisme Voorgestelde alternatiefRede vir wel/nié anglisismeHier het jy die harde feite. Hier het jy die nugtere feite.Sy het 'n harde lewe. Sy ly 'n swaar lewe.Hy is 'n harde man om voor te werk. Hy is 'n streng (veeleisende) man om voor te werk.Dis baie hard op hom. Dis baie ongelukkig vir hom.Volgens HAT is "hard" in die betekenis "moeilik/lastig/swaar" aanvaarbare Afrikaans.Dis harde lyne dat hy verloor het. Dis jammer (ongelukkig) dat hy verloor het.Hy het harde arbeid gekry. Hy het dwangarbeid gekry.Dit is darem hard op ons. Dit tref ons swaar.
In Anglisisme Suiwer AfrikaansHy het dit in hom. Dit sit in hom. Hy is die man daarvoor.Een in 'n duisend sal dit doen. Een uit 'n duisend sal dit doen.Hulle het die wedstryd in honderde bygewoon. Hulle het die wedstryd by die honderde bygewoon.In drie weke se tyd is hy hier. Binne drie weke se tyd is hy hier.Die trein is in. Die trein het aangekom.Jy is in vir moeilikheid. Vandag ry jy aan die pen.Jy moet die versoek in skrif doen. Jy moet die versoek skriftelik doen.Kom in! Kom binne!
Merk Anglisisme Suiwer AfrikaansHy maak sy merk in die lewe. Hy onderskei hom in die lewe.Hy is 'n gemerkte man. Hy word dopgehou. Hy is gebrandmerk.Hy het goeie merke in die eksamen behaal. Hy het goeie punte in die eksamen behaal.Merk hom in die lynstaan. Hou hom dop in die lynstaan.
Optel Anglisisme Suiwer AfrikaansDie motoris het 'n ryloper opgetel. Die motoris het 'n ryloper opgelaai.Hy tel baie gewig op. Hy sit baie lyf aan.Hy het ons taal maklik opgetel. Hy het ons taal maklik aangeleer.
Part en apart Anglisisme Suiwer AfrikaansHy het 'n part in die toneelstuk . Hy het 'n rol in die toneelstuk.Die toneelstuk was in parte goed. Die toneelstuk was gedeeltelik (plek-plek) goed.Ek kan nie die stukkende part van my motor kry nie. Ek kan nie die stukkende onderdeel van my motor kry nie.Hy neem altyd my part. Hy trek altyd vir my party. Hy kies altyd party vir my. Hy kies altyd my kant.Apart hiervan is hy ook oneerlik. Afgesien hiervan is hy ook oneerlik.
Punt Anglisisme Suiwer AfrikaansMaak 'n punt daarvan. Stel dit jou ten doel.Hy kan vir jou 'n paar punte gee. Hy kan vir jou leer.Tot op 'n sekere punt is dit waar. Tot op sekere hoogte is dit waar.Hy wil nie my punt sien nie. Hy wil nie my standpunt insien nie.Swem is sy sterk punt. Hy munt uit in swem.In sy toespraak het hy nooit na die punt gekom nie. In sy toespraak het hy nooit oor die onderwerp (ter sake) gepraat nie.
Sien Anglisisme Suiwer AfrikaansJy sal nog die dag sien dat … Jy sal nog die dag belewe dat…Laat my sien. Laat my eers dink. Wag 'n bietjie.Hy het al die lewe gesien. Hy ken die lewe. Hy het baie lewenservaring.Ek kan nie anders nie. Sien jy? Ek kan nie anders nie. Begryp jy?Hy wou my nie sien toe ek hom besoek het nie. Hy wou my nie ontvang toe ek hom besoek het nie.Ek gaan die hoof sien. Ek gaan die hoof spreek.Siende dat hy nie daar was nie...Aangesien hy nie daar was nie...
Staan Anglisisme Suiwer AfrikaansHy staan daarop dat ek dit moet doen. Hy dring daarop aan dat ek dit moet doen.Hy staan uit in sy klas. Hy blink uit in sy klas.Hy kan nie 'n grap staan nie. Hy kan nie 'n grap verdra/verduur nie.Ek kan die vent nie staan nie. Ek kan die vent nie verdra/veel nie.Ek kan dit nie langer staan nie. Ek kan dit nie langer verduur/uithou nie.Sy staan graag op seremonie. Sy is gesteld op die uiterlike.Gaan jy staan vir die Parlement? Gaan jy jou verkiesbaar stel vir die Parlement?Hy staan eerste op die lys. Hy is eerste op die lys.
Val Anglisisme Suiwer AfrikaansSy plan het deur (die mat) geval. Sy plan het in duie gestort.Haar gesig het geval toe sy die tyding ontvang. Sy het verslae gelyk toe sy die tyding ontvang.Hy sal voor/vir die versoeking val. Hy sal swig voor die versoeking.Hy val terug op sy kapitaal. Hy neem sy toevlug tot sy kapitaal.
Selfstandige naamwoorde Anglisisme Suiwer AfrikaansEk verlê maklik my boekmerk. Ek verlê maklik my boeklêer.Waar was die hoogwatermerk van die rivier? Waar was die hoogwaterlyn van die rivier?Hy kan enige minuut opdaag. Hy kan enige oomblik opdaag.Sy woon die dans by. Sy woon die dansparty by.Hy bestudeer wet. Hy bestudeer die regte.Hul woon twee deure van ons af. Hy woon twee huise van ons af.Sy rughandhoue (‘backhand’) is onspeelbaar. Sy handrughoue is onspeelbaar.Die boere span jakkalsproefdraad. Die boere span jakkalsdraad.Kan jy 'n familieooreenkoms by die twee broers opmerk? Kan jy die familietrek by die twee broers opmerk?Die oliepyplyn na die hawe kos baie. Die oliepypleiding na die hawe kos duur.Dring deur tot die wortel van die saak. Dring deur tot die grond van die saak.Die stadsvaders het die vryheid van die stad aan hom toegeken. Die stadsvaders het die ereburgerskap aan hom toegeken.Sy perd het die ander met 'n kop geklop. Sy perd het die ander met 'n koplengte geklop.Hy dra sandskoene. Hy dra strandskoene.'n Soekparty is uitgestuur berg toe. 'n Soekgeselskap is uitgestuur berg toe.My geldelike posisie is haglik. My geldelike omstandighede is haglik.Dit is sy fout. Dit is sy skuld.
Byvoeglike naamwoorde Anglisisme Suiwer AfrikaansHy is 'n uitstaande speler. Hy is 'n uitmuntende speler.Noem die uitstaande eienskappe van die gedig. Noem die kenmerkende eienskappe van die gedig.Hy het 'n halfhartige poging aangewend. Hy het 'n floue poging aangewend.Die speler is vandag af. Die speler is vandag van stryk af.Die saal was gepak. Die saal was stampvol.Die kis het 'n vals boom. Die kis het 'n dubbele boom.Die winkelvoorrade is laag. Die winkelvoorrade raak op.Jou berekening was uit. Jou berekening was foutief.Hy is 'n rowwe man. Hy is 'n ruwe man.Die man is vandag af siek. Die man is vandag afwesig weens siekte.Ek is heeltemal oop vir oortuiging. Ek is heeltemal vatbaar vir oortuiging.
Voorsetsels Anglisisme Suiwer AfrikaansDie bokser het die geveg op punte gewen. Die bokser het die geveg met punte gewen.In die end sal reg seëvier. Op die (ou) end sal reg seëvier.Hulle leef van die hand tot die tand. Hulle leef van die hand in die tand.Hy dien op 'n raad, op 'n kommissie. Hy dien in 'n raad, in 'n kommissie.'n Verhoging in die pryse is aangekondig. 'n Verhoging van die pryse is aangekondig.'n Oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand. Oog om oog en tand om tand.Die boek is in die pers. Die boek is op die pers.
Werkwoorde